Berrangé & Suzelle se Swart & Wit troue in Dullstroom

Met opgewondenheid deel ons Berrangé en Suzelle se swart en wit troue in Dullstroom met jou.  Hierdie paartjie se elegante plaastroue in Mpumalanga is definitief een waar jy baie trou inspirasie sal vind.  Suzelle en Berrangé het getrou by die pragtige trou venue en verblyf, @Boshoek.  Dié moderne mooi trou venue is omring deur skouspelagtige berge en majestueuse bome.  Dit is die perfekte keuse vir paartjies wat opsoek is na ʼn troue venue in Mpumalanga.  Vir nog oulike diensverskaffers in Mpumalanga, besoek ons Trougids.

Ons is gaande oor elke element van die paartjie se troue.  Suzelle het asemrowend gelyk in haar trourok met strik en lang sluier, en Berrangé deftig in sy swart pak en die mooi boutonnière.  Die swart en wit tema van hul troudag is stylvol en klassiek,  dit sal vir altyd in die mode wees.  Hul trou dekor is so mooi.  Met die swart blompotte, kerse en servette op die rou hout tafels wat so ʼn mooi kontras skep.  Die wit blomme gee daai tikseltjies helderheid en die  grys en brons elemente skep daai interessante element tot die trou dekor.

Berrangé en Suzelle se troue was definitief ʼn gesellige kuier saam met familie en vriende.  Rol af om meer te lees oor die paartjie se liefdesreis en prentjie mooi troudag.

I

Paartjie se Liefdesreis:


Die minder tradisionele manier van vlerksleep is vervang met die internet metode.  Na weke van gesels oor whatsapp en ander sosiale media het Berrangé nogsteeds nie Suzelle uitgeneem nie. Soos die noodlot dit wil hê, is altwee toevallig, op ʼn Saterdagaand by dieselfde mark.  Soveel selfvertroue soos elkeen het, so skaam was hulle dié aand, en is daar net draaie om mekaar geloop.

Kan dit so moeilik wees om met jou droomvrou te gaan praat?… Na die groot teleurstelling by die mark, as gevolg van mekaar heeltyd “misloop”, was dit tyd vir Berrangé om aksie te neem.  Dadelik is plannetjies gemaak en hy vra vir Suzelle om saam met hom die Sondag ʼn drankie te gaan geniet.  Soos wat dit gaan as mens lekker kuier, word een drankie twee en sommer ook ʼn Pizza daarby.  Altwee onthou die dag wel as een van die warmste dae wat hulle al beleef het by ʼn buite restaurant, maar dalk was dit net die senuwees … Die perfekte ontmoeting in hul eie oë.

Kovid het die JA-woord vrae so bietjie moeiliker gemaak, maar op 23 Januarie 2021 het Berrangé die JA-woord gevra.  Ons is weg vir die naweek na die asemrowende Madikwe natuurreservaat en op ʼn koppie waar mens uitkyk tot omtrent in Botswana het hy die JA-woord gevra.  Terwyl hy op sy knieg gegaan het, het hy ook die sjampanje glase omgeskop.  Dit was nogsteeds wel perfek vir ons …

Die Verlowing Tydperk:


Ons was verloof van 23 Januarie tot ons getrou het die 28ste Augustus.  As ons dit weer kan oordoen sal ons nooit so lank verloof wees nie.  Ons het gevoel ons het die troue 4keer gereël.  Dit was wel heeltyd deurmekaar gegooi met die inperking wetgewing, maar op die ou einde was ons baie gelukkig en kon ons troue voortgaan sonder teveel Kovid ontwrigting.

Suzelle het alles gereël van trou dekor, blomme ens. en dit was haar kreatiwiteit en oog vir detail wat so mooi oorgedra is in die eindproduk.  Berrangé is nogal lief vir admin en reël en organiseer graag.  Hy het al die minder lekker goed van trou reël hanteer soos trou begroting, verblyf, gaste in kennis houe en daai dinge.

Trou Begroting:


Ons het begroot vir R180,000 en het letterlik ʼn R1,000 onder begroting ingekom.  Ons was 95 gaste op die einde.  Veral ouer gaste het nie bygewoon oor Kovid nie, aanvanklik het ons gereken ons gaan so 120 gaste wees.

Advies vir paartjies sal as volg wees:

Elkeen paartjies verskil en trou reël is ʼn gulde geleentheid om te leer hoe om mekaar in verskillende situasies te hanteer.  Trou reël gaan klomp verskillende emosies aanwakker en elke persoon reageer verskillend hierop.  Op die ou einde is dit die belangrikste om te onthou dat dit julle dag is, niemand anders sin nie.  Almal wat mens lief het en deel van die dag gaan hê het dalk ander opinies oor goed, maar op die ou einde is dit julle storie en julle droom.  Dit kos immers baie geld!

Merkwaardigste Oomblikke:


Berrangé:

Die merkwaardigste oomblik vir my was toe Suzelle in die trougang afgestap kom.  Maande van stres oor dinge buite ons beheer was uiteindelik verby.  Die mense vir wie ons die liefste is was daar om ons dag saam ons te deel, en alles wat verkeerd kon loop het nie.  Daardie gevoel van verligting was ongelooflik!

Suzelle:

Om langs Berrangé te gestaan het in die kapel.  Dit was ʼn verskriklike heilige dag met die @Boshoek kapel wat uitkyk oor ʼn vallei.  Daar was donderweer in die agtergrond met blitse oor die natuur en dit alles terwyl ek langs die man van my drome gestaan het.  Dit was vir my baie spesiaal.

Dit was vir ons ook baie spesiaal om na maande van Kovid al ons familie en vriende saam te kon hê.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het elkeen ons eie area waar ons in beheer was.  Ons het wel alles bespreek, maar in terme van dekor en die fynere dingetjies het Suzelle die finale sê gehad.  Sy is baie meer klassiek as ek en ek het net ondersteun.

Familie was redelik betrokke met insette, maar op die ou einde was dit ons besluit.  Die is redelik moeilik om te hanteer, maar dink ons het die reg gekry sonder om op teveel tone te trap.  Ons het maar baie getart en gesê, as jy dit wil beplan moet jy dit betaal, sommer so tong in die kies.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Aan die einde van die seremonie het dit so liggies begin reën, maar tog nog nie genoeg om die buite canapés te skuif nie.  Net toe die gaste by canapés aankom, het dit baie harder begin reën.  Al was dit nie so perfek op daai oomblik nie, was die canapés in ʼn japtrap binne toe geskuif en ons het sommer vroeg al die wyne laat oopmaak.  Wynand en sy span by @Boshoek het oor gevat en ek en Suzelle was nie eers bewus van alles nie.

Alles was vir ons perfek op die ou einde.

Paartjie se styl:


Klassiek/Elegant.

Die idee met die trourok was om elegant, tog iets ander as die normaal te doen, dus die strik en lang sluier wat bygevoeg is.  Dit was ook belangrik om baie gemaklik in die rok te wees maar tog die elegante styl na vore te bring.  Daar was ook ‘leopard print’ in Suzelle se skoene om so bietjie pret en avontuur in te bring, juwele was pêrels wat ook die elegant en tydloos na vore bring.

Troupak was ook om baie elegant te wees maar nie oorbodig nie.  Die swart was elegant maar tog gemaklik ook.

Berrangé het ʼn swart Tungsten touring wat hy voel baie mooi by sy hande en styl pas.  Suzelle het ʼn pragtige klasieke goue trouring.  Suzelle is baie lief vir goud en wou net die enkel diamant gehad het wat tydloos vertoon.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Suzelle aan bruide:

Geniet dit net!  Probeer om nie oor die klein goedjies te stres nie, al is dit baie moeilik.  Mens moet fokus om rêrig die dag te geniet en daar gaan altyd iets fout gaan, maar dit maak nie saak nie.  Jy trou met die man van jou drome

Berrangé:

Ondersteun jou vrou!  Al is alles wat sy doen of sê glad nie nie soos jy haar ken nie.  Wees net lief vir haar en ondersteun haar.  Daar is verskriklike druk op bruide, hulle moet voldoen aan soveel mense se verwagtinge. D it is ons mans se grootste taak net om haar geliefd en ondersteun te laat voel en dat julle ʼn span is.

Wittebrood:


Ons wou baie graag na ʼn tropiese eiland toe gaan, maar ongelukkig was dit nie moontlik in die Kovid tyd nie.  Toe besluit ons om ons eie land te gaan verken.

Ons het in die Lydenburg omgewing getrou en toe so paar dae in Dullstroom area gebly, net lekker rustig en afgesny van die wêreld.  Daarna is ons af Kaap toe en het in berg hutte met hout gestookte Jacuzzi in die Botrivier area gaan bly by die bekende Eco-Cabins.

Ons het ʼn nag in Lanzerac geslaap en werklik soos koninklikes gevoel.  Dit was baie snaaks toe Berrangé met sy eie kussing daar opdaag en die portier tergend aan ons ʼn papiertjie gee met ʼn keuse van 10verskillende tipes kussings.

Ons het ons wittebrood in die Cederberge area afgesluit en was na die Kagga Kamma natuur reservaat.  Een van ons aande het ons buite onder die sterre geslaap, dit was asemrowend gewees, maar ons het ook geleer, dalk buite slaap in die Cederberge vir die somer laat.

Venue & Dekor:


Baie inspirasie vir die trou dekor is van die blomme gekry,  maar tog ook deur die trou venue.  Wou baie graag wit blomme gehad het en veral met die Anemone se swart en wit, dit het die hele troue se styl en kleur inspireer.  Alles het perfek bymekaar gepas.  Die blomme is baie tydloos en elegant, maar tog baie modern.  In die kapel wou ons dit baie eenvoudig hou, want die uitsig was die trou dekor.  In die onthaal saal was ons inspireer deur groot beton mure en het die gebreek met Anemoon lopers wat ongelooflik mooi gelyk het en aangesluit het by die res van die dekor.

Ons het tog nie minimalisties met dekor gegaan nie, maar tog eenvoudig.  Alles het inmekaar ingevloei, blomme dekor lopers alles.

Ons het lank vir ʼn trou venue gesoek.  Ek en Berrangé bly in Pretoria en alles om Pretoria was só oor kommersieel.  Ons wou tog ʼn naweek tipe troue gehad het, maar nogsteeds by ʼn klasieke venue.  Toe het ons @Boshoek gesien op vriende se Instagram storie wat daar was.  Ons het gaan kyk en was dadelik verlief op die hele trou venue maar veral die kapel.  Suzelle het dadelik genoem dat mens sommer die heiligheid kan voel in die kapel.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons was verskriklik gelukkig met ons troufotograaf en videograaf.  Martinet Blomeris het ons troufoto’s geneem.  Sy is ʼn baie opkomende fotograaf en haar passie was aansteeklik.  Sy het ons só op ons gemak laat voel van die verlowingsfotos tot op die einde van die troue.  Selfs ná die troue het sy só moeite gedoen om ons op hoogte te hou van waar ons in die foto proses is.

Ons het by @Boshoek getrou en kan waarlik sê, hulle het uit hul pad uit gegaan om ons dag baie spesiaal te maak.  Wynand het ‘above and beyond’ gegaan om alles perfek te maak vir ons as bruidspaar.

Eerste Dans:


Ons het ʼn eerste dans gehad en met Joshua na die Reën se “Vir Altyd” het ons die dansbaan oop gemaak.  Ons het menigte aande gedans op ons stoep terwyl ons kos gemaak het en so geoefen. Albei van ons baie lief vir dans.  Suzelle meer los dans en Berrangé lief vir vasdans, maar daar is genoeg ritme in dié twee dat danslesse nie nodig was nie.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: