William & Tiffany se Prettige Verlowing Fotosessie

Ons deel op Mooi Troues in die inskrywing William en Tiffany se prettige verlowing fotosessie met ons lesers.   Die paartjie se fotosessie is kleurvol en vol glimlagte en sommer baie prettig.  Ons is gaande oor die stedelike gevoel van die fotosessie.  Tiffany en William se verlowing fotosessie was by Donkin Village in Port Elizabeth.

Die paartjie se uitrustings het só mooi gelyk in kontras met die geboue in die agtergrond.  Tiffany se vloeiende blomme rok gee die fotosessie ʼn vakansie atmosfeer.  Jy kan sien die paartjie het die fotosessie vreeslik geniet en het tot ʼn glasie vonkelwyn geniet!  Dit is mos hoe dit gedoen moet word.

Alles is moontlik as jy ʼn fantastiese fotograaf het wat julle gemaklik sal laat voel voor die kamera.  In Mooi Troues se Trougids sal jy fantastiese fotograwe kan vind van regoor Suid-Afrika.  Rol af om meer te lees oor William en Tiffany se verlowing.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het ontmoet deur gemeenskaplike vriende toe ons gaan uiteet het as ʼn groepie by ‘n bekende restaurant in Port Elizabeth.  Daarna het hy my begin “stalk” op Instagram.  Vir eers het ek nie baie aandag gegee aan hom nie, maar toe ek deur sy Instagram gaan (ja, toe begin ek die “stalker” word) en my houding verander bitter vinnig.  Hy is baie aantreklik!  Daarna het ons nommers uit geruil, gaan uit eet en 5 jaar later is ons hier!

Die groot vraag:


Die verlowing was totaal ʼn verassing gewees.  William het dit só goed weg gesteek en baie moeite gedoen om dit “super” spesiaal te maak.  Ek het glad nie enige iets verwag nie en hy was baie romanties en het dit baie goed deurdink.  Ek kon niks anders verwag van hom nie aangesien hy daarvan hou om elke detail fyn uit te dink.  Ons was weg na St. Francis vir ‘n naweek, na ‘n baie bedrywige eksamen tydperk, en hy’t besluit ʼn blaaskansie sal goed wees.  Toe ons daar aankom, het ons ‘n rustige middag geniet en ons eerste middag afgesluit met ‘n sonsondergangvaart deur die pragtige kanale.

Soos wat ons nader aan ‘n bruggie kom wat oor die water strek, vang my ʼn oog ʼn banier wat wapper teen die bruggie af.  Daarop het die groot vraag gestaan, en toe ek terug kyk na hom, toe is hy op een knie.  Ons het daarna die verlowing gevier met ‘n bottel sjampanje en elkeen met ʼn baie groot glimlag op ons gesig.  Dis waarom die 27ste November 2021 altyd ‘n spesiale dag vir ons sal wees.

Ons ouers het vooraf geweet dat hy gaan vra.  Hy was oulik genoeg om te reël dat iemand die hele verlowing sal afneem.  Dis nog ʼn hoogtepunt en ʼn baie spesiale herinnering.

Hoekom ons mekaar liefhet:


My gunsteling eienskap van William is beslis sy dryfkrag en sy positiewe uitkyk in die lewe.  In elke situasie sal hy altyd die beste dinge eerste uitken.  Hy is só passievol in sy beroep en probeer altyd uit sy pad uit gaan om iets vir iemand anders makliker of beter te maak.  William is baie talentvol en hy is beslis ‘n uitblinker in sport.  Hy is altyd die eerste een om my by te staan in uitdagings en teleurstellings.  En hy is definitief ʼn mense mens en hy is altyd gereed met ‘n grappie of twee.

Tiffany het ʼn baie unieke persoonlikheid en dit is een van die grootste elemente wat my aangetrokke tot haar gemaak het.  Sy kom baie “tough cookie” voor, maar het ʼn ongelooflike klein en sagte hartjie.  Sy wys hierdie eienskappe slegs vir haar naastes.  Tiffany is ʼn diereliefhebber en sal nie eers ʼn vlieg dood maak nie.  Sy weet presies wat sy wil hê in die lewe en pak daaglikse take aan sonder enige hulp van enige iemand.  Tiffany hou daarvan om tyd alleen saam met my te spandeer en gee glad nie om vir ons twee om dae lank te lê voor die TV met mekaar se geselskap nie.  Sy het ʼn blink toekoms voor haar, ek weet dit, want sy werk ongelooflik hard vir dit wat sy wil hê.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons het nog altyd geweet dat ons nie lank na ons verlowing wil wag om te trou nie, en ons sal net-net bietjie langer as ʼn jaar verloof wees voordat ons op die 10 Desember 2022 ons groot dag sal vier.

Die verloofring:


Seker meer as ʼn jaar voor ons verlowing, het ek my vinger gaan meet.  Ek het natuurlik baie skimpe gegooi tussen in, maar William is ʼn baie stil en privaat mens en toe nooit iets laat val nie.  Ons het hier en daar na ʼn ring of twee gekyk, en toe op die ou einde het hy die een gekies wat van dag een af my gunsteling was.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Die fotos was alles Alyssa!  Ons was heeltemal op ons gemak en sy het presies geweet wat sy wou hê uit ons fotosessie uit.  Alles was perfek.  Die plek en ons kleredrag was asof ons vooraf geweet het waar die plek was wat Alyssa in gedagte gehad het.  So alles het só perfek in gepas bymekaar.  Ons is meer as gelukkig met die foto’s en Alyssa se styl.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons het gehou van die idee dat daar geboue in die agtergrond moet wees – ʼn tipe van ʼn fotosessie in ‘n stad – omdat ons troufoto’s in die natuur gaan wees.  Albei van ons was wel bietjie bang dat dit te besig gaan wees en sou nie gemaklik voel daarmee met klomp mense rondom ons nie.  Ons fotograaf het darem die perfekte plek vir ons uit gewys waar daar die mooiste kleurvolle geboue was en dit was privaat – perfekte kombinasie.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Daar is natuurlik altyd vrees!  Ons grootste vrees is dat tyd ons gaan inhaal en natuurlik wil ons hê dat die dag perfek verloop.  Maar soos wat William sê, teen die tempo wat ek die troue beplan, is alles klaar die einde April.  Ons het ook ʼn baie spesifieke trou dekor in gedagte, maar dit was maar ‘n gesukkel om al die idees by mekaar te kry.  Ek en William weet ook dat hierdie ʼn stresvolle tydperk is en wil nie hê dat dit ʼn invloed hê op ons twee nie!  Ons wil nie verby mekaar leef omdat daar baie ander eksterne faktore is wat ons aan moet aandag skenk.  Hierdie is ʼn eens in ʼn leeftyd en ons wil dit graag geniet en elke oomblik waardeer.  Ons wil steeds verlief bly tot die dag van “I do” en daarna tot in ewigheid.

Visie vir droomtroue:


Ons ideale droom troue sal bestaan uit ons naaste vriende en familie.  ʼn Aardse tema is wat ons in gedagte het met lekker kos en die beste atmosfeer.  Albei van ons is mal oor diere en die natuur.  Ons het besluit op Lombardini Game Lodge waar daar baie wilde diere in die ronde is.  Ons hoop om ʼn kameelperd of ʼn renoster in die agtergrond iewers vas te vang in ons troufoto’s

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: