Johan & Mercia se selfdoen troue

Johan en Mercia se troue is propvol inspirasie vir paartjies wat hul troue beplan en graag die selfdoen roete wil gaan.  Hulle is mal oor plante en het i.p.v. blomme, besluit om plante vir die tafels.  Dit is ʼn vreeslike oulike idee om te kostes te bespaar, veral as julle die plante self kweek of gaan pluk.

Die pandemie en grendeltydperk het ʼn groot effek op hul troureëlings gehad en het hul hulle gaste lys verminder.  Die tafels is ook so opgetel om sosiale afstand te beoefen.  Gedurende hierdie tye waar die wêreld homself bevind pleit ons by paartjies wat hul troue beplan om eerder minder gaste te onthaal.  Troues word gesien as “super spreader events” en word maklik gestop as die aantal infeksies styg.  Die hele trou industrie het ʼn vreeslike lelike knou gekry met troues wat op kort kennisgewing gestop word vir maande op ʼn tyd.  Maak tog ook asseblief seker dat al jul gaste maskers dra.

Johan en Mercia se selfdoen troue was gevier by Wederom Boutique Winery in Robertson.  Mercia het absoluut net lof vir Nicola en haar span wat vreeslik behulpsaam was.  Dit is baie belangrik dat die koördineerder van ʼn trouvenue verstaan wat jul behoeftes as ʼn paartjie is en op die dag van jul troue beskikbaar te wees.   Is julle besig om jul troue te beplan en opsoek na betroubare diensverskaffers, klik hier om na Mooi Troues se aanlyn trougids te besoek.

Ons hoop ons lesers geniet Johan en Mercia se selfdoen troue hieronder.  Moet asseblief nie vergeet om met almal die paartjie se selfdoen troue te deel nie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het in April 2019 ontmoet.

Dit was ʼn Vrydag middag en die spesifieke dag was ek nie lus vir drankies na werk nie.  Gelukkig het my vriendin my oortuig!  Een van Johan se vriende ken my vriendin en haar man en toe hy hoor ek is enkellopend, het hy dadelik vir Johan op die lyn gehad om oor te kom.  Dit het ook maar oortuiging gevat om hom daar te kry!  Dit was bietjie moeilik om mekaar beter te leer ken die aand omdat ons aandag so verdeel was tussen die vriende.  Om seker te maak hy sien my weer na die aand, het Johan besluit om sy sonbril aspris in my handsak te sit sonder dat ek weet, om dit daai volgende week by my te kom kry.  Gelukkig was dit nie vir hom moeilik om my nommer later daardie naweek in die hande te kry nie!

Vanaf die dag wat hy sy sonbril by my kom optel het, het ons net gekliek.  Die een is soos die ander.  Ons spot altyd en se hy is die manlike weergawe van my en ek die vroulike weergawe van hom!

Verlowing:

Ons het van die begin af baie gepraat oor trou omdat beide van ons geweet het ons is vir mekaar gemaak.  Ek het net nie geweet wanneer hy my sou vra nie! Johan het vir ons ʼn kort vakansie gereël vir daai Junie/Julie 2019 wat sou op eindig in die Garden Route.  Dit is tans waar my ouers bly, asook die plek waar ons jare lank gekamp het toe ek kind was.

Op 2 Julie 2019 vra Johan my om te trou op die strand van die kamp oord waar ons baie van ons Desember vakansies deurgebring het.  Hy het geweet van my beste herinneringe is daar gemaak.  Met die groot berg in die agtergrond maak dit dit nogal die perfekte agtergrond vir een wat op sy knie moet gaan!  Dit het ook mooi uitgewerk dat ons die oomblik met beide van ons ouers kon vier.  Johan se ouers was toevallig in die area by ʼn baie mooi hotel teen Wildernis se kus vir Johan se pa se verjaarsdag. Ons het lekker by hulle aangesluit na die tyd vir “champs” by die see.

Die Verlowing Tydperk:


Ons wou ʼn lente troue hê omdat dit daardie tyd van die jaar so mooi blom en dit mooi foto’s maak.  September 2019 was bietjie te vinnig op ons, daarom het ons besluit op 5 September 2020.  Ons het van begin tot einde aan ons eie troue beplan.

Finansiële Aspekte:


Ons het geensins geweet hoe om die begroting “ding” te nader nie. Dis hoekom dit super moeilik is om die vraag te beantwoord.

Al wat ek kan se is dat ons self vir ons troue betaal het en wou daarom so veel moontlik dinge self probeer doen.  Dit sluit in die self maak van die gaste se geskenkies, self die konfetti doen, die plante op die tafels uit iemand se tuin kry.  Die houertjies op die tafels waar in plante moet kom versamel.  Ons wou niks geld aan dit spandeer nie.  Ons was gelukkig genoeg dat my ouers my trourok betaal het.  My vriendin het ook ons troukoek as geskenk gegee. Johan se oom het ook ʼn bedrag aan ons gegee.  Die konfetti het Johan se baas se vrou weekliks uit haar roostuin uitgedroog.  Dit alles was geskenke aan ons.  Dit het ons die geleentheid gegee om geld te spandeer aan die groter dinge van ons troue.

Ons het deur die loop van die jaar elke maand een ding op ʼn slag klaar betaal, op ons lysie, uit ons salaris uit.  Groter bedrae het ons bv betaal met Johan se pak bonus.  Dit help baie om dinge so uit jou salaris af te betaal op jou lysie.  Dis definitief ons advies aan ander paartjies.  Een uiteet aand ʼn maand minder en druk daai bedrag eerder in jou troue in, bo-op die bedrag waarvoor julle begroot het.  Op die ou einde sit julle met ekstra geldjie net so voor die troue.

So ons kan nie regtig se of ons by ons “begroting” gehou het nie, maar ons het beslis gespaar deur als so ver moontlik self te probeer doen.

Aantal gaste

Ons het besluit op ʼn klein, intieme troue.  30 gaste, ons het op soveel gaste besluit en nie ʼn oomblik verander aan dit nie.  Min het ons geweet die getal sou ons red in KOVID-19!

Merkwaardigste Oomblikke:


Johan:

Ek weet dis seker wat elke bruidegom se, maar dit is regtig die waarheid!  Vir my was dit die opbou van emosies terwyl ek daar voor staan en ek besef binne minute gaan my mooie bruid afgestap kom.  Ek het van die begin af die prentjie gehad oor hoe ek dink sy gaan lyk.  My mees merkwaardigste oomblik was toe die liedjie begin speel en sy aangestap kom en daardie prentjie wat ek in my kop gehad het, heeltemal uitgeboul is!  Sy het ongelooflik gelyk.  Mooiste bruid ooit!

Mercia:

My oomblik van “wow!”, was toe ek en Johan na mekaar staan en kyk en vir ʼn tweede keer ʼn gelofte aan mekaar maak.  Ek kon voel hoe ons elke woord uit ons hart uit bedoel wat ons vir mekaar se.  Dis waar dit toe insink, hierdie man is vir die res van my lewe myne!  Wat ʼn gelukkige vrou is ek nie!

Natuurlik moet ek by Johan se oomblik aansluit en sê hoe aantreklik hy gelyk het soos ek aangestap kom!  Kersie op die koek is toe ek sien hy pik ʼn traantjie en ek presies weet wat hy dink.  Ek het die afstap liedjie geheim gehou van hom tot op die dag.  Dis, The One, van Kodaline.  Die liedjie se woorde en hy wat daar staan het net so mooi saam gewerk.

Besluitnemingsproses:


Die troue het ons alleen beplan.  Ons wou hê dit moes ʼn verrassing wees aan almal op die dag.  Ons het wel advies gevra aan ons nabye vriende.

Met die wat Johan boer en lang ure werk, het ek meer tyd as hy op hande gehad om te beplan aan die troue.  Gelukkig is ons styl en smaak bitter na aan dieselfde, so hy het met volle vertroue dit in my hande oorgelaat.  Vir die finale besluite op ons lysie, was hy altyd betrokke.

Gunsteling Diensverskaffers:


Dis so moeilik om een te kies.  Ons het drie gunstelinge wat ons moet uitsonder, wat so ʼn merkwaardige rol op ons groot dag gespeel het.

Venue:

Ons sal ons venue beslis aanbeveel aan enige paartjie.  Van dag een af was Nicola so behulpsaam en vriendelik.  Sy het naderhand soos ʼn vriendin begin voel soos ek elke dag op haar knoppie gedruk het!  Op die dag self was sy en haar span “hands-on” met alles.  Dinge het so vlot verloop en die nogal op ʼn reënerige dag!

Fotograaf:

Ons moet ook ons fotograaf uitsonder.  Karien het die mooiste oomblikke tussen my en Johan en ons familie en vriende vasgevang.  Sy laat jou so ongelooflik gemaklik voel terwyl sy jou afneem.  Haar foto’s, vir my, is so geneem dat sy die hele troue afneem en dit amper soos ʼn storie laat afspeel. Op die ou einde is dit al wat mens as paartjie oor het na die troue verby is en dis wonderlik as die fotograaf elke kosbare oomblik moontlik vasgevang het.

Platejoggie:

Ons wil ook ons platejoggie aanbeveel.  Hermie se vriendelikheid is so aansteeklik.  Ons het so paar stemnotas oor en weer gehad en dadelik kon hy my en Johan se persoonlikhede en musieksmaak opsom.  Ons het hom eenkeer daarna gaan sien en dadelik het hy vir ons gerus gestel met ons klank en musiek vir die op die aand.  Hy het die skare so goed gelees daar was nie ʼn oomblik wat die dansvloer leeg was nie.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Dinge het goed verloop op die dag, danksy Nicola en haar span.  Nie eers die onvoorspelbaarheid van die reën daardie dag het ons afgesit nie.

Wat ek wel bitter graag sou wou hê is foto’s saam my strooimeisies voor die tyd in ons japonne.  Johan se ma het vir ons die mooiste japonne gemaak.

Die grimeerkunstenaar het haar misgis met haar tyd en teen die tyd wat my grimering klaar was, kon die fotograaf ons nie meer afneem nie, omdat ek so min tyd gehad het om aan te trek.  Gelukkig is daar darem foto’s van my strooimeisies met hulle japonne aan.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


My advies aan die bruid:

Geniet die week voor jou troue.  Moenie dinge hou vir tot op die laaste minuut nie.  Gee pligte oor aan jou strooimeisies, dis hoekom hulle daar is vir jou.  Moenie soos ek, als self probeer doen nie!  Geniet net daai week, dit vlieg verby.

Die dag van die troue is waar jy regtig moet probeer om elke oomblik net te absorbeer en nie te sit en stres oor die kleiner goed nie.  Dis klein goedjies wat jou gaste nie eers van weet nie.  Glo my, as jy weer sien is die aand verby.  Dit gaan so ongelooflik gou!

Venue & Dekor:


Ek het toevallig op die venue afgekom toe ek besig was om ʼn fotograaf te soek.  Daar was ʼn video op Wederom se webblad van Nicola se troue wat hul daar gehou het.  Dit is hulle familie plaas.  Ons het verlief geraak op die skuur gevoel … Die baksteen aksent muur in die venue self en die mooi warm liggies wat uit die dak hang.  Ons wou nie ʼn “fancy sit down” ete hê nie en het daarom besluit op ʼn Nagmarkstraatstalletjie effek.  Ons het die troue rondom die gevoel beplan.  Ek en Johan is albei mal oor plante.  In en om ons huis.  Om elke hoek en draai pronk daar ʼn groen ding of twee.  Dis waar ons tafel dekor asook ons trou tema ingekom het.  Groen en tropies.

Ek is mal oor wit en goud en toevallig werk dit mooi by die emerald groen wat ons gekies het.  Ons het besluit om geen blomme op die tafels te hê nie, net groen plante.  Die plante het onsself uit Johan se baas se tuin gaan pluk. Ons het selfs Vinkel takkies in botteltjies gehad en takkies van die mooiste tropiese plant wat Johan by sy ouma ge-erf het.

Die botteltjies waar in ons plante was het ons by vriende van ons gekry.  Die geskenkies aan ons gaste, wat ons self gemaak het, het ook deel gevorm van die tafel dekor.  Met die hulp van Nicola, die koördineerder van die venue, het sy dit wat ons na haar gebring het, prentjie mooi bymekaar gebring op die dag.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


KOVID-19 het beslis ʼn effek op ons troue gehad.  Dit was reg in die middel van ons beplanning.  Vir ʼn lang ruk het ons troue se reëlings net stil gestaan.

Toe dinge bietjie verlig word het ek en Johan besluit om op 6 Junie 2020, met ons netjiese klere aan, solank ons papier werk vir ons troue af te handel en wettiglik voor ons Dominee te trou in haar kapel.  Ons kon 10 mense wees a.g.v.  sosiale afstand, so gelukkig was van ons familie ook by.  Op hierdie stadium het ons steeds volhou by ons datum in September, maar tenminste sou ons wettiglik getroud wees as ons nou wel die datum moes aanskuif na volgende jaar.  Dinge was steeds onseker tot letterlik net so paar weke voor ons troue, maar gelukkig het ons gehoor dit sal moontlik wees omdat ons so min gaste gehad het.

So indirek het ons 2 keer in een jaar getrou!

Inspirasie van Mooi Troues


Ek het net kort-kort by die selfdoen troues ingegaan vir inspirasie.  Veral as ek gesien het dis of iets wat ons kan doen by ons troue of iets soortgelyk waarmee ek alreeds besig is.  Ek het ook baie gekyk na die tipe styl van foto’s van verskillende troues.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers