Jaco & Ingrid se intieme selfdoen troue

Hier by Mooi Troues deel ons vandag met ons lesers meer oor Jaco en Ingrid se intieme selfdoen troue.  Hierdie troue is in slegs vier dae gereël.  Dit wil gedoen wees!

Jaco en Ingrid wys mens hoe om ʼn troue in baie min tyd te reël.  Meeste van die trou diensverskaffers was meer as gewillig en so kon hulle drome bewonder.  Die paartjie het by ʼn besonderse mooi huis getrou.  Dit was nie eers nodig vir baie dekor nie omdat hierdie trou venue so ongelooflik mooi was.  Dit het hulle albei se behoeftes bevredig en dis presies wat hulle wou hê.

Die trourok en bruidegom pak het so mooi mekaar komplimenteer.  Alles het net perfek saam gewerk met die hele trouvenue en die styl van die paartjie se uitrustings.  Die troudekor was minimalisties en simplisties.  Dit het beslis ʼn elegante gevoel en atmosfeer geskep.

Hierdie paartjie bied soveel trou inspirasie en wenke.  Rol gerus af en geniet Jaco en Ingrid se intieme selfdoen troue.

Wie het die fotosessie gereël?


Die bruid, Ingrid Smit.

Inspirasie agter die fotosessie:


Beide ek en my man hou van vintage.  Skoon en simplistiese foto’s.  Iets wat die oog dadelik vang sonder om mooi/op te maak.  Moeiteloos in ander woorde.  Ons wou dit klein hou aangesien dit net twee gesinne gaan wees.

Agter die skerms van die fotosessie:


Aangesien ons troue uitgestel was weens KOVID-19, was die troue baie kort kennisgewing.  Naaste familie en vriende het almal ingespring om te help met dekor.  Binne 4 dae was ons troue gereël.  Besighede is nie Sondag oop nie, maar Jenny Laubscher was bereid om my te help met grimering asook Peppie met my hare.  Ons familie dominee het ingestem vir die seremonie.  Die fotograaf het egter noukeurig gekies.  Beide van ons het bruin/goud ondertone in ons foto’s gesoek en besef dat Jacki White Photography binne dieselfde kleurskema as ons werk.  Warm Vintage foto’s.  Niks was beplan, dit was ons teen tyd.

Merkwaardigste deel van die fotosessie:


Alles het so maklik gebeur/gevoel.  Daar was soveel stres en teleurstelling tot voor daardie naweek dat ʼn mens bang was dat jy nie jou dag sal geniet nie.  Alles het rustig geraak, in die oomblik gevoel.  Jy het jou nuwe man geniet, die oomblik saam met hom ingeneem terwyl die fotograaf in die agtergrond was.  Alles gebeur so vinnig dat jy iewers moet stop en rustig raak.  Ons fotograaf het aanhou foto’s neem en ek is verlief op die uitslae.  Foto’s vang elemente vas wat mens nie self op daardie oomblik kan raaksien nie.

Dekor:


ʼn Familie vriend, Marieza Geustyn, het die dekor onder hande geneem en die res van die familie/vriende ook ingespan.  Daar was besluit op natuurlike “blomme” soos wat in daardie spesifieke omgewing voorkom, naamlik olyftakke, proteas en kapokbos.  Verder is daar warm, geel-lig liggies en kerse ingedruk om die vertrekke warm en romanties te maak.  Al die takke en blomme kom uit my skoonma se tuin op die plaas.  Net die proteas met hulle sagte wit linte is gekoop.  Ons het foto’s van ons tydlyne uitgestal om die dag meer persoonlik/ons s’n te maak.

Kleurskema:


Die huis is in die vroeë 1900’s gebou en beskik oor ou hout.  Ons het daarom op wit en sage-groen besluit wat die hout die mooiste sal komplimenteer.  Dit is helder genoeg om ʼn vertrek op te maak, maar sag genoeg om die huis die fokuspunt te hou.  Ons het iets gesoek wat nie die vertrekke nie te besig sal maak nie.

Venue en Ligging:


Die huis is indrukwekkend en staan tussen ladings dennebome.  Ons het dit gekies omdat dit naby geleë is, pragtige plekke vir foto’s het en omdat dit ons styl perfek komplimenteer.  Klassiek.  Beeldskoon sonder om te veel moeite te doen.  Dit is ruim genoeg vir ʼn intieme troue en die eienaars is lieflike mense.  Ons het dit gekies omdat die huis op sy eie al klaar ons foto’s perfek sou maak.

Trourok en bruidegom pak:


Troupak:

Ons het besluit op ʼn swart bruidegom pak met ʼn dun das en wit hemp naaste aan 1950/60’s bruidegom pak omdat die bruidegom lank en skraal is.  Die lapel is satyn om die bruidegom pak meer formeel te maak.

Trourok:

Die rok is binne vyf dae gemaak.  ʼn Eenvoudige, klassieke sirkel romp rok met strikkies op die skouers.  Die snit is gekies omdat dit die middel fyn beklemtoon en dramaties is agter.  Dramaties maar sag.  Soos die huis wou ek dit pragtig maak sonder te veel detail.  Sodoende kon ek enige geërfde juwele aansit sonder dat dit aandag steel.

Advies aan toekomstige paartjies wat troue beplan:


Kies ʼn fokuspunt en hou daarby.  Alles kan nie gelyktydig aandag steel nie.  Dit geld vir dekor en klere.  Of jou juwele is dramaties, of jou rok is dramaties.  Sodoende dra jy jou rok en nie andersom nie.  Wat die venue aan betref, ʼn troue is stresvol op sy eie.  Kies ʼn venue/omgewing wat pragtig is sonder baie werk.  Jy sal verbaas wees wat kerse en blare kan verrig.  Werk slim, byvoorbeeld, sit kerse in glas houers om die warm lig te weerkaats en te verdubbel.  Spieëls sal ook werk.  “Minder is meer”.

Enige iets anders wat ons dalk nie gevra het nie wat jy wil hê ons klem op moet lê in die artikel?


Pragtig kos nie altyd geld nie, net moeite en tyd.  Ons het ʼn besonderse spesiale dag gehad en dit was moontlik danksy ons familie se tyd en moeite.  As gevolg van ʼn intieme troue kon ons met ons gesinne kuier so moet nie vaskyk aan wat jy nie kon hê nie.  Hulle sê dit is maklik om onvergenoegd te wees.  Sien dit wat jy het.  Ander mense beskik nie eers oor jou ‘minste’ nie.  Onthou waarvoor jy daar is, en maak seker jy neem dit in.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Diensverskaffers: