J.P. & Lizelle se ryklike bruilofsviering

In die inskrywing deel ons met Mooi Troues se lesers ʼn liefde wat ontwikkel het in ʼn militêre hospitaal tot by ʼn ryklike bruilofsviering.  Nes ʼn protea wat bekend is vir sy rykheid en prag, só is dit met J.P. en Lizelle se liefde.  Hul spontane verlowing fotosessie wat op Mooi Troues gepubliseer is, was hul inspirasie en fotos vir hul trou uitnodigings.

J.P. en Lizelle het vroeg voor hul troue ʼn heilige private bos seremonie gehad.  Dié spesiale bos seremonie bestaan uit 2 aspekte, waar hulle geblinddoek mekaar se voete gewas het en dan hul geloftes aan mekaar lees.

As dit kom by trou dekor en styl, kom dié paartjie nie te kort nie.  Die paartjie se troudag weerspieël hul gemak en styl regdeur die feesviering.  Hul trou dekor speel met skakerings van die uitsonderse koningsprotea wat alles mooi hand-in-hand bymekaar pas.  J.P. en Lizelle se troue is heeltemal beplan deur Lizelle, maar het steeds al die groter besluite saam J.P. gemaak.  Hul wou ʼn trou venue gekry het wat sekere vereistes het, dit is veilig om te sê dat hul troue venue só pragtig saam die trou dekor pas.

Die paartjie wou vir al hul trou gaste ʼn ‘kuier-troue’ verskaf, en Akoestiek Musiek het al hul gaste behoorlik vermaak met die mooiste musiek!

Rol nou af en geniet meer van J.P. en Lizelle se ryklike bruilofsviering.

Merkwaardigste Oomblikke:


Vir ons albei was ons privaat bos seremonie die merkwaardigste oomblik van ons troudag.  Ons het die oggend van ons troue, geblinddoek, net saam die fotograwe in die woud ʼn privaat seremonie gehad waar ons mekaar se voete gewas het en ons geloftes aan mekaar voor gelees het.  In die teenwoordigheid van die heilige gees, in die woud, in die vroeë oggend lug, is dit hier waar ons getrou het.  Die res van die dag was net ʼn feesviering van dié oomblik!

Paartjie se Liefdesreis:


Ek het my internskap by 1 Militêre hospitaal gedoen en ek was besig met my ortopedie rotasie toe ek vir J.P. ontmoet het. J.P. was ontplooi DRC toe en het net terug gekom en ook in ortopedie begin werk. Die eerste oggend wat ons mekaar gesien het, het ek die vorige aand se pasiënt opnames aan die departement voorgedra.  Ek kon nie help maar om die nuwe dokter in die departement, wat baie oplettend na my voordrag geluister het, op te let nie.

Na die vergadering het ek geleer dat ek en J.P. saam oproep was die aand, hy as my senior dokter. Ek was nog nooit so opgewonde om 24uur deurnag te werk nie! Na baie laat nagte saam by die werk, het hy uiteindelik die moed bymekaar geskep om my uit te neem vir ʼn dag. J.P. sê hy was oortuig dat ek sy trouvrou is, toe ek “Tiger en Louise” op die ukulele vir hom speel en sing een aand tydens ʼn nagskof. Dit was nie lank na dié opmerkende optrede dat J.P. my gevra het om te trou nie. Soos ons altwee altyd sê: “As jy weet, weet jy.”

J.P. is ʼn dokter in die weermag en hy was ontplooi Oos-Kaap toe om te help met die behandeling van KOVID-19 pasiënte.  Hy het die 3 maande later terug gekom van ontplooiing af en vir my gesê hy wil my wegneem Drakensberge toe vir ʼn week om te vier dat hy terug is. In die Drakensberge het hy my verras met ʼn lugballon-ekskursie tydens sonsopkoms, want dit was nog altyd een van my grootste wense. Dit is hier waar J.P. tydens sonsopkoms, in ʼn lugballon, in die Drakensberge, my gevra het om hom te trou.  Dit was ʼn asemrowende oomblik en die gelukkigste dag van my lewe.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was 10 maande verloof gewees.  Net na ons verlowing het ek KOVID-19 gekry en tydens my 10dae isolasie het ek die hele troue self beplan.  Ek het verkies om alles so vinnig moontlik af te handel en alles self te doen sodat my troue nie ʼn stressor vir enige iemand anders sal wees nie.  ʼn Maand voor die troue het ek en J.P. net die laaste klein goedjies gefinaliseer.

Trou Begroting:


Ons was baie bevoorreg dat ons ouers saam besluit het om 50% elk van die koste van die trouvenue by te dra.  Toe het ons al die ander kostes tussen ons twee gedeel.  Van die begin af het ons  ooreengestem dat ons nie wil hê ons troue moet ons, of enige iemand anders, finansieel straf nie en ons het baie mooi by die troubegroting gebly wat ons noukeurig uiteengesit het.  Ons het 106 gaste by ons troue onthaal en ek glo dit is absoluut die ideale hoeveelheid.

Ons finansiële advies aan ander paartjies sal wees om te fokus op dit wat saak maak.  Moet nie suinig wees as dit kom by die troufotograaf en trourok nie want dit is al wat jy van jou troudag hou, maar moet nie onnodig baie geld op goed spandeer wat die gaste nooit eers gaan onthou nie.  Solank daar lekker kos is, goeie musiek en nog beter geselskap, is dit ʼn troue om te onthou!

Vermaak:


Akoestiek Musiek, ʼn getroude paartjie, het musiek voor die kerkdiens, tydens die kerkdiens en by die canapés gespeel.  Hulle het “Belofte”, een van hulle eie liedjies, gespeel toe ek instap en die was asemrowend mooi.  Nie net is hulle ongelooflik talentvol nie, maar hulle straal Jesus se liefde uit en dit het so spesiale effek aan ons troudag verleen. Hulle optrede was ook ʼn verrassing vir J.P. en hy het hulle eers die dag van die troue gesien.

Paartjie se styl:


Ons is albei baie gemaklike mense en ons wou graag dit deur ons troudag styl reflekteer.  Ons styl was gemaklik maar steeds stylvol en klassiek.  Die kleur tema was geïnspireer deur die kleure van die koningsprotea en alles het so mooi bymekaar gekom.  My trourok was baie gemaklik, maar klassiek en tydloos. J.P. Se grysblou pak het perfek ingepas by die tema. J.P. het my verras met ʼn troupantjie op ons troudag om my verloof ring te komplimenteer. J.P. Se trouring was baie uniek: ʼn vierkantige silwer ring met my hartklop in die binnekant gegraveer.

Die Besluitnemingsproses:


Ek het die hele troue op my eie beplan.  Sekere van die groot besluite het ek en J.P. saam gemaak, soos die besluit oor die troufotograaf.  Ek wou nie gehad het dat my troudag ʼn stressor vir enige iemand anders moes word nie.  Daarom het ek nie familie en vriende te veel betrek nie.  Ek wou gehad het dat my familie en vriende net die troue kom geniet en nie hoef te voel dat my troudag werk is nie.

ʼn Paar take het ek aan J.P., my ma en skoonma gedelegeer en hulle het almal meer as hulle deel gedoen.  Ek is baie bevoorreg om te kan sê dat my troureëlings geen bekommernisse by my familie of vriende veroorsaak het nie.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons diensverskaffers was nie net diensverskaffers nie, maar hulle het regtig ons vriende geraak.  Megan en Dewaldt die fotograwe is ons hartsmense en ons het ʼn vriendskap met hulle gevorm wat oor jare sal hou.  Josh (van Hair_by_Josh) en Kaila (van skulpted by Kai) wat my grimering en hare gedoen het, het die aand voor die troue al saam ons gekuier en het ook baie diep in my hart ingekruip.  Ons het die voorbereiding die oggend van die troue afgeskop met Mimosa’s en ʼn heerlike ontbyt en die hele oggend het gevoel soos klomp vriende bymekaar wat my so rustig laat voel het voor die groot dag.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ek kan eerlik sê dat daar NIKS verkeerd verloop het op die dag van die troue nie.  Die dominee wat die wettiglike aspek van die troue moes doen het die dag voor die troue siek geword, maar J.P. het dit blits vinnig uit sorteer, nog voordat ek eers daarvan geweet het.

As ek een ding kon verander, sou ek ʼn kalmeer pilletjie die aand vóór die troue gedrink het, want ek was so opgewonde dat ek GLAD nie geslaap het nie en daarom was ek die oggend voor die troue bietjie moeg gewees. Anders as dit, is daar nie ʼn ding wat ek anders sou doen nie!

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


My advies aan die bruid sal wees om nie só angstig oor al die reëlings en klein details van die troue te wees dat jy die reis van verloof wees nie kan geniet nie.  Vat alles dag vir dag en geniet elke oomblik daarvan.  Onthou, solank mense lekker eet en lekker kuier is dit al wat hulle onthou.

J.P. se advies aan die bruidegom is om ʼn oomblik vir jou en jou bruid te maak die oggend voor die troue sodat julle net ʼn tydjie alleen het om die betekenis van die dag in te neem.  Die aand gaan so vinnig en adrenaline is so hoog dat dit moeilik is om regtig die realiteit van die dag in te neem as jy nie ʼn stiltetyd vir dit skep nie.

Venue & Dekor:


Ons vereistes vir ʼn venue was 3 dinge: ʼn plaas styl, baie slaapplek vir al ons gaste en ʼn trouvenue waar ons ʼn naweek troue kan hê.  Florence Guest Farm in Chrissiesmeer het presies al drie die boksies gemerk.  Ons het dadelik die deposito betaal nog voordat ons saam na die venue gaan kyk het.  Na ons eerste besoek was ons net nog meer opgewonde en dit was alles wat ons ooit oor gedroom het.

Die Dekor het ek in die bekwame hande van Susan van Flowerbox gelos en net vir haar inspirasie foto’s aangestuur.  Ek het eenkeer ʼn mok tafel gesien van die troudekor en daar was niks wat ek wou verander nie.  Dit was eenvoudig perfek!  Daarna het ek eers weer die Dekor gesien die aand van ons troue en dit het my asem weggeslaan! Die koningsprotea het floreer en die saal het geskitter met honderde kerse.  Dit was prentjie mooi!

Wittebrood:


J.P. het alles self gereël en my verras met ʼn vakansie in Maldives op Bathala eiland (ʼn klein privaat eiland). J.P. se hoogtepunt was die diepsee visvang saam die plaaslike inwoners met slegs ʼn handlyn.  Die volgende dag het hulle een van die visse wat ons gevang het vir ons voorberei vir middagete. My hoogte punt was die snorkel saam met die ‘manta rays’. Ons het perfekte weer gehad elke dag en so lekker gerus.  Wittebrood is die spesiaalste vakansie en tyd van ʼn paartjie se huwelik en dit moet op geprioritiseer word.

Eerste Dans:


Die eerste dans was glad nie tradisioneel nie.  Ons het dansklasse gehad by Marcella (bekend op “dancing with the stars”) van Beverley Hammond Dance School.  Ons het met ʼn romantiese dans begin (Op “Shallow”) en oorgeslaan ʼn salsa (op “Despacito”), ʼn los dans (op “Dance with me”), ʼn boogy (op “Hot Stuff baby”) en af geëindig met ʼn sokkie (op “Naweeklyfie”).  Al ons gaste het dit verskriklik geniet en ons het so lekker gelag!

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


KOVID-19 het genadiglik geen invloed op ons troudag gehad nie.  Ons het nie eenkeer ons troue uitgestel nie en ons kom al ons gaste nooi.  Ons vriende van China en familie van Duitsland kon ongelukkig nie die troue bywoon nie, maar hulle kon ons hele troue saam op Zoom beleef.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: