Naudé & Carlin se Stylvolle Troudag

Toe Naudé en Carlin hul stylvolle troudag begin beplan het, het hul spesifieke vereistes gehad vir hul groot dag.  Hulle wou by ‘n elegante tema hou, maar steeds sekermaak alles van die troudag komplimenteer hul persoonlikhede.  Gemak was ook vir hulle ‘n groot faktor en daarom het Naudé en Carlin seker gemaak dat hulle, sowel as hul gaste tuis voel by hul spesiale troudag.  Hulle het by ‘n neutrale kleur-palet gehou en olyf-groen ingebring vir ‘n unieke voorkoms.  Hul kleur-palet het hul gekose venue se styl só mooi komplimenteer en perfek by die luukse groen grasperk en klassieke boustyl ingepas.  Dié paartjie sê een van die merkwaardigste oomblikke van hul troudag was om aan tafel te sit en te sien hoe al hul gaste ‘n heerlike tyd het; Dís hoe mens weet jou troudag is ‘n sukses; En wat ‘n lekker gevoel is dit nie!

Indien jy ook daardie gevoel van tevredenheid en saligheid op jou troudag wil beleef, kan jy hieronder lees wat Naudé en Carlin se wen-resep vir hul stylvolle troudag was.

Paartjie se Liefdesreis:


Een Sondagoggend in 2018 het ek besluit om ‘n nuwe kerk (Woord en Lewe) in Benoni te besoek.  Voor op die verhoog het ‘n blou-oog man gestaan en die voorsang gelei.  Ons het dadelik mekaar se aandag getrek. Hy het vir my geglimlag en subtiele oogkontak gemaak.

‘n Paar Sondae later het Naudé my genooi om sy selgroep by te woon.  Ek het by die sel aangesluit en daar het ons liefde begin vlam vat.  Een aand na sel het Naudé my ‘n drukkie gegee en daar het ons altwee besef ons wil nooit weer mekaar laat gaan nie.

Die Verlowing Tydperk:


In Oktober 2019 het ons vir my pa gaan kuier in Abu Dhabi.  Ons het saam met my ouers vir ‘n naweek na “The Cove Rotana Resort”  in Ras Al Khaimah gegaan.  Dit was asemrowend!  Die 17de Oktober besluit ek en Naudé om ‘n paar sonsondergang-foto’s op die strand te gaan neem.  Naudé is baie lief vir mikrofotografie en was besig om ‘n paar skulpies en slakkies in die sand af te neem toe hy my vra of hy my nie ‘n bietjie meer kan leer van mikrofotografie nie.  Ek stem toe in en probeer self ‘n paar skulpies afneem.

Terwyl ek nog besig was om op ‘n skulpie te fokus, toe verskyn daar ‘n diamant voor die lens.  Ek het gevries en was vir ‘n oomblik stomgeslaan.  Toe ek die kamera voor my oë wegvat, staan Naudé op een knie met die mooiste ring in sy hand en vra my om met hom te trou.  Met ‘n opgewonde hart sê ek toe: “Natuurlik!”

Ons het 17 Oktober 2019 verloof geword en sou die 26ste April 2020 trou, maar weens KOVID was ons troue uitgestel na 12 Desember 2020.  Ons was omtrent ‘n jaar en 2 maande verloof, waartydens ons die troue self beplan het.

Finansiële Aspekte:


Ek, Naudé en albei ons ouers het bygedra tot ons troue.  Ons het eers met ons ouers gesels en vasgestel wat hul bydra gaan wees.  Daarna het ons na trou venues gaan kyk en ondersoek begin instel oor wat troues kos.

Ons het na ons begroting gekyk, besluit wat ek en hy altwee kan bydra en toe op ‘n venue besluit.  Dit was ons ideaal om nie meer as 80 gaste te nooi nie, aangesien ons net ons naaste vriende en familie deel wou hê van ons groot dag.  Ons het ‘n lysie gemaak van wat alles kos, hoeveel geldjies ons het en wie verantwoordelik is vir die betaal van elke item.  Op so ‘n manier kon ons hou by ons begroting, aangesien almal vooraf geweet het wat hulle gaan betaal.

Advies:

Dis die klein goedjies wat op die einde die meeste geld kos.  Trou beplanning kan baie vinnig met ‘n mens weghardloop, moenie onnodige goed koop nie.  Spandeer eerder jou geld op dit wat regtig saak maak, byvoorbeeld ‘n goeie fotograaf.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


KOVID-19 het ‘n groot uitwerking op ons troudag gehad.

Ons eerste troudatum was 26 April 2020, maar ons moes ons ‘n maand voor die tyd alles skuif.  Ons tweede datum was 24 Oktober 2020, maar omdat my pa en Naudé se broer nog oorsee was en nie kon vlieg nie, moes ons ‘n 3de troudatum kies en weer alles skuif na die 12de Desember 2020 toe.

In die proses het:

– Ons, ons MC verloor, aangesien hy nie meer beskikbaar was nie;
– Die vrou wat my grimering moes doen was ook nie meer beskikbaar nie; en
– Ergste van alles, ek moes ‘n nuwe trourok kies!  Maar, dit het alles darem op die ou einde goed uitgedraai.

Merkwaardigste Oomblikke:


Vir ons altwee was ons eerste dans as Mnr en Mev Swart die merkwaardigste deel van ons dag.  Daar was ‘n saal vol mense, maar tydens ons eerste dans kon ons niemand anders raaksien nie.  Ons het heeltyd in mekaar se oë gekyk en gevoel asof ons op die wolke dans.  Vir daardie oomblik het niemand anders saak gemaak nie.  Verder was dit vir ons net so spesiaal om by ons tafel te kon sit en uitkyk oor die saal waar al ons vriende en familie sit en gesels en saam met ons die dag geniet.

Wittebrood:


Voor KOVID het Naudé ons wittebrood in Mauritius bespreek.  Alles was reeds betaal en ons was baie opgewonde daarvoor.  Toe maak Mauritius sy grense toe en die hotel-groep laatweet ons dat ons vlugte en verblyf gekanselleer is.  Van April tot Oktober het ons heeltyd die nuus dopgehou en gehoop dat die grense oop sal gaan, maar dit het nie.

Teen einde Oktober 2020 besef ons, ons gaan ‘n ander plan moet maak.  Ek en Naudé het besluit dat ‘n wittebrood die belangrikste vakansie van ons lewens saam is.  Dit is die begin van ons huwelik en ons gaan dit nooit weer oor kan hê nie, dus wou ons dit spesiaal maak.

Naudé het toe begin kyk na pakkette in die Maldives en het op wonderlikste eiland afgekom, Adaaran Club Rannalhi.  Dit was onbeskryflik!  Die Sondagmiddag, ‘n dag na ons troue, het ons op ‘n vliegtuig geklim, eers in Qatar geland en daarna na die Maldives gereis.

Hulle sê: “Love is someone to share paradise with” en daar is nie ‘n beter beskrywing vir die Maldives as die paradys nie.  Ons het 7 aande daar spandeer, saam met dolfyne gesnorkel, geduik en ongelooflik lekker gerus.  Ons sal enige tyd weer wil teruggaan Maldives toe.

Paartjie se styl:


Dit was vir ons baie belangrik om ‘n stylvolle en elegante troue te hê, asook ‘n troue wat by ons persoonlikhede pas.  My ‘Blue by Enzoani Marquise’ trourok en Naudé se olyfgroen en roomkleurige uitrusting het perfek by ons styl en persoonlikhede gepas.  Dit was stylvol, maar tog gemaklik.

Die Besluitnemingsproses:


Al die groot besluite (soos byvoorbeeld ons venue) het ek en Naudé saam geneem.  ‘n Fotograaf was vir Naudé die belangrikste, dus het hy besluit wie ons spesiale dag gaan vasvang.  Hy het ook self sy materiaal gekies waarvan sy baadjie gemaak was en sy strooijonkers se uitrustings.  Verder het ek die besluite geneem oor dit wat vir my belangrik was, soos my strooimeisies se rokke, die dekor en dan ook oor die kleiner goedjies wat vir ‘n bruidegom nie so belangrik is nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:

  • As jy ‘n rok huur, moet dit nie eers die dag voor die tyd gaan optel nie.
  • Moet nooit strooimeisies rokke laat maak nie, koop dit eerder.
  • Al gaan daar goedjies verkeerd op die dag, onthou net dat net jy dit gaan agterkom.  Jou gaste gaan dink dit moet so wees, so moet nie toelaat dat enige iets jou ontstel nie.

Bruidegom:

  • Maak seker jy hou jou strooijonkers se uitrustings by jou tot op die dag van die troue, anders vergeet een van hulle iets en is dit ‘n groot gejaag!

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons gunsteling diensverskaffer was definitief ons fotograaf, Nici Pelser van Pelser photography.  Hy het die vermoë om in baie slegte weersomstandighede die mooiste foto’s te kan neem.  Hy het plat op sy maag op sopnat grond gelê om ons te kan afneem!

Oxbow se trou-koördineerder, TJ Swart, het regtig ‘n groot impak op ons troue gehad.  Die dag het seepglad danksy hom verloop.

Venue & Dekor:


Oxbow Country Estate se gras groen tuine en klassieke boustyl het ons dadelik bekoor.  Dit was so eenvoudig, maar so stylvol.  Ons het daarom besluit om ons dekor ook net eenvoudig, wit en groen te maak.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ek het my rok eers die dag voor die tyd gaan haal by die plek waar ek dit gehuur het.  Toe ek die aand by die huis kom en net weer my rok aanpas, toe kom ek agter die rok is nog te groot vir my!  Ek en my ma moes 8uur die aand na ‘n tannie toe ry om my rok kleiner te maak en netjieser vas te werk.  Ek was gedaan!

Verder was ons blomme heeltemal anders as ons waarop ons voor die troue besluit het.  Die besigheid wat ons blomme gedoen het, Belle Ame, het onder andere, te min blomme gebring.  Dus kon hulle nie doen waarop ons ooreengekom het nie.  Ons was baie teleurgesteld.

Een van die strooijonkers het sy kruisbande by die huis vergeet.  Die pa van die bruid moes net voor die troue terugjaag huis toe om dit te gaan haal!  Gelukkig was hy betyds.

Eerste Dans:


Ons eerste dans was vir ons besonders.  Ons het vir danslesse gegaan by Chris Cooper School of Dance en elke naweek saam geoefen.  Dit was vir ons regtig lekker om gemaklik met mekaar te raak op ‘n dansbaan.

Ons het saam die liedjie “You are the Reason” van Calum Scott gekies.  Die woorde “I’d climb every mountain and swim every ocean just to be with you” som ons verhouding mooi op.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: