Arno & Zinia se troudag in Dullstroom

Arno en Zinia, pragtige paartjie van Centurion, het vanjaar besluit om die knoop by die klein dorpie, Dullstroom in Mpumalanga, deur te hak.  Alhoewel hulle ‘n volle 157 gaste by hul troue onthaal het, spreek hul troudag van ‘n intieme geleentheid om die opregte liefde tussen twee mense te vier.  Vir hierdie paartjie was die feit dat hulle ewige liefde aan mekaar verklaar het, belangriker as enige iets anders van die dag.

Rol af en geniet die opregte liefdsverhaal van Arno en Zinia.

Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?


Ons het op 26 Januarie 2019 getrou.  Ons albei was 30 jaar oud.

Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?


Ons het mekaar in 2002 (Graad 8) by Hoërskool Centurion ontmoet.  Te danke aan gesamentlike skoolvriende, het ons deur al die jare kontak behou.  Dit was egter eers in Februarie 2016, 10 jaar na matriek, wat ons liefde vlam gevat het.  Tydens ‘n Mumford & Sons konsert het Arno uiteindelik die moed bymekaar geskraap om vir my te sê hy hou van my.  Ons weergawe van die aand verskil en ons spot mekaar lekker daaroor!  Daardie aand was egter die begin van ‘n nuwe hoofstuk in ons lewensverhaal, gevul met hope avonture.

Arno het op die aand van sy 30ste verjaarsdag my gevra om te trou.  Dit was ‘n onverwagse en onwerklike oomblik!  My antwoord was sonder enige twyfel ja!

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?


Die oomblik toe ons mekaar by die kansel ontmoet was vir ons die spesiaalste oomblik.  Ons harte was gevul met vreugde en liefde!  Daar is soveel emosies wat op een slag deur mens vloei; Dit is ‘n oomblik wat ons vir altyd sal koester.  Die onweer en wolke het vir die mooiste agtergrond op ons troufoto’s gesorg – dit het ons foto’s só spesiaal en merkwaardig gemaak.

Arno sê hy sou niks van die dag wou verander nie, behalwe om die aand te verleng – die tyd vlieg so vinnig!  As ek een ding kon verander sou ek graag die kerk deure wou oop hê terwyl my gevolg instap.  Ek het vir hom ‘n boodskap opgeneem wat oor die luidsprekers gespeel het.  Ek sou graag sy emosies wou beleef, maar gelukkig het ons bekwame fotograwe dit so mooi vir my vasgevang!

Vertel ons meer van jul ringe


Arno het my ring tydens ‘n Desember vakansie in die Kaap gekoop.  Ons het rustig in die winkels rondgeloop toe Arno my skielik by ‘n juwelierswinkel insleep.  Hy wou kamstig ‘n idee kry waarvan ek hou.  ‘n Pragtige ring by Browns het my oog gevang.  Dit was só elegant, sag en presies my tipe styl.  Arno het agterna teruggegaan, die ring gekoop en skelm terug vervoer na Pretoria.

Arno se ring was ‘n swart Vrydag promosie.  Alhoewel dit presies die ring was wat hy wou hê, laat hy my dit nie sommer vergeet nie!  Dit is ‘n Tungsten ring van Unbreakable Man.

Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?


Ek het ‘n hele paar winkels besoek, maar was vasbeslote om nie ‘n arm en ‘n been vir my rok te betaal nie.  My skoonsus het destyds haar rok by Dennis Lloyd laat maak.  Ek was mal oor sy werk en het toe ook op hom besluit.  Ek was tydens elke konsultasie baie spesifiek en betrokke met die maak van my rok.  As iets nie vir my gemaklik gevoel of gelyk het nie, het ek dit vir Dennis gesê.  In hierdie manier het ek seker gemaak die rok is presies soos ek dit wil hê.

Ek sal toekomstige bruide aanraai om eers rokke te gaan aanpas voordat jy na ‘n ontwerper toe gaan.  My aanvanklike idee en die ontwerp waarop ek uiteindelik besluit het, het hemelsbreed verskil!

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Hierdie was nie een van die maklikste besluite van ons troudag.  Gerhard en Annelize van Anne Grace Photography (AGP), stap al van Hoërskool ‘n lang pad saam met ons.  Gerhard, een van Arno se beste vriende, was ook een van Arno se strooijonkers.  Hulle werk is van dié beste gehalte.  Hulle gemaklike, natuurlike en prettige praatjies maak dat die foto’s besonders natuurlik uitkom!  Ek sou niemand anders kon vertrou om ons groot dag vas te vang nie.  Annelize moes wel haar regterhand en videograaf (Gerhard) aan Arno afstaan vir die dag, maar hul ander videograaf in die span, Renscke, is net so ongelooflik talentvol.  Ons video spreek boekdele!

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Vir die manne:  Wees geduldig met jou aanstaande skoonma.  Sy gaan inmeng en jy gaan voel of jy wil opstaan vir jou bruid, maar laat ma en dogter dit self uitsorteer.  Wees net daar vir jou bruid en luister as sy wil afpak.  Ander advies is om die wyn op ‘n sentrale punt te laat staan sodat almal kan kies wat hulle wil hê.  Dit keer dat daar nie klomp halwe bottels wyn op die tafels agterbly nie.

Vir die dames: Gee jou man ‘n blaaskans!  Jy wil sy opinie oor alles hê, maar partykeer kan hul nie insien hoekom daardie detail so belangrik is nie; Dit is normaal,  hy is immers ‘n man!  Doen moeite met die pas van jou rok.  Reël afsprake by boutiques en neem jou ma en strooimeisies saam.  Maak ‘n lekker geleentheid daarvan – dit is die opbou tot een van die belangrikste oomblikke in jou lewe – jy móét dit vier!

Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ons wou baie graag ‘n venue in die Dullstroom area kry; Dis een van ons gunsteling naweek wegbreek plekke.  Ons het ‘n hele paar oulike plekke besoek, maar Mellow Stream het ons harte gesteel.  Fransien en haar man is plat op die aarde, warm en hartlik.  Ons het sommer dadelik geweet hulle gaan ons dag spesiaal maak!

Die venue het alles gebied wat ons wou hê.  Ons wou graag ‘n stylvolle plaas troue hê wat jou nie laat voel asof jy heeltyd jou beste voetjie moet voorsit nie.  Die venue het ook slaapplek gebied vir ‘n aantal van ons gaste.  Die stalle waar die dames reggemaak het en die rivier waar die manne reggemaak het, het die stilte en prag gehad wat ek en Arno beide wou hê.

Ons het sommer self die dekor gedoen!  Dit was geïnspireer deur die protea blom en rots rosies.  Dit het ‘n natuurlike karakter gehad wat by die eenvoud van die omgewing pas.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?


Ons begroting was R120 000, maar ons het gesukkel om by dit te hou.  Daar het klomp klein goedjies bygekom waaraan mens nie vooraf dink nie.  Die lysies in trou tydskrifte help baie om ‘n begroting op te stel, maar praat ook met vriende en familie wat onlangs getrou het om julle te help om die lysie aan te vul.  Ons het op die ou einde omtrent R145 000 spandeer.

Ons het 157 gaste en 11 kinders by ons troue gehad.  Die selfdoen dekor het ons baie geld gespaar.  Wat ook baie gehelp het, was die gedetailleerde spreivel wat Arno vir ons opgestel het.  Daarmee kon ons heeltyd tred hou van hoeveel ons alreeds spandeer het.

Vertel ons meer oor jul eerste dans


Hierdie deel was vir ons baie moeilik aangesien nie een van ons gebore dansers is nie.  Ons het 3 liedjies gekies een daarop begin oefen.  La lang ure het ons uiteindelik  op Dreams van die Cranberries besluit.  Die ritme van hierdie liedjie was die maklikste om op te dans.  Ons passies en draaie was sommer in die sitkamer uitgedink!  Die oefensessies, gepaard met ‘n lekker bottel rooiwyn, het baie pret verskaf!  Dis oomblikke wat ons vir altyd sal onthou.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Arno het vir ons ‘n heerlike week by Mauritius (Veranda Pointe Aux Biche) bespreek.  Die Hotel waar ons gebly het was ongelooflik mooi!  Hulle het die natuur so tussen al die kamers ongerep gelaat.  Ons het ons dae deurgebring op die mooi wit strande met lekker drankies wat geen einde gehad het nie.  Die see lewe is besonders mooi en ons het sommer twee maal gaan duik!  Vir diegene wat ‘n duik lisensie het, sal ons dit definitief aanbeveel.

Een stukkie goeie raad is om die wittebrood eers die Maandag na jou troue te begin.  Mens is werklik die Sondag doodmoeg! ‘n Goeie nagrus is al wat jy nodig het om die wittebrood op ‘n hoë noot af te skop.


Diensverskaffers