Peter & Chaveli se plaastroue

Peter en Chaveli se plaastroue was presies wat hulle wou gehad het – ‘n groot wit troue wat beide van hulle nooit sal vergeet nie.  Die twee het slim te werk gegaan met klein hoeveelhede kleur wat bygevoeg is tot die oorwegend wit kleurskema om seker te maak dat die geleentheid steeds vrolik en feestig lyk.  Gaan kyk ook na hul trou video wat onder aan die artikel te sien is en lees meer van die twee se ontmoeting onder.

Ons by Mooi Troues is absoluut mal oor die foto’s wat geneem is saam met die perde.  Dit gee die troue ‘n gehele plaastroue gevoel.

Geniet Peter e Chaveli se plaastroue

Hoe het julle ontmoet?


Ons het ontmoet toe ek 16 was en hy 20. Dit was ‘n ‘liefde met die eerste soen’ tipe situasie. Hy het net besluit hy is moeg om my te vra om te gesels en ek wat dan nie wil nie, en het my toe net een aand gesoen. Van daardie oomblik was ons saam gewees. Hy is ‘n groot rugbyspeler met ‘n klein sagte hartjie en sy mooi maniere het my aangetrek. Hy het altyd my keuses en waardes respekteer en daarom is ons nou nog saam. Vir hom was dit spesiaal om iemand te vind wat bietjie anders is, wat op geloof en waardes gefokus is. Dit het hom laat voel asof daar standvastigheid sal wees in ons toekoms. Ons is baie lief vir mekaar nes ons is en het nooit mekaar probeer verander nie.

Wat was jul troue se styl en waarom het julle die venue gekies?


Ons het nie ‘n spesifieke styl of tema gehad nie. Ons wou die troue meestal tradisioneel hou. Nie een van ons was al getroud of het kinders nie en wou albei ‘n groot wit troue gehad het. Die venue is pragtig en het perfek ingepas by wat ons in gedagte gehad het. Die feëtjie ligte, kandelare en drapering het by die dekor gepas en alles mooi afgerond.

Was julle op ‘n wittebrood?


Ons het besluit om volgende jaar op ‘n behoorlike wittebrood te gaan. Vir nou was ons na een van ons gunsteling plekke, Mosselbaai.  Ons het vir ‘n week by die Dias Hotel gebly en dit was fantasties!

Wat sou julle graag wou verander?


Ons het binne tien maande getrou.  Dit is nie so lank soos ‘n mens dink nie.  Ons sou langer neem sodat ons tyd kon hê om daardie klein goedjies wat ons nog wou doen, kon byvoeg.  Definitief sou ons ook wou probeer om ‘n begroting op te stel en daarby te hou.  Ons het dinge maar gedoen soos dit kom, elke maand iets gekoop of betaal.

Watter raad het julle aan ander paartjies wat hul troue beplan?


Nooi wie regtig saak maak, mense met wie jy ‘n goeie verhouding het.  Moenie dat dit ‘n ondraaglike tyd word terwyl julle beplan nie. Werk saam en geniet dit. Doen wat julle graag wil, dis julle dag!

Wat was jul begroting en het julle daarby gehou?


Daar was nie ‘n begroting nie omdat ons nie geweet het wat alles sou kos nie.  Ons het kwotasies gekry, na almal se werk gekyk en besluit wat die beste is vir ons.  Ons wou alles doen soos ons dit wou hê so ons wou nie komponeer nie.  Jy trou net een dag. Geld sal weer daar wees, maar ‘n tweede kans nie. Ons het stukkie vir stukkie betaal en aangekoop. Ek het alles neergeskryf en eers na die troue opgetel.  Dit was  om en by R145 000.  Ons het groot gegaan en dit was alles die moeite werd!


Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: