In die hartjie van Calitzdorp het Ivor en Su-Raé hul beloftes aan mekaar gemaak tydens ’n buitelug seremonie wat die ware gees van Calitzdorp in die Klein Karoo vasgevang het. Gaste het gemaklik op hooibale gesit terwyl die egpaar trou gesweer het in ’n omgewing met diep emosionele betekenis. Vir Su-Raé was dit ’n lewenslange droom om op hul familieplaas te trou. Hierdie besluit het nog meer betekenis gekry nadat haar pa in 2022 daar begrawe is.
Su-Raé se voorkoms was die perfekte voorbeeld van “minder is meer”. Sy het verlief geraak op ’n ivoorkleurige rok van syerige materiaal. Die rok het dun bandjies, ’n vleiende lae halslyn en ’n elegante lae rug met klassieke knoopdetail. Om haar voorkoms af te rond, het sy ’n sluier met pêrels gedra. Sy het dit gekombineer met ’n bypassende pêrelband om haar heupe. Ivor het ewe stylvol gelyk in ’n vlootblou pak. Sy voorkoms is afgerond met ’n kraakvars wit hemp en ’n liggroen das. Die das het mooi by die natuurlike kleure van die plaas aangesluit.
Hul dekor en styl was plat op die aarde, tussen die skape en die Karoo-stof. Die onthaal het letterlik onder die sterrehemel langs die skaapkraal plaasgevind. ’n Kleurskema van wit, saliegroen, bruin en goud het die natuurlike omgewing pragtig gekomplementeer. Tipiese Karoo-elemente soos aalwyne en droë bosse is gebruik om die rustieke atmosfeer te versterk. Baie van die dekor is self gemaak met inspirasie vanaf Pinterest en die plaas self.
Paartjies wat droom van ’n egte plaastroue kan gerus Mooi Troues se aanlyn trougids besoek om diensverskaffers te vind wat so ’n unieke visie kan bewaarheid.

Trourok:
Ek het altyd die idee gehad van ʼn lace trourok met baie detail en ek het gedink my droom trourok sal natuurlik al daardie detail in hê. Ek het die eerste lace rok aangetrek en alhoewel dit pragtig was het dit net nie pragtig aan my gelyk nie. Toe bring sy daardie tweede rok wat glad nie in my smaak was nie.
My rok was nog nie eers behoorlik aan nie toe weet ek al, my gesig het sommer opgehelder en ek het geweet dit is die een! Die rok is ivoor kleur en plein soos wat kan kom. Die rok het baie dun bandjies gehad en ʼn baie vleiende lae hals. My rok se lengte was lank, en het ook bietjie gesleep op die vloer. Die rok het reguit af gehang en was gemaak van ʼn syerige materiaal. Agter het die rok my lae rug gewys en met knopies toe gemaak. My sluier was pêrels en hulle het toe vir my ʼn pêrel bandjie om my heupe vasgemaak om dit te komplimenteer. Ek moes ongelukkig na die troue totsiens sê vir die rok aangesien ek die rok net gehuur het.

Verloof- en Trouringe:
Ons het saam besluit om koste te bespaar sal ons net my verloof ring gebruik en nie ʼn trou pant nie. Ivor was weereens ongelooflik met dit; ek het ʼn foto van my droom ring (Pinterest inspirasie) vir hom gestuur en glo dit of nie ek het die ring vir die eerste keer gesien toe hy my gevra het! Dit was perfek en net soos ek dit wou hê, dit is ʼn goue ring met ʼn steen in die middel en klein stene rondom dit lyk amper of dit ʼn blommetjie patroon vorm. Die juwelier was fantastiese deur net ʼn foto van my te sien het hy presies geweet hoe groot die ring moet wees en dit het perfek gepas!

Paartjie se Verlowing:
Ivor het die hele verlowing gereël. Hy het met Knysna Elephant Park gereël omdat hy weet hoe lief ek vir diere is. Ek het iets vermoed, maar niks gesê nie.
Ons het saam met die olifante geloop en hulle gevoer. Ek het heeltyd gewag dat dit moet gebeur, maar niks het nie. Teen die einde van die stappie het die gids gesê ons gaan ’n foto saam met die olifante neem. Ons het voor hulle gaan staan en foto’s geneem. Ek wou toe wegskuif sodat die ander paartjie ook ’n kans kon kry. Die gids het egter gesê ons moet nog ’n paar foto’s neem.
Die rede hiervoor was dat Ivor so senuweeagtig was dat hy sy kans gemis het om die vraag te vra. Daarom moes die gids weer ’n oomblik vir hom skep. Ivor het my aan my skouers gevat en begin praat. Ek het gewonder hoekom hy nou so ernstig raak voor die olifante. Skielik het hy op een knie gesak en my gevra om met hom te trou.

Trou Dekor en Styl:
Dit was nog altyd my droom as klein dogtertjie om op ons plaas te trou. My pa is in 2022 oorlede en op die plaas begrawe en dit het my besluit ook soveel meer bevestig om op die plaas te trou. Hierdie besluit om op die plaas te trou het alles beïnvloed, die hele styl is geïnspireer deur die plaas.
Ons het gegaan vir ʼn rustieke, plaas, plat op die aarde tussen die skape en stof gevoel! Ons onthaal was letterlik onder die Klein Karoo sterre en langs die skaap kraal in die stof. Die kleur skema was wit, sage groen, bruin en goud, alles met die idee om so natuurlik en plaas as moontlik te voorkom.
Ons het baie dekor self gemaak en ek het baie idees deur Pinterst gekry, die plaas het my ook baie geinspireër. My broer en oom het die hele week ook spesiaal gewerk aan my pa se graf. Ons het die grafsteen eers in Oktober 2025 ontvang en hulle het gesorg om my pa se graf reg te hê omdat ek baie graag fotos by my pa se graf wou neem en teen Vrydag was die grafsteen gelê en so pragtig.

Trou Begroting en Beplanning:
Die troue het 83 gaste verwelkom, met ’n begroting van R70 000. Die beplanning het oor 1 jaar en 1 maand gestrek, en dit was ’n selfdoen troue waar die paartjie self die meeste van die reëlings hanteer het.

- Fotograaf: Klawer Fotografie | Kontak
- Venue: Karoo Water | Kontak
- Blomme: Jasmyn Bloemiste | Kontak
- Bruidegom-pak: Occasions Georeg | Kontak
- Grimering: Scent of a Woman Skincare Clinic| Kontak
- Hare: Maré Muller Hair and Makeup Artisit| Kontak
- Huurdienste: Johnita Marx Verhurings| Kontak
- Juweliersware: Bridal Inn| Kontak
- Spyseniering: Karoo Water | Kontak
- Strooimeisie-rokke: Bridal Inn| Kontak
- Trourok: Bridal Inn| Kontak
- Bruid se Trouring: Raffaele D’Amato Jewellery| Kontak
- Bruidegom se Trouring: Sterns
- Troukoek: Nadines Taylor Made Treats| Kontak
- Wittebrood Bestemming: Mauritius – Trou de Douce
- Wittebrood Plek: Hotel Tropical Attitude| Kontak

