Igor & Jacqueline se romantiese verlowing fotosessie

Jacqueline vertel dat sy as ʼn graad 1 dogtertjie haar oog op Igor gehad het.  Jare het verby gegaan waartydens hulle kontak verloor het, maar toe hulle mekaar egter weer opspoor, het hulle liefde vlerke gekry!  Igor het omtrent sy sjarme aangedraai en Jacqueline op die mees romantiese ligging gevra om te trou.  Hul romantiese verlowing fotosessie getuig van die feit dat Igor en Jacqueline ʼn onvermydelike liefde vir mekaar deel.  Die fotosessie is gevul met hope liefde, glimlagte van oor tot oor en onmisbare romanse – alles wat ʼn verlowing fotosessie behoort te wees wanneer die fieterjasies weggeneem word.

Rol af vir ʼn eenvoudige, tog prentjiemooi romantiese verlowing fotosessie.  Met ʼn bietjie beplanning en die regte ingesteldheid, kan dit jou en jou aanstaande wees wat só vol selfvertroue voor die kamera poseer!

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing


Ek en Igor was saam in graad 1 in 2001.  Soos ek dit onthou, was Igor die eerste man op wie ek my oog gehad het!  Igor en sy familie het teen einde 2001 verhuis.  In 2009 het ek en Igor mekaar by ʼn skool sport byeenkoms gesien en min het ek geweet dat Igor my sal kan onthou.  Deur ons hoërskool loopbaan, het ons af en toe kontak behou, maar ons paaie het later geskei.  In 2015 het ons paaie weer gekruis en eers in 2018 het ons besef dat daar ʼn onmiskenbare liefde tussen ons is.  Ons is van April 2018 in ʼn verhouding en is in September 2019 verloof.

Die groot vraag


Igor het my met ʼn naweek weg verras na Letlapa Pula Game Lodge naby Thabazimbi.  Met ons aankoms, het die oord se wildbewaarder aangebied om ons op ʼn “komplimentêre” wild-rit te vat om ons die ander gedeeltes van die oord te gaan wys.  Ons het by ʼn prentjiemooi uitkyk punt bo-op ʼn koppie gestop, waar daar vonkelwyn vir ons gewag het.  Ek het die vonkelwyn van die koppie af geskiet en omgedraai met Igor wat op sy knie af gegaan het.  Dit was ʼn absolute verrassing en het al my verwagtinge vir so ʼn groot dag, oortref.

Hoekom ons mekaar liefhet


Die eienskappe wat ek en Igor deel, is dat ons mekaar ondersteun in die alledaagse lewe en deur dik en dun bymekaar sal staan.  Ons daag mekaar uit en beïnvloed mekaar om beter mense te wil wees.  As een van ons struikel, kan ons staat maak op die ander een om motivering en ondersteuning te bied.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word


Ons troudag is 14 November 2020.  Dit sal 14 maande wees vanaf ons verloof geraak het.

Die verloofring


Ek het vir Igor deur die loop van ons verhouding prentjies gewys waarvan ek hou, maar Igor het in April 2019 die ring ontwerp en laat maak.  Hy het dit geheim gehou tot en met die dag van ons verlowing.

Visie vir droomtroue


Ons droomtroue bevat nie noodwendig materialistiese dinge nie.  Wat vir ons belangrik is, is om al ons naaste familie en vriende om ons te hê om hierdie spesiale groot dag te vier.  Ons hoop dat dit vir elkeen net so onvergeetlik sal wees soos dit vir ons gaan wees.

Klik hier vir diensverskaffers