Stean & Marli se Verrassing Verlowing Fotosessie

Stean en Marli doen jaarliks ʼn professionele fotosessie om die spesiale tye in hul lewens vas te vang.  Maar, 11 November 2020 se fotosessie het egter ʼn kinkel in die kabel gehad!  Stean en Marli het soos elke ander jaar ʼn pragtige fotosessie beplan.  Hulle sou saam in ʼn helikopter na die venue vlieg waar hul 2020 se herinneringe sou vasvang.  Stean het ʼn verskoning gemaak omdat hy nie kon saam vlieg nie en Marli moes toe maar alleen saam met haar pa (die vlieënier) die avontuur aandurf! Marli het ʼn oomblik afgekyk om die venue van bo te bewonder, en op daardie oomblik het haar lewe handomkeer verander!

Julle kan seker raai hoe hierdie storie verder verloop, maar rol af vir die details oor hierdie paartjie se verrassing verlowing fotosessie.  Omdat Stean en Marli alreeds gemaklik voor die kamera is, het hulle ook pragtige foto idees vir paartjies wat ʼn professionele fotosessie oorweeg.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het by Hoërskool Menlopark se matriekafskeid in 2015 ontmoet waar Stean gematrikuleer het.  Ek het saam met een van my beste vriende (Dale) gegaan, wat ook ʼn vriend van Stean is.  Dale wou ons al voorheen aan mekaar voorstel, maar het nooit die kans gekry nie.  Ons eerste ontmoeting by die matriekafskeid was beslis nie liefde met die eerste oogopslag nie!  Ons albei het ʼn wan-indruk van mekaar gehad. Later die aand met die onthaal het ons langs mekaar gesit en met mekaar begin gesels.  Dadelik het ons lekker oor die weg gekom!  Ons het 3 maande na ons ontmoeting amptelik begin uitgaan en ons was 4 jaar en 10maande saam toe ons verloof geraak het.  6 Januarie 2021 vier ons ons 5 jaar herdenking.

Die groot vraag:


Ons het vir ʼn tydjie lank gepraat oor die volgende fase van ons verhouding, omdat ons altwee gevoel het ons is gereed daarvoor.  Maar nooit het ek gedink dit gaan so kort na ons gesprek gebeur nie!  Hy het in September 2020 my gevra hoe ek eendag my ring sal wil hê en ons het ook my grootte gaan kry.  Stean is egter iemand wat lank beplan en die kat eers mooi uit die boom uit kyk, so ek het glad nie ʼn verlowing so vinnig verwag nie.

Ek het vir ons ʼn fotosessie bespreek (ʼn jaarlikse instelling/tradisie) by Rentia Smith vir 11 November 2020 (nog meer rede hoekom ek dit nie verwag het nie.)  Stean het skelmpies Rentia se nommer van my foon af gekry sy idee met haar gedeel.  Ek was onbewus daarvan.

Stean het my ouers asook sy beste vriend betrek om te help met die reël van die verlowing.  Hy het gereël dat ons aanvanklik saam na die venue toe vlieg, maar kort voor ons moes vlieg het hy kamstig laat weet dat hy baie laat gaan wees en daarom moes ek toe alleen vlieg.  Soos ons oor die venue gekom het, het my pa (wat gevlieg het) vir my gesê ek moet kyk hoe mooi lyk die plek.  Toe ek by die venster uitkyk het Stean in die veld gestaan met groot wit letters wat sê: “Sal jy met my trou?”

Hoekom ons mekaar liefhet:


Marli:  Stean se mooiste eienskap is dat hy die vermoë het om enige persoon waardevol te laat voel.  My gunsteling eienskap is dat hy my altyd laat veilig voel.

Stean:  My gunsteling eienskap van Marli is dat sy enige moeilike situasie, maklik laat voel.  Sy het ook die vermoë om enige vertrek te laat lewe kry wanneer sy inkom.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons beplan ʼn kort verlowing.  Ons is te opgewonde om te trou, so ons sal die verlowing tydperk nie te lank uitrek nie.

Die verloofring:


Ek hou van ʼn baie eenvoudige ontwerp, en Stean hou weer baie van detail, maar ek dink hy het die perfekte middeweg gevind.  Ek is mal oor my ring!  Dis eenvoudig, maar daar is fyn detail.  Dis ʼn stukkie van ons altwee in een.  Alhoewel ek gesê het wat ek graag wil hê, het hy my steeds verras met die detail.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Dit was nie beplan om ʼn verlowings fotosessie te wees nie.  Ons doen jaarliks fotosessies, omdat nie een van ons goed daarin is om foto’s te neem of daarvan hou nie.  Dit is vir ons spesiaal om eenkeer ʼn jaar mooi te maak en om elke keer op ʼn ander plek foto’s te gaan neem.  Dit vang dan elke jaar van ons saamwees vas.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons verwagtinge is dat dit ʼn vreugdevolle, maar tog stresvolle tydperk sal wees.  Ons het baie goedjies wat in plek moet val voor ons trou en ons albei is perfeksionisties.  Alhoewel ons baie opgewonde is, weet ons elke fase het sy eie uitdagings.

Visie vir droomtroue:


Ons wil graag groot gaan!  Ons albei is ekstroverte en wil graag saam al ons mense die groot dag deel.  Met die huidige KOVID omstandighede word mens se planne daagliks omver gegooi.  Die belangrikste is egter dat ons groot dag ʼn ware voorstelling sal wees van wie ons as ʼn paartjie is.  Die res hou ons as verrassing.

KOVID 19 se uitwerking op jul trou reëlings:


Stean is ʼn rugbyspeler wat dit reeds moeilik maak om ʼn datum buite seisoen te kry, en boonop dit het ons al die uitdagings van KOVID!  Ons moes al 4 keer van venue verander, asook ons gastelys elke keer aanpas volgens regulasies, maar om die troue uit te stel is nie vir ons ʼn opsie nie.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: