Hunter & Carna se Pragtige Troue in Bloemfontein

Ons is opgewonde om Hunter en Carna se pragtige troue in Bloemfontein met Mooi Troues se lesers te deel.  Jy kon sien die paartjie het hulle troudag sommer ten volle geniet as jy kyk na die twee se breë glimlagte op hul trou foto’s.  Die troue het ʼn baie plattelandse gevoel met moderne elemente.  Opsoek na die perfekte trou venue vir julle troue?  Besoek gerus Mooi Troues se Trougids wat venues lys regoor Suid-Afrika, insluitende in Bloemfontein.

Wanneer dit kom by die trou dekor is geen moeite gespaar nie.  Sjoe, dit is regtig so mooi gedoen!  Ons is verlief op die hele voorkoms van hulle trou dekor en die onthaal lokaal se algehele gevoel.

Daardie stoele saam met die wit tafeldoeke is ʼn wen kombinasie.  Die groot kandelare wat hoog vanuit die trou venue se dak hang is só mooi en dit laat die onthaal lokaal sommer skitterend lyk.  Ons hou van die gebruik van ronde en langer tafels, want dit breek bietjie die tafel uitlegte en dit werk so mooi.  Want van die tafels is bedek met tafeldoeke en ander is die rou hout tekstuur.  Die blom ontwerpe op die tafels is pragtig gedoen en dit voel of dit so vloeiend is.  Tikseltjies goue elemente soos die borde en eetgerei skep weer ʼn elegante gevoel en die kerse en sagte lig gee dit weer daardie romantiese voorkoms.

Carna het die mooiste trourok aangehad.  Ons is absoluut verlief op die kleure, snit en die detail van die trourok.  Hunter se formele donker troupak komplimenteer die bruid se trourok perfek. 

Hunter en Carna het na die Maldives gereis vir hulle wittebrood.  Dit is enige paartjie se droom wittebrood bestemming.  Rol af om meer te lees oor Hunter en Carna se liefdesreis en ook hul Pragtige Troue in Bloemfontein.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar ontmoet op die plaas.  Toe ek vir Hunter sien het ek geweet hy is my trou man.

Ons het vir 17 maande gekuier toe Hunter my vra om te trou.  Vir my verlof was ons plaas toe, en sou een aand by sy ouma gaan eet.  Oppad daarheen het ʼn oproep deurgekom dat ʼn renoster koei besig is om te kalf.  Baie opgewonde draai ons om, min weet ek wat op my wag.  In die middel van die veld op ʼn koppie het Hunter my gevra om te trou, met eetgoed, blomme en die perfekte ring, tydens sonsondergang.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was vir 25 maande verloof voor ons getrou het.  Ons het nie ʼn troubeplanner gehad nie en het dus ons hele troue self gereël, met die hulp van vriende, familie, verskaffers en die Liewe Vader. Met elkeen se bydrae het ons ʼn sprokies troue gehad.  Dit het ons ʼn volle 2 jaar geneem om ons droom troue te beplan.

Trou Begroting:


Dit is moeilik om ʼn vaste begroting te hê.  Ons begroting het begin by ongeveer R200,000.00 en op geëindig by +/- R400,000.00.  Ons keuses het ʼn paar keer verander in ver band met dekor, blomme, beligting en spyskaart.  Daar was ook onvoorsiene weersomstandighede die naweek van die troue wat alles ons begroting beïnvloed het.

Ongeveer 150 gaste het ons troue bygewoon.

Ons het nie raad by getroude paartjies gekry in verband met die begroting nie. ʼn Fout wat ek later agtergekom het.  Ek dink dit is belangrik om by ander raad te vra en te besluit waar mens aan kostes kan sny.

Vermaak:


Vermaak bepaal hoe baie die gaste hulle self gaan geniet by die troue, en is dus ʼn belangrike aspek in die beplannings proses.  Ons het ʼn draai roomys trokkie gehad, Craft Gin Bar, regstreekse kunstenaar (Sanger), foto hoekie, LED dansvloer vir die kinders en ʼn platejoggie gehad as vermaak vir ons gaste.

Merkwaardigste Oomblikke:


My eerste voorkoms met my Pa, en definitief die eerste keer wat ek Hunter voor by die altaar sien staan het … in teendeel is dit my mees merkwaardigste oomblik.  Die mees merkwaardigste oomblik vir Hunter was toe hy my vir die eerste keer sien toe ek in die kapel se paadjie afstap.  Hy kon nie glo dat hy uiteindelik met die liefde van sy lewe gaan trou nie … en dan is sy nog só ongelooflik mooi en oulik ook.  Dit was ʼn ongelooflike familie naweek, waar almal mekaar kon leer ken en lekker saam kon kuier.

Die Besluitnemingsproses:


Die bruid het definitief meer van die finale besluite geneem, maar ek het nooit Hunter uitgesluit nie.  Sy opinie was altyd baie belangrik voor enige finale besluit geneem was.  Die troue sou nie ʼn werklikheid gewees het sonder die hulp van familie en vriende nie.  Baie het van vêr af gereis om deel te wees van ons spesiale naweek.  Ek is veral dankbaar vir die hulp en leiding van my skoonma wat dit moontlik gemaak het vir my en Hunter om ons sprokies troue te hê.

Paartjie se styl:


Ons troustyl was modern en romanties. My trourok was ʼn ivoor neutrale kleur, A-Lyn Snit, Lillian West, waarby ek stilette Elegant Park ivoor kleurige skoene gedra het. Vir die seremonie het ek pêrel juwele gedra, ʼn geskenk van my pa af en vir die onthaal blou Sapphire juwele, ʼn geskenk van my skoonouers af.

Hunter se pak was vir hom gemaak en was steenkool grys in kleur en was gekomplimenteer deur ʼn wit hemp, bruin skoene en beeld en ʼn unieke sage blom patroon das.

Ons ringe is simplisties, uniek en baie spesiaal uitgekies en gemaak vir elkeen van ons.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ek het geen gunsteling diensverskaffer nie.  Almal was fantasties en ons het geen klagtes nie.  Al die diensverskaffers se diens was uitstekend.

Ons gaste was veral lief vir die Craft Gin Bar en die hoofgereg wat deur Monte Bello verskaf was.  Die draai roomys van Snowhaven en die LED dansvloer van AV Event Life was ʼn groot treffer onder die kinders.

Spesiale Tradisies:


Ons troue het bestaan uit Suid-Afrikaanse en Italiaanse tradisies.  Daar was nageregte bedien van beide tradisies: Suid-Afrikaans – melktertjies en koeksisters en Italiaans – Cannoli. Ons het tradisionele Italiaanse geskenkies bekend as Bomboniere, aan elke vroulike familie lid gegee.

ʼn Tradisionele Italiaanse dans wat deur Hunter se niggie opgevoer is was ook deel van ons wonderlike aand.  Daar is ook verskeie musiek van beide tradisies gespeel.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ons trou naweek was perfek en ons sal niks wil verander nie.  Dit was ʼn naweek vol liefde, geluk en seëninge, wat ons kon deel met vriende en familie in die teenwoordigheid van God.  Vir meer kon ons nie vra nie.

Venue & Dekor:


Ons het na ʼn paar trou venues gaan kyk en het besluit op Monte Bello.  Dit was die perfekte venue vir ons visie vir die troue.  ʼn Plek met tydlose skoonheid en ruimte, buite die bedrywighede van die besige stad. Monte Bello is familie georiënteerd en perfek vir ʼn naweek troue met gaste wat van ver af reis.

Die inspirasie vir ons troue was gebaseer op die kleure sage groen, wit, room en goud.  Ons troue was grasieus, gesofistikeerd en smaakvol.  Ons het gebruik gemaak van eentonige, sagte kleure met blom rangskikkings, kandelare, en pragtige drapering.  Alles gekomplimenteer deur sagte beligting.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Kry raad by getroude paartjies oor ʼn troubegroting.  Kry advies oor wat ander voel was ʼn mors van geld en wat hulle voel merkwaardig was vir die spesiale dag.  So kan jy die mees ingeligte besluit neem vir wat jy by jou troue wil hê en wat jy verwag van jou verskaffers.

Bruid:

Baie stres, angs en onsekerheid word ervaar deur die beplanning van ʼn troue en dit is belangrik om ʼn goeie ondersteunings netwerk te hê.  Dit kan vriende en familie wees.

Bruidegom:

Moet nie net ja sê vir alles wat jou bruid verwag i.v.m. die beplanning van die troue nie.  As ʼn span moet belangrike besluite saam geneem word en “nee” is soms die antwoord.

Wittebrood:


Ons was na die Maldives toe vir ons wittebrood en het die Medhufushi eilande besoek vir 7 dae.  Wat ʼn belewenis!  Ons het deelgeneem aan verskeie aktiwiteite soos scuba, snorkel, kanovaart, lyn-visvang en tafeltennis.  Die wittebrood is beplan deur Hunter.  Dit moes eintlik ʼn verrassing wees, maar een van my skoonma se vriendinne het per ongeluk die verrassing weggegee.  Ek was nog nooit buite Suid-Afrika gewees nie.  Dit was my droom om na die Maldives toe te gaan.  Hunter het ʼn hart van goud en hy het die perfekte wittebrood vir ons beplan.

Eerste Dans:


Ons eerste dans was werklik besonders en spesiaal. Ons het die dansvloer geopen met die liedjie Biblical deur Calum Scott.  Dié liedjie se woorde het vir my en Hunter baie betekenis.

Ons het ʼn paar maande voor die troue dansklasse begin bywoon aangesien Hunter twee linker voete het.  Altesaam het ons 5 klasse bygewoon waar ons dans professioneel choreografeer was.  Die eerste dans kon nie meer perfek gewees het nie. Dit het gevoel asof dit net ons in die vertrek was … in die oomblik saam met mekaar … vir die eerste keer as man en vrou.


Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: