Die troudag van Jaco en Johanli was ’n viering vol kleur, styl en persoonlikheid. Die paartjie het ’n moderne estetika gekies wat warmte en visuele impak saambring. ’n Helder kleurskema op ’n basis van groen en wit het gemaak dat elke detail uitstaan en die dag lewendig laat voel.
Johanli se trourok het haar unieke styl perfek weerspieël. Sy het doelbewus iets gekies wat nie alledaags is nie. Die een-skouer ontwerp voel vars en tydloos, met sagte besonderhede wat romanse en eenvoud beklemtoon. Die oop rug en vloeiende silhoeët het ligtheid geskep, terwyl die dramatiese mou ’n sterk, persoonlike stelling maak. Jaco het haar pragtig aangevul met ’n donker pak wat die elegante maar vrolike atmosfeer ondersteun.
Die dekor se doel was om ’n stylvolle ruimte te skep waar gaste welkom voel en inspirasie kan vind. Tafels is versier met helder veldblomme wat mooi afsteek teen wit tafeldoeke en groen elemente. Hierdie speelse gebruik van kleur is ook in die gaste se uitrustings gesien, aangesien almal aangemoedig is om kleurvol aan te trek. Van die delikate blomme op die troukoek tot kreatiewe sitplek-aanwysings met gholfballe, elke detail het bygedra tot die paartjie se unieke verhaal.
Hierdie troue wys dat mens nie hoef terug te hou met kleur of persoonlike styl nie. As jy droom van ’n rok wat jou eie smaak weerspieël, of hulp soek met ’n kleurpalet, besoek Mooi Troues se aanlyn gids vir inspirasie en kundige hulp.

Trourok:
Nadat ek verskeie rokke gaan pas het, het ek besef ek soek iets anders en iets wat nie sommer in ’n winkel gevind kan word nie. Ek het besluit om ’n rok te laat maak wat my as mens weerspieël.
Die ontwerp is modern en tydloos, met ’n een-skouer styl en sagte detail wat romantiek en eenvoud saambring. Die oop rug en vloeiende silhoeët gee die rok ’n ligte, elegante gevoel, terwyl die minimalistiese ontwerp dit uniek en persoonlik maak. En dan ook so bietjie DRAMA met daai mou.

Verloof- en Trouringe:
Johanli se verloof- en trouring dra ’n besonderse stuk familiegeskiedenis. Beide sy en Jaco het goud uit hulle ouma’s aan moederskant se ringe laat smelt om ’n nuwe ring te skep, ’n simbool van twee families wat saamkom. Een van Ouma Lucille se stene is ook in die ring ingewerk, wat dit nóg meer betekenisvol maak. Die ring is ’n witgoud drie-steen ontwerp, wat die verlede, hede en toekoms van hulle liefde verteenwoordig. Haar trouring is ’n eenvoudige, klassieke witgoud band wat die verloofring perfek aanvul.
Jaco se ring weerspieël sy modern en tydlose styl. Hy dra ’n silwer ring met subtiele swart detail.

Paartjie se Verlowing:
Na amper sewe jaar saam het ons liefde al deur soveel seisoene gegroei. Jare van saam lag, saam droom en ’n lewe stadig saam bou. Op 9 Junie 2025 het ons storie egter ’n onvergeetlike nuwe hoofstuk begin.
Wat ek gedink het net ’n gewone piekniek-braaidag saam met vriende sou wees, het by ’n pragtige uitkykpunt op ’n berg afgespeel. Ek was steeds op krukke ná ’n knie-operasie en ’n verlowing was die laaste ding wat ek verwag het.
Soos die dag aangaan, stel my vriendinne voor dat ons almal foto’s neem. Een vir een neem elke paartjie hul beurt totdat dit ons s’n was. Terwyl ons regstaan vir die foto, het alles skielik verander. Voor ek mooi kon besef wat gebeur, het Jaco op sy knie afgesak.
Teen die asemrowende uitsig, met my hart wat vinniger klop as ooit, het hy my gevra om met hom te trou. Ek kan nie elke woord onthou nie, maar ek onthou hoe opreg hy was en hoe hy gesê het dat hy nie kan wag om die res van sy lewe saam met my te bou nie.
Tussen die verrassing, die emosie en selfs my krukke wat deel van die oomblik geword het, was dit perfek op sy eie, unieke manier. Daar, hoog op die berg, het ons “vir altyd” begin.

Trou Dekor en Styl:
Die troue waas vrolik, kleurvol en stylvol met ‘n bond kleurskema. Ons wou hê dat alles dit moes uitbeeld. Ons het klomp verskillende kleur veldblomme gehad. Gaste het so helder en kleurvol moontlik kantrekening en alles het net so mooi saam gewerk. Ons het die groen en wit gebruik as ons basis kleure en net daarop gebou.

Trou Begroting en Beplanning:
Die troue het 92 gaste verwelkom, met ’n totale begroting van R175 000. Beplanning het oor ’n tydperk van een jaar en twee maande plaasgevind.


- Fotograaf: Suné Photography | Kontak
- Venue: Belle Vallee Vineyard | Kontak
- Blomme: Flowers by B | Kontak
- Bruidegom-pak: Romens | Kontak
- Dekor: Flowers by B | Kontak
- Grimering: Straal | Kontak
- Hare: Maridene Mostert | Kontak
- Koördineerder: Telma Pronto | Kontak
- Platejoggie: DJ Lohan | Kontak
- Skryfbehoeftes: Sweet Blossom Designs | Kontak
- Spyseniering: Marinda & Muriel Catering | Kontak
- Trourok: Isabel Smal Designs | Kontak
- Bruid se Trouring: The Carbon Effect| Kontak
- Videograaf: Beylefeld Creative | Kontak
- Wittebrood Plek: Aquila Private Game Reserve | Kontak

