‘n Naweek by Belmond Mount Nelson Hotel

Die Belmond Mount Nelson Hotel is ʼn instelling in Kaapstad en een van die plekke wat jy moet besoek as jy in die Kaap kuier of as jy ʼn inwoner hier is.  Die hotel is ʼn paradys in die hartjie van die Moederstad.  Dit is geleë in die Gardens woonbuurt reg oorkant die Kaapstad se tuine.  Jy sal dit nie mis ry nie!  Die statige hoë wit mure en ingang met hoë palmbome van Palm Rylaan na die ontvangs van die Belmond Mount Nelson Hotel is beslis iets wat jy minstens eenkeer in jou leeftyd moet ervaar.

Die vyfster hotel is definitief al vyf sy sterre werd!  Dit merk al die boksies op ons lys af; Vanaf vriendelike dienslewering, professionele werknemers, luukse afwerkings in die publieke areas asook die kamers en hulle kos is van die hoogste gehalte.

Mount Nelson se geskiedenis


Ons was genooi vir ʼn naweek wegbreek by die Belmond Mount Nelson Hotel;  Kaapstad se luukse en wêreld bekende Pienk hotel.  Die hotel is geopen op 6 Maart 1899, wat die Belmond Mount Nelson een van die oudste hotelle in Suid-Afrika maak.  Die hotel was ook die eerste in Suid-Afrika met lopende koue en warm water.  Dit het deur die jare die plek geword vir bekendes om te kom en ontspan.  Van die bekendes sluit in Winston Churchill, John Lennon,  Nelson Mandela en vele ander. 

Ons wegbreek na die ikoniese hotel:


As jy ʼn vriendelike verwelkoming kry by die inry slag by die sekuriteit, voel jy sommer onmiddellik welkom.  Dit was presies hoe dit by die Belmond Mount Nelson Hotel was.  Die oomblik wat jy in ry na die ontvangs deur die hotel se bekende Palm Rylaan, verdwyn die stad se gejaag agter jou en jy ry letterlik na ʼn paradys van ontspanning en ʼn naweek van luuksheid.

Ons het in ʼn een-slaapkamer Deluxe Suite gebly vir die naweek.  Ons was baie verras oor die grootte van die suite en ook die uitleg daarvan.  Jy kry min hotel suites groot genoeg vir paartjies wat hou van ekstra spasie en luuksheid.

Moet nie eens begin met dié badkamer nie, dit is uit die boonste rakke en prentjie mooi. Die marmer gee dit ʼn baie luukse gevoel en weereens die grootte van die badkamer is fantasties.  Daar is soveel aandag in die klein dingetjies soos byvoorbeeld die grond liggies wat vanaf die slaapkamer gaan tot in die badkamer langs die stort, indien jy in die nag wakker word en die badkamer moet besoek sonder om jou metgesel wakker te maak.  Die suite het ʼn groot ingangsportaal met ʼn gaste toilet.

Die leef area, spog met ʼn groot sitkamer met ʼn televisie, lessenaar, boekrak en koffie, tee en drankie stasie en ʼn vier sitplek eetkamer tafel.  Ons suite het die mooiste uitsigte gehad oor Seinheuwel en ook van die ikoniese pienk gebou van die Belmond Mount Nelson Hotel.

Ontbyt


Ontbyt word bedien in die Oasis Bistro vanaf 6:30 vm tot 11:00 vm.  Daar aar is ʼn groot verskeidenheid vars vrugte, oesters, koue vleisie insluitende biltong en droë wors om van te kies.  Dit sluit ook ‘n lieflike yskoue vonkelwyn gratis in.

Tuine


Die Belmond Mount Nelson het die grasieuse groot tuine en bome.  Dit is perfek om ʼn middag stappie te vat of net langs die swembad te lê en die prentjie mooi uitsig van hulle tuine te geniet.  As jy hou van die natuurlewe dan is dit die perfekte plek vir jou.

Swembaddens


Die hotel het twee swembaddens op die eiendom.  Een is oop is vir alle gaste en ‘n tweede swembad geleë by die tuin-huisies wat slegs vir volwassenes beskikbaar is vir n meer private en ontspanne tyd.  Albei swembaddens is effens verhit tot ʼn gemaklike swem temperatuur.

Mount Nelson se kroeg en restaurant


Die Planet Bar is modern, maar het nogsteeds die hotel se klassieke gevoel.  Dit is die perfekte plek vir skemerkelkies voor aandete. Die kroeg area se dekor is ontwerp vir absolute gemak en ontspanning.   Daar is ook ligte etes beskikbaar by die Planet Bar, so dit is nie net ʼn kroeg nie, maar ook ʼn restaurant as jy opsoek is na ʼn minder formele eetplek.

Aandete by die Lord Nelson Restaurant en onder bestuur van Sjef Rudi Liebenberg is niks minder as ʼn ondervinding nie.  Geleë in die hotel se oorspronklike skryfkamer.  Die eikebome panele is die oorspronklike muurpanele van die Admiraal Nelson.  Die restaurant is oop vanaf 18:30 nm tot 22:30 nm en is gesluit op Sondae.

Mount Nelson Hotel se middagtee


ʼn Besoek aan die ikoniese Hotel is nie voldoende sonder die bekende middagtee nie.  Ons het self ʼn heerlike middagtee met baie soet en southappies geniet.  Dit was so ongelooflik dat ons aandete moes verby hou.  Ons besoek baie vyfster en luukse hotelle en kan sê dat die Belmond Mount Nelson Hotel se middagtee beslis een van die top in Suid-Afrika is.  Hulle middagtee het twee sessies, vanaf 13:00 nm tot 15:00 nm en dan weer vanaf 15:30 nm tot 17:30 nm.

Ons het in die Herfs middag son gesit onder die bome op die stoep.  Hulle het redelik baie soet opsies by die middagtee insluitende melktert, kaaskoek, skuimpies en Turkse lekkers.  Jy kan self jou tee kies om saam met die soet en sout te gaan of jy kan jou professionele kelner/in vra om iets aan te beveel.  Dit is presies wat ons gedoen het en ons was glad nie teleurgesteld met wat ons gekry het nie.

Sjef-se-tafel


As jy opsoek is na iets bietjie meer avontuurlustig, dan moet jy definitief ʼn tafel boek by hulle sjef-se-tafel.  Hulle sjef-se-tafel is bietjie anders as waaraan ons gewoond is.  Om by die sjef-se-tafel te kom, moet jy deur die werkende kombuis gaan waar sjefs besig is om kos voor te berei.  Dit gee jou ʼn agter die skerms gevoel van wat in ʼn hotel se kombuis gebeur.  Die sjefs sal ook met jou kom gesels gedurende jou aandete.  Jy sal ʼn goeie in diepte inleiding kry oor presies hoe dinge werk in die Belmond Mount Nelson Hotel se kombuis.

Librisa Spa


Laaste maar nie die minste nie, hulle bekende Librisa Spa is ʼn oase waar jy kan ontspan en vergeet van enige stres wat jy mag hê.  Die spa het ʼn Stoombad en Finse sauna, agt groot behandel-kamers insluitend twee paartjies behandel-kamers en ‘n spat-swembad.  Hulle het ook ʼn konservatorium met die lieflikste kruie tee seleksie.

Bespreek jou wegbreek


Vir meer inligting oor die Belmond Mount Nelson, klik hier om hulle webtuiste te besoek.  Volg hulle op sosiale media: Facebook, Instagram en Twitter.  As jy nie elektronies wil kontak maak nie, maar eerder met iemand wil gesels, kontak die hotel by 021 483 1000.

Artikel Krediet: