Paul & Mari se rustieke verlowing fotosessie

Paul en Mari het na ʼn volle vier jaar se langafstand verhouding hul reis na die getroude lewe met ʼn rustieke verlowing fotosessie afgeskop.  Met die omgewing wat perfek by hul persoonlikhede gepas het, was hierdie paartjie uiters gemaklik voor die kamera.  Elk van hul foto’s spreek van hul nimmereindigende liefde vir mekaar.  Ons moes net keer of ons het al 200 van hul foto’s gedeel!  Hierdie paartjie se liefdesreis is só mooi en is genoeg om enigeen weer in liefde te laat glo.

Rol af en geniet Paul en Mari se rustieke verlowing fotosessie in die natuur.

Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?


Paul:  Beide van ons was in 2013 tweedejaar ingenieurstudente by Tuks. Alhoewel ons offisieel eers einde van 2013 ontmoet het, het ek my oog deur die loop van die jaar op Mari gehad.  Sy was (en is) vir my ʼn baie aantreklike meisie.  Dit was vir my onmoontlik om haar nie heeltyd raak te sien nie!  Ek het saam ʼn vriendin na ʼn dinee gegaan waar Mari ook was.  Ek en my vriendin het bietjie gedans en met een van ons draaie het ek vir Mari aan die kant van die dansvloer sien staan.  Sy het vir my die oulikste glimlag gegee.  Baie opgewonde om te weet dat Mari my opgemerk het, het ek haar so week later op Facebook genooi vir ʼn koffie.  Na die koffie was ek beslis verlief!  Sy het so besonderse persoonlikheid, met die mooiste morele waardes.  Boonop is sy sterk, intelligent en gegrond in geloof.

Mari: Na ons eerste ontmoeting het ons eintlik nog nooit ophou gesels nie!  Wat vir my baie na Paul toe aantrek, is dat hy baie doelgerig is, sy sin vir humor en dat hy altyd die regte ding het om te sê om my kalm te hou.  Hy het Goddelike doelwitte vir ʼn gelukkige familie waarvan ek baie hou.  Ek waardeer ook die feit dat Paul my altyd op sy hande dra al is ons hoe ver uit mekaar.

Vertel ons wie het wie gevra om te trou?


Ek (Mari) het lank gehoop en gedroom vir die dag wat Paul my sal vra om te trou; Bloot oor die feit dat ek geweet het ons is bedoel vir mekaar en ʼn 4 jaar langafstand verhouding is nie meer maklik nie.  Een langnaweek wou ek vir my ouers gaan kuier Mpumalanga, maar hulle het planne gehad wat my nie ingesluit het nie. Ek het vir Paul vriendelik verplig om my besig te hou en dit is toe hy die geleentheid aangegryp het.  Hy het my verras met ʼn lekker naweek net buite Dullstroom.  Op 15 Desember 2018 het hy die groot vraag gevra.  Ek kon toe nie anders as om net te sê ‘uiteindelik’ nie!

Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?


Baie van die inspirasie sit agter ons liefde vir die natuur.  Ons is gaande oor die buitelewe in ʼn baie rustige manier.  Die sessie het absoluut gegaan oor ons, in die buitelug.  Ons rustieke verlowing fotosessie het ons persoonlikhede perfek uitgebeeld.   Ons het ook besef dat ons in die winter gaan trou en as ons ʼn paar somer foto’s wou hê, moet ons gebruik maak van die geleentheid vroeg in die jaar!

Wat het jul laat besluit oor die verlowing fotosessie?


Dit was baie belangrik vir ons om gemaklik te voor die kamera te raak, asook gemaklik met ons fotograwe.  Ons kon dus die fotograwe leer ken én die mooiste foto’s in die proses kry.  Ons was ook gelukkig om een van die foto’s vir ons trou-uitnodiging te kon gebruik.  Hierdie foto’s gaan beslis gebruik word om eendag ons huis te versier!

Vertel ons meer wat het jul ingedagte vir jul droom troue?


Ons sal graag ʼn lekker vriende en familie kuier wil hê waar almal so welkom voel soos wat hulle is!  Ons wil rustieke, oudtydse elemente met ʼn vars moderne gevoel inbring om die atmosfeer net reg te stel.   Die musiek moet só wees dat oud en jonk lekker kan saam kuier en dans tot laat in die aand!  Vir ons gaan dit meestal oor die samekoms en dat almal net gemaklik is en die dag geniet!  Natuurlik kan ek ook nie wag om Paul voor in die kerk te sien staan nie!

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: