Eduan & Noël se mooi troue

Die dekor van Eduan en Noël is gedoen deur die talentvolle Blooming Wonderful.  Noël se moeder verduidelik dat die dekor baie koninklik was.

By Mooi Troues sien ons baie troues wat gebeur op wynplase tussen wingerde, maar Eduan en Noël het ‘n besonderse uitsondering en was gelukkig om van hul fotos in ‘n wynkelder met wynvate te kon kry.



Vertel ons hoe het julle ontmoet?

Ons het op universiteit deur ‘n gemeenskaplike vriendin ontmoet, en kort daarna saam Leeukop gaan uitklim en rugby wedstryde gaan kyk.

Noël: Eduan se lewenslustigheid, omgee en goeie maniere het dadelik vir my uitgestaan.

Eduan: Noël se avontuurlustige persoonlikheid en haar passie vir elke avontuur wat sy aanpak het baie uitgestaan.



Wat was die styl van die troue?

My ma beskryf ons tema as koninklike aangesien dit elegant, minimalisties en klassiek was.  Ons het baie idees van Pinterest gekry, en ons bloemis het ons baie raad en leiding gegee.  Ons het Morgenhof gekies, omdat die kapel en onthaal area beide op die plaas is.  Die venue het ook perfek saam met ons tema gepas, en was groot genoeg vir al ons gaste en ‘n dansvloer.  Nie net was die plaas ongelooflik groen en mooi gewees nie, maar ons het die geleentheid gehad om fotos te neem in hulle pragtige wynkelder.  Plus hulle kos en wyn was ongelooflik lekker!



Was julle met wittebrood?

Ja, ons was Bali toe.  Dit was ‘n asemrowende wegbreek, propvol avonture.  As pasgetroudes was dit ook baie bekostigbaar.  Ons hoogtepunt was toe ons Mount Batur opgestap het 04:00 in die donkerte en bo-op die vulkaan ontbyt geëet het, terwyl ons die sonsopkoms besigtig het.  Ons sal beslis eendag weer in Bali gaan kuier!



Advies wat julle aan ander paartjies kan gee wat besig is om hul troue te beplan?

  • Kies julle gaste noukeurig.  Nooi slegs die mense wie werklik lewenslange vriende is en jou naaste familie.
  • Onthou hoekom julle trou…en maak dit die fokuspunt van julle groot-dag; nie die materiële aspekte nie.
  • Geniet elke liewe oomblik….voor jy kyk is dit verby!


Wat was julle trou begroting?

Ons het nie ‘n spesifieke begroting gehad nie, maar ons het deeglike navorsing gedoen om dienste te kry teen redelike pryse.



Diensverskaffers