Advies: Ma van die bruid se betrokkenheid

Vandag fokus ons op die moeder van die bruid en gee ʼn bietjie advies om in gedagte te hou tydens die beplanning van die troue. Elke moeder wil vir haar klein prinses net die beste gee en doen. Dit is ook die rede waarom sy dan juis tydens die beplanning van die troue so entoesiasties kan raak en haar kind se keuses onbewustelik oordonder.  Om jou dogter se troue saam met haar te beplan kan die wonderlikste ervaring wees en julle net nog nader aan mekaar bring.  Moet nie dat klein jakkalsies die wingerd of die blomme op die tafels opvreet nog voor dit bestel is nie.

” Dis net ʼn grappie.” Jy as die bruid se moeder ken haar die beste.  Wees sensitief vir haar behoeftes en voorkeure al stem jy dalk nie altyd 100% daarmee saam nie. Sy is nie meer die klein dogtertjie wat jy groot gemaak het nie. Sy is nou ʼn vrou in eie reg wat haar standpunt wil maak en unieke stempel wil afdruk op haar groot dag. Wees verseker dat sy bewus is hoeveel jy insit om haar sprokiesdag volmaak te maak. Haar senuwees gaan knaag en sy kan soms gespanne en kortaf voorkom. Vir seker haar dat jy daar is vir haar en enige iets sal doen om haar te help om die dag presies te maak soos wat sy dit wil hê.

Melani-&-Christian-se-troue-soos-gesien-op-Mooi-Troues_121

Dit is jou dogter se oomblik om in die kollig te wees:

Enige dogtertjie droom oor haar troudag en as dit gebeur draai alles om haar en speel sy die hoofrol.  Doen dit wat natuurlik vir enige moeder kom. Stel jou kind eerste en laat die kollig op haar val. Komplimenteer haar en vra haar of sy gelukkig is. Vertel haar hoe trots jy op haar is en hoe bevoorreg jy is om haar moeder te wees. Sy gaan by almal hoor hoe mooi sy lyk maar jy sien haar nog voor haar bruidegom en almal by die seremonie. Wees haar stille krag voor die groot oomblik.


Moet nie argumenteer oor onbenullighede nie:

Ons het al te veel gehoor van Ma en dogters wat met mekaar argumenteer of skoonouers wat oor nietighede tydens die trou beplanning ontevrede is. Stop dit sommer onmiddellik. Dit is onnodig om aan te gaan oor ‘n troue wat nie jou eie is nie. Dit is die paartjie se spesiale dag en laat hulle spesiale herinneringe hê en nie net negatiewe herinneringe van ʼn sinnelose bakleiery nie.


Bou ʼn verhouding tussen skoonouers:

Skoonouers hoef nie gedwonge te voel om dadelik ʼn familieband met mekaar te smee nie. Soms het hulle om verskeie redes nog nie tyd gehad om mekaar behoorlik voor die troue te leer ken nie. Wanneer die kinders eers in hulle huwelik gevestig is sal daar oorgenoeg geleentheid wees om dit te doen.  Reik uit na mekaar en skep geleenthede soos bv. verjaardae om sosiaal saam te verkeer. Kyk watter belangstellings julle deel en fokus daarop. Wat is lekkerder om as een groot familie almal saam te kuier.


Wees ondersteunend maak nie saak wat nie:

Dit gebeur soms dat ʼn Moeder nie genader word om met die trou reëlings te help nie. Dit is kan wees omdat sy dalk nie finansieël betrokke was nie en die bruidspaar self vir alles betaal.  Hulle voel hulle is in beheer en wil nie onnodige druk op die bruid se moeder sit nie. Daar kan verkeie redes daarvoor wees maar nie een daarvan is dat hulle jou as Moeder nie nodig het nie. Stel belang deur hulp aan te bied as hulle dit sou nodig kry. Virseker jou dogter dat jy daar is vir haar. Bedoel elke woord en moet niks kwyt raak om haar skuldig te laat voel nie. Dit sal almal gelukkig maak.


Die Gastelys:

Dit is absoluut die bruidspaar se besluit wie hulle by hulle troue wil hê. As jy nie gelukkig is met die oom of tannie wat nie genooi is nie, kan jy op ʼn taktvolle manier die paartjie vra. Hulle mag dalk vergeet het of dalk ‘n goeie rede het hoekom die persoon nie op die gastelys is nie. Onthou jy kan nie almal nooi nie en dit is die paartjie se troue. Hulle alleen het die laaste besluit oor wie hulle  graag wil hê moet die dag saam met hulle deel. Soms beteken vriende meer as familie vir ʼn persoon daarom is die keuse baie persoonlik en behoort die paartjie nie nodg te hê om ʼn verduideliking te gee vir iemand wat uitgelaat is nie.


Moet nie jou besluit afdwing oor die keuse van die trourok nie:

Moeders is soms meer opgewonde oor die trourok as haar dogter. Sy sien al die valle, krale en lang sleep. As jou dogter jou vra om saam met haar na rokke te gaan kyk kan jy dit doen.  Wees egter op die agtergrond en wag tot sy jou mening vra voordat jy dit gee. In jou tyd het trourokke anders gelyk en tans verskil jou en jou dogter se kleresmaak alreeds baie.  Sy het klaar ʼn snit of prentjie in haar kop daarom moet jy haar geleentheid gee om op haar tyd haar droomrok te vind. Indien sy verkies om saam met vriendinne ʼn rok te gaan uitsoek aanvaar dit en moet nie uitgesluit voel nie. Sy verkies dalk hulle eerlike opinie omdat hulle smaak min of meer dieselfde as hare is.


 Die bruidegom en sy ouers is nou familie:

Gee aandag aan die bruidegom se ouers en stel jou voor aan die bruidegom se ander familie wat ook genooi is. Die wêreld is klein en soms loop jy iemand raak wat jy dalk voorheen geken het. Julle is nou aangetroude familie en watter lekker geleentheid om solank bande te smee met die familie waarin jou dogter gaan beweeg. Julle as die bruidspaar se ouers is immers die tweede belangrikste mense op die troue. Geniet die dag, klink ʼn glasie, smul aan die kos en pik saam ʼn traantjie as dit moet.

Melani-&-Christian-se-troue-soos-gesien-op-Mooi-Troues_121

Artikel Krediet: