Schalk & Clarisse, die ‘boer kry sy vrou’!

“Wie nie waag nie, wen nie”.  Shalk en Clarisse het die liefde in ʼn ander manier benader, maar aan die einde van die dag kry dié boer steeds sy vrou!  Nadat Clarisse vir Schalk op seisoen 11 van Boer soek ʼn Vrou gesien het, het sy geweet hierdie man is haar trou man!  Maar soos talle ander vrouens, was sy te skaam om op so ʼn publieke manier haar hart oop te maak … As gevolg van haar huiwerigheid, het sy toe nooit ingeskryf vir Boer Schalk nie.

Die feit dat Clarisse wel nie ingeskryf het nie, beteken glad nie dat sy nie in boer Schalk belang gestel het nie!  Dit was nooit die geval nie, dié boer was van die eerste dag af in haar gedagtes en daarom het sy toe besluit om ʼn ander plan maak.  Sy vat toe ʼn kans en reik uit op haar eie manier.  Vir Schalk wou Clarisse ontmoet en sy sou enige iets doen om dit reg te kry en aan die ou einde het sy!

Plan B:

ʼn Facebook “friend request” het nou nie in Clarisse se guns gewerk nie, maar haar volgende idee het.  Clarisse het toe deur een van Schalk se vriende met die boer kontak gemaak.  Na ʼn maand van heen-en-weer gesels, oor die telefoon, het hierdie paartjie uiteindelik mekaar ontmoet en dit was ʼn saak van “liefde met die eerste oogopslag”!

Rol af om meer te lees oor hoe voordelig dit kan wees wanneer jy bereid is om ʼn kans op liefde te vat. Mooi Troues se lesers sal beslis geïnspireer word deur Schalk en Clarisse se liefdesverhaal. Hierdie paartjie se storie bewys dat “liefde met eerste oogopslag” nie net op televisie of in romanse flieks gebeur nie, maar ook in die werklik wêreld. Jy moet net die kans vat!

Nes hierdie paartjie kan ons lesers baie inspirasie, nie net van hierdie pragtige liefdesverhaal kry nie, maar ook vanaf Mooi Troues se trougids as ook ons uitgebreide lys van diensverskaffers.  Schalk en Clarisse het na vele van ons trou publikasies gaan kyk, verskeie raad wat daarin genoem was gevolg en idees gekry waarvan hulle gebruik gemaak het vir hul troudag.

Paartjie se Liefdesreis:


“Wie nie waag nie, wen nie” – ʼn stelling wat baie mense senuweeagtig maak, veral as dit kom by die Liefde… Maar soms moet ʼn mens net ʼn klein tree vat in die regte rigting.  Dit mag dalk op die ou einde uitdraai as die beste besluit van jou lewe en toekoms.

My soektog na Ware Liefde – Boer soek ʼn Vrou!

Ek het die mees besonderse en ongelooflikste man raak gesien met Seisoen 11 van Boer soek ʼn vrou – Schalk Kruger.  Soos baie van die ander dames bang en onseker was om ʼn kans te waag, was ek net so bang gewees.  Dit was die hoofrede hoekom ek nie ingeskryf het vir Boer Schalk nie … Maar hy was altyd in my gedagtes nadat ek hom op televisie gesien het en ek sal jok as ek sê daar was geen soektog op sosiale media na hom nie!

Die volgende plan om dié boer te kry:

Soos al die ander dames wat opsoek was na liefde, maar ʼn kans waag en vir hom ʼn boodskap of “friend request” op Facebook stuur, het ek ook maar die kans gewaag, maar … Ongelukkig met die oorvloed van boodskappe en “friend requests”, het hy nie daarop geantwoord nie.

Die dae se gewag en spanning wat daarmee gepaard gaan, het my steeds nie laat opgee nie.  Ek is oor die algemeen ʼn baie skaam vrou en sou dit nooit gedoen het nie, maar ek het die kans op liefde gewaag.  Lang storie kort, het ek toe een van sy vriende gekontak en so deur hom, uiteindelik met Schalk in kontak gekom.

Die ontmoeting:

Van omtrent ʼn maand en ʼn half se geselsies oor die foon het ons uiteindelik ontmoet.  Daar is altyd die gesegde wat sê “liefde met eerste oogopslag”, en glo vir my dit was liefde met eerste oogopslag.  Vandag glimlag ons groot, want die liefde met eerste oogopslag het verander in ʼn smoor-verliefde gevoel wat later gelei het na die gevoel – om die res van ons lewens saam met mekaar te deel.

Die groot vraag:

Schalk het my gevra om met hom te trou op 23 September 2019.  Ek het niks verwag of geweet nie.  Hy het alles so perfek beplan. Dit was ʼn romantiese piekniek in die bosveld, tesame met kerse en liggies wat die pragtige sonsak gekomplimenteer het.  Dit was die groot dag waaroor ek my lewe lank al gedroom het, en ek het dadelik “Ja” gese!

Schalk wat ek nou “My man” noem, het al my verwagtinge oortref.  Hy is die mees ongelooflikste man wat ek al ooit ontmoet het. Hy gee ʼn nuwe betekenis aan die woorde “Ware Liefde”.  Schalk is opreg, lojaal, spontaan, hy gee om en hy het onvoorwaardelik lief.  Schalk besit alle eienskappe wat ʼn vrou in haar droomman sou soek.  Hy maak my meer as gelukkig en ek is ongelooflik dankbaar.  Ek was geseënd om hierdie stuk goud, ʼn ware diamant, in my lewe te kan hê.

ʼn Opsomming van ons Sprokiesverhaal:
  • 23 November 2018 het Schalk my hart gewen.
  • 17 Februarie 2019 het hy my die keis gevra.
  • 23 September 2019 het hy my die groot vraag gevra
  • 17 April 2021 het ons ‘Een’ geword.

Die Verlowing Tydperk:


Schalk het die groot vraag op 23 September 2019 gevra.  Ons was veronderstel om op 23 Januarie 2021 te trou maar weens die KOVID-19 pandemie moes ons ons droom dag uitstel.  Die troue is toe uitgestel tot en met 17 April 2021.  Ons was dus 1 Jaar, 6 Maande en 24 dae verloof gewees (17 April 2021).

Ons het sommer dadelik weggespring en begin beplan … Dit was vir ons baie lekker gewees om ons idees bymekaar te sit en te soek na die regte verskaffers wat ons wou hê.  Die heel eerste aspek wat ons aangepak het was die trou venue.

Volgende stap:

Die venue wat ons toe gekies het was Meulstroom Lodge, Bronkhorstspruit.  Alle aspekte waarna ons gesoek het, kon hulle ons bied.  Ons het nie ʼn troubeplanner gehad nie, maar die trou venue het ʼn koördineerder gehad wat ingesluit was by ons trou pakket.  Dit was alles die moeite werd gewees.

Ons droom het ʼn werklikheid geword, al ons verwagtinge was oortref en ons het die sprokiesbruilof gehad waaroor ons albei gedroom het! Die troue se tema was stylvol, elegant en romanties. Dit was ʼn naweek bruilof gewees, gedeel saam met al ons familie, vriende en die mense waarvoor ons soveel liefde en omgee gehad het.  Dit was ʼn sprokiesverhaal en prentjie mooi!

Finansiële Aspekte:


Ons het van die begin af met ʼn begroting gewerk.  Albei ons ouers het ʼn groot deel bygedra en ons albei, as bruid en bruidegom, het ook bygedra.  Dit is baie belangrik vir toekomstige bruidspare om van ʼn begroting af te werk, en ook spaarsamig te werk sodat hulle alles wat hulle graag op hul spesiale dag wil hê en wil inkorporeer, kan kry maar op ʼn bekostigbare wyse.  Spandeer die geld op ʼn wyse manier!  Gesels ook met mekaar en met jul ouers oor wat bekostigbaar sal wees en waarvoor hulle kans sal sien.

Die belangrikste is – spaar en beplan.  Moet nie wag tot op die laaste minuut voordat jul iets doen nie.  Ons het van dat ons begin beplan het, elke maand, iets weggesit of iets solank aangekoop.  Dit het ons baie gehelp, omrede toe die troue nader kom, was alles reeds gedoen en aangekoop.

Werk slim en spaarsaam.

Deur om te beplan, te begroot en te spaar het ons ons droom troue gehad, tesame met dit het ons ons droom trou fotograaf gehad, ons droom videograaf gehad en alles wat met ʼn perfekte en sprokiestroue gepaard gaan.

Meulstroom Lodge het vir ons ʼn wonderlike trou pakket uitgewerk wat alles ingesluit het, soos byvoorbeeld die venue, die blomme en die dekor.  Dit was ʼn naweek troue so die gaste het dus vir hulle eie verblyf betaal (van die Vrydag middag tot die Sondag oggend, alle etes was ingesluit).  Ons het ongeveer 110 gaste onthaal.  Dit was alles beslis die moeite werd gewees, ons het ʼn bruilof gedeel saam met al ons familie, vriende en die mense waarvoor ons soveel liefde en omgee het.

Het julle inspirasie van Mooi Troues gekry?


Ons het baie inspirasie van Mooi Troues gekry.  Ons het na vele van die trou publikasies gaan kyk, verskeie raad gevolg en idees gekry waarvan ons gebruik gemaak het.

Baie dankie aan Mooi Troues vir hierdie ongelooflike platvorm, julle is werklik ʼn inspirasie en ek beveel elke bruid aan om julle raad, wenke, diensverskaffers en voorbeelde te gebruik en te volg!

Merkwaardigste Oomblikke:


Dit is so moeilik om die merkwaardigste oomblikke uit te sonder. Ons hele trou naweek was ongelooflik spesiaal en sprokies mooi.  Al ons verwagtinge was oortref en ons het die sprokiesbruilof gehad waaroor ons albei van gedroom het.

Vir die Buidegom:

Die merkwaardigste deel van ons troue is “hands down” die oomblik toe ek my ewige trou aan die vrou van my drome beloof het.  Ons het die mooiste troue gehad, maar die mooiste van alles was my vrou!  Om te weet dat ek saam met so beeldskone mens die res van my lewe gaan spandeer was seker die mees lekkerste gevoel ooit!

Vir die Bruid:

My inspirasie van kleintyd af was nog altyd ʼn sprokiesbruilof met sagte pienk, roos goud en oesjaar (antieke) kleure.  Pienk en wit rose vir blomme, blomme kroontjies vir die blomme meisies en ʼn familie troue vol van liefde en omgee.  Verder, soos elke prinses se droom, ʼn spierwit rok met ʼn ekstra lang sluier!  My rok was presies soos ek daaroor gedroom het.  Ek het werklik soos ʼn prinses gevoel.

Ons droom het ʼn werklikheid geword.

Al ons verwagtinge is oortref en ons het die sprokiesbruilof gehad waaroor ons albei gedroom het.  Die troue was toe net soos die bogenoemde inspirasie: ʼn stylvolle, elegante en romantiese naweek bruilof, gedeel met al ons naaste geliefdes.  Dit was ʼn sprokiesverhaal en prentjie mooi.

Vir my (Clarisse) was ons hele bruilof ʼn sprokiesverhaal, saam met die man van my drome, wat ek oor en oor sal kies.  ʼn Hoogtepunt vir my was wel toe my Pa my met soveel trots in die kerk ingebring het!  Hy het saam met my die kerk paadjie af stap na “My man” toe.

Toe ek “My man” in daardie oomblik voor my gesien het, hoe die trane van geluk oor sy wange gerol het … Dit was ook ʼn merkwaardige oomblik!  Op die 17de April 2021, kon ons uiteindelik “Een” word en ons padjie saam tot in ewigheid finaal begin. My man is my rots en trots en ons kon werklik nie vir ʼn beter sprokiesbruilof vra nie, die dag was verby perfek gewees.  ʼn Spesiale dag wat ons vir altyd sal koester.

Paartjie se styl:


Van die begin af wou ons ʼn stylvolle, elegante en romantiese troue gehad het.  Die trou tema was elegant en romanties, met sagte pienk, roos goud en oesjaar (antieke) kleure.

My rok was spierwit en tydloos.  Ek was nog altyd baie lief vir kant en alles wat met romanse en elegansie gepaard gaan.  Die kant moes oor die hele rok verskyn.  Ek het ook besluit om dit ʼn “van die skouers af” rok te maak. In my opinie het dit die rok outomaties ʼn meer romantiese gevoel gegee.  En natuurlik was daar ʼn ekstra lang sluier!

Schalk se pak was elegant, netjies en formeel.  Die kleur van sy pak was vlootblou.  Sy das was van regte leer gemaak en dit het perfek gegaan saam met sy spierwit hemp.  Die kleure het mekaar perfek gekomplimenteer!

Beide ons ringe is elegant en besonders.

Spesiale Tradisies:


Ons het vier baie spesiale tradisies gehad, wat deel gevorm het van ons trou seremonie!

Die eerste spesiale tradisie:

Altwee ons ma’s het ook in die paadjie afgestap.  Hulle was deel van die bruid se gevolg gewees.

Die tweede spesiale tradisie:

Ons het vir Schalk se Oupa en Ouma gevra om die ringe vir ons in die kerk in te bring en aan die bruidspaar oor te gee.

Die derde spesiale tradisie: ʼn Sand seremonie.  Hierdie sand seremonie verteenwoordig ʼn tradisie waarin ʼn paartjie sand van aparte vate in ʼn verenigde, sentrale een gooi.  Dit verteenwoordig twee mense wat in die huwelik verbind word.

Die laaste spesiale tradisie:

Ons Predikant en sy vrou het vir ons ʼn liedjie gesing, om die diens af te sluit.

Dit was regtig vir ons ʼn groot eer en voorreg gewees om ons troue op so ʼn manier te kon vier, saam met die baie spesiale familie en vriende in ons lewens.

Vermaak:


Ons platejoggie, AMA Promotions, het tydens die seremonie, kanapees en die onthaal musiek gespeel.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Ons advies aan toekomstige bruidspare: GENIET ELKE OOMBLIK – SAAM.

Die belangrikste deel van die besluitnemingsproses is om elke deel daarvan te geniet, om saam te werk en om elke oomblik daarvan te koester.  Die tyd en beplanning gaan so vinnig verby. Omhels dit en pak alles saam aan, maak dit “Fun”!

Lag saam met mekaar, huil saam met mekaar en wees daar vir mekaar.  Moet nooit mekaar se hand los in die proses nie, dit is julle tyd saam, maak die beste daarvan.  Moet nie teveel stres oor onnodige dinge nie, alles sal uitwerk en gebeur soos wat dit moet gebeur.

Onthou:

Op julle spesiale dag, neem alles in, sit vir ʼn oomblik net stil en neem net in wat rondom jul aangaan. Neem in dat dit julle spesiale dag is en dat al die mense wat voor julle sit daar is vir julle.  Hulle wil saam met julle jul liefde en toekoms te vier.

ʼn Mens se troue is in ʼn oogwink verby, maak die heel beste daarvan!

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Weens die KOVID-19 pandemie moes ons ons droom dag uitstel van 23 Januarie 2021 tot 17 April 2021.  Dit het ons wel nie onder gekry nie, ons was steeds net so opgewonde oor ons droom dag en sprokiesbruilof.

Ons was saam positief gewees en die tyd het sommer vinnig verby gegaan.  Die belangrikste is om nie moed op te gee nie en net elke dag daar te wees vir mekaar.

Lag daaroor en weet dat alles met ʼn doel gebeur!

Die Besluitnemingsproses:


Ons het probeer om baie besluite saam te neem, maar Schalk het baie take oorgelaat aan my.  Die belangrikste deel van die besluitnemingsproses was om elke deel daarvan te geniet, om saam te werk en om elke oomblik daarvan te koester.  Alles gaan so vinnig verby, omhels dit en onthou om alles saam aan te pak!

Ons familie was ook baie betrokke, veral ons ouers.  Hulle was altyd daar en bereid om raad te gee, en het steeds ons besluite altyd gerespekteer.

Venue & Dekor:


Ons albei deel ʼn baie groot liefde vir die natuur en alles wat gepaard gaan daarmee.  Die buitelewe geniet ons baie en ons doen graag aktiwiteite wat met dit te doen het.  Dus het ons besluit om na ʼn venue te kyk wat daarby sal pas.  Ons was ook van die begin af mal oor die idee van ʼn naweek troue.  Dit het ons ook in gedagte gehou, toe ons na die perfekte trou venue gesoek het.

Ons het slegs na een venue gaan kyk en dadelik ons hart op hom gesit.  Die Venue wat ons gekies het – Meulstroom Lodge, Bronkhorstspruit. Alle aspekte waarna ons gesoek het, kon hulle ons bied.  Dit was alles die moeite werd gewees.  Ons Trou koördineerder, Vivia Joubert, was fantasties.  Sy was baie professioneel en het net ʼn ongelooflike passie en liefde in wat sy doen.  Te danke aan haar ons sprokiesbruilof  ʼn werklikheid word.

Van die begin af wou ons ʼn stylvolle, elegante en romantiese troue gehad het.  Die troue se tema was elegant en romanties, met sagte pienk, roos goud en oesjaar (vintage) kleure.  Meulstroom Lodge het verseker dat ons visie en inspirasie ʼn realiteit word.

Gunsteling Diensverskaffers:


Al ons Diensverskaffers was net puik.  Hulle het uit hulle pad uit gegaan om ons sprokiesdag ekstra spesiaal te maak.  Elke een van hulle was baie professioneel.  Almal het regtig baie moeite gedoen en niks was ooit te veel gevra nie.

Ek sal beslis enige tyd ons diensverskaffers aan enige iemand aanbeveel!  Ons troue was perfek gewees en dit sou nie moontlik gewees het sonder hulle nie!

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Daar was nie een “nie-so-perfek” oomblik gewees nie.  Alles van die dag was perfek gewees.  Dit was ʼn sprokiesbruilof wat ons vir altyd sal koester.  Plus, al het daar dalk iets verkeerd geloop op die troue, sou ons steeds niks wou verander nie.

Wittebrood:


Weens die KOVID-19 Pandemie en met die troue wat ons moes uitstel van 23 Januarie 2021 na 17 April 2021, was ons wittebrood reeds bespreek en betaal.  Ons het op wittebrood gegaan voor ons getrou het, net na ons eerste oorspronklike “trou” datum.

Schalk het vir ons ʼn romantiese wittebrood beplan en bespreek in Sabie, Mpumalanga. Dit was natuurlik vir my ʼn groot verassing.  Ons het elke oomblik daarvan geniet, rond gery en op vele avonture in die omliggende gebiede gegaan.

Ons het plekke soos die Kruger Nasionale Park, Blyde River Canyon, God’s Window, verskillende watervalle, Pelgrimsrus en vele meer gaan besoek.  Dit was werklik ʼn belewenis gewees en ons het soveel nuwe plekke ontdek.  Suid Afrika lê ons baie na aan die hart, en dit was vir ons so spesiaal om sulke natuurskoon te kon beleef.

Eerste Dans:


My en Schalk se eerste dans was besonders spesiaal.  Ons het so iets van alles in ons liedjie gehad.  Die liedjie keuses wat ons gekies het het bestaan uit Juan Boucher se “Ons word een“, wat oorgeskakel het na Master KG se “Jerusalema“. Ons eerste dans liedjie het toe verder, vir die laaste keer, oorgeskakel na Los Del Rio se “Macarena (Bayside Boys Remix)“.

Die gaste het dit so geniet.  Dit was beslis een van die hoogtepunte by die troue gewees!  Niemand het so eerste dans verwag nie!

Ons het vir drie danslesse gegaan. Ons sal dit ook vir enige bruidspaar aanbeveel!  Dit is ʼn spesiale oomblik tussen die bruidspaar en dit gaan vir altyd onthou word. Koester daardie oomblikke, of daar nou ʼn foutjie of twee in jul dans roetine is of nie, lag daaroor en gaan aan.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: