Jaco & Jana se Moderne Troue in Mpumalanga

By Mooi Troues is ons baie opgewonde om Jaco en Jana se moderne troue in Mpumalanga met ons lesers te deel.

Wow!  Jana het beeldskoon gelyk in haar trourok.  Haar handruiker is iets besonders mooi, groot en so mooi kleurvol.  Jaco het ʼn donker pak aangehad met ʼn wit hemp en rooi das me fyn detail op.  Dit het só mooi ingepas by die kleurvolle blom ontwerpe van die paartjie se handruiker.   Al hulle trou gaste was in swart aangetrek wat die elegante tema deur trek en ook die aandag op die paartjie sit en die prentjie mooi ligging.

Jana en Jaco het by  Whispering Thorns getrou, ʼn moderne trou venue in die Mbombela gebied in Mpumalanga.  Hier sal jy ʼn glaskas kapel en trou onthaal lokaal vind.  Omring deur prentjie mooi natuurtonele insluitende doringbome en die grasvelde van die Laeveld.  Dit is iets besonders en die perfekte agtergrond vir enige paartjie se troudag.  Hier kan julle ʼn plattelandse troue in styl hê.

Ons is absoluut versot op die paartjie se mooi blom ontwerpe wat ook gedoen is deur die talentvolle span van Whispering Thorns.  Die tafeldekor is simplisties gehou met ʼn meer eenvoudige styl van wit en swart elemente.  Swart kerse gee ook daardie moderne, maar elegante gevoel aan die paartjie se trou dekor.  Gemeng met die helder blomme en dubbel volume spasie van die trou venue is dit ʼn wen kombinasie.  Alles was perfek!  Die troukoek is definitief ook ʼn element wat vir ons baie mooi uitgestaan het en so mooi ingepas het by die hele tema van die troue.

Dit was ʼn lekker gesellige moderne plaastroue saam met familie en vriende.  Rol af om meer te lees oor Jaco en Jana se moderne troue in Mpumalanga en om meer te lees oor hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het kort na skool ontmoet maar eers goeie vriende begin raak op Tuks se Eerstejaars kamp.  Op die kamp het Jaco verskeie verskonings gesoek om tyd saam my te spandeer.  Jaco het elke oggend gemaak asof hy nie van koffie hou nie, net sodat hy sy beskuit in my koffie kan kom druk en so tyd saam my spandeer.  Na die kamp het ons goeie vriende geraak en het mekaar deur verskeie moeilike tye gehelp.  Jaco het Jana amptelik gevra om sy meisie te wees binne die eerste jaar.  Dit was met ʼn teddiebeer so groot soos Jana, ʼn bos blomme en ʼn armbandjie.

Jaco hou daarvan om te dink dat die verlowing ʼn verassing was, maar ek het dit verwag.  Dit het dit niks minder spesiaal gemaak nie.  Ons het verloof geraak by Kapama Buffalo Camp – dit was op ʼn sonsondergang wildrit.  Ons het op ʼn rivier bank gestop om iets te drink saam die groep mense.  Jaco het spesiaal ʼn fotograaf gereël wat gemaak het asof hy diere-foto’s neem vir die kamp.  Die fotograaf vra ons toe om teen die rivier te gaan staan met die sonsondergang agter ons, hy neem toe ʼn paar foto’s en toe ek weer sien is Jaco op sy knieg en vra my om te trou.  Ons het dit lekker gevier met ʼn bottel sjampanje op die rivier bank terwyl die son sak in die bosveld.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het in September 2021 verloof geraak en het kort na Jaco se prokureurs toelatings eksamen begin troue beplan.  Ons het besluit om in Mei te trou, want die weer is lieflik en die Laeveld op sy mooiste.  In totaal was ons 8 maande verloof.  Ons het ons troue self beplan, maar die venue het ʼn groot rol gespeel aangesien hulle die blomme, dekor, kos, kroeg, verversings en verblyf voorsien.

Trou Begroting:


Ons begroting was R150 000.  Troues is duur en jy kan vinnig buite begroting gaan.  Dis belangrik om te besluit watter aspekte van die troue vir julle die belangrikste is en die meer van die begroting aan die aspekte te spandeer en eerder op minder belangrike aspekte te spaar.  Dit help ook as familie en vriende bereid is om hulle dienste beskikbaar te maak, soos Jana se Tannie wat die lekkerste en mooiste koekies as trou geskenke gebak het.  Onthou dat die bruidspaar die eregaste is en moenie jouself afskeep nie.  Spaar eerder kostes op aspekte soos geskenke, skryfbehoeftes en musiek.  Ons stel ook voor om ʼn goeie fotograaf te kry, want al wat jy van die dag oor het is die foto’s.

Die Besluitnemingsproses:


Ek en Jaco het alles bespreek en het rerig dit geniet om saam te werk om altwee se idees en wense vas te vang.  Gelukkig is ons smake baie dieselfde wat die hele proses vergemaklik.  Ons het baie hulp gehad van ons ouers en dit was ʼn baie lekker en spesiale span poging.

Merkwaardigste Oomblikke:


Die dag vlieg só vinnig verby, maar die lekkerste oomblikke vir Jana was om Jaco te sien vibreer van opgewondenheid toe sy by die trougang afstap en die kort oomblik tussen die seremonie en fotosessie wat hulle vir die eerste keer alleen kon praat as ʼn getroude paartjie.  Sy het gedink “Wow, uiteindelik is ons getroud!”.

Jaco se gunsteling oomblik, was toe hy en Jana tot stilte kon kom en vir ʼn rukkie alleen in die kapel kon sit.  Dit was net na die foto’s en voor ons in die saal sou in gaan.  Dit was vreeslik spesiaal om alleen te sit en vir ʼn oomblik net alleen die spesiale dag en oomblik te kon in neem.

Paartjie se styl:


Ons styl is modern, elegant, formeel en tydloos.  Jana se trourok was ʼn noupassende rok met ʼn lae rug en lang sleep. Die rok het Frostend Chantilly-kant en rouge werk op die liggaam.  Haar ringe is minimalisties en elegant met ʼn enkel ovaal diamant op die verloofring en klein diamante op die trouring.

Jaco het gekies om vir ʼn houtskool 3 stuk pak te gaan.  Dit was ʼn Turkse styl park wat mooi die elegante en moderne styl vas gevang het.  Sy ring is ʼn platinum ring met ʼn “hamer afwerking”.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Ons troudag was absoluut perfek en almal, van familie tot die diensverskaffers het dit rerig vir ons perfek en spesiaal gemaak. Die enigste klein verwarring was met die musiek vir die Pa en Dogter dans, maar anders het die dag seep glad verloop.

Venue & Dekor:


Albei van ons is vreeslik lief vir die bosveld en dus het ons vir Whispering Thorns gegaan wat in die mooiste Laeveld sit.  Die inspirasie was om die bosveld in ʼn ongelooflike blomme tuin te verander, met baie groen en warm helder blomme.  Om die kleure uit te bring en om die elegante en formele styl uit te bring het ons gekies om die agtergrond kleure wit en swart te maak, dit het gehelp dat die groen van die plante en die helder kleure van die blomme, en spesifiek die verskillende kleur rose uit te bring.  Ons gaste het ook almal swart gedra om die omgewing en die bruidspaar te beklemtoon.

Gunsteling Diensverskaffers:


Om een diensverskaffer uit te sonder is onmoontlik, want almal het so baie moeite gedoen om die dag perfek te maak.  Ons wil wel erkenning gee aan die fotograaf en videograaf, asook die venue wat self die dekor, blomme en spyseniering gedoen het.  Die bruidswinkel het die hele rok soek proses so spesiaal gemaak en ons soos familie laat voel.  Die dames wat ons hare en grimering gedoen het, het die oggend vet pret gemaak maar ook seker gemaak dat als volgens skedule hardloop.  Mens vergeet dat jy ʼn groot deel van die dag met hulle spandeer en dis so belangrik om mense te kies wat die dag pret sal maak.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Advies vir die bruid:

Ontspan en weet dat als gaan nie perfek verloop deur die beplanning en op die dag nie.  Dié dag vlieg so vinnig verby en soms is dit moeilik om die details van die dag te onthou.  Wat jy wel onthou is hoe jy elke oomblik gevoel het.  So haal diep asem en neem elke oomblik van die dag in en geniet dit.

Advies vir die bruidegom:

Kom tot ʼn stilstand en neem rerig in hoe spesiaal en merkwaardig jou vrou is!  Neem deel in alles saam jou vrou, dit is julle troue!  En ek belowe jou, dit is vir haar ongelooflik spesiaal om jou te sien deelneem en betrokke wees.  Laastens, geniet dit!  Vergeet van alles en almal om julle – dit is jy en jou vrou en dis al wat en wie saak maak!

Advies vir altwee:

Neem die dag in!  Dit gaan so vinnig verby!

Eerste Dans:


Ons het gekies om ʼn baie romantiese en outydse dans te hê.   Etta James se At Last was ons liedjie keuse.  Dit het lekker ons formele en elegante tema vasgevang.  Dit was ook baie romanties en het rerig ons emosies mooi opgesom.  Ons was al 7 jaar saam en al 8 jaar in mekaar se lewens – só dit was baie spesiaal om uiteindelik te kon trou en ons lewens saam te begin.

Wittebrood:


Die wittebrood was ʼn geheim gehou deur Jaco.  Hy het kontakte gebruik om vir ons ʼn ongelooflike wittebrood te reël by twee 5 ster wildreservate!

Ons was eers vir 2 dae na Jabulani Safari Camp toe – dit is ʼn groot 5 reservaat met ʼn olifant oord op (een van Jana se gunsteling diere) – ons kon ook een spesiale dag die olifante ontmoet en aan hulle vat en hulle voer.

Daarna is ons 3 dae na Lion Sands Narina Lodge toe – dit is ʼn konsessie gebied in die Kruger Nationale Park – dit was só spesiaal omdat dit die beste en ongelooflikste wilds area is.  Hier kon ons die Kruger in neem soos nooit tevore nie – met ʼn toergids en spoorsnyer het ons die mooiste wild en areas gesien!

Die kos by altwee plekke was ook ongelooflik!  En om net op te som hoe ongelooflik dit was – ons het die Groot 5 gesien, meer as 10 Luiperds (2 wat baklei), meer as 20 Leeus (2 wat langs die kar le en brul), Wilde Honde, 2 Ratels en onbeskryflik baie Olifante – dit alles in 5 dae!


Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: