Pragtige Winter Trou Inspirasie

Alhoewel die pandemie in 2020 wye verwoesting gesaai het, hoor ons al hoe meer van wonderlike stories wat wel daaruit gekom het.  In hiérdie geval, was dit maande se opgehoopte kreatief wat uiteindelik kon ontsnap in die vorm van pragtige winter trou inspirasie.  Skakerings van blou is as die basis van die fotosessie gebruik, met spatsels kleurvolle dekor en blomme wat hier en daar jou oog vang.  Die venue se Franse gevoel en gesellige atmosfeer het gesorg dat al die elemente bymekaarkom en ʼn winter sprokiesverhaal skep.  Die twee modelle het sprankelend voor die kamera poseer en met selfvertroue hul pragtige uitrustings ten toon gestel;  As jou groot dag dalk naby is, en jy en jou aanstaande dalk nié so baie ondervinding voor die kamera het nie, kan jy beslis ʼn paar idees by hierdie fotosessie kry.

Rol af vir kreatiewe trou inspirasie om jou eie winter sprokiesverhaal te skep.

Wie het die fotosessie gereël?


Ek as fotograaf het die fotosessie gereël.  Na die grendel-tydperk was ek só uitgehonger vir kreatief raak met my kamera, toe besluit ek om dit te reël.

Inspirasie agter die fotosessie:


Ek het die venue op Facebook gesien en my fotosessie daar rondom beplan.  Ek wou ʼn winter sprokiesverhaal skep met skakerings van blou en maroen wat jou warm laat voel ten spyte van die temperature!

Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?


Ek het diensverskaffers gekies wat by my idee gepas het.  Hulle spesialiseer in die styl waarvan ek hou en het elemente geskep wat mooi by die tema pas.

Agter die skerms van die fotosessie:


Omdat ek die sessie tydens fase 5 van die grendel-tydperk begin beplan het, was dit moeilik om vir al die diensverskaffers ʼn datum te gee van wanneer die fotosessie sal plaasvind.  Maar, onmiddellik nadat die streng grendel-tydperk gelig is, kon ons meer duidelik begin planne maak.  Dit was drie maande se beplanning en wag, maar ek is so bly en trots op hoe dit uitgedraai het.

Merkwaardigste deel van die fotosessie:


Hoe ʼn klomp diensverskaffers wat my van geen kant af ken nie, bereid was om saam met my te werk en ʼn ongelooflike fotosessie bymekaar te sit!

Dekor:


Ons het kerse en blou en pienk (bietjie maroen) skakerings gebruik om ʼn warm “winter” tydlose gevoel te skep.  Die venue het oral skakerings van blou en groot glas vensters, so ons wou nie oorbodig raak met die dekor nie, aangesien die venue reeds ʼn “wow” gevoel geskep het.

Kleurskema:


Ek wou ʼn winter gevoel skep met warm kleure daarby, toe werk ons met bloue, pienk en maroen skakerings.

Venue en Ligging:


Die venue het dadelik my oog gevang toe ek dit op Facebook vir die eerste keer gesien het.  Ek wou nog altyd ʼn fotosessie doen in ʼn gebou met groot glas vensters en die feit dat die venue ʼn Franse gevoel het, met blou skakerings het absoluut ingeskakel met die tema.

Trourok en bruidegom pak:


Ek wou spesifiek ʼn rok met lang moue gehad het, aangesien die fotosessie ʼn winter tema gehad het.  Gerrit Pienaar het vir my gesê dat hy ʼn rok het wat perfek sal werk!  Ons het ʼn vlootblou pak gekies, aangesien dit goed gepas het by die tema en goed gewerk het saam met die dasse wat gebruik is.

Advies aan toekomstige paartjies wat troue beplan:


Bring kleur in deur blomme en kleurvolle servette te gebruik.  Alhoewel meeste van die kleure en hoof elemente neutraal en blou was, het ons geleenthede geskep om die “koue” gevoel van blou warmer te maak met kleurvolle en “warm” kleurige blomme en servette.  Ek sal ook sê minder is meer en moenie bang wees vir kerse op jou tafel nie!

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir diensverskaffers