Winand & Suné se prettige verlowing fotosessie

In die middel van Pretoria is daar ‘n plek wat se mure vol van die mooiste graffiti is en die paartjie, Winand en Suné, het besluit op ‘n prettige verlowing fotosessie wat hul as geskenk gekry het van hul ouers.  Die kleure plof en is definitief iets besonders met die wolkekrabbers in die agtergrond.  Ons kan in die foto’s onder sien die paartjie het hulself gate uit geniet en ons hoop Mooi Troues se lesers geniet hul verlowing fotosessie net so baie!

Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?


Dit was die begin van my laaste jaar as student.  Ek het gaan draf by LC sportgronde, en stop om universiteit vriende te groet by die buitelug gimnasium, toe ‘n lang aantreklike man met die mooiste blou oë homself kom voorstel in ‘n diep rasperstem (die sagtheid in sy oë het my dadelik gevang).  Daardie Sondag loop ons mekaar toevallig by die kerk raak.  Hy neem ‘n plekkie langs my in en gee die dominee sterk kompetisie!  Na ‘n paar braaie het ek besluit om hom te nooi op ‘n see vakansie saam met vriende om hom beter te leer ken.   Hy besluit toe om sy Botswana toer te kanselleer vir hierdie meisie met die ballet bene en sagte hart wat die lekkerste kos maak.  Op Sodwana se strande het die liefde vlam gevat.

Vertel ons wie het wie gevra om te trou?


Winand het besluit om die groot vraag te vra nadat ons albei klaar studeer het.  Ek was onder die indruk dat ons op pad plaas toe was vir ‘n familie kuier.  Nadat my baas my aangemoedig het om die Vrydag heel gerieflik vroeg te loop, sodat ons kamstig die verkeer kon mis, moes ek eintlik iets vermoed het.  Die plaaspad was kortgeknip vir ‘n vinnige bier by die mooiste bosveld lodge, versteek  in die Waterberge (wat toe die eintlike bestemming was) om die sonsondergang te geniet.  Die oomblik toe hy my alleen het, pluk hy ‘n bos blomme uit die koeler uit, sak op sy knieë neer en vra my om te trou.

Verlowing fotosessie inspirasie:


Ons is mal oor die natuur, maar het besluit om dit vir die troudag te los.   Ons was lus om ‘n ander konteks te kies vir die verlowingsessie, iets meer modern en prettig.  Ek was die hele tyd somer al lus vir iets geel en het toe vir my die rokkie gekies en besluit om radikaal te gaan met ons kleure! (Wat op die ou end heel goed gewerk het saam met die graffiti op die mure!)   Daar was ‘n trou onthaal by die venue toe ons daar aankom –  met ‘n Swart-en-Wit tema!   Ek dink die gaste het vermoed ons is daar om hulle te kom vermaak met ons helder kleure toe ons daar verby glip!

Wat het jul laat besluit oor die verlowing fotosessie?


Die verlowingsfotosessie was ‘n  geskenk van my ouers af.  Marietjie, (Vintageblue Photography), is amper soos my tweede sussie en ‘n familie vriendin.  Haar fotos is asemrowend en sy is regtig ‘n lighartige persoon, so ons was baie opgewonde.   Selfs Winand het nie omgegee om gemaklik te raak voor haar kamera nie!  Ons het toe besluit om die fotos vir ons webwerf uitnodigings te gebruik.

Vertel ons meer wat het jul ingedagte vir jul droom troue?


Vir ons is dit net belangrik dat almal saam met ons die dag sal geniet!   Ons is groot “foodies” en maak gereeld saam kos, so ons wil eerstens seker maak almal gaan lekker eet.  Ons glo met goeie kos, goeie wyn en goeie geselskap kan mens nie ver verkeerd gaan nie.  Verder wil ons baie groenigheid en natuurlike elemente inbring en hope kerse vir atmosfeer.  Ons kan nie wag om trou aan mekaar te beloof voor ons vriende en familie nie –  en voor God, wat ons paadjies laat kruis het nie.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: