Brian & Marli se romantiese buitelug bruilof

Brian en Marli se liefdes verhaal mag dalk ʼn bietjie onortodoks wees, maar nie te min, ʼn verskriklike spesiale verhaal.  Dié bruidspaar het aanlyn ontmoet.  Op hul eerste afspraak het hul al besef dat hul mag dalk net meer ingemeen hê, as wat hul gedink het.  Mooi Troues bring voort in dié artikel die romantiese buitelug bruilof van Brian en Marli.

Om in vars lug te trou is soos om te wandel tussen hemele.  Brian en Marli se romantiese buitelug bruilof weerspieël dié bruidspaar perfek.  Die styl van hul buitelug troue skep ʼn elegante sprokies verhaal atmosfeer.  Al die elemente van dié troue pas soos ʼn pragtige legkaart in mekaar in.  Brian en Marli se troue speel kleure van wynrooi, vlootblou, groenblou, smaraggroen en ivoor, wat natuurlik gekomplimenteer word met ʼn paar proteas.

Brian en Marli het ʼn presiese visie gehad vir hul  buitelug bruilof.  Love Beloved het deel gehad om vir dié pragtige bruidspaar hul visie tot lewe te bring.  Van trou dekor, tot en by die fantastiese atmosfeer wat geskep was, het Love Beloved hul deel gebring.

Rol nou af en word betower deur dié romantiese buitelug bruilof.

 Paartjie se Liefdesreis:


Marli:

Ons verhaal is so onortodoks soos wat dit kan kom – so maak jou veiligheidsgordel vas vir dié storie!

Ontmoet op Tinder

Ek en Brian het op Tinder ontmoet in 2017.  Tinder is ʼn aanlyn program waar ʼn mens ander buite jou sirkel kan ontmoet. Veral as ʼn mens gedurig in jou eie groepie kuier en nie baie met ander groepe meng nie.  Toe ek Brian op sy profiel sien, het iets my onmiddellik laat stop en vir ʼn rukkie langer laat kyk.  Hiérdie was ʼn tipe aantreklikheid wat ek nog nooit gesien het nie.  Die mooiste glimlag en goud-geel oë wat so reg deur ʼn mens kan kyk.

Die kruks van Tinder is dat wie ookal jy raak sien, se besonderhede heeltemal weggesteek is vir enige eksterne partye.  Partykeer gebruik mense skuilname ook en mens kan nie altyd weet wat is eg en wat nie.  As jy in kontak wil kom met iemand, moet mens maar blindelings na hulle toe uitreik.  Eers as die uitreik van albei se kante af kom, dán eers maak daar ʼn gesprek blokkie oop en kan jy met die persoon begin praat.  Teen die tyd wat ek uitgereik het, het ons gesprek blokkie onmiddellik aktiveer.  Brian het voor ek hom raak gesien het, klaar uitgereik.

Misverstand oor huistaal

Ons het vir die eerste week met mekaar Engels gepraat … Ek het maar net aanvaar dit is sy huistaal en nie verder daaroor uit gevra nie.  Toe ons besonderhede van mekaar kry, kon ons seker maak dat die persoon is wie hy/sy sê hulle is op sosiale media, om natuurlik ʼn skelm persoon uit te wis. (En die moedertaal te bevestig, ons het lekker gelag!) Sy sosiale media was uitgebrei en ek kon vasstel dat hy wel is wie hy sê hy is.

Ons het 2 – 3 weke daarna ontmoet in die derde week van Junie, dit was ʼn Dinsdagaand na ʼn lang dag van klas draf. Ons het besluit om te ontmoet by  Brooklyn Mall naby my kampus en ek was vroeg.  Ek het toe sommer gou by die badkamer ingehardloop en toe ek klaar is, kom sy boodskap deur: “Hi, ek’s hier, waar is jy?”.  Ek laat weet hom toe ek is gou in by Mythos om hulle badkamer te gebruik, ek is nou buite.  Toe ek by Mythos se deure uitstap, ontmoet ek hom vir die eerste keer reg voor die deur.  Dit was een van die gemaklikste ontmoetings van my lewe – wat ʼn gentleman!

Ons besluit toe om Hogshead toe te gaan, wat net so paar blokke weg is.  Ek bestel toe ʼn “whiskey on the rocks” – “maak dit twee”, voeg hy by …

Ontmoet die vriende en die ouers

Op die tweede afspraak ontmoet ek een van sy beste pelle wat ook een van sy strooijonkers is, Herman.  Op die vierde ontmoeting, sy ouers. Ons was nooit weer langer as ʼn week uit mekaar se geselskap uit nie.  Hy is sedertdien my beste vriend. ♡

Brian:

Ek onthou die eerste keer toe ek vir Marli gesien het toe ons afgespreek het om te ontmoet.  Ek het bo parkeer by Brooklyn Mall met my blou Fiesta, daar waar MooMoo’s geleë is, by die trappe af geloop.

Toe kom Marli se boodskap deur – sy is by Mythos.  Ons ontmoet toe voor die deur. Dit was die eerste keer wat ek haar in persoon gesien het en dit het nie teleurgestel nie.  Sy was nog mooier in persoon as in haar foto’s!  Ons het toe vir ʼn plek gesoek wat gesellig lyk.  Toe ons nie regkom nie, besluit ek toe om ons Hogshead toe te vat, wat net om die draai was. Toe ons daar aankom, was daar ʼn gesellige atmosfeer en ʼn paar kaggels wat brand. Dit was ʼn koue wintersaand. Ons kry toe ʼn tafel langs een van die vuurtjies. Sy het boots, ʼn mooi denim en een van daardie “fluffy-cap-hoodies” gedra.

Toe sy ʼn whiskey bestel, toe weet ek klaar sy is nie jou alledaagse meisie nie.  Daar het ons gesit en mekaar leer ken.  Ons het tot laat gesit en gesels en die tyd het nie regtig saak gemaak nie.  Die aand het in ʼn oogwink verby gevlieg.  Ons het gegroet en in ons verskillende rigtings gegaan en eers weer die volgende dag gesels.

Ek onthou nog die gevoel wat ek gehad het daardie aand na ons gekuier het.  Dit was asof ek iemand ontmoet het wat ek al klaar ken.  Ek het geweet dat dit nie lank gaan wees tot ons mekaar weer sien nie.

Die Verlowing Tydperk:


Marli:

Ons het die 30ste Julie 2020 verloof geraak, tydens die KOVID-19 grendel tydperk, en ek sal dit nooit vergeet nie.  Ons was dus, langer as ʼn jaar verloof.  Dit was oor as genoeg tyd om eers die verlowing te geniet.  Om so paar maande later aan die troue te kon begin beplan.  Ons het nie ʼn trou beplanner gehad nie.  Ek en my ma, saam met my strooimeisies (veral my sussie en my beste vriendin, Caroline) het die trou reëlings self laat realiseer.

Wendy Faber, ons troue koördineerder by KleinKaap Boutique Hotel, het ons gehelp met die besluitnemingsproses.  Sy het ons deur alles gevat wat rakende die dag moet gebeur.  Ek sou voorstel dat ʼn mens nie minder as ʼn jaar verloof is nie  … Faar is regtig baie om aan te dink en te doen, veral as ʼn mens vir die groot dag moet opspaar!

Trou Begroting:


Brian:

Die oorspronklike begroting was R90 000.  Ons het geweet dat die trouvenue die grootste deel daarvan sou wees.  Só het ons soektog begin.  Ons het trouvenues binne ʼn 50 km radius gekontak.  Ook ʼn paar besoek voordat ons agter gekom het dat ons begroting aangepas sou moes word.  Ons het besluit dat ons op alles behalwe die venue sal terug hou, ons het dus die venue gekies wat ons die meeste van hou.

Daarna het ons besluit om nie meer as 80 gaste te nooi nie.  Dus net die naaste vriende en familie genooi. Ons het ook op vinger happies ( Cannape en Meze happies) besluit in plaas van ʼn volle ete en ook gebruik gemaak van ʼn kontant kroeg.

Verder het ons ook die trou rok gehuur, en besluit om nie te koop nie. Op hierdie manier het ons kostes gesny en gefokus op die belangrikste dinge, wat vir ons en die gaste die meeste sou beteken en beteken het b.v. die blomme, liggies en dansvloer. Die finale trou begroting het omtrent dubbel uitgewerk wat ons oorspronklik beplan het.

Marli:

Die advies wat ek sou gee is om sommer vroeg te begin opspaar na jou verlowing.  Moenie jou trourok koop nie, huur liewer, en moenie te veel bekommer oor groot aansit etes nie. Dit vat baie van ʼn mens se tyd op en gaste eet nie sommer so baie by ʼn byeenkoms soos ʼn bruilof nie.  Hulle kuier liewer en is meeste van die tyd op die dansvloer.

Ek sou ook aanbeveel om regtig na ʼn paar venues te gaan kyk voor jy en jou verloofde op ʼn plek besluit.  Gaan drink ʼn koffie in die area waar jy sal wil trou by die venue en probeer jou dag verbeel soos hoe jy dit graag sal wil hê.  Mooi en volop bome vir feetjieliggies is ALTYD ʼn goeie idee!

Merkwaardigste Oomblikke:


Brian:

Die merkwaardigste deel van die dag was vir my die opbou … Die opwinding in die strooijonkers en ouers se oë soos wat die strooijonkers geskenkies uitgedeel was en almal opgetof het vir die groot dag.

Gedurende hierdie tyd het ons afgespreek dat een van die strooimeisies my sou kom haal, sodat ek en Marli kan saam bid voor die seremonie, sonder om mekaar te sien, natuurlik.  Ons het om ʼn hoekie gestaan, hande gevat en ek het vir ons gebid.  Dit was die stilte voor die storm (Brian lag).  Dit het beslis my minder op my senuwees gemaak vir die res van die dag.

Paartjie se styl:


Marli:

Ons het nie regtig ʼn spesifieke styl gehad nie, alles het regtig net so mooi op die ou einde by mekaar gekom!

My rok was ʼn boheemse style trourok wat ek by Whimsical Bridal gehuur het tydens ʼn “Black November sale”.

Ons het begin deur ons gunsteling kleure vir die troue bymekaar te sit en te kyk hoe dit by mekaar sal inskakel. My beste vriendin en fantastiese Grafiese ontwerper, Caroline Barnard, het my met meeste van dit gehelp. Ons het toe besluit op wynrooi, vlootblou, groenblou, smaraggroen en ivoor, met wynrooi en vlootblou as die hoof kleure. Hierdie kleure is baie prakties en dit was maklik om alles anders rondom dit aan te pas.

Ons het Brian se troupak by Woolworths gekoop.  Hulle pakke is prakties om weer te dra vir ʼn geleentheid in die toekoms.  Sy blou, getekstureerde pak was definitief ʼn treffer!

My verloofring en trouring is by American Swiss gekoop en Brian se trouring is by Titanium Studio laat maak.  Ons albei het keuse gehad in ons eie trouringe en het dit so verkies.

Die Besluitnemingsproses:


Brian:

Ons het saam oor die trouvenue en die aantal mense, asook die etes besluit.  Die kleurskema het ons ook so opgestel dat ons altwee se gunsteling kleure daarin kan pas, en ook nog die ander kleure komplimenteer. Die strooijonkers se klere het ek op besluit, en ook met hulle gereël dat ons dae afspreek om saam dit te gaan koop. Al die fyn besonderhede soos die blomme, die tafel dekor, die liggies en die tafel planne het my bruid en skoonma saam eindelose ure aan spandeer.

Gunsteling Diensverskaffers:


Marli:

Ek kan omtrent nie kies nie, almal se deeltjie wat hulle by gedra het, het die dag so indrukwekkend gemaak!

Behalwe nou vir almal wat ek al klaar genoem het, was my vriendin se Grafiese Ontwerp-werk, Caroline Barnard, omtrent die werk wat nooit opgehou het nie, en sy het dit maklik laat lyk! Tussen tafelplanne saam met my ma organiseer en etikette ontwerp en laat druk vir die waterbottels wat ons vir almal op die dag uitgedeel het, het sy vir my vollyf-massering geboek en my kalm gehou die aand voor die tyd.  Sy het my werklik gedra in my stresvolste tye.

My sussie, Carla, het die res van die balle gevang waar ek nie kon nie, en ek is verewig dankbaar vir haar harde werk.

Alana Wallis van Spoonful Cake Artistry & Bakes het my troukoek ontwerp en self gemaak, en ek was ongelooflik gelukkig met die eindresultaat.

Almal het so mooi saam gespan om die dag spesiaal te maak.  Ek sal verewig dankbaar wees vir die kringe waarin ek beweeg.

Vermaak:


Marli:

Ek en Brian het nie te veel op die vermaak gefokus nie – ons vriende en familie is omtrent hulle eie vermaak!  Ons het ʼn pragtige dansvloer in laat huur en my ma het my verras met ʼn pragtige plakker van ons name en nuwe van wat hulle in die middel van die dansvloer geplak het. Ons het sommer ʼn vooraf opgestelde snitlys gemaak wat al ons gunsteling liedjies bymekaar gehad het.

Thrive Productions het ons klank gedoen, en hulle het sommer vir my ligte vir daardie dag ook op die dansvloer gesit. Die twee broers, Christo en Ernst Serfontein en hulle klankspan het een dag na die venue toe deur gery en al my versoeke laat waar word vir die dag van die troue.  My seremonie se klank was ook perfek, foutloos en baie professioneel gedoen – ek sal hulle enige dag aanbeveel!

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Brian:

My advies aan die manne sal wees om soveel as moontlik deel te neem aan die gesprekke en troureëlings.  Geniet elke oomblik voluit.  Ek het waar ek kon, deel geword en help beplan, maar omdat ek in daardie tyd met ʼn nuwe werk begin het, het ek baie van die troureëlings en besonderhede gemis.  Al wou ek meer gedoen het, kon ek nie altyd daarby uitgekom het nie.

Baie van die spesifikasies het ek eers op die dag uitgevind, en dit het my verbaas tot op watter diepte die beplanning gegaan het.  Ek is ongelooflik dankbaar vir Marli en haar ma wat maande voor die tyd begin beplan het en ʼn kontrolelys opgestel het van alles wat gereël moes word.  Ek sal nooit genoeg kan dankie sê aan almal wat hierdie dag so spesiaal vir ons gemaak het nie.

Die ander deeltjie trou advies wat ek het, is om die strooijonkers klein en persoonlik te hou.  Asook mense te kies wat maklik kan opdaag wanneer ʼn mens moet gaan klere pas en koop.  Ons het nogal gesukkel om by almal uit te kom omdat my vriende en broers nogal in verskillende lande en stede bly.

Marli:

My grootste trou advies is om taak lyste vir jou groot dag op te stel en die beste te beheer wat jy voor die tyd kan, maar dat jy op daardie dag nie verder moet stres indien daar iets verkeerd loop nie!  Lag dit af en geniet die spesiale dag – dit is in ʼn oogwink verby.

Onthou om te dans en van jou eie koek te eet, en drink dalk ʼn lekker Powerade om jou die aand te hou – ek wens ek kon alles weer in “slow motion” ervaar.  Die dag was perfek en ons kon nie vir beter gevra het nie.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Marli:

Ons is bevoorreg om te sê dat ek nie aan een ding kan dink wat verkeerd gegaan het daardie dag nie.  Die tyd het net te vinnig verby gevlieg!  Die weer was perfek en ons gaste het spoggerig gelyk.  Dit was werklik ʼn sprokies verhaal. Die dag se vlot verloop was meestal te danke aan my ma, Liezel, wat my troudag (“ons” troudag, soos ons naderhand gespot het!) so mooi laat uitdraai het.  My ma het omtrent meer slapelose nagte as ek gehad, en my pa en Brian se ouers was daar om finansieel te ondersteun waar hulle kon.  My strooimeisies en die strooijonkers het almal so hard gewerk om hierdie dag ʼn sukses te maak – ons is werklik geseënd met ons groep vriende en familie!

Ek is teleurgesteld dat ek ongelooflik moeg geraak het na die ete, en vroegerig gaan slaap het, wat ek spyt is oor!  Ek sou wou terug gaan en ʼn Redbull drink, net om die dag langer te laat voel!  Dit was ʼn besonderse en foutlose aand.

Venue & Dekor:


Marli:

Ons was na ʼn paar venues toe en het op die ou einde op KleinKaap Boutique Hotel besluit.  Hulle gronde net so ongelooflik uniek is.  Hul bied ʼn fantastiese prys aan vir wat alles ingesluit is. Hulle tuine is altyd netjies, die Kaapse effek en bome maak ʼn “statement”, en die personeel is professioneel, opgelei en altyd reg om te help.

Die dekor, feetjieliggies en blomme is verskaf deur hulle voorkeur verskaffers, en ons was glad nie spyt nie.  Coreen van Love Beloved Studios en Theo van Softlight Events het ʼn pragtige atmosfeer geskep en ons kon dit nie mooier droom nie.

Ek het geweet dat die bome by Klein Kaap Boutique Hotel pragtig gaan lyk met goue feetjieliggies in die aand, en ek het vir Coreen gevra om lantern-geïnspireerde liggies op die tafels te plaas.

Natuurlik, is proteas ʼn moet wanneer dit kom by ʼn Kaapse effek skep, en het haar gevra om dit in my en die blommemeisies se ruikers te sit. Dit het ongelooflik mooi uit gekom! ʼn goeie wenk vir enige bruid, is om meer Eukaliptus blare en takkies deel te maak van jou blomme en dekor – dit lyk fantasties by enige kleurskema, tema en dit is van die goedkoopste plante om jou dag in te kleur en op te kikker, sonder om te lyk asof jy die prys in gedagte moes hou!

Wittebrood:


Brian:

Ek en Marli het in 2021 by Nederlandse maatskappye van die huis af begin werk met die doel om na Nederland te verhuis in Maart, 2022.  Ons het toe besluit dat ons eers in Suid Afrika wil trou omdat ons families en vriende hier is.

Toe ons na wittebrood venues kyk, wou ons oorspronklik Griekeland toe gaan.  Na ons na ʼn paar opsies gekyk het, het ons besluit om te wag tot ons Utrecht toe trek om ʼn week of twee daar af te vat en vakansie om ordentlik te gaan toer. Die doel van ons wegbreek na die troue was om saam met mekaar tyd te spandeer en die rustige tyd na al die beplanning te geniet.  Op dié manier sal dit aansienlik goedkoper wees om in Europa rond te toer.  Ons hoef ook nie oor visas te bekommer nie. Griekeland is nog definitief op ons lys vir eendag!

Besluit om Wittebrood plaaslik te hou.

Steeds sou dit nie ideaal wees om net huis toe te gaan na die groot dag nie.  Ons beplan toe in elk geval ʼn klein wegbreek om te kan ontspan en die spesiale fase in ons lewens te laat insink.  Ek het by my ma-hulle se tyddeel klub ʼn klompie punte gekry en ek het toe van ʼn lysie af vir ons ʼn vakansie bymekaar geslaan met my moeder se ervare hulp en ondersteuning.

Die eerste bestemming was by Qunu Falls, in die suidelike deel van die Drakensberge. Dit was sowaar ons gunsteling bestemming, ons het daar vir ʼn week gebly.  Behalwe vir die asemrowende uitkyk, was daar talle geriewe wat ons ten volle geniet het, soos die Jacuzzi wat op die berge uitkyk, asook die unieke bioskoop.

Ons het toe van daar af vir die volgende week na Port Edward gegaan, waar ons by die Carribean Estates gewoon het. Dit was ook ʼn baie spesiale ervaring en ons kon tyd op die strand ombring en lekker ontspan.

Eerste Dans:


Ek is self nie ʼn groot danser nie, maar daar kom ʼn tyd in ʼn man se lewe wat dit nodig is.  Hierdie was een van daardie tye.  Ek het teen alle instink geveg en ingestem vir danslesse by ʼn dansskool hier naby in Centurion, met die naam Fred Astaire.  Julie, ons dans instrukteur, het ons daar lesse gegee.  Sy het dit reggekry om my gemaklik te laat voel en om ons te kry om goed saam te lyk op die dansvloer.  Ons het op ʼn wals besluit omdat dit ʼn mooi dansstyl is en ook nie te moeilik is om te bemeester nie.  Die liedjie waarop ons besluit het se naam was “Forever like that” van Ben Rector, en dit was net my en Marli se verhouding in 3 minute opgesom.

Brian:

Die eerste dans was beslis een van die groter spannings faktore vir ons, omdat ek nie ʼn groot dans agtergrond het nie en nie regtig maklik roetines onthou nie.  Marli het wel ʼn agtergrond met dans en ons het omtrent ʼn nuwe geduld vir mekaar geleer in hierdie tyd!

Ons het so twee of drie keer per week geoefen vir drie maande voor die dag. Ons het stelselmatig baie gemaklik met die dansie en die ritme geraak.  Ek moet bieg, ek het dit selfs begin geniet.

Toe die liedjie begin speel daardie aand en die tyd aanbreek vir ons om saam te dans, het die dae en dae se oefening behoorlik deurgeskyn.  Dit was so mooi om die mense om ons te sien met “wedding sparklers” en om die oomblik te geniet, wat ook net so vinnig verby gevlieg het. Dit was iets besonders en ek koester hierdie oomblik veral. Die beste deel daarvan was om my ouma Chrissie en my ouma Beatrix se reaksies te kon gesien het … onskatbaar.

 

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: