Jacques en Roné se blaar-geïnspireerde wintertroue by die skilderagtige Steynshoop Valley Lodge in die Magaliesberge was ’n ware sprokie wat in die hart van die winter ontvou het. Die paartjie het die natuurlike skoonheid van hul omgewing ten volle benut om ’n atmosfeer te skep wat terselfdertyd gemaklik, romanties en betowerend was.
Die tema, “blare”, het soos ’n goue draad deur elke aspek van die dag geloop. Steynshoop Valley Lodge se venue is omskep in ’n dromerige woud-omgewing, met blare wat sierlik van die dak af gehang het en olyfgroen as die hoofkleur in die dekor. Wat hierdie besonderhede nóg meer betekenisvol gemaak het, was die sentimentele waarde daaragter. Die blare op die tafels is spesiaal vanaf die familieplaas gebring, dieselfde plaas waar die paartjie verloof geraak het. Roné se ma het haar kreatiewe vlerke gesprei en die dekor met sorg behartig, sodat elke hoekie van die venue die paartjie se visie weerspieël.
Roné het soos ’n ware winter-nimf gelyk in haar unieke trourok. Met ’n wintertroue in gedagte, was elegante lang moue ’n absolute moet. Die rok was ’n meesterlike samestelling van sagte vlees- en pienk kleure, afgerond met ’n delikate wit chiffon-oorlaag. In pas met die tema is fyn blaar-elemente op beide die rok en haar sluier geborduur, wat die natuurlike tema op ’n pragtige manier voltooi het.
Omring deur geliefdes en die kalmerende rustigheid van die natuur, het Jacques en Roné by Steynshoop Valley Lodge ’n dag gevier wat net so tydloos is soos die berge wat hulle omring.
Beplan jy jou eie winter sprokie? Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir asemrowende trou venues en talentvolle boetieks wat jou droomrok ’n werklikheid kan maak.

Trourok:
Ek wou nog altyd in die winter trou, want lang moue op ʼn trourok is vir my baie mooi. Ek het slegs een boetiek besoek, Iniek Boutique en my trourok was die derde een wat ek aangepas het. Die rok het ʼn lae hals (tot my ma se ergernis) en ons moes moue daaraan vaswerk. Ek wou nie ʼn spierwit rok gehad het nie. My rok was ʼn mengelmoes van vlees- en pienk kleurig met wit chiffon bo-oor. Ons tema was ‘blare’, so daar was blaar elemente op beide my rok en sluier.

Paartjie se Verlowing:
Dit was nog altyd my droom om op my oupa se plaas te trou, maar dit was onprakties omrede dit so ver van Pretoria is. Ek het aan Jacques genoem dat sou hy my ooit om die hand vra, moet dit dan op die plaas geskied, aangesien ek nie daar sal kan trou nie en dit die tweede beste is.
Ek het die aand voordat ons plaas toe sou ry (27 Desember) vreeslik siek geword en moes dadelik ʼn operasie kry om my blindederm te verwyder. Ons het die volgende dag direk van die hospitaal af plaas toe gery, minwetend wat die man se planne is en hoekom hy en my ma so gretig was om my met steke en al op die plaas te kry.
Terwyl ek by die huis lê en herstel het, het hy en my ma en tannie ʼn piekniek by die plaasdam gereël en die hele familie soontoe genooi vir ʼn visvang en ‘kuier’. Hy het my om die hand gevra en ons twee het ge-piekniek (die familie is terug huis toe). Juis piekniek, want dis hoe hy my gevra het om te kys ook. Dus het my simpel blindederm amper al die planne omvergegooi.

Verloof- en Trouringe:
Omdat die plaasvakansie vinnig gereël is en die man gevolglik vinnig moes spring, was daar nie tyd om ʼn ring te ontwerp nie. My verloofring was sommer net ʼn eenvoudige ring van Sterns. Ek het my ma se trouring gekry en het daarmee my huidige troupant ontwerp by Louie Daniele Diamond Co. Ons het die 14 diamantjies daarin gebruik en die oorblywende een diamantjie en goud (want ek wou witgoud gehad het) vir my boetie gegee sodat hy ook eendag ʼn deel van ons ma se ring het. My ring bevat dus 14 diamante van my ma en een groot laboratorium diamant van my man. Die verloofring is nou in die kluis.

Trou Dekor en Styl:
Tema: blare. Dus kleurskema: Olyfgroen.
Ek wou graag ʼn romantiese, gemaklike, letterlik sprokies troue gehad het. Die venue het vir ons blare uit die dak laat hang. Blare wat my oom-hulle van die familieplaas (die een waar ons verloof geraak het) af gebring het is op die tafels gebruik. My ma was in beheer van al die dekor, sy is aansienlik kreatiewer as ek. Haar Pinterest-bord was stampvol.

Trou Begroting en Beplanning:
Met 85 gaste teenwoordig en ’n trou begroting van R110 000, is die troue oor ’n tydperk van ses maande beplan. As ’n selfdoen troue het die paartjie self die beplanning hanteer, wat die dag ’n persoonlike en opregte karakter gegee het.

- Fotograaf: Gene Photography | Kontak
- Venue: Steynshoop Valley Lodge | Kontak
- Grimering: Veruné Make-up artist| Kontak
- Hare: Wild Lengths| Kontak
- Huweliksbevestiger: Ds Mikal Barnes
- Juweliersware: Pêrel Skatkis| Kontak
- Musiek: AMA Promotions| Kontak
- Paartjie se verblyf: Steynshoop Valley Lodge | Kontak
- Spyseniering: Steynshoop Valley Lodge | Kontak
- Troukoek: Bruidegom se Suster
- Strooimeisie-rokke: Ek het die materiaal voorsien, elkeen het hulle eie ontwerp
- Trourok: Iniek Boutique| Kontak
- Bruid se Trouring: Louie Daniele Diamond Co| Kontak
- Bruidegom se Trouring: Francois Jewellers| Kontak
- Videograaf: Frames of Two| Kontak
- Wittebrood Plek: The Fig Tree House: Tussenklip| Kontak
