Gideon & Cherine se elegante Bosveld troue

Dié inskrywing wat ons nou met Mooi Troues se lesers deel is van Gideon en Cherine se elegante bosveld troue.  Wat dit alles nog meer besonders maak is dat Gideon en Cherine die Mooi Troues se Troue van die Jaar kompetisie 2020 in die eerste plek gekom het.  Die prys wat hul gewen het is 3 nagte by die luukse hotel Angala Boutique Hotel in Franschhoek ter waarde van R39 500.00.

Mooi Troues se lojale lesers sal Gideon en Cherine se gesigte herken omrede ons al hul verlowing fotosessie ook op ons webjoernaal gedeel het.  Julle kan na Gideon en Cherine se veelsydige verlowing fotosessie gaan kyk deur hier te klik.

Die elegante bosveld troue was gevier by Mooiplaas Trou en Funksie Venue trouvenue in Limpopo, geleë tussen die Waterberge.  Daar ervaar jy ʼn stukkie Kaap in die hartjie van die bosveld.  Die trouvenue was elegant opgemaak met baie glas en goud elemente.  Mooi Troues se lesers wat graag in die bosveld wil trou sal Gideon en Cherine se elegante bosveld troue propvol trou inspirasie vind.

Cherine se trourok was ook definitief besonders – klassiek, modern en noupassend.  Sy vertel: “Ook is ek mal oor vere en ietsie wat blink.  Ek is so effens waaghalsig in my poging om uniek te wees.”  Toekomstige bruide wat graag uniek wil wees kan ‘n paar idees van Cherine se trourok kry.  Onthou dit is jou troue, so kies ‘n trourok uniek aan jou!

Die KOVID-19 pandemie het verseker ‘n reuse effek op Gideon en Cherine se troudag gehad, gelukkig was hul troudatum nie geskuif nie.  Ons lesers kan lees oor die effek van die wêreldwye pandemie op die paartjie se troue.

Rol af om elke foto van Gideon en Cherine se elegante Bosveld troue te geniet.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar by ʼn diamantmyn in Cullinan ontmoet.  Nadat ons gemeenskaplike vriendin ons aan mekaar voorgestel het wou Gideon net gesels.  Ek kan self nie veel van die toergids se praatjie onthou nie.  Ons het sedertdien nog nie opgehou lag vir mekaar nie.

Ons private lugballon kon nie die 17de Desember 2019 opstyg vir die verlowing wat Gideon eers beplan het nie.  Die wind was te sterk.  Hy moes my toe sommer in my ouers se tuin vra met die hele gesin wat skelm vir ons loer.  Ek het absoluut niks verwag nie (wat ʼn wonderwerk is want mens vang my nie sommer uit nie).  Ons het die volgende dag steeds die asemrowende vlug gaan doen en vir die tweede keer verloof geraak!

Gideon het altyd gespot dat ek hom eers sal moet vra maar op die ou einde het hy maar die knie gebuig.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was ongeveer ʼn jaar lank verloof.  Dit is ʼn baie besondere tyd in mens se lewe (eintlik bittersoet).  ʼn Mens sien uit na die nuwe uitdagings en geleenthede maar raak ook nostalgies oor tye wat vir nou eers verby is.

Ons het die troue self beplan en was dit nou vir jou ʼn storie met die hele pandemie wat ons nie ingereken het nie!  Daar moes fyn beplan word en dan skielik weer oor begin (herhaaldelik) weens inperkings en tekorte in Suid-Afrika asook die buiteland.

Ons het almal sterk persoonlikhede en het geweet ons benodig slegs die hande om ons idees ʼn werklikheid te maak.  Ons het spesifiek ook ons diensverskaffers so gekies dat hulle presies sou luister na ons unieke smaak en idees.

Trou Begroting:


Ons het aan die begin gemik vir R300000. Ongelukkig kon ons nie presies daarby hou nie.

Ons moes soveel ekstra goedjies reël vir ingeval die pandemie iets in die wiele sou ry.  Ons moes betaal vir Plan A en Plan B asook Plan C!  Later het ons net oë toegeknyp en aanbeweeg.

KOVID-19 het maar bygedra omdat die blomme op die mark byvoorbeeld 10 keer die prys was as voor die inperking.

Mens besef ook dat as mens dit behoorlik doen – dit net eenkeer in mens se lewe gaan plaasvind en dat mens spyt sal wees as mens nie alles insit nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruidegom:

Hoe beter mens beplan.  Hoe makliker en rustiger is jou dag.  Sterkte!

Bruid:

Probeer elke oomblik inneem want die dag flits verby!  As jy kan – skeduleer nog meer tyd vir foto’s as wat jy reeds beplan het.  Mens kan nooit teveel foto’s hê nie.

Spesiale Tradisies:


Ek en my pa geniet dit om heupe te swaai en tradisionele danse saam te doen op die dansvloer.  Ons het dit gate uit geniet.

Die konfetti was peperboom blare wat my ma se kinderjare op die plaas in Makwassie verteenwoordig het.  Die rooigrond en klassieke musiek het weer my pa se kinderjare en ons jaarlikse familie Mabula naweek verteenwoordig.

Gideon se pa het vir ons ʼn tafelgebed gedoen soos net ʼn Suid-Wester kan.  Gedurende die aand is daar heelwat Nederlandse gesprekke gevoer om Gideon se moeder se ouers ook te verteenwoordig.

My boetie en Gideon se broer en sussie het die heildronke ingestel op die ouers.

Pioene moes in my ruiker wees as gunsteling blom maar ook as ʼn simbool van ewige liefde.

Natuurlik was die grootste gedeelte van die koek wortelkoek omdat dit Gideon se gunsteling is.

My enigste voorwaarde vir die gaste was dat hulle nie mag ry as hulle nog nie ʼn foto saam met die bruidspaar het nie.  Ek is mos verslaaf aan foto’s neem.

Merkwaardigste Oomblikke:


Gideon:

Die bruid.

Cherine:

Die hele dag was vir my een lang merkwaardige oomblik.  Elke gesig wat opgedaag het (ten spyte van al die hindernisse in die pandemie) was vir my ʼn hoogtepunt.  Almal was gesond en almal het bitter mooi gelyk.

Ek sal ʼn boek kan skryf oor elke gas se verhaal om die troue te kon meemaak.  Ek kan regtig niks uitsonder nie.  Die troudekor, my trourok, die kos, die bruidegom, die blomme, die seremoniemeester, die bosveld, die kerk … alles was net onbeskryflik gewees!

Paartjie se styl:


Gideon het ʼn moderne styl en hy hou van mooi aantrek.  Hy lyk perfek in elke kleur.  Die blou was statig, vars en pret. Hy wou egter steeds gemaklik wees en nie te warm kry in die somer in die bosveld nie!

Gideon wou verskillende metale in sy ring hê.  Hy hou van ietsie uniek, modern maar tog manlik.  Sy ring bestaan goud en platinum met ʼn growwe tekstuur.

Dit is moeilik om my styl te beskryf.  Ek dink ek het tog klassieke, moderne smaak, maar die trourok moes noupassend wees.  Ook is ek mal oor vere en ietsie wat blink.  Ek is so effens waaghalsig in my poging om uniek te wees.  Anel Botha het letterlik die perfekte rok vir my gemaak!

Ek het voorheen genoem dat ek mal is oor goud.  Dit pas by my vel en lyk altyd stylvol.  Ek wou drie diamante gehad het wat God simboliseer as die middelpunt van die huwelik met die kleiner diamante weerskante wat die bruid en die bruidegom verteenwoordig.  Ek wou gehad het as mens vir my hand kyk moet mens net die stene sien.  My ma, Gideon en Oom Willem het ʼn verruklike ring ontwerp.

Die Besluitnemingsproses:


Bruid, bruidegom en die bruid se moeder was ʼn goeie span.  Die bruid het maar die finale besluite geneem.

Ons het waardevolle opinies gehad en elkeen het ʼn stukkie advies gegee, wat ons gebruik het omdat meeste van ons gaste reeds deur hierdie proses was voor ons.

Ons familie en vriende was ware steunpilare gedurende hierdie stresvolle, prettige tyd.

Venue & Dekor:


Ons het ʼn plek gesoek wat modern, stylvol en elegant is, maar in die hartjie van die bosveld met baie rooigrond is.  Ons het na ʼn hele paar plekke gekyk en was nie heeltemal tevrede nie.  My ouers se vriende het ons vertel dat hulle reeds ʼn troue bygewoon het by ʼn plek wat perfek by my en Gideon sou pas.  Ons het gaan loer en was onmiddelik oorreed dat Mooiplaas perfek sou wees vir ons.
Mooiplaas is die perfekte kombinasie van deftig, maar nederig.

Ons inspirasie agter die troudekor was maar die feit dat ek mal oor goud is.  Ek hou van die mode waar die blomme uit die dak uit hang sodat mense mekaar in die oë kan kyk en lekker kan gesels. Die idee was dat die dekor tog ʼn indruk maak maar steeds minimalisties en natuurlik is.

My ma is ongelooflik kreatief en stylvol.  Sy het die saal geskets uit haar kop uit.  Sy het haar vriendin, Rozanna Jackson, genader om die droom ʼn realiteit te help maak.

Gunsteling Diensverskaffers:


  • Mooiplaas
  • Corne van White Motion Films
  • Anel Botha
  • Cecile van So Kreate
  • GP van Rheede Van Oudtshoorn
  • Louis van Wedding Party
  • Alecia van Ubella

Ons sal beslis elkeen van ons diensverskaffers aanbeveel.  Ons is natuurlik voorgetrek omdat almal uitgehonger was vir ʼn troue teen daardie tyd.

Vermaak:


Seremonie:

Natasha Van Niekerk en Therese Havenga (van Voices Div!ne) het “A Love Until the End of Time” vir ons gesing.

Deirdrè Rautenbach (bekende sopraan) het Die Onse Vader vir ons gesing as ʼn gebed.

Herrie Venter het met sy trompet “Nessun Dorma” gespeel terwyl ons vir mekaar die ringe aangesteek het.

Onthaal:

GP Van Rheede Van Oudtshoorn was die seremoniemeester wat ons letterlik laat skaterlag het die hele aand.  Hy het sommer vermaak en help organiseer aan alles.  Fantasties!

DJ Hennie het gesorg vir lekker musiek ten spyte van bitter kort kennisgewing (hy moes instaan vir ʼn kollega).

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Dr Ernst Endres het vir ons voor die kansel gesê: “Van hier af is dit nou net ‘whatever’!”  Hy het die perfeksionistiese bruidspaar natuurlik baie goed opgesom.

Daar was egter ʼn paar oomblikke wat nie so perfek was nie, maar ons voel dit het ons troue eg en werklik gemaak.

Ons het byvoorbeeld eerstens begin met die inperking en sowat dertig gaste wat nie van oorsee af kon kom nie.

Twee weke voor die troue het dinge begin skeefloop waar ʼn hele groep lokale gaste moes onttrek weens gesondheid; my pa het sy skapula en ribbes gebreek.  Die fotograwe het ʼn week voor die tyd siek geword en moes plaasvervangers reël.  Drie dae voor die troue moes die platejoggie ook ʼn plaasvervanger reël.

Die dag van die troue was daar natuurlik beurtkrag en het dit veroorsaak dat die reuse pyporrel nie kon speel in die kerk nie.  Die fotograaf het my verloor iewers tussen die troukar en die kerk.  Hy het blykbaar verdwaal.  Dit het vir behoorlike adrenalien wat vloei gesorg!  Sjoe!

Ons het werklik die aand ongelooflik geniet en het net gevoel die tyd was hopeloos te kort weens die inperking se vroeë aandklokreël.

Eerste Dans:


Gideon is nie ʼn groot danser nie, maar wou graag ʼn eerste dans hê doen omdat hy weet ek is mal daaroor.  “Ons Twee” van Nadine en Gerhard Steyn se woorde beskryf ons perfek.  Min mense verstaan ons behalwe ons.  Ons het lekker in die aande vir danslesse gegaan en Gideon onthou nou nog al die stappe!  Die ritme van die liedjie was ook perfek.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ons hoef nie ons datum te skuif nie, maar die storie het beslis ʼn reuse effek op alles gehad.  Ek het reeds voorheen genoem dat dit op letterlike elke ding ʼn effek gehad.  Die blomme was 10x die prys.  Verskaffers kon mens net 160 borde kry en nie 200 nie.  Gaste kon nie by mens uitkom nie, daar was onsekerheid oor die inperking en die aandklokreël.  Verskaffers het siek geword.  Broers moes vanuit die noorde van Afrika en Abu-Dhabi vlieg (sou daar vlugte wees? sou hulle negatief toets?).  Laastens die effek van die masker op ons almal se vel.  Ons moes heelwat addisionele onkostes aangaan om verblyf lank voor die tyd te bespreek vir gaste wat op die ou einde miskien nie daar kon uitkom nie.

Ons is beslis glad nie spyt oor die feit dat ons die troue wel gehou het op ons oorspronklike datum 12/12/2020 nie.  Dit was een reuse fees gewees ten spyte van die klein opofferinge.  Ons troue het vir ons, asook ons gaste en diensverskaffers hoop gebring in ʼn bitter donker tyd. E k en Gideon is op ons gelukkigste as ons vir ander iets kan beteken.

Wittebrood:


Ons wou Maldives toe gaan, maar wou nie weens die onsekerheid met die pandemie iewers buite die grense van Suid-Afrika beweeg of die risiko loop om ons deposito te verloor nie.

Knysna is vir ons besonders omdat ek en Gideon lief is vir ietsie van alles doen en nuwe dinge ondek. Ons het letterlik bos, boot, strand, hotel, spa, inkopies en rondry en na mooi uitsigte kyk kon doen.   Dit was ʼn ongelooflik bederf omdat dit so stil was orals.  Ons is heeltyd opgradeer na luukser verblyf en dit was net vonkelwyn orals.  Mense het vir ons gedans, gesing en was saam met ons bly.

Dit was bitter spesiaal!

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: