Christiaan & Tara se pragtige troudag

Christiaan en Tara se pragtige troudag was gehou by DuVon Wine and Wedding Estate, ‘n pragtige familie, vrugte- en wynplaas, naby Robertson in die De Goree-distrik wat deel vorm van die Vallei van Wyn en Rose.

Christiaan deel ook met ons dat die dag vreeslik oorweldigend was en dat die tyd net te min was.  Ons by Mooi Troues beveel aan dat ons lesers wat besig is om hul trou te beplan ‘n tydlyn maak en so streng moontlik daarby bly om te verseker alles word gedek.

Rol af en geniet Christiaan en Tara se troufoto’s by DuVon Wine and Wedding Estate.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


21 April 2018 en Christiaan was 29 en Tara 22.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Tara het in 2015 by Nuy Wynkelder begin werk.  Christiaan is een van die boere wat druiwe lewer aan Nuy kelder.  Met die bekendstelling van Nuy Wynkelder se nuwe proe-lokaal, Nuy on the Hill, het ons mekaar ontmoet. Christiaan het na ‘n paar wynproë vir Tara genooi vir ‘n braai saam met vriende en die res is geskiedenis.

Hoe het julle verloof geraak?


Ons het op die 28st Mei verloof geraak, ‘n dag voor Tara se verjaarsdag.  Ek vir haar mislei om te sê ek gaan haar bederf vir haar verjaarsdag en bietjie kaap toe vat.  Ek het vir ons ‘n piekniek en spa by die Twaalf Apostels Hotel in Kampsbaai bespreek, maar al die beplanning was eintlik om haar te vra om te trou en was die hotel personeel ingelig oor my motiewe.  Ons het begin met die piekniek teen die hange van die berg waar ek haar op Stanley’s klip gevra het om te trou.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die dag?


Dit is baie moeilik om ‘n oomblik van so spesiale dag uit te sonder.  As daar ‘n oomblik uitstaan sal dit wees die oomblik wat ons die “I do’s” gesê het.  Om daardie oomblik met jou beste vriend te deel is iets wat ons nooit sal vergeet nie.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Tara het vir lank haar oog op Ronel Kruger gehad en wou lank voor ons verloof geraak het vir haar as fotograaf gebruik vir ons troue eendag.  Ronel het ‘n baie unieke styl wat sy natuurlike elemente in die foto’s inkorporeer.

Ons het vir Nienie en Christiaan van Second Luke gebruik as videograaf.  Nienie was by my skoonsuster, Charlotte, se troue ook die videograaf en die video was so mooi gedoen dat ek niemand anders sou wou gebruik nie.

Vertel ons meer van jul ringe.


Tara het verloof geraak met ‘n pantjie met 5 klein diamantjies in ‘n buis posisie.  Christiaan het ‘n paar goue pêrel oorbelle erfstuk van sy ma gekry.  Tara het die oorbelle se setting verander en van die goud gebruik vir albei van ons ringe.  Tara se ring is ‘n dun bandjie met die diamant wat verhewe is en binne 6 kloutjies vasgehou word.  Christiaan se ring het ‘n geborselde afwerking en binne die ring is I © u. gegraveer – Baie dankie aan Lorean Jewelery

Wat sou julle verander indien moontlik?


Tara: Almal sê altyd die aand gaan baie vinnig verby en dit doen.  Die belangrikste van alles is om te onthou dat die aand gaan oor jou en jou man, en jy moet dit so voluit geniet, want jy gaan dit nooit weer oor hê nie.  Maak die beste van elke oomblik van die aand, neem alles in en geniet dit.

Christiaan: Ek sou meer wou eet.  Ek het nie eers self by die kostafel uitgekom nie.  Tara het vir my geskep en ek het nie eers van al die kos/nagereg gehad nie.  Ek sou ook vinniger met die foto’s wou klaar maak en meer met almal te kuier.

Hoe het julle die venue gekies?


Ons wou ‘n venue in ons omgewing kies wat naby is, aangesien baie van ons gaste vriende en familie van die omgewing was.  DuVon het dadelik bo-aan ons lys gelê met die pragtige tuin, groot saal, akkommodasie op die venue en die pragtige Langeberge in die agtergrond.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Tara wou die dekor baie natuurlik en eenvoudig hou.  Tara en haar skoonma het maande voor die tyd begin tafel-lopers knip, stik en vou.  Sy wou hê dit moet ‘n element van ‘n strokiesverhaal hê, en het tekenprente laat maak van haar en Christiaan wat op die uitnodigings, spyskaarte, tafel-bederfies en koek toppers was.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons het begin met ‘n begroting van so R120 000.  Ons was bevoorreg genoeg om van ons ouers ook ‘n bydrae te kry wat ons baie gehelp het.  Tara het baie ekstra naweke gewerk om te help met die uitgawes.  Ons het ook maar baie skraps gelewe en die luukshede so ver moontlik probeer beperk.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Hou op Pinterest sodra jy jou deposito’s begin betaal het, daarna begin jy net twyfel.  Maak reg vir lekker baklei. Jy leer mekaar eintlik eers ken sodra die trou reëlings begin.  Gesels en vra raad by mense/vriende wat reeds getroud is of onlangs getrou het.  Dit help baie om te hoor wat ander gedoen het en of jou idees so realisties is soos jy dink.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Ons was bevoorreg om ‘n “mini-moon” en Wittebrood te kon hê.  Vir ‘n week na die  troue het ons vir ‘n paar dae Plettenbergbaai toe gegaan.  Ons het toe einde Mei vir ‘n week en half Europa toe waar ons Parys en Amsterdam verken het.

Diensverskaffers