Pieter & Luzanne se pragtige maroen & wit troue

Toe Pieter en Luzanne mekaar die eerste keer ontmoet, was die skoenlappers en warm gevoel vir hulle genoeg om te weet hul wil die res van hul lewens saam spandeer.  20 Maande later gee hul hul gaste dieselfde warm gevoel met hul pragtige maroen en wit troue.  Pieter en Luzanne het hul tydperk as verloofde paartjie ten volle benut en het elke aspek van hul pragtige troue self beplan.  Hulle het slim gespaar om seker te maak hul spandeer die regte bedrae geld op die regte dinge.  Alhoewel hul minimalistiese blomme en dekor gehad het, het hul rondgespeel met kleure en teksture wat saam ʼn eenheid gevorm het.  Hulle het die hout-tafels van hul venue naak gelos en versier met groen, maroen en wit dekor.  Die teksture van die proteas op hul tafels, asook die blompatroon servette en geometriese vorms het alles saamgewerk om ʼn pragtige onthaal te skep.

Rol af indien jy meer wil sien van Pieter en Luzanne se pragtige maroen en wit troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en my man het mekaar glad nie lank geken voordat hy besluit het om die groot vraag te vra nie.  Na 3 maande vandat ons mekaar vir die eerste keer raakgeloop het, het ons besluit ons wil ons lewens saam spandeer.  Ons het toe nie vir ʼn oomblik gedink ons sou 3 maande daarna verloof wees en 20 maande later trou nie!  Alles het gebeur soos dit moes en ek kon nie vir ʼn beter lewensmaat gevra het nie.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het 18 Februarie 2019 verloof geraak en 17 Oktober 2020 getrou.  Ons het dus 20 maande gehad om ons troue self te beplan.

Finansiële Aspekte:


Ons het net so oor die 65 gaste onthaal en dit was meer as genoeg.  Almal kon lekker kuier en dit was nie so dat mens verdwaal op jou groot dag nie!  As ek raad kan gee aan paartjies wat nog moet trou en nie finansiële hulp ontvang nie – spaar!  Dit is baie duurder as wat mens dink!  Dis die klein goedjies soos dekor, blomme, koek, ens. wat dit duur maak.  Daardie goedjies maak dat dit wat jy gedink het jy gaan spandeer, op die ou einde baie meer is as waarvoor jy begroot het.  Soos wat ons maandeliks geld gehad het, het ons vir die klein goedjies betaal.  Ons moes egter vir die groot uitgawes spaar (soos byvoorbeeld die venue.)

Merkwaardigste Oomblikke:


Ek wou nog vir my man iets opneem en speel terwyl ek by die paadjie afloop.  Ek het vir hom my troubeloftes opgeneem en dit hardop gespeel voor ek afgeloop het.  Dit was vir hom ongelooflik spesiaal.  Die arme man se een sakdoek was nie genoeg nie!

Ons het een aand op die bed gelê en gesels oor klein goedjies van die lewe.  Ek het hom daar vertel dat ek eendag graag wil hê my man moet vir my troubeloftes lees.  Op daardie oomblik langs hom het ek nie eers geweet ek gaan eendag met hom trou nie!  Min het ek geweet dat hy dit wat ek hom vertel het sal onthou en regtig op ons troudag vir my doen.  Ek moet erken dit het my wildste drome oortref!  Ek het dit glad nie verwag nie en dit was so spesiaal.  Trane kon ek daardie dag glad nie inhou nie;  Woorde sal nooit kan beskryf wat dit vir my beteken het nie.  Elke woord wat hy gesê het sal ek altyd koester en onthou.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Op daardie dag het dit gesous toe die toesprake gelees moes word.  Dit het veroorsaak dat al die gaste nie lekker kon hoor wat almal sê nie.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers