Wittebrood idees – Istanbul & Turkye

Instabul Turkye_0001


Ons deel graag gestileerde fotosessies op Mooi Troues as inspirasie vir paartjies wat hul troue beplan.  Vandag deel ons inspirasie met ‘n twist.

Steph en Elaine het hierdie inspirasie vir ‘n Wittebrood beskikbaar gestel vir publikasie.  Dit hoef nie noodwendig net vir ‘n  wittebrood te wees nie.  Paartjies wat reeds in ‘n ernstige verhouding is kan dit ook geniet.

Vandag deel ons die inspirasie om Instabul en Turkye te gaan besoek vir ‘n Wittebrood of as jy die vrou in jou lewe wil bederf.

Geniet die fotos en wenke wat die paartjie onder met ons deel.

 “Die vliegtuig maak ‘n laaste draai oor die Turkse stad voor hy op die aanloopbaan in Istanbul neerstryk. Steph se afwagting is tasbaar en ook in my hart het dit nes geskrop al is die nie my eerste besoek nie.”


Instabul Turkye_0002


Hoekom juis Istanbul?

Dit is ‘n Stad ryk aan kultuur en avontuur waar mens oor en oor weer verlief sal raak. Die Ou Stad van Istanbul hou’ n unieke betowering in met sy vele moskees, straatjies en draaitjies waar die wonderlikste goed skuil.

Verken Istanbul op voet of deur van hulle publieke vervoer sisteem (trems, treine, bote en taxis) gebruik te maak.  Jy sal hare op jou tande moet hê om self te bestuur!

Onder die Galata brug kruip’ n wonderwêreld weg van seekos restaurante en Turkse straatkos terwyl vissermanne se lyne van bo-op die brug die prentjie verfraai en oor jou hang.


Instabul Turkye_0003 Instabul Turkye_0004


Wat is daar om te doen vir ‘n romanietse paartjie?

Geniet ontbyt saam met jou geliefde in Europa voor julle oor die Bosporus gaan vir ‘n raki (anys gegeurde drankie) of koffietjie in Asië. Verloor julself in die koffie-kamers waar die tyd werklik stilstaan en watertand soetgebak jou verlei .

Wenk:  Oorkant Serkeci treinstasie sit die Hafiz Mustafa 1864 winkeltjie waar ‘n sterk Turkse koffie en verruklike baklava op jou wag!

Vier julle “eerste week herdenking” op ‘n veerboot en kyk hoe die stad se liggies wakker word. Drink al die klanke, geure en verassings van Istanbul in en laat sy misterie julle omvou.

Wenk: Die veerboot hawe is in Karaköy en julle moet liefs ‘n baadjie saamvat of styf teen mekaar sit teen die koel aandluggie op die bote.


Instabul Turkye_0005 Instabul Turkye_0006


Watter aandenking aan ons wittebrood kan ons saambring huis toe?

Fyn onderhandeling word in die ou basaars verwag en ‘n egte Turkse tapyt is definitief’ n belegging en ‘n erfstuk  en maak ‘n wonderlike, bruikbare aandenking.


Instabul Turkye_0007 Instabul Turkye_0008


Wat moet jul sien in Istanbul?

Die Sultan Ahmet- Moskee ( of Blou Moskee vanweë sy binneversiering) is ‘n landmerk en waarlik uniek. Geniet ‘n glasie vars granaat sap by een van die vele verkopers op die plein buite die moskee.

Besoek ook die Grand Basaar met al sy derduisende soeweniers van lampe, tapyte, juwele en oudhede.  Daar is min plekke in die wêreld wat jou so kan terugvoer na vervloë tye.

Die Spesery basaar betower al die sintuie en dis ‘n moet om sommer ‘n bietjie straat-kos daar te proe.  Falafel,Turkse kebabs,simit( broodjies) en veel meer is op die spyskaart.

Laastens, klim op ‘n trem en spring by enige stop wat jou hart vinniger laat klop af.  Eminönü trem-stop is aan die Bosporus en naby die Spesery basaar.


Instabul Turkye_0009 Instabul Turkye_0010


Wat bied die moderne Istanbul?

Blaaskansie nodig van die ander toeriste en die bedrywigheid van die Ou Stad?

Vat ‘n trem na  İstiklal Caddesi, Istanbul se hoof inkopie straat wat met sy internasionale handelsmerke kan kers vashou by die beste inkopie plekke in in die wêreld!


Instabul Turkye_0011 Instabul Turkye_0012 Instabul Turkye_0013 Instabul Turkye_0014


Advies wat aan paartjies gegee kan word wat die inspirasie wil volg?

Vir die waaghalsige manne… ontvoer haar na die stad van drome vir ‘n impromptu verlowing op die dak van ‘n restaurante in die Ou Stad. (Visums vir Suid- Afrikaners is maklik beskikbaar aanlyn en word na jou ge-epos so jy het net haar paspoort besonderhede nodig!)

‘n Verassings wittebrood kan ook maklik gereël word en Turkish Airlines bied daagliks direkte vlugte na Istanbul aan.

Turkye waarborg een ding ; die tyd vlieg altyd te gou verby.


Instabul Turkye_0015 Instabul Turkye_0016 Instabul Turkye_0017 Instabul Turkye_0018 Instabul Turkye_0019 Instabul Turkye_0020 Instabul Turkye_0021

Artikel verskaf deur: