Christiaan & Zannelique se Nostalgiese Verlowing fotosessie

Christiaan en Zannelique se nostalgiese verlowingsessie weerspieël ’n liefdesverhaal wat reeds in 2019 begin het. Wat aanvanklik as ’n ontmoeting tussen vriende begin het, het vinnig ontwikkel tot ’n onafskeidbare band. Op Goeie Vrydag, ná ses jaar saam, het Christiaan die groot vraag gevra. Die Atlantiese Oseaan vanaf Silwermyn-uitkykpunt was die agtergrond vir hierdie besondere oomblik.

Die verloofring vertel ’n storie ryk aan emosie en tradisie. Christiaan het saam met ’n ontwerper gewerk om ’n familie-diamant met groot sentimentele waarde te herskep in ’n tydlose ontwerp. Aan die binnekant is die datum 19 Julie 2019 gegraveer, Dit is die dag waarop Christiaan stilweg die belofte aan homself gemaak het dat hy eendag met Zannelique sou trou.

Vir hul verlowing fotosessie het die paartjie hul toekomstige trou venue gekies. Die wynplaas, met sy rou landskappe en outydse sjarme, was die perfekte agtergrond vir die nostalgiese en intieme atmosfeer wat hulle wou vasvang. Dit was ook ’n waardevolle geleentheid om hul fotograwe beter te leer ken en die venue te verken voor hul groot dag in Oktober 2026.

Hul visie vir die troue is een van outentieke eenvoud, ’n dag sonder stywe formaliteite, waar die fokus val op hul verbond met mekaar en met God. Vir Christiaan en Zannelique is die pragtige troudag slegs die begin van die huwelik wat daarop volg.

Beplan jy ’n verlowing met ’n tikkie nostalgie? Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir die beste fotograwe en juweliers om jou eie unieke liefdesverhaal te vertel.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


In 2019 toe ek vars uit matriek was het ons  deur gemeenskaplike vriende ontmoet by ’n braai Ons het dadelik oor die weg gekom asof ons mekaar al vir ’n leeftyd ken en ons is sedertdien onafskeidbaar!

Ons was 6 wonderlike jare saam, deur studies, nuwe werke en uiteindelik ’n langafstand trek Kaap toe. Hiér het ons besluit om dit amptelik te maak, al is die besluit eintlik reeds op ’n doodgewone Woensdagaand in die winter van 2019 geneem toe ons verhouding begin het.


Ons het laas jaar op Goeie Vrydag verloof geraak tussen fynbos en klip met ’n uitsig oor die Kaapse Skiereiland.

Ons het douvoordag by die prentjie-mooi Silwermyn-natuurreservaat in die Tafelberg-Nasionale Park gaan stap.  Toe het ons het by ’n uitkykpunt gestop met die mooiste uitsig oor die Atlantiese Oseaan, waar hy op een knieg gesak het. Die uitkykpunt was sowat 800 hoogtewins, so hy het my behoorlik laat werk daarvoor!

Ons het al vir ’n geruime tydjie beplan om te trou en ons het saam die ring ontwerp. Dus was dit nie heeltemal ’n verassing nie, maar dit was wel intiem, eg en opreg.

Hoekom ons mekaar liefhet:


My gunsteling eienskap van Christiaan is ’n gelykopstryd tussen sy leeuhart en sy sin vir humor. Ek bewonder sy moed en vasberadenheid. Niks kan hom onder kry nie. Maar, hy laat my ook gereeld lag tot my oë traan en ek snak na my asem. Dit is baie moeilik om te kies watter een my gunstelling eienskap is!

Zannelique het ‘n verskeidenheid van eienskappe wat ek aanloklik vind en wat my na haar toe aangetrek het. Sy is vasbeslote met ‘n hart van goud wat oorvloei van barmhartigheid. Sy gee werklik om vir haar medemens en gee en gee en gee totdat daar niks meer oor is nie, dan gee sy nogsteeds. Zannelique vul enige vertrek met haar sprankelende persoonlikheid en ek is mal oor daardie eienskappe van haar.

Die groot vraag:

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons troudag is 3 Oktober 2026, so ons sal min-of-meer ’n jaar en ’n half verloof wees voor ons trou.

Die verloofring:


Ons het die ontwerp saam gekies, maar Christiaan het leiding geneem met die maak van die ring. Hy het saam met Jan Scherman gewerk om ’n familie diamant met groot sentimentele waarde in ’n tydlose ring te laat maak wat ek vir altyd sal koester.

Die datum 19 Julie 2019 is aan die binnekant gegrafeer. Christiaan het die datum gekies, omdat dit die dag was wat hy stilletjies die belofte gemaak het dat hy eendag met my sal trou.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Die verlowing fotosessie was ingesluit by ons fotografie pakket vir die troue en dit het vir ons ’n goeie geleentheid gebied om ons wonderlike fotograwe te leer ken. Die feit dat ons asemrowende foto’s gekry het vir ons huis en uitnodigings is ’n groot bonus!

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons albei hou van die buitelewe en natuur, so ons wou graag ’n plek kies met ’n rustige, plattelandse gevoel wat dit weerspieël. In terme van die styl van ons foto’s wou ons ’n nostalgiese en intieme atmosfeer skep wat pas by die plattelandse gevoel.

Ons trou venue, Natte Valleij, is ’n werkende wynplaas wat die perfekte balans het van die pragtige, rou landskappe en outydse sjarme wat ons wou hê. Dus het ons besluit om sommer ons verlowing fotosessie by Natte Valleij te doen.

Dit het ook vir ons en die fotograwe ’n goeie geleentheid gegee om bietjie die venue te verken voor ons troue.

Visie vir droomtroue:


Ons droom oor ’n intieme, outentieke troue met net ons “nearest and dearest” gesin en vriende.

Elke liewe detail word met sorg en doelgerigtheid gekies, van die gastelys tot die teelepels.

Dit is natuurlik ’n viering! Ons wil graag wegdoen met die stuiwe formaliteite en ’n mooi dag geniet saam ons gunsteling mense!

Die belangrikste ding vir ons is dat niemand sig verloor van die eintlike betekenis van ons troue nie. Dit is die dag wat ons nie net ’n verbond met mekaar sluit nie, maar ook met God. Ons wil graag ’n pragtige troue hê, maar die huwelik wat daarna volg is wat régtig saak maak.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: