Anton & Lize-Mari se strand & spaniel verlowingfotosessie

Anton en Lize-Mari het hul trou proses afgeskop met ‘n see en sand fotosessie saam hul geliefde spaniels!  Baie dikwels het mense die indruk dat verlowingfotosessies ‘n formele storie is en dat die paartjie op hul héél beste moet lyk.  Alhoewel Anton en Lize-Mari pragtig gelyk het, getuig hulle dat ‘n verlowingfotosessie pret is en dat die paartjie slegs hulself hoef te wees.  Hierdie foto’s is vir jou en jou aanstaande om saam te koester tot jul oudag – jy hoef niémand anders te beïndruk nie.  Anton, Lize-Mari en hul twee spaniels het ‘n heerlike dag op die strand geniet, met die talentvolle Lucille Scheepers Photography wat hulle spesiale oomblikke moeiteloos vasgevang het.

Rol af en geniet dié liefdevolle amper-gesinnetjie se verlowing foto’s.

Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?


Ons het ontmoet by ons kerk se klein groepie.  Ons weet nie regtig wanneer alles gebeur het nie, maar voor ons ons oë kon uitvee was ons albei dolverlief!

Lize-Mari: Anton se passie vir die Here, sy sagte hart en sy nederigheid is my drie gunsteling eienskappe van hom.  Ek sal altyd aangetrokke tot hierdie eienskappe van Anton wees.

Anton: Wat my die meeste na Lize-Mari toe aangetrek het, is haar energie en passie vir die lewe asook haar groot drome vir die toekoms.  Die manier hoe sy omgee vir ander het dadelik my oog gevang.

Vertel ons wie het wie gevra om te trou?


Anton het die groot vraag gevra met die mooiste ring wat ek al ooit gesien het.  Met klein bietjie hulp van ons twee spaniels en die mooiste Weskus son sak, kon ek nie anders as om ja te sê nie!

Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?


Die inspirasie agter ons fotosessie was ons twee spaniels – hulle het immers ‘n groot rol gespeel toe Anton die groot vraag gevra het.  Ons moes ‘n plekkie kies waar hulle ook kon deel wees.  Lucille Scheepers, ons wonderlike fotograaf, het toe ‘n strand fotosessie aanbeveel.  Ons is baie dankbaar vir Lucille se insette.   Ons see, sand en spaniel fotosessie het pragtige foto’s opgelewer!

Wat het jul laat besluit oor die verlowing fotosessie?


As trou koördineerder weet ek hoe vinnig die verlowing tydperk verbygaan.  Met al die trou reëlings wat druk op paartjies plaas, is al die spanning soms die enigste nagedagte wat paartjies van hul verlowing het.  Ons wou graag die mooi van ons verlowing onthou.  Ek moet bieg,  ons het ook ‘n paar leë foto rame gehad en ‘n verlowing fotosessie was die perfekte oplossing!

Vertel ons meer wat het jul ingedagte vir jul droom troue?


Ek het nog altyd gedroom van ‘n wintertroue met warm sjokolade, gebraaide malvalekkers en ‘n gesellige atmosfeer.  Omdat ek in die trou industrie is, was dit ook baie maklik om Anton te oortuig dat ‘n wintertroue die perfekte opsie is.

By ons troue sal daar ‘n koffie stasie wees waar ‘n barista ons gaste gaan bederf.  Die gaste sal ook goeie geselskap, lekker rooi wyn en heerlike kos geniet.  Ons wil graag hê dit moet ‘n dag van feesviering saam met ons naaste vriende en familie wees.  Ons wil hê ons gaste moet deel in ons vreugde.  Hulle moet getuies wees wanneer ek en Anton in die huwelik met mekaar verbind word, sodat ons saam kan lag, droom en mekaar altyd kan liefhê.

Diensverskaffers