Rudolph & Chanté se Elegante Troue

Met opgewondenheid deel ons Rudolph en Chanté se elegante troue in die Paarl met julle op Mooi Troues.  Omring deur prentjie mooi groen versorgde tuine en pragtige uitsigte oor die landerye en berge in die verte, was dit die perfekte agtergrond vir die paartjie se troudag.

Ons hou baie van die paartjie se wit en groen kleurskema by hul troue.  Die wit rose met die sagte groenigheid en baie sagte skakering van blou werk perfek saam.  Die groenigheid wat vanuit dak se dik hout balke hang bo die ligte tafels en hout stoele is ʼn wen kombinasie.  Met die ligte tussen die groenigheid en die kerse op die tafel, skep dit ʼn baie stylvolle en elegante atmosfeer.

Chanté en Rudolph se troue het ʼn formele, maar moderne gevoel tot dit.  Alles vloei so mooi saam met mekaar en laat jou sommer welkom en lekker warm voel.   Hulle troukoek was spierwit met mooi blom teksture op, wat die wit roos patroon deur trek.  Dit is ʼn baie oulike element wat só mooi werk by die troue se algehele dekor.

As jy besig is om jou troudag te beplan, besoek gerus Mooi Troues se Trougids vir professionele diensverskaffers en wees gerus gestel dat jou troudag perfek sal wees.

Dié paartjie het ʼn lieflike plaaslike wittebrood gehad na die Drakensberge en toe het hulle ʼn wildreservaat in KwaZulu-Natal besoek vir die res van hul wittebrood.  Rol af om meer te lees oor Rudolph en Chanté se pragtige troue in die Paarl en hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het op Stellenbosch ontmoet terwyl ons albei geswot het.  Ons eerste afspraak was by Java, ek dink dit was soos die standaarde eerste afspraak plek daardie tyd.  Rudolph is, en was baie romanties en ek het gereeld rose op my kar gekry toe ek in die oggende oppad klas toe was.

Ons verlowing plek was waar een van ons eerste afsprake was.  Sy ma het vir ons gesê ons moet na hierdie uitsig punt toe gaan by Chapmans Peak. “Dit is net so 400m se stap na die 360º uitsig” het sy ma nogal gesê.  Ons het toe besluit om self te gaan ondersoek, ons koop toe ‘n melktert om daar bo te eet en ʼn koeldrank elk.

Ons begin te stap op die padjie en ons stap, en stap, en stap, omdat ons nog nie die 360° uitsig sien nie.  Rudolph se koeldrank was natuurlik al lank al klaar en myne moes ons vir ‘survival’ hou.  So net na 4 km se stap is ons heel bo op die berg.  Die uitsig was natuurlik asemrowend.  Ons het daardie dag só baie oor mekaar leer ken.  Maar min het ek geweet dat so paar jaar later sou ons daardie selfde berg klim en verloof daar raak.

Op die dag van ons verlowing het Rudolph gereël dat my ouers en syne voor ons die berg uit klim en daar bo weg kruip.  Dit het als so spesiaal gemaak dat hulle deel was daarvan.  Ek het dit glad nie verwag nie.  Ek was te besig om alles af te neem omdat ek laas spyt was ek het nie my kamera saam gevat nie.  Toe Rudolph my roep na die een kant toe om deel van die uitsig in te neem toe ek weer sien is hy op een knie.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was omtrent so 2 jaar verloof.  Omdat ons self die hele troue gereël het, wou ons genoeg tyd gehad het om alles in te neem en te geniet.  Ek self neem troues af, so ek het al ʼn goeie idee gehad van hoe my troue moes lyk en wat ek wou gehad het.  My Ma en ek was die trou beplanners.  My ma ver woon en het ons nogal baie ure op die foon saam spandeer om die dag perfek te maak.  Ek dink ons langste WhatsApp oproep was so 2 ure lank.  Maar ons het dit só geniet, fotos hier-en-daar vir mekaar gestuur.  Dit is ʼn tyd wat ons altyd sal onthou!  Ek kan nie dankie genoeg sê vir my Ma en haar bydra om ons dag so spesiaal te maak nie.

Trou Begroting:


Ons het eers gaan uitvind hoeveel die groter elemente van ʼn troue gaan kos soos die venue, kos, dekor, klere, videograaf en fotograaf.  Van daar af het ons toe ʼn trou begroting opgetrek.  Ons het baie navorsing gedoen en baie kwotasies aangevra.

Almal wil hulle droom troue hê en dit is behaalbaar met enige begroting.  Troues kan baie vinnig duur raak, so dit was vir ons belangrik om kostes te spaar waar ons kon en baie goed self te doen. Daar is so baie video’s beskikbaar op die internet wat vir jou help.  Ek het byvoorbeeld al die trou skryfbehoeftes vir ons dag self ontwerp en laat druk.

Merkwaardigste Oomblikke:


Ons het elke oomblik van ons dag so geniet, van die konfetti, die paartjie fotosessie na die kos en die trou deel self.

Rudolph: Dit was toe hy in die kapel gewag het en die kar hoor aankom en toe ons deur die konfetti gestap het.

Chanté: Vir my was dit toe ons net rustig kon raak tydens die paartjie fotosessie en die sonsondergang geniet het.

Vir ons albei was ʼn baie spesiale tyd toe ons aan aan die einde van die aand, saam ons naby vriende nog tot laat toe kaalvoet gesokkie het en saam gelag het.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het saam besluite gemaak.  My ma was baie betrokke omdat ons saam die dag beplan het, dit het goed gewerk omdat ek en my ma die selfde styl en smaak het, so om besluite te maak was baie maklik.  Maar as daar iets was wat ek en Rudolph regtig wou gehad het op die dag het almal ingespring om die waar te maak.

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is baie moeilik om ʼn gunsteling diensverskaffer te kies.  Hulle almal was só besonders en het altyd die ekstra bietjie gedoen vir ons.

As ek een moet kies. Ek sal definitief vir nConcepts and Designs wat ons troudekor gedoen het aanbeveel.  Denise en haar span was ongelooflike en het presies my visie waar gemaak.

Bietjie advies om diensverskaffers te kies, gewoonlik kyk almal na die prys, maar maak seker jy neem in ag hulle persoonlikhede omdat dit is wat aan die einde van die dag die grootste verskil gaan maak vir jou dag.  Ons het so lekker saam ons diensverskaffers gewerk.

Paartjie se styl:


Rudolph het eendag vir my gevra watse trouring sal ek van hou.  Ek sê toe vir hom, hy gaan vir my lag, maar daar is ʼn ring wat teen die muur is by die “baggage claim” in Kaapstad se lughawe en ek wil daardie een hê.  Dit was toe die protea snit Browns ring.

Maar toe dit by my trourok kom het ek nie eintlik ʼn idee gehad van hoe my rok moet lyk nie.  So ek het baie verskillende rokke gaan aanpas, maar baie nee het ek uiteindelik my trourok gekry en toe ek my rok aansit toe kom daar net trane en ek sê vir my ma: “Nou voel ek soos ʼn Bruid” selfs my ma het gehuil.

Rudolph wou baie graag in ʼn donker blou pak trou, hy wou bietjie anders as vlootblou dra.  Ons het lank gesoek omdat ons baie graag wou gehad het dat die strooijonkers onderbaadjies moet dra wat by dit pas.  Ons het gelukkig reggekom by Woolworths so paar weke voor die troue.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Dit is so belangrik om die opbou na die dag toe te geniet omdat die dag so vinnig verby gaan vlieg.

Vir ʼn Bruid:

Kyk deur fotos van ander troues totdat jy iets vind wat vir jou mooi is.  Dit gaan jou beplanning vir jou dag makliker maak en vir jou verskaffers as hulle weet wat jy wil hê.  Aan die einde van die dag moet jy en jou bruidegom gelukkig wees met hoe dit lyk dit maak nie saak wat ander dink nie.  Dit is julle dag.

Vir ʼn Bruidegom:

Fokus die dag net op jouself en jou Bruid dit is al wat belangrik is.

Iets wat baie goed gewerk het op ons dag is ons het ʼn foto lys gedruk met al ons gaste se name op sodat hulle weet wanneer hulle ʼn foto met ons moes neem.

Spesiale Tradisies:


Ons het ʼn troukar gehad en my pa het my bestuur na die kapel toe en af die trougang gestap.

Something Old:

die ring wat my ouma aan my ma gegee het toe sy 16 geraak het het ek gedra op die dag.

Something New:

Rudolph het vir my ʼn string pêrels gegee as ʼn geskenk op die dag.

Something Borrowed:

Ek het my ma se armband geleen vir die dag.

Something Blue:

Daar was ʼn Blou strikkie op my kousband.

Ons het ook die ruiker in kousband tos gedoen.

Vermaak:


Ons was só bly omdat ons vir Matthew John Duncan gekry het om vir ons by die pre-drankies te sing.  Rudolph ken hom van skool dae af, so dit was baie spesiaal en ons lief sy musiek.  Ons het toe vir die res van die aand ʼn platejoggie gehad.

Venue & Dekor:


Ons het baie venues gaan besoek en ʼn top 5 gekies en toe vir my ma daardie gewys en saam besluit wat die beste sou werk vir die voorkoms van die dag en omdat ons baie gaste het wat van ver af gekom het.  Die venue moes ʼn kapel, trouvenue en verblyf gehad het met ʼn stylvolle voorkoms en atmosfeer.  Ons was só bly toe ons Diamant Estate gevind het.

Die kleur skema vir die dag was wit rose – groen en stofblou.  Ek het presies geweet hoe ek wil hê, dit moet lyk en dit het presies so uitgekom.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ons was baie gelukkig, want daar was niks wat verkeerd gegaan het nie of laat gehardloop het nie.  Almal het seker gemaak die dag was net perfek.

Met die pandemie was daar wel van ons familie en vriende wat nie ons dag kon bywoon nie maar ons weet hulle was daar saam ons op die dag.

Wittebrood:


Met die pandemie, het ons plaaslik ons wittebrood gehou.  Ons het toe besluit om Drakensberge toe te gaan waar ons lekker ontspan het.  Ons het wel die eendag Sentinel Oeak uitgeklim.  Dit was iets wat ons vir altyd sal onthou.  Ons is nie eintlik mense wat berge uitklim nie, maar ons hou daarvan om nuwe uitdagings saam te aan te pak.  Ons het ʼn heerlike tyd toe gehad by Chathedral Peak Hotel en toe is ons Nambiti Wildreservaat toe na ʼn pragtige lodge Ndaka.  Dit was ongelooflik hulle het dit so spesiaal vir ons gemaak, privaat sonsak pieknieks en als.

Eerste Dans:


Ek en Rudolph het op die liedjie ‘Piet my vrou’ deur Gian Groen die dans vloer geopen.  Ons het nogal baie liedjies geluister om te besluit.  As ons gery het het ons geluister maar ons het altyd terug gekom na Piet my vrou toe.  Ons het nie eintlik geoefen nie, ons het so een of twee keer op sy ouers se gras tydens grendeltydperk geoefen.  Ons wou eerder die dans natuurlik hou hoe ons is. Daarom het ons nie vir lesse gegaan nie.


Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: