André & Christelle se elegante plaastroue

Hier by Mooi Troues is ons baie opgewonde om met ons lesers die elegante plaastroue van André en Christelle met julle te deel.

Die styl wat die paartjie graag wou hê, is stylvol en elegant, maar met ʼn tikkie pret.  Hulle het die plaas styl van die venue kombineer met elegante dekor en blomme.  Die dekor was afgerond deur baie kerse en kandelare.  Die blomme was Orgideë wat uit die dak gehang het, ons is absoluut versot oor dit.  André en Christelle vertel dat die keuse van venue vir hulle baie maklik was weens die mak plaasdiere en pragtige landskappe.

Christelle se trourok was ʼn lang, wye, spierwit rok vir die kerkdiens wat deur die ontwerper wat slim beplan is sodat dit in ʼn stywe, elegante rok vir die onthaal omskep kon word deur slegs ʼn gedeelte van die rok los te knip.

Christelle vertel ook dat toe sy en André verloof geraak het sy al die weer vir jul gekose datum begin dophou het.  In die geskiedenis is daar nie regtig reën gewees op hul gekose datum nie, tog het daar ‘n erge storm uitgebreek terwyl hul besig was met die seremonie.

Mooi Troues se lesers kan nou afrol en al André en Christelle se pragtige trou foto’s en hul storie geniet.

 

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar ontmoet as jong studente aan die Universiteit van die Noord-Wes (Pukke).  Daar het ons altwee in die regte studeer.  André vertel dat hy met die eerste oogopslag op my verlief geraak het waarna hy my naam en nommer by ʼn vriendin gekry het.  Toe sy diep blou oë die eerste keer tot in my siel kyk, was ek ook verlief en verlore.  Vandag is hierdie einste vriendin van my getroud met André se ouer broer en is my skoonsussie.  En die res is geskiedenis.  Hier staan ons nou, 10 jaar na ons eerste ontmoeting, as Mnr. en Mev. Klopper!

Ons het ʼn pragtige verlowing gehad op 22 Februarie 2020 (22/02/2020), ʼn lekker datum om vir altyd die dag toe hy die groot vraag gevra het, te onthou.  André het my weggeneem vir die naweek – ek het glad nie geweet waarheen ons gaan nie.  Nog minder het ek vermoed dat die man ʼn verlowing in gedagte het.  Ons het vroeg die Saterdagoggend opgestaan en na ʼn heerlike ontbyt in ʼn pragtige gastehuis, is ons na die “Elephant Sanctuary“ in Hartbeespoort om saam met die olifante te gaan stap.  Ons is altwee diereliefhebbers en olifante hou vir ons albei ʼn groot bekoring in. Terwyl dit saggies gedrup het en lekker bewolk was, het een van die olifante ʼn sakkie met sy slurp te voorskyn gebring en toe ek omdraai staan André op een knie.  Dit was die mees romantiese en kosbare oomblik en my asem was weggeslaan!!!

Die Verlowing Tydperk:


Ons was verloof vir 8 maande, vanaf Februarie 2020 – Oktober 2020.  Ons het geen troubeplanner gehad nie en ek en my ma het alles self beplan.  Ek het wel vir my ʼn dagboek- beplanner vir die bruid gekry, waarin ek alles kon aanteken en aftik.  Ek is baie lief vir beplanning en het elke klein detail, van die kleinste strikkie tot die rok haarfyn en met groot liefde beplan – en in die proses elke oomblik daarvan geniet.

Dit was vir my belangrik om elke rolspeler spesiaal te laat voel op ons groot dag.  Ons het ʼn hele spannetjie hofknapies en blommemeisietjies gehad.  Hulle het elkeen ʼn spesiale video ontvang waarin hulle gevra is of hulle deel sal wees van die gevolg. A l die blomme – meisies het soos engeltjies gelyk in hul wit rokkies met blomme-stralekransies en die seuntjies met driekwart broekies, kruisbande, strikdassies en pette.  Die heel kleinste hofknapie het almal se harte gesteel toe hy ons ringe in ʼn hout-kluisie vir ons bring.

Ek wou graag elke persoon in die gevolg bederf laat voel deur persoonlike klein dingetjies soos hangers met die naam en rol daarop vir elke persoon asook verpersoonlikte geskenkies vir elkeen (van die bruidegom tot die strooimeisies en strooijonkers) met hul naam en die datum van ons troudag daarop.  Die klein en spesiale goed in die lewe (en so ook met ʼn troue), is die dinge wat ons in ons onthou-boksies bêre vir môre en waaraan ons jare later nog met groot vreugde en heimwee terugdink.

Finansiële Aspekte:


Ons was baie gelukkig om baie hulp van ons ouers te kry, dus het ons nie ʼn vaste begroting gehad nie, hoewel ons kostes probeer bespaar het waar moontlik.  Dit was heerlik om baie items self te maak, soos die kruiwaens wat my ma tweedehands vir ʼn appel en ʼn ui bekom het en silwer geverf het om te dien as houers vir die waterbotteltjies.  Die houtborde het ons laat maak, eerder as om dit te huur. Op hierdie manier was alles baie meer persoonlik en ons kon ons eie stempel afdruk.  Baie van ons dekor kan ons weer in die huis gebruik en sodoende altyd ons spesiale dag onthou.

André was ons minister van finansies tydens die troubeplanning en het gesorg dat alles mooi binne perke geskied.  Met ʼn gesins-vakansie in die Krugerwildtuin ʼn jaar of wat gelede, is daar aan elkeen van ons ʼn dier toegeken wat ons verteenwoordig.  Ek was bestempel as die troupand en tipes aan die pragtige voëltjie, hou ek van alles wat mooi is en blink.  Die minister van finansies moes dus kort-kort briek aandraai as die entoesiasties bruid nog oulike geskenkies en fieterjasies raakgeloop het vir die troue.

Ons het 105 gaste in totaal gehad.

Aanvanklik, weens KOVID-19 beperkings, kon ons slegs 60 gaste nooi, maar die getal is uiteindelik verhoog tot ons groot vreugde.  Ons het van die begin af besluit hierdie troue GAAN gebeur, al is dit ook net die bruid, die bruidegom en die dominee wat die troue mag bywoon.  En tot ons groot dankbaarheid het alles uiteindelik presies uitgewerk soos ons dit graag sou wou hê.

My advies aan elke toekomstige bruid sal wees om verskaffers te kry wat moontlik meer as een diens kan bied.

Ons bloemis het al die blomme gedoen, sowel as die dekor.  Ek het een persoon gehad vir my hare en grimering, twee aspekte wat krities belangrik is vir elke bruid.  Uiteindelik bly die foto’s en mooi herinneringe al wat oor is van die groot dag en dit is beslis twee dinge waarop daar nie besnoei moet word nie.  Maak ook seker dat die fotograwe professioneel is.  As ons nie professionele fotograwe gehad het nie, kon ons troue as gevolg van die storm reën in ʼn fiasko ontaard het.  Gelukkig het ons fotograwe vir alles voorsiening gemaak en die situasie (en ons troue) gered.

Dit is ook belangrik om as paartjie saam te besluit waarop julle bereid is om geld te spandeer en waar julle gaan bespaar op die groot dag.

Besluitnemingsproses:


Die bruid het grootliks die beplanning gedoen en verskillende idees en prentjies gesoek, maar ons as paartjie het saam die finale besluite gemaak – ek sou ʼn paar opsies kry en dan het ons saam die finale besluite gemaak.

Merkwaardigste Oomblikke:


André:

Die oomblik toe ek my beeldskone bruid soos ʼn prinses voor my sien staan in haar trourok en ek besef ek regtig met hierdie pragtige mens trou.  Ek kon die trane nie keer toe ek haar pa se hand skud en saam met haar voor die preekstoel gaan staan nie.

Christelle:

My merkwaardigste oomblik was toe die kerkdeure oopgaan en ek vir André sien wag aan die einde van die kerk.  Hy het so aantreklik gelyk en ek kon nie wag om met hom te trou nie. Die oomblik waaroor ek vir soveel jare gedroom het, was besig om waar te word.  Ek sal hierdie spesiale oomblik en gevoel onthou en koster vir die res van my lewe.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Ek is ʼn verskriklike “lysie – meisie” soos André my noem, met die gevolg dat alles op ons troue van die begin tot die einde haarfyn beplan was.  Toe ons ʼn troudatum gekies het in Maart 2020 het ek al na die weervoorspelling gekyk en die naweek en datum juis spesifiek gekies omdat dit die laagste kans op reën aangedui het.

Op die dag van ons troue het dit gelyk of ons die perfekte weer gaan kry vir perfekte fotos.  Net voor ek opstap kerk toe, het daar pikswart wolke oor die kerk getrek en kort daarna het daar ʼn enorme storm losgebars en dit het onophoudelik begin reën.  Almal het my wel verseker dat reën altyd seën beteken en bring en ons het toe besluit dat dit ons” Konfetti uit die hemel” is.

Ek sal ons troue nie beskryf as perfek nie, maar alles waaroor ons menslik beheer gehad het, was in die kleinste detail beplan.

Paartjie se styl:


Die styl wat ons graag wou hê, is stylvol en elegant, maar met ʼn tikkie pret.  My rok was ʼn lang, wye, spierwit rok vir die kerkdiens wat deur die ontwerper (Kobus Rautenbach ) slim beplan is sodat dit in ʼn stywe, elegante rok vir die onthaal omskep kon word deur slegs ʼn gedeelte van die rok los te knip.

My aantreklike bruidegom het ʼn donker vlootblou pak aangehad, met ʼn grys onderbaadjie en Polkadot das.

Ons wou graag die “plaas styl” gevoel van die venue kombineer met elegante dekor en blomme.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruide:

Geniet elke liewe oomblik van die beplanning saam met jou bruidegom.  Almal sê altyd vir jou hoe vinnig dit verbygaan, maar dit is regtig die waarheid.  Trou – beplanning is die lekkerste tyd van jou lewe, wat jy nooit weer wil oorhê nie.  Neem elke oomblik in, geniet dit en neem baie fotos.  As die troudag verby is, mis mens die beplanning.  Wees oop vir voorstelle en idees, ons idees is soms buite die lyne.

Bruidegomme:

ʼn Troue was vir my as man nooit ʼn groot “deal” gewees ten opsigte van die beplanning nie.  As ek vir elke toekomstige bruidegom kan raad gee – Wees geduldig met jou toekomstige vrou as dit by die beplanning kom.  Moet nie haar idees en drome afskiet nie.  Luister na elke wilde idee:  Van die Konfetti wat in hartjies geknip word tot elke blommetjie en strukkie ekstra.  Al is die goed vir ons as mans nie belangrik nie, dit is vir jou vroutjie alles en nog meer.  Onthou dat jou vrou as klein dogtertjie al gedroom het van dié dag, sprokies verhaal wat al jare in haar kop is – die dag wat sy met haar prins trou.

Die oomblik as jou vrou in die kerk stap sal alles vir jou sin maak.  Dit is ʼn onbeskryflike gevoel wat ek vir niemand kan beskryf nie.  Haal asem en neem alles in, dis werklik in ʼn oogwink verby.  Vat 5 minute voor julle by die onthaal saal instap saam jou nuwe vrou, want glo my dis al tyd wat julle saam gaan hê daai aand.

Wees lief , bly verlief , God het julle vir mekaar gekies.

Diensverskaffers gevind van Mooi Troues


Image2u Photography

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is baie moeilik om een diensverskaffer uit te sonder.  Ons was regtig geseënd met wonderlike verskaffers.

Dit is my advies aan alle toekomstige bruide – as jy goeie diensverskaffers het vat dit baie spanning van jou af.

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie gehad as vermaak, wat heerlike musiek gespeel het.

Ons het waterbotteltjies, programme en “Tissues for the happy tears “ vir elke gas gegee toe hulle arriveer.

Daar was ʼn “popcorn bar” vir die gaste, sowel as Gin Bar en drankies wat ons in kruiwaens en emmers gesit het vir die gaste.

Daar was ook ʼn lekkergoed- tafel wat terselfdertyd ons dankie-geskenkies aan die gaste was.

Venue & Dekor:


Ons keuse het geval op ʼn “plaas styl” venue in Parys.  Dit was definitief die klomp mak plaasdiere en pragtige landskappe wat ons op hierdie venue laat besluit het.  Die venue het ook pragtige mak perde wat daar vry rondstap.  Sowel as ʼn mak donkie met die naam Jenny, vir wie ek ook ʼn sluier laat maak het.  Ons was mal oor die opset en het dadelik geweet dis waar ons wil trou.

Ek wou ʼn elegante en stylvolle troue hê en en het besluit om net wit blomme te hê met baie kerse en kandelare.  Van die begin af wou ek blomme hê wat uit die dak kom.  Ek het ʼn wonderlike bloemis gekry wat presies verstaan het wat ek soek.  Met ons troue het daar oral spierwit orgideë uit die dak gehang.  Die spierwit tafeldoeke en silwer eetgerei en servette het die prentjie perfek afgerond.

Wittebrood:


Ons is Kaapstad toe vir ons wittebrood, meer spesifiek Bloubergstrand – ons gunsteling vakansie bestemming in Suid – Afrika.  Toe ons wittebrood begin beplan kon ons nie buite SA gaan as gevolg van die KOVID19 regulasies nie.

Eerste Dans:


Ons eerste dans was baie spesiaal – ek wou baie graag ʼn “wow” dans gehad het.  Ons het ʼn totaal van 4 danslesse bygewoon- wat ons regtig baie baie geniet het.  Dit is definitief iets wat ek vir elke paartjie sal voorstel om saam te doen.

Ons het ʼn paar aande in die kombuis ons dans geoefen en lekker saam gelag.  Daardie heel eerste dans word tree vir tree deur elke gas dopgehou en dit is die moeite werd om dit ʼn onvergeetlike herinnering te maak.

Liedjie : Michael Bublé – Everything

Spesiale Tradisies:


Ons het geen spesiale tradisies gehad nie, maar wel soveel moontlik tradisionele trou tradisies soos heildronke, bruidegom toesprake ensovoorts gehad.  Ons het elkeen op ons eie ouers heildronke ingestel.  Net voor die bruidegom se toespraak, was daar ʼn papiersak-dans vir die enkellopende manne, wat groot vermaak en pret verskaf het.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


KOVID19 het glad nie ʼn negatiewe invloed gehad op ons troubeplanning nie. Ek het die grendeltydperk in die middel van die pandemie benut om troue te beplan.  Ons het positief gebly dat ons troue sal kan voortgaan en doodgewoon met die reëlings aangegaan in die geloof dat alles uiteindelik goed sal uitwerk.

ʼn Maand of twee voor die troue moes ons ʼn KOVID-foto laat neem en ʼn nuwe kaartjie aan die gaste stuur om te sê dat die troue voorlopig “op ys” is, maar dat ons steeds die datum oophou en dadelik nuwe reëlings sal deurgee sodra ons meer weet.  Ons was seker een van die eerste” KOVID-paartjies” en die onsekerheid het die moeilik gemaak om ʼn troue te reël.

Ons kon byvoorbeeld nie lap vir my rok of blomme bestel nie, omdat dit eenvoudig nie beskikbaar was tydens die KOVID-pandemie nie.  Albei van ons het egter positief gebly en vasgehou aan die geloof dat alles gaan uitwerk vir ons troudag.  Ons beloning daarvoor was ʼn troudag wat ons nooit sal vergeet nie en vir die res van ons lewe sal koester.

 

Klik hier vir diensverskaffers