Christian & Annatjie se Tydlose Troudag

Christian en Annatjie is plaasmense van hart en het besluit om hierdie eienskap van hul leefstyl in hul tydlose troudag te inkorporeer.  Maar, ʼn tradisionele plaas-troue was dit beslis nie!  Dié paartjie het daarin geslaag om ʼn klassieke romantiese styl te volg, en terselfdertyd nie die vreugdevolle, warm gevoel van ʼn plaastroue af te skeep nie.  Die venue het gesorg vir die plaas effek, terwyl hul blomme en dekor ʼn klassieke tema verteenwoordig het.  Alhoewel hierdie twee kombinasies nie noodwendig bymekaar pas nie, het Christian en Annatjie sonder twyfel die spyker op die kop geslaan!

Alhoewel daar ʼn paar klein dingetjies verkeerd geloop het, kyk Christian en Annatjie met blydskap en trots terug na hul groot dag;  En danksy hul flink fotograaf, Michael Tree Photography, het hulle slegs 7 dae gewag om hul troufoto’s te ontvang!  Annatjie het tereg gesê dat hul troudag en hul troufoto’s tydloos is en vir altyd in die mode sal bly.

Indien jy ook graag ʼn tydlose troudag wil beplan, sal jy beslis ʼn paar wenke hieronder vind!  Rol of om te sien hoe twee uiteenlopende style ʼn pragtige eenheid vorm.

Paartjie se Liefdesreis:


September 2015 was die begin van ʼn sprokiesverhaal.  Annatjie was in Graad 10 en Christian Graad 11 toe hulle mekaar op die tennisbaan by Hoërskool Ligbron ontmoet het.  Christian het besluit om Annatjie beter te leer ken en het moeite gedoen om ʼn pakkie Jelly Tots by Annatjie uit te kry.  Hulle het ʼn kosbare vriendskap ontwikkel, terwyl altwee smoorverlief op mekaar was.  Hulle het gereeld saam gekuier, saam gelag, en saam gehuil.  Die kosbare vriendskap het vinnig in iets spesiaal verander.

27 November 2015 het Christian op Annatjie se verjaarsdag met ʼn piekniek op die plaas vir Annatjie gevra om sy meisie te wees. Annatjie het natuurlik met ʼn groot vreugde in haar hart sonder twyfel ja gesê.  Na 4 jaar van slegs liefde, geluk en avonture het Christian ouers vra.  Annatjie se pa (Sakkie) het gesê dat hulle mag trou, maar Annatjie moet verkieslik 21 jaar oud wees.  Christian het toe besluit dat die dag na Annatjie se 21ste verjaardag dan perfek sal wees!

Christian het Annatjie op 14 Februarie 2020 gevra om sy vroutjie te wees.  Hulle gaan op hulle troudag 5 jaar en 1 dag saam wees.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het verloof geraak die 14de Februarie 2020 en ons het 9 maande later op 28 November getrou.  ʼn Trou beplanner was nie nodig nie, omdat ons die troue self beplan het presies soos ons dit wou gehad het.  My en Christian se ouers het egter baie gehelp!

Finansiële Aspekte:


Om by ʼn begroting te hou is nie altyd maklik nie, maar ons het dit reggekry deur elke uitgawe neer te skryf.  210 Gaste het ons spesiale dag bygewoon – ons families is groot en elkeen van ons gaste het so spesiale plekkie in ons harte!  Ons het seker gemaak ons ken elke gas op die lys, al is dit iemand se metgesel!

Ons advies aan ander paartjies is om mooi te dink wat belangrik is en wat nie so belangrik is nie.

Merkwaardigste Oomblikke:


Ons eerste dans was vir my baie oulik!  Dit was waar ek eers besef het dat ons nou man en vrou is!  Vir Christian was dit die oomblik toe ek in die kerk gepraat het.  Voordat ek ingestap het, het ek met Christiaan gepraat voordat hy my sien (dit is in ons trou video.)

Paartjie se styl:


Ons het ʼn klassieke romantiese styl gevolg.

Vermaak:


Ons het ʼn koor in die kerk gehad wat gesing het.  Tydens die vingerhappies was ons vermaak deur ʼn blaasorkes.

Die Besluitnemingsproses:


Ek (Annatjie) het meestal besluite geneem, maar Christian was tog baie betrokke.  Ons het altyd met mekaar gekommunikeer as ons ʼn besluit moet neem, alhoewel ek meer van die finale besluite geneem het.

Familie was baie betrokke en het ons in alles ondersteun en glad nie ingemeng nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Ons kan nie regtig advies gee nie omdat elke trou uniek moet wees.  Julle moet julle troue beplan soos julle dit wil hê.  Maak die trou reëlings lekker en moet met niemand baklei oor die troue nie, anders is dit nie die moeite werd nie!

Geniet die dag, probeer elke oomblik inneem en wees jouself.   As jy jouself geniet, geniet jou gaste dit ook.

Moenie vroeg gaan slaap nie;  Mens trou net 1 keer!  Ek en Christian was die laaste mense wat uit die saal uit geloop het!

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ons was eintlik so geseën in die tyd was ons getrou het dat KOVID nie ʼn groot effek op ons troue gehad het nie.  Maar, tog moes my arme man ʼn eksamen skryf op ons troudag omdat hulle eksamen weens KOVID moes aanskuif.  Ons het lekker lang trane daaroor gehuil, maar toe besluit ons dit is nou so en ons kan nie veel daaraan doen nie!
Vir die wat wonder, Christian het baie goed gedoen in daardie eksamen!

My (Annatjie) se familie kon ook nie van Australië af kom nie.  Ek en Christian beplan om my trourok en sy pak in te pak en vir die Australiërs te gaan kuier sodra ons kan.  Ons gaan weer troue hou!

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Daar is altyd iets (of eintlik paar goed) wat nie perfek is nie.  Toe ons uit die kerk uitstap toe reën dit lekker;  Al ons gaste het nat gereën!  Ek en Christian het net besluit dit gaan ons nie pla nie!  Ons is boere en ons sê nooit nee vir reën nie, so ons het lekker gelag en dit geniet!  Toe die gaste sien ons staan in die reën en dit kry ons nie onder nie het hulle dieselfde standpunt ingeneem.

Dit het net so 10 min gereën en toe trek alles wees so mooi oop vir ons mooi foto’s!  Daar was nog so paar nie perfek oomblikke nie, maar ek kan nie baie daaroor sê nie want die gaste weet tot vandag toe nie wat verkeerd geloop het nie.

Venue & Dekor:


Ek en Christian het van die plaas effek gehou van Lezar Opstal Venue!  Die eienaars van die venue is baie professioneel en hulpvaardig.  Heleen en Willemien het ons te alle tye vriendelik gehelp.  Heidelberg se klipkerk het ons keuse sommer finaal gemaak!  Ons wou graag ‘n klassieke, maar tog stylvolle atmosfeer skep met die dekor, servette en blomme.

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is baie moeilik om te kies, maar ons Venue Lezar Opstal Venue was puik.  Hulle doen letterlik alles vir jou en hulle kos is uit die boonste rakke.

Ek kan ook regtig nie iets verkeerd van ons fotograaf sê nie.  Michael het van dag 1 af ons beïndruk.  Ons hou baie van sy natuurlike foto’s en ons dink dit sal altyd in die mode wees!

Eerste Dans:


Die eerste dans is een van die spesiaalste goed op die troue.  Ons het op “Ek Sal” van Juanita & Theuns gedans.  Die woorde beskryf ons goed en dit is ʼn liedjie na aan ons hart.  Ons het nie vir dans klasse gegaan nie, maar wel een of twee keer op die liedjie geoefen om te kyk hoe dit lyk en gewoond te raak aan die liedjie.  Ek voel die eerste dans beskryf mens as ʼn paartjie!

Wittebrood:


Ons het besluit om wildtuin toe te gaan omdat ons albei van die natuur hou.  Vir die eerste dae was ons by Serenity Mountain and Forest Lodge.  Ons het elke oomblik geniet;  Mens beleef die natuur heeltemal anders!  Ons het só lekker gerus.  Die laaste paar dae was ons by Mdluli safari lodge.  Daar was ons lekker bederf!  Net een slegte ding van Serenity & Mdluli is dat hulle jou laat jou gewig optel!

Ons het so lekker geëet, gelag, gerus, die natuur beleef en mekaar geniet.  Ons het ook troufoto’s gekyk – Michael het die foto’s in een week alles klaar gemaak en met ons gedeel.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers