Brandon & Ischke se stylvolle plaastroue

As jy opsoek is na inspirasie vir jou plaastroue dan is Brandon en Ischke se stylvolle plaastroue die perfekte voorbeeld.  Die paartjie se troue was ʼn makietie saam met familie en vriende.  Ischke en Brandon se troue is ʼn baie goeie voorbeeld hoe stylvol en mooi ʼn plaastroue kan wees.  Baie paartjies wil graag ʼn plaastroue hê, maar wil nie te informeel gaan met die dekor styl nie.

Ischke het pragtig gelyk in haar vloeiende trourok.  Ons hou baie van die detail op haar trourok se skouers en hoe dit vanaf die skouers tot half van haar rug oop is.  Dit is ʼn pragtige snit.  Brandon het net so dapper gelyk in sy donkerblou troupak en bruin skoene.  Blomme is ʼn element wat reg deur die troue gesien kan word.  Van Ischke se prentjie mooi trou ruiker met die mooiste sagte geel blomme tot Brandon se blomme patroon das.

Die rou baksteen mure van die venue en die sagte wit en geel blomme met tikseltjies groen werk perfek.  Met die rou van die onafgewerkte baksteen mure en die kontras van die sagte blomme op die tafels en die mooi skryfbehoeftes is dit ʼn wen kombinasie.

Is jy verloof?  Kry gratis trou advies op Mooi Troues.  Ons is altyd opgewonde om fantastiese.  Geniet die stylvolle plaastroue van Brandon en Ischke.  Rolf af om meer te lees oor die paartjie se troue.

 

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het deur gemeenskaplike vriende ontmoet.  Ons het op 6 April 2018 verloof geraak by Maboneng Precinct in Johannesburg. Brandon het ʼn fotosessie gereël met die geheime agenda om verloof te raak. Gedurende een van die foto’s wat geneem is, het ons albei ons rûe op mekaar gedraai.

Toe ek omdraai, het Brandon reeds op sy een knie afgegaan met die verloofring in sy hand en het my die groot vraag gevra.  Ek was stomgeslaan, want ek het dit glad nie verwag nie. Nadat Brandon dus ʼn paar keer gevra het wat my antwoord is, het ek natuurlik “ja” gesê en hy het die mooiste ring aan my vinger gesteek.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was net duskant ʼn jaar en ʼn half verloof en het die troue self beplan.

Finansiële Aspekte:


Ons begroting was R150 000 en het streng daarby gehou deur goeie marknavorsing te doen.

Ek het alle items wat aangekoop moes word met die begrote bedrag daarby op ʼn sigblad aangeteken.  Dit het ons gehelp om kop te hou van wat nog benodig word en om gedissiplineerd te bly in die begroting.  Soos ons items gekoop het, het ons die bedrag wat ons daarvoor het ook aangeteken.

Daar was gevalle waar sekere items duurder of goedkoper as die begrote bedrag was, maar uiteindelik kon ons daarin slaag om die begroting te klop.  Ons raai ander paartjies aan om dieselfde te doen en onthou die eeue oue sêding “minder-is-meer”.

Daar was 100 mense op ons troue met die bruidspaar, twee fotograwe en die platejoggie ingesluit.

Die Besluitnemingsproses:


Ons albei sou voorstelle gee en uiteindelik saam die finale besluit neem.  Gelukkig het ons min of meer dieselfde smaak wat dinge makliker gemaak het.

Hoewel ons met tye raad aan familie en vriende gevra het, het ons uiteindelik die besluit geneem waarmee ons die gelukkigste was.  Ons is nooit deur enigeen beïnvloed nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Ons het in Hazyview, Mpumalanga, gaan uitspan vir ʼn week omdat ons in Pretoria woon en nooit werklik die kans kry om hierdie wêreld te besoek nie.

Brandon het sy (hoogte-)vrees by die horings gepak en vir die eerste keer ziplining gedoen. Tot sy (en my) verbasing het hy dit gate uit geniet.

Ons het ook olifante van nader leer ken – iets wat ek nog altyd wou gedoen het.  Dit was baie vreesaanjaend!

Paartjie se styl:


Ons het nooit vir ʼn spesifieke styl gegaan nie, maar bloot net dit gekies waarvan ons hou.  En tog het alles só mooi bymekaar gepas!

Brandon het ʼn donkerblou – sy gunsteling kleur – pak gedra waarin hy gemaklik gevoel het.

Ek wou nie graag ʼn nousluitende rok dra nie, maar eerder iets wat los sit aan my onderlyf.  Die bostuk was egter die fokuspunt van my rok met die fyn detail voor en agter wat met die hand gedoen is.

Ons ringe is eenvoudig, tog elegant.

Gunsteling Diensverskaffers:


1. Faded Edges Photography (fotograaf)
2. All Star Entertainment (Platejoggie)
3. Moi Noi (skryfbehoeftes)
4. Triple G (trourok)

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Daar is niks wat ons sou wou verander nie, want alles was net perfek.  Wel – ons sou dalk net wou hê dat die tyd vir so oomblik stilstaan, want dit het net té vinnig verbygegaan.  In ʼn oogwink was alles verby.

Venue & Dekor:


Ons het by De Harte in Onderstepoort, Pretoria, gaan kyk.

Dit is die tweede venue waarna ons gaan kyk het en dit het dadelik ons oog gevang.  Dit is ʼn gemaklike venue en behalwe vir die goeie diens wat ons op die dag gekry het, het dit ook ons sak gepas.

Die kleurskema was perskekleur en duifblou.  Ons het blomme gekies wat daarby gepas het en die tafels was eenvoudig tog mooi gedek.  Ek en Brandon wou nie teveel fieterjasies as dekor hê nie.

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie gehad wat lekker musiek gemaak het.  Ons vervolg en gaste is ook op ʼn prettige manier aan die gaste voorgestel.  Die MC het iets uniek van elkeen gesê en dan sou hulle op ʼn liedjie wat by hul persoonlikheid pas by die onthaal indans. Die gaste het dit baie geniet!

Eerste Dans:


Ons het die dansbaan op aKING se “You & I” geopen.  Dit is ʼn liedjie wat met ons albei praat en aanklank vind met ons liefde vir mekaar.

Ons het nie vir danslesse gegaan nie, maar so paar draaie in ons sitkamer gevat voor die tyd.  Ons doen nie regtig die “dans ding” nie, so ons het maar net ons heupe geswaai en getrap waar ons voete die grond raak!

Merkwaardigste Oomblikke:


Die bruidspaar se eerste dans was vir Brandon baie spesiaal, want hy kon sy bruid diep in die oë kyk.  Ons het die dansbaan op aKING se “You & I” geopen.  Dit was ook vir hom ʼn spesiale oomblik om sy liefde aan sy pasgetroude vrou oor ʼn mikrofoon voor die gaste te verklaar.

Vir my was dit ʼn onbeskryflike oomblik toe ek in die kapel op die rooi tapyt by die gangetjie afstap en sien hoe my aanstaande man met soveel liefde en omgee in sy oë na my kyk.  In daardie oomblik kon die wêreld maar vergaan!  Ons fotosessie na die “I do’s” is ook iets wat ek altyd sal koester, omdat dit uiteindelik die herinneringe is wat teen die mure hang.

Klik hier vir diensverskaffers