Werner & Louisa se elegante selfdoen huistroue

‘n Troue, dis spysenering, die verversings, dis die trou venue, en die lys gaan aan-en-aan.  Dit was definitief tuimeltrein van besluite vir Werner en Louisa.

Ons by Mooi Troues moet sê dié bruidspaar het ‘n fantastiese werk gedoen met hul elegante selfdoen huistroue.  Dié bruidspaar se verhouding het begin by hul gesin se familie huis en het selfs op daai einste stoep verloof geraak.  Op die einde van die dag het Werner en Louisa saam in huwelik ingetree op die grasperk.

Werner en Louisa se elegante selfdoen huistroue spog met stylvolheid, dit is minimalisties, maar tóg elegant.  Louisa betower al haar gaste met haar stylvolle trourok, terwyl Werner pronk in sy aantreklike middernag-blou troupak.  Dié bruidspaar wou juis die trou dekor minimalisties hou.  Baie Goeters het uit die boonste rakke afgelewer.  Die trou dekor was gelei deur die blomme en eetgerei op die tafels, wat ‘n atmosfeer skep van elegansie en stylvolheid skep.  Daar word gespeel met kleure van bloos pienk en blou wat dié elegante selfdoen huistroue mooi bymekaar bring.

Rol nou af en geniet die harde werk wat in Werner en Louisa se elegante selfdoen huistroue gesit is.

Paartjie se Liefdesreis:


Die ontmoeting:

Ons het mekaar in 2015 ontmoet, maar nog altyd van mekaar geweet.  Ek en my man (Werner) het ʼn baie goeie vriend (Jan Rabie) in gemeen.  Toe ons besluit om een naweek weg te gaan het Jan gedink dis ʼn goeie plan om vir Werner saam te bring.  Ek wou niks weet van ʼn verhouding nie, maar Werner het die res van daardie jaar hard gewerk om my te oortuig.  Op die heel laaste dag van 2015, 31 Desember, het ek na Werner toe gedraai en vir hom gesê ons kan maar die ding probeer en soos die Engelse sê: “the rest was history.”

Werner het dit baie duidelik gemaak in die begin van 2019 dat dit net nie finansieel slim is om in die jaar verloof te raak nie, want hy moes in daardie jaar baie groot finansiële besluite neem.  Ek het dit aanvaar en het geweet dat wanneer die tyd reg is sal hy my vra, ons altwee het geweet ons wil met mekaar trou en dit was die belangrikste.

Die groot vraag:

Dit was Desember 2019 en Werner laat weet vir my het het vir my 3 kers geskenke die jaar!  Julle moet verstaan ek “LOVE” geskenke, maar wie doen nou nie?  Die eerste kers geskenk kon ek by hom oop maak in Mosselbaai (ons het nie Kerstyd saam spandeer nie, hy was saam sy gesin en ek saam myne).  Die tweede kers geskenk kan ek op Kersdag by ons vakansie huis in Malgas oop maak.  En die derde kers geskenk kan ek eers oop maak wanneer hy Malgas toe kom (dit was gewoonlik die 26ste Desember).  My eerste twee kers geskenke was so mooi, die man is bitter goed met geskenke.

My hele gesin bymekaar:

Die oggend van die 26ste Desember laat weet hy my dat hy en sy ma is oppad na ons toe by die rivier.  Ek is natuurlik opgewonde want 1) ek sien my kêrel en 2) ek kry my derde geskenk.  Hulle het so net voor middagete gekom en toe die kar stop toe klim hy, sy ma en ook die res van sy pragtige gesin uit!  Ek was bitter opgewonde, want dit was die eerste keer wat my hele gesin en sy volledige gesin saam gaan kuier!  Ek was onder die indruk dit was my derde geskenk, dit was beslis die beste een, want sy ouers bly in Kanada en sy suster het vir 3 jaar op die skepe gewerk, so my gesin kon nog nooit volledige gesin van Werner ontmoet nie.

Ons het almal lekker om die tafel op die stoep gesit en kuier, toe Werner se een broer, Erik die groep mense stil maak.  Werner het langs my gesit en toe na my rigting toe gedraai en gevra of ek weet wat my derde geskenk is, ek sê toe ja, dis dat ons gesinne saam kuier vir die eerste keer en dat baie van my ander familie lede ook sy gesin kan ontmoet. Hy sê toe nee en begin toe deur om vir ons almal te vertel dat hy net oor twee dinge seker is in sy lewe: 1, dat hy gaan dood gaan eendag en 2, dat hy met my gaan trou.

Ek vergeet om te antwoord …

Hy sak toe af op sy een been en vroetel in sy sak … ek kon nie glo wat gebeur nie, hy het die mooiste toespraak toe gegee (ek kan niks onthou nie, want ek was so geskok) toe hy my vra was my eerste antwoord NEE.  Weereens ek was bitter geskok en toe hy die boksie oop maak kon ek steeds nie glo wat gebeur nie, so ek het net in sy arms in gespring en hom begin soen.  Hy het begin huil, die familie het begin huil en ek het besef ek het steeds nie ja gesê nie!  Hy het my weer gevra, ek het ja gesê en die ring vir die eerste keer raak gesien!  Al wat ek kon uitkry was: Dit is perfek.

Hy het op die beste manier moontlik my gevra om sy vrou te wees.  Dit was by die plek waar ek besef het ek wil ʼn verhouding met die man hê, saam al die mense wat vir my bitter belangrik was en op een van die mooiste somers dae.  Ek kan eerlikwaar sê dat dit perfek was.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het verloof geraak op die 26ste Desember 2019.  Die plan was om te trou op die 17de Oktober 2021, maar weens KOVID-19 moes ons die troue uitstel.  Ons het met al ons verskaffers gesels en vir hulle almal gevra vir die datums wat hulle beskikbaar het.  Julle sal dit nie glo nie, almal het net een datum oop gehad, die 20ste Februarie 2021.  Eerstens ek kon nie glo dat hulle almal net een datum beskikbaar het en en nog meer dat dit dit dieselfde datum by hulle almal is!  Dit was duidelik ʼn teken dat dit ons nuwe trou datum sou wees!

Ek het met die hulp van my ma, suster, pa en Werner die troue beplan, ons het geen trou beplanner gehad nie, net niggies wat Excel sigblaaie lief en rerig goeie organiseerders is en ʼn ma wat rerig goed met reëlings was!  Dit was bitter moeilik om in so ʼn vreemde tyd ʼn troue te beplan met met al die liefde en ondersteuning van my familie en vriende het dit bitter baie gehelp.

Trou Begroting:


Ek en Werner het saam gestem dat ons baie lekker kos wil eet, ʼn goeie platejoggie en ʼn fantastiese fotograaf wil hê.  Dit was ons twee grootste wense en van die belangrikste verskaffer aan wie ons geld wou spandeer.  So ons het seker gemaak om daai eerste uit te sorteer, die kos was moeilik so ons het ʼn bedrag uit gehou om seker te maak ons gaste kan lekker eet!

Ons trou begroting was oor die R300 000, maar ons doel was wel om weg te stap met spaar geld!  Werner is bitter goed met spaar, hy kan sy hele lewe net geld spaar, dit is ek wat dit ʼn bietjie moeilik maak vir hom ( my smaak is duur).  Ons het 5 Excel sigblaaie reg gehad vir die troue.  Die eerste een was net vir venues en hulle bedrae, tweede een was vir dekor en blomme, derde, vierde en vyfde blaaie was die drie venues wat ons gehad het en hoe dit als so in pas in ons begroting.

Excel Sigblaaie

Na Kovid besluit het om vir ons te herinner dat dit baas is, het daar 4 Excel blaaie weg geval en ons het weer van vooraf begin.  Ons het saam met albei ons ouers gesit en toe die begroting oor beplan. Ons het vir Antoinette Events gekontak en hulle raad gevra oor wat ons als gaan kort van die katalogus af om ʼn troue te kan laat gebeur op ons vakansie huis se stoep.  Hulle het gehelp met al die belangrike keuses, hulle het fantastiese raad gegee en hulle het seker gemaak ons gaan nie oor ons begroting nie!

Werner was fantasties as dit kom by ons begroting, ek het al die syfers vir hom aan gestuur, hy het seker gemaak alles is reg en dan het hy laat weet of dit kan werk of nie.  My ouers het ook vir baie goed betaal wat nie deel van die begroting was nie, so dit het ook bitter baie gehelp!  Ek gaan nie jok nie, dis moeilik om by jou begroting te bly as jy reeds jou hele troue op Pinterest beplan het!

As ek enige raad kan gee is dit dat jy en jou verloofde saam met mekaar moet sit en neer skryf waarop julle bereid is om geld te spandeer, sodat julle weet hoeveel julle het om mee te werk vir die res van die troue!  ʼn Troubegroting kan so intimiderend wees, maar as jy reg kommunikeer en gereeld kommunikeer met jou verloofde is dit een van die maklikste goed om af te handel!

Merkwaardigste Oomblikke:


Een van die grootste oomblikke vir ons albei was toe ons agter die huis gestaan het en gewag het vir ons liedjie om te speel sodat ons vir die eerste keer kan saam in loop as Mnr en Mev van der Merwe.  Toe ons daar staan het ek besef dat my grootste wens wel waar geword het.  Ons het ons verhouding begin by die huis, ons het verloof geraak op die stoep en nou het ons saam in ʼn huwelik ingetree op die grasperk.  Dit was soos ʼn volledige sirkel, dit was was duidelik dat dit “meant to be” was.

Werner het my ook op daardie oomblik herinner oor die dag wat ons verloof geraak het, dit was seker so uur na hy my gevra het, ek het op die stoep gestaan en na die rivier gekyk en ek het na hom toe gedraai en gese dat ek wens ons kon eintlik hier trou, maar die spasie was net te min.  Te danke aan die Here en so bietjie aan KOVID-19, kon my droom waar word.  Ek kon ons perfekte dag op een van die spesiaalste plekke in my lewe vier.  Ons altwee was so verbaas dat dit eintlik so mooi uitgewerk het.  Ek kan vandag met ʼn gelukkige hart sê dat die dag perfek was en ek weet hy voel presies dieselfde!

Paartjie se styl:


Ek en Werner was van dag een af op die selfde blad toe dit kom by ons troue se styl, die kleur palet het ons so bietjie oor koppe gestamp, maar die styl van die troue was maklik om op te besluit! Ons altwee wou skoon, vars, stylvol, “whimsical”, maar ook ʼn minimalistiese trou styl hê.  Dit was ook duidelik deur gedra op ons tafels, ringe, rok en pak.

My trourok:

Dit was seker een van die spesiaalste en grootste oomblikke in die hele trou beplannings proses en dit is alles te danke aan my ma en Cindy Bam.  My trourok is bitter minimalisties, baie reguit lyne, vreeslik stylvol en dit sal altyd tydloos bly.  Cindy het ʼn vraelys wat jy moet beantwoord voor jy haar sien en van die vrae is, wat jou tema vir jou troue is, wat die leer palet gaan wees en in watter tipe trourok sien jy jouself in.  Te danke aan Pinterest was ek goed voorberei vir die vrae.

Ek het daardie vrae in detail beantwoord sodat sy duidelik kan verstaan wat ek soek en verwag van ons afspraak. Ons het daar aangekom en sy het my weer gevra om die trourok te verduidelik, maar ook om die foto te wys wat my rok geïnspireer het en dan gaan sy die foto wys van ʼn trourok wat haar geïnspireer het vir my. EK BELOWE JULLE ONS HET VIR MEKAAR PRESIES DIESELFDE ROK GEWYS!!!  Dit was op daardie oomblik wat ek geweet het, die vrou verstaan my.

5 Trourokke …

Sy het 5 rokke gekies en vir my gesê dat sy weet die eerste rok is my trourok, maar ons kan steeds “dress up” speel.  Ek het die eerste rok aangetrek, vir ʼn split sekonde gedink dis dalk net te “plain”, maar toe ek uit die aanpas kamer loop het my ma, my suster, my een strooimeisie en my niggie se gesigte so opgehelder en toe ek omdraai en aan myself kyk was dit verby.  Ek het nog nooit in my lewe so mooi, so stylvol en so vroulik gevoel nie.

Cindy “spice” dit toe meer op deur om vir my ʼn tule romp te laat aan trek, dit was perfek, ek het nou basies 2 weergawes van ʼn trourok gehad, “whimsical” en ook modern en minimalisties.  Die emosionele breuk punt was toe sy ʼn sluier in my hare sit wat met die mooiste klein pêrels bedek was.  Ons almal het gehuil.  Dit was die enigste “detail” op my hele rok, maar dit was net genoeg.  Ek het soos ʼn bruid gevoel en sy het my soos die mooiste bruid in die hele wêreld laat voel en vir dit sal ek altyd dankbaar wes.

Werner se pak:

Ek en Werner het oor die pak se kleur verskil … Ek wou gehad het hy moet in ʼn swart pak trou en hy wou in ‘blou een trou, toe wou ek gehad het hy moet in ʼn koningsblou trou, maar hy wou in ʼn vlootblou trou.  Soos julle kan agterkom ons kon net nie saam stem op ʼn kleur nie … gelukkig het een van ons gunsteling mense, tannie Phillipa in gespring en ons vertel van Zed Menswear in die Kaap.  Sy het haar seuns se pakke vir hulle matriekafskeid daar gekry en een van haar seuns gaan sy trou pak daar koop so dit maak net sin dat ons saam gaan om te kyk of Willem vir my en Werner ook kan help.

Willem het vir ons altwee gevra wat ons tema is, wat ons styl is en toe vra hy vir my om my trou kaartjie vir hom te wys, ek het gedink dis vreemd, maar ek is so dankbaar ek het.  Willem het vir Werner ʼn middernag blou pak met ʼn spierwit hemp, bruin belt en bruin leer skoene laat aantrek en toe ek dit sien wou ek daai man net daar trou.  Dit was die mooiste blou wat ek nog ooit gesien!  Stylvol, skoon, minimalisties, maar tog het dit steeds ʼn “statement” gemaak.  Die pak was elke sent werd en elke keer wat Werner dit aantrek wil ek hom sommer weer trou!

Ons trouringe:

Ek wou nog altyd ʼn swart diamant verloof ring gehad het, ek het verlief geraak op Carrie Bradshaw sin in Sex and the City.  Dis ʼn diamant wat bitter “underated” is, maar wat so ʼn “statement” kan maak.  Werner het niks van dit gehou nie, maar tog soos hy is, het hy die mooiste swart diamant verloof ring laat maak by Van Deijl.  Die steun kom al die pad van Israel af en die twee klein wit diamante aan die kant is “brilliant round cuts”, die suiwerste, mooiste en perfekste diamante wat ek al gesien het.  y trou pant is net so perfek, “half eternity” met mooi prettige diamantjies in, saam is dit die mooiste stel wat ek al ooit gesien het.

Werner het sy biologiese pa op ʼn baie jong ouderdom verloor, maar was in die geseënde posisie om sy pa se trou ring te kry.  Ons het dit van Deijl toe gevat, waar hulle die ring gesmelt het en to dit ʼn bietjie nouer, maar sterker gemaak het, asook kleiner.  Hy dra nou vir altyd ʼn stukkie van sy pa saam hom.

Die Besluitnemingsproses:


Ek is in ʼn gelukkige posisie om baie eerlike mense in my lewe te hê, so die besluitnemingsproses was vinnig en bitter eerlik.  Ek het elke maand vir my ʼn lysie gemaak van sekere goed wat afgehandel moes word voor die maand verby is, en my een strooimeisie het ook die mooiste bruidsboek vir my gekoop wat my gehelp het om op ʼn tydlyn te werk.

Dit was bitter moeilik in die begin, want ek het die fout gemaak om vir te veel opinies te vra, maar toe het Werner my een aand herinner dat dit ons twee se troue is en almal se smaak verskil so daar gaan altyd iets wees wat iemand anders nie gaan van hou nie, maar dat dit ook okay is, want dis nie hulle dag nie, dis ons sin.  Na hy dit gesê het was ek baie rustiger en na al die chaos van KOVID-19 het daardie laaste maand se beplanning net so glad geloop, want my ouers, suster en Werner was net ongelooflik behulpsaam en ondersteunend.

Spesiale Tradisies:


Ons het ʼn tipiese Afrikaanse troue gehad, met die tipiese Afrikaanse tradisies.  Wat wel bitter oulik was, was dat Werner se een ouma, Ouma Anneline, vir ons die mooiste kussinkie gemaak het waaraan ons, ons trouringe vas gemaak het.  Sy het op die ouderdom van 85 self die kussinkie gemaak, met ons name, trou datum en die mooiste borduur werk.

Ons het wel weg gebreek van tradisie toe dit by ons blomme meisie kom!  Ons het gedink ons wil die groot oomblik so interessant as moontlik hou, daarom het Werner een van sy beste vriende gevra of hy ons “blomme-man” sal wees, en julle die man het nie teleur gestel nie.  Neil het die taak bitter ernstig op gevat en ek kan met ʼn groot glimlag sê dat hy beslis een van die beste blomme manne was wat ek al ooit gesien het!

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is seker die moeilikste vraag om te beantwoord, want ons was deur so baie emosies en moes so baie goed verander op kort kennisgewing, maar deur dit als het elke diensverskaffer ons ondersteun, verstaan en gevra waar hulle kan help.  Ek kan net nie een uitsonder nie, maar daar is drie aan wie ek verewig en altyd vir sal dankbaar wees.

My gunsteling 3 diensverskaffers

Mardida van Paradiso blomme, Coetzer Cooke van Coetzer Photo en Antoinette Events. Paradiso moes my blomme drome probeer waar maak by die verskillende venues, waar elkeen tenminste 200km weg was van mekaar, maar elke keer wat ek haar laat weet het dat die venue verander het, het sy haar bes probeer om dit te maak werk. Coetzer Cooke van Coetzer Photos, was net ongelooflik, hy het DIE mooiste fotos geneem en ek sal vir ewig dankbaar wees vir hom en sy ondersteuning.

Laastens Antoinette Events van Bredasdorp, hulle was DIE BESTE!  Ons moes in ʼn maand ʼn troue van voor af beplan, by ons vakansie huis wat niks het vir ʼn trou venue nie.  Ons moes aan alles dink, van gehuurde toilette tot drie verskillende glase, want niemand gaan dieselfde drankie bestel nie.  Hulle het daardie hele proses vir ons so maklik gemaak.

Nikki van Antoinette Events was die koördineerder op die dag en sy het dit alles so goed hanteer!  Ek kon nie glo wat sy en haar span reg gekry het in net ʼn paar uur nie.  Nikki het die hele aand so laat glad loop, elke gas het ʼn warm bord kos gekry, elke tafel was skoon en netjies gehou, elke kelner was vriendelik en behulpsaam, elke happie kos van die dag was ongelooflik lekker en die volgende dag toe als verby was het sy en haar span binne twee ure als kom weg pak.  Ongelooflik beskryf nie rerig hoe goed hulle is nie, beter dink ek ook sal jy nie maklik kry nie en vir hulle sal ek altyd dankbaar wees!

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Behalwe vir KOVID-19 en die feit dat ek helfte van my gaste moes sny, kan ek met ʼn bitter gelukkige hart sê dat my en Werner se spesiale dag perfek was!!!  Ja daar was klein goedjies wat gemis was soos niemand het die programme uit gedeel nie, die sitplekkaart was by die huis vergeet en die bruidegom, strooijonkers en pa’s het hulle boutonnieres vergeet, maar dit was klein goed en ek was eers na die tyd van dit in gelig, wat slim was!  Toekomstige bruide, verloofdes, ma’s en vriendinne moet nie vir die bruid op haar dag vertel van goed wat verkeerd loop nie, wag tot a die tyd!!! Toe ek ingelig was oor die klein goedjies die volgende dag het ek net gelag, dit was klaar verby en die dag dag was so lekker dat ek nie gepla was oor daardie paar goedjies nie!

Venue & Dekor:


“WHAT A ROLLAR COASTER OF A RIDE.”  Ek dink ek is een van vele bruide wat dit vir julle sal kan sê as dit kom by troues in 2020/2021.

Weens KOVID-19 ons trouvenue verloor:

Toe ons verloof geraak het by ons gesin se vakansie huis, wou ek bitter graag daar trou, maar ons het so baie spesiale mense in ons lewens dat ons geweet dat dit net nie prakties so werk nie.  Ons het toe besluit op Au de Hex, Wellington en ons sou trou op die 17de Oktober 2020.  Dit was perfek, Werner kom van Wellington af asook sy hele familie.  Dié trouvenue het die mooiste glas huis wat ons wou bedek met feetjieliggies en ʼn stunning dek op ʼn dam (wat die gevoel van ons rivier huis gegee) waarop ons die seremonie wou laat plaas vind.

Maar toe kom KOVID-19 en die die getalle het aanhou styg en toe laat weet Werner se ouers ons dat hulle nie die maand van Oktober sal kan kom nie, want SA se getalle is te hoog en Kanada laat geen vlugte SA toe nie.  Ons moes ongelukkig die trou datum skuif, maar met dit het ons die pragtige Au de Hex venue verloor.

Nuwe troudatum en trouvenue:

Ons het toe ʼn nuwe trou datum gekies, 20 Februarie 2021, Werner se ouers het laat Desember af gevlieg en seker gemaak dat hulle hier sal wees vir die troue.  KOVID-19 het ook besluit om te bly en met dit het die getalle net al hoe meer geraak.  Ons het wel ʼn trouvenue gevind wat ons sou kon akkommodeer, die pragtige Black Oystercatcher in Bredasdorp.  Dis een van die netjiesste en mooiste wynplase in die Wes- Kaap.  Alles het so perfek uit gewerk, al my verskaffers het die 20ste Februarie beskikbaar gehad, die pragtige kerk in Elim was beskikbaar, Black Oystercathcer kon al 150 gaste akkommodeer, maar KOVID-19 het besluit dis net te lekker warm en vrolik nog hier in die Wes-Kaap en die getalle het al hoe meer geraak.

“Family Meeting”

Ons arme president het ʼn “family meeting” in Januarie uit gesaai en die eerste woorde wat hy gesê was dat ons terug gaan vlak drie toe en daar mag nie meer as ʼn 100 mense in ʼn vertrek wees nie.  Troues gaan dalk ook nie kan gebeur nie.. my hart het gebreek, dis klaar stresvol om ʼn troue te beplan, dis nog erger om ‘ʼn nuwe trou datum, asook trouvenue op te spoor in die vreemde tye, maar om ʼn maand voor jou groot dag uit te vind jy gaan dalk nie kan trou is seker een van die seerste en stresvolste gevoelens wat enige bruid sal beleef.  Ons het met my ouers en Werner se ouers gesels, ons het besef ons moet trou, ons kan nie ons trou datum verander nie, want Werner se ouers moet terug gaan Kanada toe voor hulle vas gevang word in SA.

Trane in my oë …

Ek en Werner het na mekaar gekyk met trane in my oë, want 1) ons het besef ons moet die venue ook laat gaan, 2) ons gaan ons gaste lys moet sny en 3) ons moet ʼn nuwe venue soek wat ons sal kan akkommodeer in die vreemde tye.  Die ridder op sy wit perd was toe my pa, hy het voorgestel ons hou die troue op ons stoep, waar ons verloof geraak het in Malgas, Breederivier.  Ons almal het daardie volgende naweek af gery Malgas toe en begin meet en kyk hoeveel gaste ons sal kan laat sit, eet en dans op die stoep.

Werner en my pa het onmiddelik ingespring en my, my ma en sussie begin help om vir ʼn derde keer ʼn troue te beplan in KOVID-19 en in ʼn maand.  Dit was ongelooflik, alles het net in plek geval.  Dis asof die Here sy hand op ons gesit het en seker gemaak het dat alles sal glad loop, en dit het.  Ons het met die hulp van ons verskaffers, veral Antoinette Events, my ouers, suster en man die mooiste troue gehad op die 20ste Februarie 2021 by ons vakansie huis met 76 gaste.

Troudekor:

Ons wou ʼn skoon gevoel gee toe dit by die tafels kom so ons het gefokus op ons blomme en eetgerei, dit het al die praat werk gedoen.  Paradiso het die mooiste rangskikkings op die tafels gehad en die mooiste servette en kerse neer gesit.  E het deur Baie Goeters die mooiste goue messe en vurke gehuur, asook ”wonky wear” borde.  Ons het ʼn groot marquise tent gehuur, al ons banke wat ons in ons huis gehad het afgedra, poewe, kussings, vate asook matte neer gesit en die lekkerste kuier area langs die rivier geskep.

Ons fokus was om “cocktail hour” so lekker en gemaklik as moontlik te maak en om die stoep formeel en stylvol te hou.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


My advies sal wees om met familie lede en vriende te gaan gesels wat al getrou het en dan vra jy hulle vir hulle tydlyn, gunsteling verskaffers en wat hulle wens hulle sou verander het as hulle kon. Ek het verskriklike kreatiewe en georganiseerde niggies/aangetroude niggies en hulle het albei sprokie verhaal troues gehad so ek het geweet hulle sal ongelooflike goeie advies asook Excel sigblaaie hê! Albei van hulle het hulle tydlyne as ook hulle “do’s, dont’s and wont’s” en dit was so ʼn groot hulp, veral omdat ons die troue self beplan het.

As jy gelukkig is om ʼn ma en pa soos myne te hê sal ek voorstel dat jy hulle ook betrek, hulle sal altyd vir jou ʼn eerlike opinie kan gee, maar moet nooit te veel mense se opinies vra nie, ek het in die begin daardie fout gemaak en as dit nie vir my ongelooflike verloofde was nie dink ek, ek sou nou nog bekommerd gewees het oor van die opinies.  Skoonouers wil betrokke wees, soms te betrokke en dit is belangrik om hulle deel te laat voel van die dag, want dis tog ook belangrik vir hulle, maar gesels eers met jou verloofde en laat hy met sy ouers gesels, dit help net met onnodige seer asook konflik.

Laastens, onthou asseblief dat dit jou verloofde se dag ook is en net soms wil hulle ʼn opinie lewer oor goed wat vir hulle belangrik is! Dalk wil hy nie ʼn swart pak dra of vis by die troue eet nie en ander kere gaan hy of sy die beste raad hê vir ʼn sekere situasie, so fokus op kommunikasie!

Wittebrood:


Ons plan was om te gaan sneeu ski, maar KOVID-19 het gedink dis beter om eers in Suid Afrika ʼn wittebrood te hou en daarvoor sê ek dankie.  Ek en Werner het die mooiste lodge ontdek op Instagram! Khanyisa Mountain Lodge ( https://www.khanyisamountainlodge.com/ is geleë buite die mooie dorpie Robertson buite op ʼn berg … Dis ʼn verskriklike mooi rit na die lodge toe en die oomblik wat jy daar stop is jou asem weg geslaan. Khanyisa het dit reg gekry om luuksheid met die bos en berge te kombineer. Elke hoek en draai was met detail beplan, elke kamer het ʼn warmbad, kombuis, stoep en braai area nea die kamers is asemrowend mooi. Jy is afgesonder van alles en almal, so dis die perfekte plekkie vir ʼn pas getroude paartjie.

Ons het die Vrydag middag daar aangekom en onmiddelik die warm water bad en braai area uit getoets! Saterdag was ʼn dag vol van stap roetes, wyn proe, lekker kos en lekker swem. Khanyisa het die mooiste oorvloei swembad en ons was gelukkig om die hele area vir onsself te hê.  Daardie aand het ons vir 6 ure in die warmbad gekuier en toe terug beweeg na die stoep toe vir ʼn lekker maaltyd en wyntjie.

Die plekkie is rerig ʼn ongelooflik mooi, intiem en so uniek, die eienaars is so vriendelik, gasvry en wil rerig vir jou die beste moontlike ervaring gee. Ons gaan beslis terug gaan!

Eerste Dans:


Ons eerste dans, dit was intiem, liefdevol, vrolik en bitter spesiaal.  My en Werner se verhaal het nie so mooi en liefdevol begin soos baie ander nie.  Ons het mekaar ontmoet in ʼn kuier plek in Stellenbosch en ek het vir hom duidelik gemaak dat ek net ʼn vriendskap soek, na ʼn hele jaar van hard werk het ek uiteindelik in gegee en my pa het vir Werner gesê dat hy baie meer uithou vermoë het as enige iemand wat hy ken.  So natuurlik moes ons eerste dans liedjie Tougher than the Rest wees van Bruce Springsteen.  Daar was so baie woorde in die liedjie wat ons twee se paadjie so goed beskryf het.

Ek sal daardie 3 minute vir niks verruil nie, die liedjie het begin speel, almal het om ons kom staan met daai groot vonkels en toe ek en hy begin dans, het alles verdwyn .. dit klink soos ʼn cliché, ek weet, maar dit het rerig gebeur, op daardie oomblik het ek besef ek het met my beste maatjie getrou, ek gaan elke dag langs my beste maatjie wakker word en ek gaan vir die res van my lewe alles aan pak met my beste maatjie!  Dit is een van die lekkerste gevoelens ooit!

Vermaak:


Ons het ʼn ongelooflike goeie platejoggie gehad wat so ʼn wye verskeidenheid van musiek gespeel het!  Justin van Oasis Entertainment het iets uit elke era gespeel, van Queen of Hearts tot The Weeknd se Blinding Lights.  Justin het dit reg gekry om ons almal op ons voete te hou.

Hy het die regte vrae gevra toe ek en Werner ons leer ken het, hy het saam met ons gestaan na ons 3 keer ons venue moes verander het, hy het tot afslag gegee, want hy was bang ons het dalk êrens geld verloor.  Justin is nie net ʼn goeie verskaffer en platejoggie nie, maar ook ʼn goeie mens wat net jou dag vir jou die beste moontlik wil maak.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


KOVID-19, was soos ʼn seëning en ʼn vloek – 3 venue, 2 trou datums, klomp trane, maar tog het ek en Werner steeds ons droom troue gehad.

KOVID-19 het ʼn groot rol in ons troue gespeel en dit was nie altyd positief nie.  Ek sal nooit vergeet hoe my hart vinniger begin klop het elke keer as ons president ʼn “family meeting” aan kondig nie of as News 24 die nuutste oor inligting gee oor Kovid- 19 nie, die angs, trane en seer wat saam met dit gekom het is iets wat ek nooit sal wens op enige bruid nie.

Ek het gedink het my droom venue verloor, ek was geskok toe ek nog ʼn ongelooflike venue kry, ek was hartseer toe ek daardie venue ook moes laat gaan, ek was in trane toe ek my gaste lys moes sny, maar ek was nog nooit so dankbaar om die Here aan my kant te hê toe Hy dit moontlik gemaak het om so ʼn spesiale trou dag te laat gebeur op ʼn besonderse spesiale plek nie.

Lesse geleer van KOVID-19

KOVID-19 het ons baie lesse geleer, ons het geleer dat ons nie alles kan beheer nie, ons geleer hoe belangrik familie is, ons het geleer dat as jy aanhou bid sal die Here die regte deure oop maak en ons het geleer hoe belangrik die tyd met ons naaste is.  As daar een ding is wat ek wens ek kon verander op my trou dag is dat ek net al ons gaste daar sou wou hê, maar gelukkig het ons sulke ongelooflike mense in ons lewens dat hulle verstaan het toe ons hulle moes sny.  Hulle het steeds in geloer, ons ondersteun en hulp aan gebied waar hulle kon en vir dit sal ek altyd dankbaar wees.

KOVID-19 het baie teleurstellings veroorsaak, maar dit het ook vir ons so baie geleer.


Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: