Ruhan en Chanel se groot dag was ’n harmonieuse kombinasie van rustieke elemente en kontemporêre styl. Die viering het ’n warm, romantiese bos-atmosfeer uitgestraal sonder om oorlaai of oorversier te voel.
Chanel het asemrowend gelyk in ’n slanke meermin-silhoeët trourok wat haar figuur pragtig beklemtoon het. Die bo-deel van die rok was versier met fyn illusie-kant met subtiele deursigtigheid en ’n elegante V-hals. Die delikate kantpatrone wat aan blomme en wingerde herinner het perfek by die natuurlike omgewing aangesluit. Terwyl die romp glad en eenvoudig gehou is, was die sleep die absolute fokuspunt en dit is volledig vervaardig uit dieselfde romantiese kant as die lyfie.
Ruhan het Chanel stylvol gekomplementeer met ’n unieke voorkoms bestaande uit ’n swart broek en das gekombineer met ’n ligte roomkleur baadjie.
Die dekor was ’n persoonlike projek met talle handgemaakte elemente, insluitend houtbalke by die kansel en ’n welkomsbord wat deur die bruid self geverf is. Die onthaalarea het industriële raamwerke gebalanseer met die warmte van sagte beligting, houtstoele en oorvloedige wit rose met gedroogde bruin blare.
Sagter, natuurlike skakerings het die kleurpalet weerspieël. Tafels is gedek met vloeiende linne in room en kaki en aangevul deur kontrasterende swart aksente. Kerse en feetjieliggies in die dakbalke het ’n intieme, sielsvolle atmosfeer geskep.
’n Besonderse en persoonlike aanraking was die handgeskrewe briefies wat elke gas by hul plek gevind het. Dit was ’n opregte boodskap waarin die paartjie hul dankbaarheid en elke gas se unieke rol in hul lewens beskryf het.
Beplan jy jou eie unieke feesviering? Besoek die Mooi Troues aanlyn trougids vir die beste diensverskaffers in Suid-Afrika.

Trourok:
Dit is ’n slanke, figuurvolgende meermin-silhoeët wat baie elegant is sonder om oordrewe te voel. Die bokant van die rok is ryk aan kantdetail, met ’n besonder fyn en romantiese lyfie. Die illusie-kant skep ’n subtiele deursigtigheid wat baie delikaat vertoon. ’n Sagte V-halslyn voeg verdere elegansie by, terwyl dun bandjies met fyn steuntjies die voorkoms afrond. Kantpatrone wat aan blomme en wingerde herinner, pas ongelooflik mooi by ’n bostroue-tema.
In kontras daarmee is die romp glad en eenvoudig, wat die aandag na die besonderse detail bo trek. Die sleep is volledig van dieselfde kant gemaak as die lyfie en was werklik die uitstaande en mooiste deel van die rok.

Verloof- en Trouringe:
My verloofring is baie fyn en eenvoudig. Met ʼn groot diamant in die middel van n dun 18k goue pant, met 4 kleiner diamante aan elke kant.
Ruhan se trouring is ʼn swart tunkstand pant wat n rowwe afterking het aan die twee kante en n gladder afwerking in die middel.
Ek het twee trou pante gekry wat ek kan afwissel of al drie saam dra. Die een is net ʼn fyn goue pant. Die ander een is dieselfde styl as die verloofring maar net met 16 fyn diamante om die ring.

Paartjie se Verlowing:
Ons het verloof geraak op die herdenking van die dag wat ons ’n paartjie geword het. Wat oorspronklik net ’n herdenkingstrippie sou wees, het ’n dag geword wat ons lewens vir altyd verander het. Ons is albei mal oor die bos en daarom kon daar nie ’n meer perfekte plek wees nie. In Itaga Lodge in die Mabalingwe Natuur reservaat.
Ons het die middag op ’n game drive deurgebring, omring deur die stilte van die natuur en die mooiste tonele om ons. Aan die einde van die rit het ons gestop vir ’n piekniek. Met die son wat stadig begin sak en die lug wat warm skakerings van goud en oranje aangeneem het, het ons saam op ’n klip gesit en net die oomblik ingeneem.
Daar, tussen die sagte geluide van die veld en die sonsondergang wat alles goud gekleur het, het Ruhan my hand gevat en my gevra om my lewe saam met hom te spandeer. Dit was eenvoudig, opreg en perfek, presies wie ons is.
En presies ’n jaar van daardie dag af het ons getrou. Ons herdenkingsdatum het dieselfde gebly, eers die dag wat ons ’n paartjie geword het, toe die dag wat ons verloof geraak het, en toe die dag wat ons man en vrou geword het. Een datum, soveel betekenis.

Trou Dekor en Styl:
Daar is baie hout elemente in die troue ingebring, met hout balke wat ons self versamel het en by die kansel gesit het met fotos op en by die welkom bord wat ek self geverf het tot by die onthaal se hoë balke en industriële elemente gee ’n moderne raamwerk, maar die sagte lig, hout en blomme maak dit warm en sielsvol.
Ek het persoonlik vir elke gas ʼn brief geskryf en by hulle eetplek gelos om dankie te se en te vertel oor die rol wat hulle in een of altwee van ons lewens gespeel het.
Die dekor van die onthaal was lang tafels met sagte, vloeiende tafellinne alles in room kleur en kaki met hier en daar elemente van swart. Oorvloedige maar natuurlike blomrangskikkings net op die tafels, wit rose en uitgedroogde bruin blare, baie kerse en sagte lig. Met ʼn groot “Botha” Signs wat weerskante van die onthaal. Kleiner een agter die Bruidstafel en Groot letters op die dansvloer (Voordele van n kort van). Houtstoele wat die rustieke element versterk met fairy lights in die dakbalke. Dit skep daai warm, romantiese bos-gevoel sonder dat dit oorversier of besig lyk.
Alles voel sag en harmonieus.

Trou Begroting en Beplanning:
Die troue het 78 gaste gehad, met ’n begroting van R350 000, is oor presies een jaar beplan en was ’n selfdoen troue.

- Fotograaf: Echoes of Eden Studios | Kontak
- Venue: Simbali Lodge & Function Venue | Kontak
- Blomme: The Love Knot | Kontak
- Dekor: The Love Knot| Kontak
- Grimering: Aesthetic Beauty Co.| Kontak
- Musiek: Eme Music Productions| Kontak
- Paartjie se verblyf: Simbali Lodge & Function Venue| Kontak
- Skryfbehoeftes: MinuteMan Press Lynnwood| Kontak
- Spyseniering: Simbali Lodge & Function Venue| Kontak
- Trourok: Bridal Wardrobe| Kontak
- Troukoek: La Moraine Cake Boutique| Kontak
- Wittebrood Bestemming: Maldives Eiland
- Wittebrood Plek: Centara Ras Fushi Resort & Spa Maldives| Kontak
