{Advies) Trou Etiket: Verskaffers

landtscap-shoot-4841

Melissa van Pretty in Stains Weddings deel baie belangrike advies vir paartjies wat op trou staan.  Ons aanvaar baie  goed as selfsprekend is, maar tog word dit oorgesien.

Melissa se raad

As diensverskaffer in die trou-industrie, dink ek soms sekere etiket rondom verskaffers behoort almal te weet.  Vir ‘n jong bruid wat nie noodwendig al baie troues bygewoon het nie, is die etiket moontlik nie so helder nie.

Eerstens moet ek noem dat jou diensverskaffers (al word hulle betaal) goed voel as jy wys jy waardeer hulle.  ‘n Eenvoudige en opregte “dankie” doen wonders.  Of dit nou jou bloemis, jou venue, jou skryfbehoeftes-persoon, koördineerder, fotograaf of wie ookal is, stuur na die troue ‘n oulike boodskappie vir hulle.

Hier kom ‘n volgende punt wat baie na aan my hart lê;  Respekteer jou verskaffer se tyd.  Meeste bruidspare werk normale werksure en dan is dit huis-toe-gaan-tyd die dag.  Verskaffers het ook hulle eie werksure en families.  Meeste van die tyd werk ons na-ure, maar dis ons keuse.  Probeer om jou oproepe te hou in normale werksure.  Stuur vrae d.m.v epos en nie Whatsapp of SMS nie.

‘n Verskaffer sal uit hulle pad uit gaan om jou te akkommodeer, maar hou ook ingedagte dat jy nie hul enigste kliënt is nie.

Lees altyd die verskaffers se kontrakte noukeurig deur.  Hulle het hulle termes en voorwaardes vir ‘n rede aan jou deurgestuur.  Dis ‘n eenvoudige aktiwiteit en help jou dus om 100% op dieselfde bladsy te wees as jou verskaffer.  Meeste van die tyd is al die vrae wat jy moontlik sal hê, in hierdie dokument.  Bv. ‘n fotograaf se wag periode vir foto’s, ‘n skryfbehoefte-verskaffer se ontwerp en produksie tye, jou platejoggie se voorwaardes met betrekking tot toerusting, ens.

“Moet ek my diensverskaffers van etes voorsien?”  So baie hoor ek hierdie vraag.  As jy jou kontrak lees, sal jy weet hoe jou diensverskaffer hieroor voel.  Die antwoord is ja!  Die verskaffers waarna ek verwys is dié wat daar is tydens jou onthaal – fotograaf, videograaf, DJ, koördineerder en hul assisstente.  Hierdie is die mense wat die langste saam met jou by jou troue is.  Hulle werk onsaglik hard om seker te maak jy kry die beste ervaring.  Dit gebeur te veel dat hulle oorsien word en sit met honger magies omdat daar geen kos vir hulle is nie.  Met dít gesê, sluit hulle in om dieselfde maaltye te kry as jou gaste.  Reël ook met die venue (óf koördineerder as jy een het) om naby ‘n tafel reg te maak met eetgery vir hierdie verskaffers-groepie.

Hierdie artikel is maar net ‘n paar algemene riglyne oor hoe om met jou diensverskaffers te werk.  Glo my, dis gesê uit ondervinding.  ‘n Gelukkige verskaffers sal altyd die ekstra myl gaan as hulle weet hulle word waardeer.