Wanzen & Jana se troue in Mpumalanga

Vandag is ons opgewonde om met Mooi Troues se lesers Wanzen en Jana wat getrou het by @Boshoek, ʼn sprokiesagtige trouvenue in Mpumalanga, se troue te deel.  Hierdie trou venue is tussen asemrowende berge met ʼn harmonieuse atmosfeer.  Dit het die mooiste glasdeure wat oopskuif en uitkyk na die hoë bome.  Daar waar die liefde broei.  Hierdie trouvenue in Mpumalanga is die perfekte venue vir ʼn warm en gesellige troue.

Ons is absoluut mal oor hulle styl en die twee se individuele styl komplimenteer mekaar op ʼn ander vlak.  Die modieuse mosterd rokke van die strooimeisies en die kortbroek met hoë sokkie vir die strooijonkers gee ʼn absolute makietie gevoel.  Die bruidegom het dan ook nog ʼn hele paar strooijonkers, dit lyk omtrent soos ʼn hele rugbyspan in die agterlyn.  Sy roomkleurige pak en haar trourok se teksture pas so mooi bymekaar en gee daardie warm gevoel soos die liefde tussen die paartjie.

Die groen troudekor-elemente en die warm pampasgras gee ʼn fantastiese gevoel in die venue.  Veral die tak-installasie met die ligte wat hang is ʼn pragtige gebaar van warm liefde soos ons kan sien tussen Jana en Wanzen.  Hulle troustyl het so mooi reflekteer in die venue en alles het soos ʼn legkaart in mekaar gepas.

Rol af en lees meer oor hierdie sprokiesagtige troue in Mpumalanga.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons storie is ʼn liefdesverhaal waaroor mens ʼn boek kan skryf, maar ek gaan dit vir julle kort en kragtig hou … Die twee van ons het mekaar einde 2012 ontmoet en dit is waar ons reis as vriende begin het.  Ons was beste pelle en onafskeidbaar vir ongeveer 5 jaar voor ons die besluit geneem het om gekys te raak.  ʼn Verhouding was net nie lank genoeg vir ons twee nie.  Op 12 Oktober 2019 het Wanzen sy knie vuil gemaak in die bosveld sand van die Timbavati.  Ons was vir die naweek alleen by Mananga, ons familie wildsplaas, waar ons die oggend vroeg die sonsopkoms gaan kyk het. Ek het voor op die oop voertuig gesit toe Wanzen voor my op sy knie gaan en die groot vraag vra met die eerlikste en mooiste woorde.  En natuurlik was my antwoord: Ja!!!

Dit was ʼn besonderse naweek gewees.

Die Verlowing Tydperk:


A.g.v. verskeie redes was ons verlowings tydperk nie baie lank nie.  Ons is makadamia boere en die winter is oes seisoen, so ʼn winters troue sou nie moontlik gewees het nie en my broer hulle sou in September trou.  Daarom was Februarie die beste moontlike datum vir ons groot dag.  Om so vinnig te trou is nie ʼn maklike taak om te verrig nie, maar vandag dank ek die Here daarvoor want min het ons geweet dat KOVID-19 baie paartjies se troudag gaan beïnvloed.

Ons het self ons troue beplan, maar het ook baie hulp van vriende en familie gehad. Annahes events wat ons blomme en dekor gedoen het, het ons ook baie gehelp om ons idees vir ons troue ‘n realiteit te maak.  Hulle kreatiwiteit en hoe hulle van niks iets kon maak was net verbasend.  @Boshoek se span het baie voorbereiding gedoen en het ons op die dag ook baie gehelp om alles in orde te kry.  Die venue self is onbeskryflik mooi so dit was nie nodig om veel te doen nie.

Ons is ongelooflik dankbaar vir almal se hulp.  Ons het ongelooflik mense in ons lewe!

Finansiële Aspekte:


Ons was in die bevoorregte posisie dat ons ouers ons kon help om ons droomdag ʼn werklikheid te kon maak.  My pa was net fantasties met al die reëlings.  Ons het 150 gaste onthaal by ons troue wat redelik baie mense is, maar elke persoon wat daar was het ʼn kosbare plekkie in ons harte.

Advies wat ek kan gee aangaande kostes vir paartjies wat vinnig gaan trou is dat jy bereid moet wees om ʼn paar opofferings te maak en op die ou-end alles in die Here se hande oor te laat en elke oomblik net te geniet.

Merkwaardigste Oomblikke:


Wat vir my ʼn baie spesiale oomblik was, was toe ek en my pa by die kerk in stap op die liedjie “Ed Sheeren – Perfect Symphony with Adrea Bocelli” wat vir my en Wanzen baie kosbaar is en toe my pa my aan Wanzen oorgee.  Dit is nou maar net ʼn onbeskryflike gevoel.

Wat ook ʼn merkwaardige deel van ons troue was, was ons eerste dans op Theuns Jordaan se liedjie “Skaakspek”.  Ons het nie een keer geoefen nie en het net so lekker saam gedans en gelag.  Dit was regtig waar ‘n onvergeetlike oomblik!

Wittebrood:


Ons is albei baie lief vir die bosveld en daarom het ons besluit om deur Botswana te toer.  Wanzen het ʼn ongelooflike lekker roete vir ons uitgewerk van die Chobe rivier tot die Delta en nog vele meer.  Ongelukkig was ons wittebrood kort geknip a.g.v. die grendeltydperk wat aangekondig was.  Ons hoop om eendag weer terug te gaan om ons roete te voltooi …

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: