Damian & Lize se stylvolle troue

Met baie opgewondenheid deel ons Damian en Lize se stylvolle troue met ons lesers.  Hierdie paartjie se troue is presies die tipe troue wat so baie paartjies van droom.  Alles is net prentjie mooi!  Lize en Damian het besluit op ʼn klassieke en minimalistiese styl as hul trou tema in die algemeen.

Lize se vloeiende trourok en die detail aan die bo-lyf is pragtig – definitief baie elegant en tydloos en pas in by hul stylvolle troue.  Dan is daar haar pragtige wit en groen handruiker.  Jy hoef nie altyd te veel verskillende kleurskakerings te meng om ʼn mooi ruiker te hê nie.  Hierdie is ʼn voorbeeld as jy net een kleur wil gebruik en dalk ʼn tweede kleur.   Damian het self baie dapper gelyk in sy stylvolle en goed gepaste troupak.

Wanneer dit kom by die trou dekor het hulle die simplistiese gevoel deur getrek.  Met skakerings van wit, grys en tikseltjies groen.  Lang dun kerse in glas kandelare het hoogte gegee tot die tafel.  Al die neutrale kleure om die mooi rou hout tafel, trek onmiddellik jou aandag.  Die paartjie het definitief ʼn visie ingedagte gehad en daarby gebly vir hul stylvolle troue.  Baie paartjies hoor die woorde stylvolle troue en dan dink hulle, dit moet heeltemal oorbodig wees.

Jy kon sien dat die gaste hulself geniet het.  Met lip-lek-lekker kos en ʼn gesellige gesels met mekaar onder die bome.  Wat kan mens dan nog meer voor vra.

Trou jy binnekort?  As jy opsoek is na professionele en betroubare diensverskaffers vir jou troudag, besoek Mooi Troues se Trougids.   Rol af vir tonne inspirasie van die paartjie se stylvolle troue.  As jy jou troue stylvolle troue

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het in 2018 in Pretoria ontmoet, en dit was ʼn tipe van “liefde met die eerste oogopslag” storie. Ons het later uitgevind dat ons eintlik tydens ons hele universiteits loopbaan in die koshuise reg oorkant mekaar was en ook vriende in gemeen gehad het, maar nooit mekaar ontmoet nie – ek glo dus van daar dat daar dat die regte tydsberekening ʼn groot rol speel.  Einde 2019 het Damian die groot vraag gevra by Delaire Graff Estate saam al ons naaste familie. (dis nou nadat ek hom elke aand vir 4 maande gevra het “wanneer kan ons nou trou?”)

Die Verlowing Tydperk:


Soos enige ander KOVID-19 bruid het ons troue en verlowings tydperk heelwat anders gelyk as wat ons aanvanklik beplan het. Ons eerste verlowings tydperk was 7 maande, maar ons moes ons datum van 23 Mei aanskuif na 12 September. Toe ons sien dit gaan nie gebeur nie, het ons die datum uitgestel na 6 Maart. Einde September het ons egter besluit dit is nog te lank en 21 November gekies. Ons verlowing was toe meer as ʼn jaar.

Ons het nie ʼn troubeplanner gehad nie, maar die venue het ʼn koördineerder gehad. Saam met die dekor diensverskaffer het hulle vir ons baie goeie raad en leiding gegee.

Finansiële Aspekte:


Ons begroting was aanvanklik R200 000, KOVID-19 het egter wel ʼn impak gehad en ons moes die begroting en gastelys bietjie aanpas. Ons het op die ou-end bietjie meer spandeer as wat ons wou, maar dit was definitief die moeite werd. Die gastelys het ook verklein van 135 na 85.

My enigste advies is om eerder meer te begroot as wat jy gaan spandeer. So 2 weke voor die troue is daar baie klein goedjies wat by kom wat mens nie altyd aan dink nie.

Merkwaardigste Oomblikke:


Lize:

Ons het eintlik ʼn trou naweek gehad oor al die gaste op die venue kon slaap. Van my gunsteling oomblikke was die Vrydagaand toe ek by die braai aankom en ek kon voel hoe opgewonde en gelukkig almal is om daar te wees – dit was asof daar ʼn energie in die lug was. Saterdag, net voor ek en my pa die Kapel binnegaan en ek die skoenlappers in my maag kon voel. Ook toe ek in die Kapel in stap en ek net vir Damian sien.

Damian:

Die Saterdag soos die mense begin aankom en ek hulle groet, het ek besef almal wat ʼn rol speel in my of Lize se lewe is hier net vir ons en om die dag saam met ons te vier. Ek het ewe skielik baie emosioneel gevoel en ook baie bevoorreg om op ʼn perfekte dag voor al ons naaste mense met die vrou van my drome te trou. En toe natuurlik toe Lize deur die deure gekom het.

Paartjie se styl:


Ons het ʼn baie klassieke, minimalistiese styl en dit wys in die rok, pak en ringe wat ons uitgekies het. Ons het sonder enige vooropgestelde idees na ʼn rok en pak gaan soek, juis met die doel om iets te vind waarin ons gemaklik is.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het probeer om baie besluite saam te neem, maar Damian het baie take oorgelaat aan my. Ons familie was betrokke, soms té betrokke (nee, ek spot sommer). Hulle was altyd daar en bereid om raad te gee, maar het ons besluite altyd gerespekteer.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Dames:

Jy kan nie alles beheer nie. Gee vir almal iets om te doen en doen jy so min as moontlik. As iets klein verkeerd gaan onthou, niemand anders weet nie, so moenie te veel daaroor stres nie! En ook, “post wedding blues” is definitief ʼn realiteit, so wees voorbereid.

Kêrels:

Gee jou bruid spasie ʼn week voor die troue (net ʼn grappie). Nee, wees rustig en neem elke oomblik in, dit gaan baie vinnig verby en dit is werklik die lekkerste en beste dag van jou lewe.

Spesiale Tradisies:


Nee – geen. Ons het probeer om die toesprake en ander gewone “trou tradisies” te beperk. Ons wou lekker saam met ons gaste kuier en nie te veel tyd mors aand blomme/kousband gooi of koek sny nie.

Gunsteling Diensverskaffers:


Sjoe! Moeilike een, almal was ongelooflik en het uit hulle pad gegaan om ons dag spesiaal te maak. Die venue en Jacques, die venue se trou koördineerder, het regtig baie moeite gedoen en niks was ooit te veel gevra nie. As ʼn ander paartjie in die Wes-Kaap opsoek is na ʼn venue, sal ek beslis hierdie verborge juweel voorstel.

En dan natuurlik, Michelle Bauermeister, ons fotograaf was ook ongelooflik! Sy het ons baie gemaklik laat voel en die foto’s was verstommend!

Venue & Dekor:


Ons het 3 verskillende venues gehad – uiteindelik het ons ʼn venue gekies waar al ons gaste kon oorslaap oor daar ʼn aandklok was. Dit was ook by naby aan my (Lize) se tuisdorp en het die Kaapse wynplaas gevoel gehad waarna ons opsoek was.

Ons dekor diensverskaffer was 100% in beheer van die dekor. Ons het ons klassieke minimalistiese styl aan haar gekommunikeer en wou graag by natuurlike kleure bly wat in pas by die omgewing (groen en wit).

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Nee, dit was letterlik die perfekte dag. Ek sou graag ʼn videograaf wou gehad het, nou na die tyd is ek spyt ons het nie ʼn video nie.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ja. Soos voorheen genoem het ons 4 datums gehad, 3 venues, ons het diensverskaffers verloor en verander, ons het geld verloor, ons moes die gastelys verkort en ons kon nie op wittebrood gaan nie. Ons het ook besluit om die bruidsmeisies en strooijonkers minder te maak. Ons het elkeen net 1 gehad in plaas van 5. Almal het egter verstaan en steeds die oggend van die troue saam met ons onderskeidelik deurgebring.

Vermaak:


Ons het ʼn gin bar gehad by die kanapees. Dit was ʼn warm dag in die Swartland, so dit was die perfekte verwelkomings drankie. Ons platejoggie, That DJ Guy, het ons vir die res van die aand vermaak en die dansvloer was nooit leeg nie.

Wittebrood:


Die wittebrood kon nie plaasvind nie as gevolg van KOVID-19.  Ons het wel nog die kaartjies Thailand toe, so ons sal hopelik met ons 1 jaar huweliksherdenking kan gaan.  Toe het ons sommer besluit om ʼn paar dae weg te breek en in Kampsbaai te gaan bly. Ons het lekker uitgerus – trou is uitputtend.

Eerste Dans:


Ons is definitief nie die dansles tipe paartjie nie – ons het sommer net geoefen die week van die troue. Ons liedjie was Sugar Pie Honey Bunch van Kid Rock. Dis een van ons gunstelinge.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: