Dewald & Elmien se mooi Bosveld troue

In die inskrywing deel ons met Mooi Troues se lesers die Bosveld troue van Dewald en Elmien.  Hul troue is so pragtig gedoen en julle sal sien in die foto’s hieronder hoe elegant ʼn Bosveld troue kan wees.  Die paartjie se troue bied tonne trou inspirasie vir paartjies wat in die mooi Bosveld wil trou.  Die paartjie het baie elemente van hul troue self gedoen.

Dit maak ons harte vreeslik bly wanneer ons hoor dat paartjies Mooi Troues gebruik vir inspirasie om hul eie Bosveld troue te beplan.  Dewald en Elmien het twee van Mooi Troues se adverteerders van ons Trougids deel gemaak van hul troue.

Trouvenue

Elmien was dadelik verlief toe sy die eerste keer die venue gesien het.  Sy vertel ook dat die venue alles gebied het vir hul troue waarvoor hul gesoek het.  Mooiplaas Trou & Funksie Venue is ʼn nuwe trouvenue in Limpopo omring met die mooiste Bosveld tonele.  Mooi Troues se lesers kan afrol en in Dewald en Elmien se troufoto’s sien hoe mooi die venue is.  Ons hoop van harte dat van ons lesers hul Bosveld troue ook daar gaan vier.  Dat ons die voorreg sal hê om hul troue, soos Dewald en Elmien se troue, met ons lesers sal kan deel.

Trourok

Elmien se trourok was eenvoudig met ʼn halter nek bo-stuk.  Die kant bo-stuk het sy laat borduur met ekstra pêreltjies en steentjies.  Om haar hele voorkoms af te rond het Elmien ook ʼn ‘bruidsgordel’ gedra.  Haar trourok is van Bridal Manor geleë in Pretoria.  Die toekomstige bruid wat opsoek is na haar droom trourok kan gerus ʼn besoek af lê aan Bridal Manor.  Hul professionele konsultante sal jou help om die perfekte trourok te vind.  Maak sommer vandag nog jou afspraak.

Mooi Troues se lesers kan asseblief nou rustig afrol en Dewald en Elmien se troufoto’s geniet en lekker lees aan die paartjie se liefdesverhaal.  Deel ook asseblief die paartjie se Bosveld troue wyd-en-syd.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Dewald het ontmoet by ʼn landbouskou in Groblersdal wat deur my skool aangebied is.  Hy het by een van die stalletjies gewerk vir die maatskappy waar hy bemarking gedoen het.  Ek het dadelik gedink dat hier dalk iets spesiaal aan die broei kan wees.  Ons het in 2012 begin uitgaan.

Dewald is die een wat my gevra het om te trou – nogal op Valentynsdag!  Ek het dit glad nie verwag nie (juis omdat die dag so voor die hand liggend is).  Ons het gaan roomys koop by Paul’s Homemade Ice-cream en hy het toe vooraf gereël dat hulle die ring in my roomys wegsteek.

Hy was nogal benoud dat ek die ring sou insluk!  Toe ons terugkom by my tuin woonstel, (en ek uiteindelik die ring in my roomys ontdek) het hy my gevra om te trou.  Hy het ook ʼn kersligete langs die swembad opgestel met sjampanje en die heerlikste eetgoedjies.  Dit was regtig ʼn baie spesiale oomblik.

Diensverskaffers gekry vanaf Mooi Troues


Die Verlowing Tydperk:


Dit was presies 9 maande van ons verlowing tot ons troue. 14 Februarie – 14 November.  Ons het die troue self beplan.

Finansiële Aspekte:


Ons het 100 gaste onthaal.  Daar was nie ʼn spesifieke begroting wat ons gevolg het nie – ons het maar net die kostes so laag as moontlik probeer hou en nie uitspattighede gekies nie.

Wat ons opgemerk het, is dat dit al die kleiner goedjies is wat die kostes opjaag, so dit is belangrik om daarvan rekening te hou deur die proses om te keer dat dit dalk handuit ruk.  Dit is ook belangrik om vooraf te bepaal watter partye vir watter kostes verantwoordelik is.

In ons geval het die bruid se ouers asook die bruidegom se ouers bydraes gemaak vir spesifieke dinge, en dan het ons as die bruidspaar ook vir kleiner en meer persoonlike goedjies bygedra (bv. hare, grimering, naels, strooijonker/strooimeisie geskenkies en bykomstighede, juwele, trouringe, skoene ens.)

Merkwaardigste Oomblikke:


Dit was wonderlik om te beleef hoe ons verwagtinge van ons mooiste dag tot lewe gekom het en hoe al ons gaste dit geniet het om bymekaar te wees en gesellig te kon kuier.

Vir beide van ons was die hoogtepunt in die kerk – toe ek die paadjie afstap kansel toe, en ons eerste soen wat die begin van ons lewe saam gemerk het.

Verder, ons eerste dans en persoonlik, die dans saam met my pa, was ook vir ons merkwaardige oomblikke.

Paartjie se styl:


Eenvoudig, tog klassiek en stylvol/elegant.

Dewald se troupak was swart en hy het ʼn swart das gedra – hy het ook bykomstighede soos manchetknope en ʼn dasspeld gedra, en die kleur het ons ingebring met sy Bordeaux skouerruiker.

My trourok was eenvoudig met ʼn halter nek bo-stuk.  Ek is nogal lief vir detail so die kant bo-stuk het ons laat borduur met ekstra pêreltjies en steentjies, en dan het ek ook ʼn ‘bruidsgordel’ gedra.

Ons trouringe is niks uitspattig nie.  Dewald se ring is van tungsten hardestaal – swart met ʼn ‘matte’ afwerking en dan silwer om die rante.  My verloofring is witgoud met ʼn diamant in die middel en ʼn ‘halo’ met kleiner steentjies.  Ons sal op ʼn later stadium ʼn troupant laat maak – ook van witgoud met kleiner steentjies aan die bokant.

Eerste Dans:


Natuurlik.  Ek en Dewald is beide baie lief vir vas dans.  Ons het nie vir danslesse gegaan nie en het ook nie ʼn roetine gehad nie – dit was “gaan saam met die vloei”.

Ek wou nog die Vrydag voor die troue dat ons een keer net die liedjie deur dans – maar ons het glad nie daarby uitgekom nie en ek was lekker op my senuwees 🙂

Die liedjie was Honderd Duisend Maal van Elandré.  Ons het hierdie liedjie gekies oor die pragtige woorde, maar ook die wysie waarop ons gemaklik kon dans – ons wou nie te vinnige of te stadige musiek hê nie.

Die Besluitnemingsproses:


Ek dink dit is vanselfsprekend dat die bruid meer van die finale besluite geneem het, 🙂 maar Dewald was met elke besluit betrokke en het ook sy insette en opinies gelewer sodat ons saam die beste besluite kon neem.

Ons het idees uitgeruil met naby vriende wat reeds getroud is om hul advies in te win.  Ons gesinne was ook grootliks deel van die besluitnemingsproses – omdat ons hulle graag betrokke wou hê en hul oordeel vertrou, maar ook omdat hulle grootliks vir die finansies verantwoordelik was.

Gunsteling Diensverskaffers:


Die fotograwe (JCclick) asook die videograaf (Quin Media) was regtig fantasties.  Hulle lewer nie net kwaliteit produkte nie, maar het ons so gemaklik laat voel op die dag.

Dan vir die bruide – ek sal Bridal Manor enige dag aanbeveel vir trourokke.  Hulle rokke is van uitstekende gehalte, wye verskeidenheid en hulle bied uitstekende hulp en diens.  Ek het so spesiaal gevoel tydens my aanpas sessie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Dames:

Geniet elke oomblik – van die troubeplanning tot die troudag. Moenie toelaat dat die beplanning ʼn stresvolle situasie raak nie.  Gee aandag aan die klein goedjies, want dis wat mens die maklikste nalaat.  Dis belangrik om ʼn volledige ‘kontrolelys’ te hê sodat jy seker is alles is gedoen.

Die troudag self gaan so vinnig verby – neem elke oomblik in, lag en gesels en onthou die belangrikste: jy trou met die liefde van jou lewe.

Mans:

Wees regtig betrokke by die reëlings en doen moeite om takies te verrig wat die bruid van jou vra.  Geniet die proses saam met mekaar en onthou om alles in te neem op die dag.  Dit gaan regtig te gou verby.  Maak ook seker dat die strooijonkers weet presies wat van hulle verwag word.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Eerlik – as ons nou terugdink is daar nie regtig iets wat vreeslik skeefgeloop het nie.  Miskien hier en daar ietsie kleins.  Alles het mooi op tyd verloop en soos ons dit voorgestel het.

Wat ons graag sou wou verander is die aandklokreël, maar dit was buite enige iemand se beheer.

Venue & Dekor:


Mooiplaas het ek toevallig op Mooi Troues se Facebook ontdek, so kort rukkie nadat hulle oopgemaak het. Ek was dadelik verlief – dis al die elemente wat ek by ʼn venue gesoek het. Groot onthaalarea / dansvloer, houttafels, hoe plafon, pragtige beligting, mooi uitsig oor die Bosveld ens.

Nadat ons verloof geraak het, het ons saam met ons ouers na die venue gaan kyk en sommer dadelik ʼn datum vasgemaak.  Ons wou ook graag in ʼn kerk trou en Nylstroom het die pragtige NG Kerk Waterberg – ʼn ou, spierwit kerkgebou wat perfek inskakel by die wit en klassieke venue gebou.

Pinterest was ʼn groot bate wanneer dit gekom het by inspirasie vir die dekor asook die kleurskema vir ons Bosveld troue.  Ek het met idees rondgespeel en besluit watter elemente ek van hou en hoe ek dit bymekaar kon sit.  Ek dink ons dekor was meer eenvoudig met die fokus wat meer op die blomme geplaas is, maar dit was perfek vir ons.

ʼn Ander bron van Bosveld troue inspirasie was definitief Mooiplaas se Facebook-bladsy waar hulle vorige troues deel.  Daar kon ons ook idees kry van watter elemente werk by die venue, wat lyk mooier vir my – lae ‘middelpunte’ of hoe ‘middelpunte’, hoe ek die blomme wil posisioneer, wat ek met die bruidstafel wou doen ens.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Gelukkig het ons troudatum mooi geval in ʼn gaping waar die infeksiekoers laag was en die inperkings reëls ten opsigte van troues nie so streng was nie.  Op daardie oomblik was 50% kapasiteit toegelaat met ʼn maksimum van 250 gaste binnenshuis.  Ons het 100 gaste gehad en venue kapasiteit is 300.

Ons het nie nodig gehad om ons troudatum te skuif nie, alhoewel daar steeds die aandklokreël van 12uur die aand in werking was.  Dus moes die funksie vroeër as wat ons graag sou wou klaarmaak, om voorsiening te maak vir al die gaste asook die venue personeel om by hul bestemmings /akkommodasie betyds uit te kom.

Wittebrood:


Weens KOVID-19 was die moontlikheid om oorsee te gaan nie daar nie, maar indien dit wel daar was glo ek steeds ons sou wittebrood in SA gehou het.  Hier is soveel pragtige plekke om te sien!

Ons het maar gaan Google, Instagram, Facebook en rondgevra, toe kom ons toevallig op hierdie pragtige plek (SOUL On The Heads) in Knysna af.  Dis deel van die Soul Private Collection en hulle het ʼn paar eiendomme in die Kaap. Hulle het toe ʼn spesiale aanbieding op hul pryse en ons het besluit dis die plek.

Die gastehuis is pragtig geleë op The Heads met die mooiste uitsig oor die see. Ons het elke oggend ontbyt gekry en daar was die opsie vir aandetes ook teen ekstra kostes. Ons kamer was die ‘Cinema Suite’ wat ons eie privaat fliek kamer gehad het, die badkamer was pragtig met ʼn losstaande bad. Koning grootte bed en ʼn groot balkon met die mooiste uitsig.

Daar is heelwat besienswaardighede en aktiwiteite in die area – ons het padstalletjies besoek, gaan Zipline in Tsitsikamma, gaan Stand-Up Paddleboarding en Kayak ry by die Knysna eilande, op Mosselbaai en Wildernis se strande uitgespan, ʼn wyn-en-sjokolade proe gaan doen ens.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: