Regardt & Elmé se woud troue

Regardt en Elmé se feëverhaal troue het afgespeel in die woud en kon nie meer perfek vir die paartjie wees nie.  Die twee het ontmoet deur ‘n blinde afspraak wat gereël is deur die bruidegom se skoonsus en boetie – hulle sê mos familie weet die beste.

Regardt en Elmé se troudag wat baseer is op ‘n boheemse-woud tema het ook moderne en romantiese elemente bevat wat die bruid noukeurig gekies het om saam te sit sodat die tema tydloos en universeel sou wees met al haar gunsteling dinge.  Die natuur het ook lieflik saam gespeel op hul groot dag en die fotograaf kon selfs ‘n takbokkie skoot kry tydens die seremonie.

Die seremonie area was eenvoudig gehou met baie hout elemente om aan te sluit by die omgewing wat meestal hoë bome was en die groenigheid daaraan.  Elmé se blomme-krans haar-versiering het ook pragtig aangesluit by haar grimering en selfs die oorhoofse tema van die troue.

Hierdie is beslis die troue om dop te hou as jy natuurlike elemente op ‘n vroulike manier wil gebruik tesame met helder spatsels kleur.  ‘n Pragtroue beslis!

Wat was jul troudatum en hoe oud was julle op dié dag?


18 November 2017 en Regardt 33 & Elmé 28

Hoe het julle mekaar ontmoet?


‘n Onverwagse ontmoeting by ‘n krieket wedstryd in 2014 was die begin.  Jy kon dit seker ‘n blinde afspraak noem.  My beste vriendin en hoof-strooimeisie, Corné & haar man Charl (Regardt se boetie), het ‘n groot rol hierin gespeel.  Regardt het natuurlik alles hiervan geweet, maar ek was salig onbewus van die reëling. Na talle laat aand kuiers, reënerige dae en koffie, het die grootste avontuur begin – Ons avontuur!

Hoe het julle verloof geraak?


Ons verlowing kan beskryf word as ‘n heerlike opwindende verrassing. Regardt het stilletjies ‘n naweek in November 2016 ‘n bootreis beplan op die MSC Sinfonia. Die weer oor daardie naweek wou ongelukkig nie saamspeel nie en ons het ‘n vreeslike onstuimige see getref! So tussen deur die lag en senuwees, het Regardt baie groter planne gehad vir hierdie naweek… Sondag laataand net voor ons sou terugkeer na die hawe, het die wolke oopgetrek en daar en dan het hy besluit om die groot vraag te vra! Op die boonste dek met net die maan en see as getuies het hy op sy knie gegaan…en die res is geskiedenis!

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Ons albei hou van aardse eenvoud en daarom het ons besluit op ‘n boheemse-woud tema wat ook perfek by die venue gepas het met die groen oop velde en ‘n kapel in ‘n pragtige bos. Ons dekor het meestal bestaan uit groen loof en los eksotiese blomme in skakerings van pienk. Ek wou ook graag ‘n moderne element inbring deur die gebruik van geometriese vorms in goud en goue kandelare en eetgerei. Die lang tafels van hout het by die aardse tema bygedra. Baie kerse is ook gebruik vir ‘n romantiese atmosfeer.

Hoe het julle die venue gekies?


Met die eerste besoek aan The Silver Sixpence het ons dadelik geweet hierdie is ons droom trou venue.  Ek & Regardt was amper moedeloos gesoek, toe ons een naweek besluit het om uit te ry na Dullstroom.  Met die eerste oogopslag was ons dadelik verlief.  Die natuurskoon, die rustigheid en die mooiste bos-kapel was net ‘n paar van die elemente wat vir ons uitgestaan het.  ‘n Bonus was dat ons ‘n hele naweek hier saam met geliefdes kon spandeer.

Omdat ons familie self uit die bedryf kom, was dit vir ons baie belangrik dat ons gaste lekker & gemaklik kuier en ook lekker eet!  By Silver Sixpence is dit definitief gewaarborg.

Vertel ons meer van jul ringe


Ek wou graag ‘n eenvoudige, tog stylvolle ring gehad het en met die idee, is die ring ontwerp deur Shani d’ Jewellery Design.  Regardt se ring is ontwerp deur Beaudell Jewellery.  Gemaak van titanium met koper insetsel (gemaklik om te dra)

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Die liefde wat ons ervaar het op ons troudag was onbeskryflik.  Soveel kosbare oomblikke wat ons kon deel met mekaar en ons geliefde vriende en familie.  Maar een van dié baie kosbare oomblikke wat uitgestaan het, was net voor ons ons troubeloftes aan mekaar afgelê het, het ‘n bosbokkie al rustig by ons gaste aangesluit en aan my rok kom knibbel…Die son het op daardie oomblik deur die bome op hom geval.

So ‘n spesiale oomblik en seën van Bo. Dit was soos ‘n sprokie!

Vertel ons meer oor die fotograaf.


Ons fotograwe was fantasties!  Ons het Janco & Carlien van JCclick deur vriende van ons ontmoet toe ons net begin uitgaan het.  Met die groot vraag, het ons dadelik en sonder twyfel geweet dat ons hulle graag sal wil gebruik. Janco & Carlien het ‘n ongelooflike talent, maar hul menswees is wat soveel meer waarde heg aan wat hulle doen.  Hulle laat jou dadelik op jou gemak voel en maak alles soveel meer pret!

Wat sou julle verander indien moontlik?


Alles was soos ‘n sprokie – meer as waarvoor ons kon droom!  Maar alles gaan so vinnig verby – ons sou graag net nog ‘n bietjie meer tyd saam ons familie en vriende wou spandeer en ‘n tydjie om die ongelooflike kos van Bevvi, die sjef te waardeer.  Ongelukkig kry ‘n bruidspaar nie kans om veel te eet nie!

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Daar is soveel elemente waaroor jy glad nie beheer het op die groot dag nie – soveel goedjies waaraan jy na die tyd gaan dink “moes ons dit nie eerder so gedoen het nie?”

Maar dit is goedjies wat niemand opmerk nie. Vergeet eerder daarvan en leef in elke oomblik.  Maak seker jy en jou bruidegom neem ‘n tydjie vir julself en absorbeer alles.  Dit is julle dag!

Belangrikste wenk: belê in ‘n goeie fotograaf. Die foto’s gaan vir altyd jul kosbaarste herinnering wees aan jul groot dag!

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons het ‘n begroting van R180 000 gehad vir ‘n totaal van 120 gaste.  Ons is baie bevoorreg om ongelooflike vriende en familie in die bedryf te ken wat ons ongelooflik baie gehelp het, van die beplanning tot die uitvoering.  Dit het sodoende baie gehelp om binne begroting te bly.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Saam het ons beplan aan ons wittebrood en besluit op Mauritius.  Eers het ons vir 2 dae,na die troue spandeer in Dullstroom waar ons kon uitrus voor ons vertrek.  Vir twee weke het ons die voorreg gehad om  in Mauritius te spandeer waar ons 2 verskillende dele van die eiland kon beleef.  Ons is daagliks bederf met etes, skemerkelkies, vonkelwyn en watersporte.

‘n Ware paradys!

Diensverskaffers: