Aaron & Bernice se Kleurryke Bostroue vol Romanse in Mpumalanga

Aaron en Bernice se bostroue was die perfekte weerspieëling van ’n kontemporêre, ligte en lewendige styl. Die paartjie het die natuurlike bos-omgewing benut en dit met ’n vrolike ontploffing van kleur gekombineer wat onmiddellik ’n glimlag op almal se gesigte geplaas het.

Nadat Bernice en haar ma dit geniet het om verskillende rokke aan te pas, het sy besluit om al haar gunsteling elemente in een unieke ontwerp saam te voeg. Sy beskryf haar trourok as romantiese elegansie met ’n tikkie drama. Die A-lyn-silhoeët is vervaardig uit fyn Chantilly-kant oor luukse Milano-satyn, wat ’n sagte glans skep. ’n Beskeie halslyn hou die voorkoms tydloos, terwyl die grasieuse sleep met fyn kralewerk langs die kantwerk versier is. Die agterkant is afgerond met ’n elegante korset en satyn bedekte knopies.

Met ’n kleurvolle “Bring die Buitelug na Binne”-tema was die dekor vol lewe. Gaste is aangemoedig om kleurvol aan te trek, terwyl die bruidsmeisies sagte pastelle gedra het en die strooijonkers se dasse vrolike blompatrone vertoon het. Helder pastel blomme, hangende varings, wit blompotjies, kerse en feetjieliggies het ’n warm, romantiese atmosfeer geskep.

Vir ’n persoonlike tikkie het elke gas ’n kaartjie met ’n voorletter wasstempel en gedroogde blommetjie ontvang. Gaste is ook bederf met ’n koekie wat deur ’n vriendin gebak is terwyl ’n bruidsmeisie ’n pragtige verwelkomingsbord geverf het.

Hierdie bostroue wys hoe besonders ’n dag kan wees wanneer kleur en die natuur mekaar ontmoet. Besoek gerus Mooi Troues se aanlyn trougids vir inspirasie en die land se beste diensverskaffers.

Trourok:


Dit was soveel pret gewees om trourokke saam my ma te gaan aanpas! Met al die verskillende style was dit moeilik gewees om net een te kies. Ek het toe besluit om ‘n kombinasie van alles wat ek van hou in ‘n trourok, self te laat maak.

Ek kan my trourok beskryf as romantiese elegansie met ’n tikkie drama. Die A-lyn rok is gemaak van fyn, gekoorde Chantilly-kant, oorgetrek op luukse Milano-satyn vir ’n sagte, glansende afwerking. ’n Beskeie halslyn hou die voorkoms tydloos, terwyl die grasieuse sleep ’n elegante indruk skep. Fyn krale was al langs die kant van die sleep aangewerk. Die korset met knopies op die rug wat met dieselfde satyn oorgetrek is, het my gemaklik en elegant laat voel.

Paartjie se Verlowing:


Ek en Aaron is mal oor stap en die natuur. In die Maartvakansie van 2025 het ons saam met ’n groep vriende ’n oornagstap aangepak. Min het ek geweet dat Aaron dié geleentheid gaan gebruik om die groot vraag te vra!

Ons het eintlik beplan om in April saam met my ouers na die Drakensberge te gaan, en ek het gedink hy sal my dalk dáár vra—dit is immers waar hy my drie jaar tevore uitgevra het. So het ons toe na Mpumalanga vertrek om die “Kingdom Hike” aan te pak—’n driedagroete wat gedeeltelik langs die Olifantsrivier kronkel.

Na die tweede dag se stap het ons moeg by die hut aangekom, reg om net te rus en die aand saam te geniet. My toekomstige skoonsussie het my egter oorreed om saam met haar ’n entjie na die rivier toe te stap om die sonsondergang te gaan kyk. Ek het effens teësinnig ingestem—maar ek wou ook nie hê sy moet alleen gaan nie! So is ons toe daarheen, sommer in plakkies en kortbroeke.

Net voor ons by die uitkykpunt kom, haal sy een van my wit rokkies uit haar rugsak—’n rokkie wat sy die week tevore by my “geleen” het vir ’n sogenaamde “geleentheid”! Sy het my aangemoedig om dit saam met die mooi oorbelle wat sy gebring het, aan te trek. Op daardie oomblik het ek begin besef wat kom… maar ek kon dit skaars glo!

Die groot vraag:

Met ’n mengsel van opgewondenheid en skok het ek vinnig aangetrek en myself mooi gemaak, en toe afgestap na ’n asemrowende uitkykpunt. Daar het Aaron vir my gestaan en wag—netjies aangetrek in ’n chino en wit knoophemp, met ’n pragtige piekniek wat hy vir ons uitgepak het. En natuurlik… met die ring wat my skoonsussie die hele pad in haar rugsak gedra het!

Met die pragtige uitsig oor die Olifantsrivier het hy my gevra om met hom te trou. Ek het sonder huiwering ja gesê!

Een van ons medestappers, ’n kranige fotograaf, was reg om die oomblik vas te vang. Ek was oorweldig deur die skoonheid van die natuur en die vreugde van die oomblik.

Verloof- en Trouringe:


Aaron het my asem weggeslaan met ’n verloofring wat hy self ontwerp en laat maak het by Poggenpoel Juweliers. Die ring is versier met wit diamante: ’n ovaal hoofdiamant in die middel, wat met vier kloutjies in plek gehou word. Aan elke kant is “teardrop”-diamante wat horisontaal geplaas is en aan die hoofdiamant raak. Die res van die ring bestaan uit 18 karaat goud.

Aaron het die ring nóg meer uniek gemaak deur die horisontale kloutjies só te ontwerp dat dit, van die kant af gesien, die buitelyne van ’n berg vorm. Hierdie detail is vir my ongelooflik spesiaal, aangesien ons daar verloof geraak het, albei ’n groot liefde vir die natuur en berge het en ons glo dat ons nog baie “berge” in die lewe saam sal uitklim.

Ons troupante is ook baie kosbaar vir ons. Ná die onlangse afsterwe van my ouma, is twee goue ringe aan ons nagelaat. Ons het die ringe laat smelt en die goud gebruik om ons eie troupante te laat maak. Ons het albei eenvoudige 9 karaat goue bande gekies wat identies in styl is—myne effens fyner as Aaron s’n.

Trou Dekor en Styl:


Die venue was versier met helderkleurige, vrolike pastelblomme wat pragtig uitgestaan het teen die groenigheid van die bome en die bosomgewing. Ons het ons gaste ook aangemoedig om kleurvol aan te trek, wat bygedra het tot die feestelike en lewendige atmosfeer.

My bruidsmeisies het elkeen ’n ander pastelkleur rok gedra, terwyl die strooijonkers se dasse met kleurvolle blompatrone versier was. Ons wou hê dat almal gemaklik moet wees en saam met ons die natuur geniet.

In die onthaalarea het ons die buitelewe na binne gebring: bo elke tafel het takke aan stellasies gehang, gevul met sagte groen varings. Die vertrek is verder verhelder met baie kerse op die tafels en “fairy lights” wat van die dak af gehang het, wat ’n warm en romantiese atmosfeer geskep het.

Elke tafel was versier met wit blompotjies, gevul met ’n verskeidenheid kleurvolle gerangskikte blomme. By elke sitplek het ons ’n persoonlike kaartjie geplaas om ons gaste te bedank dat hulle die dag saam met ons kom vier het—afgerond met ’n wasstempel van ons voorletters en ’n gedroogde blommetjie.

As ’n ekstra bederf het elke gas ook ’n versierde koekie ontvang, met liefde gemaak deur ’n vriendin as trougeskenk. Een van my bruidsmeisies het ons verder geseën met haar kunstalent deur ’n pragtige verwelkomingsbord met blomontwerpe vir ons te verf.

Die algehele styl van ons troue was modern, lig en vol lewe—met ’n sagte, natuurlike bosgevoel wat ons ten volle omhels het.

Trou Begroting en Beplanning:


Aaron en Bernice se troue is saam met 144 geliefdes gevier, met ’n begroting van ongeveer R250 000. Die paartjie het nege maande lank aan hul spesiale dag beplan.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: