Bartho & Monique lente bloeisel verlowing fotosessie

In dié inskrywing deel ons Bartho en Monique lente bloeisel verlowing fotosessie by Lourensford Wynlandgoed.  Monique vertel dat sy nog altyd behep was oor lente en wou baie graag ʼn lente verlowing fotosessie tussen die bloeisels hê.   Dit het definitief ʼn realiteit geword en een wat nou vir baie paartjies inspirasie sal bied vir hul verlowing fotosessie.  Ons is totaal en al versot oor die gevoel van die verlowing fotosessie.  Jy kan in die foto’s die warmte van die paartjie se liefde sien.

Paartjies vra altyd vir Mooi Troues wat hulle moet aantrek na ʼn verlowing fotosessie.  Monique en Bartho se uitrustings is ʼn goeie voorbeeld.  Dames, probeer iets aantrek waarmee jy gemaklik voel en wat jou gaan laat goed voel.  Manne, probeer so netjies moontlik aantrek, maar nogsteeds lekker gemaklik. Probeer ook met meer neutrale kleure gaan, want dit vertoon baie mooi op foto’s.

Die paartjie se verlowing fotosessie was vir Bartho om gemaklik te word voor die kamera en ook met die fotograaf, sodat die troudag mooi glad kan verloop.

Bartho en Monique het ook Desember 2021 getrou by Murasie in Gansbaai.  Die Mooi Troues span is baie opgewonde om hierdie paartjie se troue ook binnekort met julle te deel.  Vir meer oor Bartho en Monique se lente bloeisel verlowing fotosessie en hul liefdesreis, rol af.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ek en my vriendin het een aand (29 Maart 2017 om spesifiek te wees) na die bekende De Akker in Stellenbosch gegaan om moontlik iemand te ontmoet saam met wie ons vir ʼn laaste keer na ʼn huisdans toe kan gaan (met ander woorde iemand heelwat jonger as ons).  My een huismaat besluit toe om ons voor te stel aan hierdie ongelooflike ordentlike, plaasseun van Murraysburg wie se broer sy ken.  Glo sal hy ʼn baie goeie pasmaat sal wees vir enige dame.  Ek het op daardie stadium eerder my vriendin probeer afsmeer aan hom, maar hy het slegs oë vir my gehad.  Na ʼn hele paar drankies is ons toe ook na Nu’Bar in Stellenbosch en het die ‘klein Saterdag’ behoorlik gevier.

Die volgende oggend het ek vir Bartho gaan volg op Instagram.  Ek weet nie eintlik hoekom nie, want dit is glad nie my persoonlikheid nie.  Ons het van daar af net so lekker begin gesels dat ons 2 maande later op die 24ste Mei 2017 begin uitgaan het.  Ons het sowat 4 en ʼn half jaar uitgegaan voordat Bartho besluit het om die vraag te vra.

Die groot vraag:


Wow, wat ʼn ongelooflike oomblik.  Bartho het ons verlowing haarfyn beplan.  Ek het van absoluut niks geweet nie.  Bartho se middel boetie het met my reëlings vas gemaak om die 10de Oktober 2020 saam met hom, sy vrou, en Bartho se ouers na die Escapetrix te gaan in die Paarl waaroor ek mal is.  Bartho het nog altyd gesê sy pa sal gek wees daaroor om die raaisels te klop en daarom het ek glad nie iets vermoed nie. Daardie oggend het ek ook natuurlik myself mooi aangetrek, want ek gaan dan saam met my skoonouers uit.  Ons is almal saam in een kar deur Paarl toe vanaf ons huisie buite Stellenbosch.

Ons het die ‘Escape Plan’ kamer gedoen waar ons 3 / 3 opgedeel was en moes uitbreek uit ons tronkselle en van daar af moes ons ook uitbreek uit die tronk.  Seker so 2 leidrade voor ons die deur kan oopmaak, (ook met nog meer as genoeg tyd oor om te wen, want dit is hoe kompeterend ons is) kry ek ʼn sepie in ʼn boksie (waarvan ons ‘anniversary’ datum die kode was om dit oop te maak) met die leidraad, “make a clean break.” “Breek oop die sepie,” skree my skoonpa toe en met haas doen ek toe so.

ʼn Verdere leidraad in die sepie lees toe “sal jy my selmaat wees verewig?”  Daar begin musiek speel (my en Bartho se liedjie – Symphony van Clean Bandit). Terwyl ek besig was met die sepie het my skoonfamilie hulle selfone en kameras uit en met verbasing toe ek omdraai sit hy op sy knie met die mooiste silver trilogie verloofring.

Na hierdie ongelooflike verassing het hy selfs verder gegaan en ʼn verlowingspartytjie met my ma en 25 van ons naaste vriende genooi om die aand verder te vier!

Hoekom ons mekaar liefhet:


Ek sal moet sê dat die volgende eienskappe van Bartho my gunsteling is:
  • Hy is passievol en het ongelooflike dryf
  • Baie lief vir avontuur en sport nes ek
  • Hy het ʼn manier om uit enige situasie die positiewe uit te haal
  • Hy het bitter baie lewenslus en vier alle klein goedjies
  • Sy familie en gesin is vir hom baie belangrik
  • Hy kan met enige iemand gesels en hulle laat welkom vol al ken hy hulle van geen kant af nie
  • Hy het ʼn bitter lekker humorsin en sy lag is totaal en al aansteeklik!
Bartho voel dat hierdie my mooiste eienskappe is:
  • Ons dieselfde belangstellings het
  • Ons eindelose tyd saam kan spandeer
  • Ek gedrewe en passievol is
  • Ek hou van sosiale geleenthede en om nuwe mense te ontmoet
  • Dat ek fluks is en kos kan maak
  • Ek dieselfde waardes as hy het
  • Ek ook baie in sport belangstel

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons was verloof vanaf 10 Oktober 2020 en het op die 4de Desember 2021 die knoop deurgehak by die pragtige Murasie in Gansbaai.  Dit was ʼn sprokiestroue en het al ons verwagtinge oortref!  ʼn Jaar is die perfekte lengte om verloof te wees om mekaar net te geniet, beter te leer ken en natuurlik te spaar en beplan aan die groot dag.

Verloofring:


‘n Pragtige platinum verloofring met drie diamant-stene het hy op sy eie uitgekies en ontwerp met geen leidrade nie.  Die ring simboliseer soveel wat kenmerkend ook is in ons verhouding, soos die verlede, hede en toekoms; die vriendskap, liefde en toewyding aan mekaar; asook God, die Seun en die Heilige Gees wat ons steunpilaar is ten alle tye.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Die velowing fotosessie was vir Bartho om gemaklikheid te kry agter die kamera en ook met die fotograaf sodat die troudag mooi glad kan verloop.  Ons het dit definitief ook gedoen vir die mooi foto’s in die huis en om van dit te gebruik vir ons seremonie programmetjie op die dag.  Dit was vir ons lekker om te sien hoe die fotograaf werk.  Hoe mooi sy plekkies kan laat lyk.  Om te sien dat sy ons persoonlikheid kan vasvang op kamera.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ek was nog altyd behep oor lente en wou baie graag bloeisels en die pragtige groen natuurskoon hê as agtergrond vir ons foto’s.  Ons het op die beeldskone Lourensford Wine Estate (waar ek werk) die fotosessie gehad omdat daar eindelose mooi agtergronde is om van te kies, vanaf vrugteboorde, bergreekse, wingerde en grasvelde.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons grootste vrese het ingesluit:
  • Ons families gelukkig te maak maar steeds ook ons self (bv. met sitplekke van gaste en wie waarmee help)
  • Rustig te wees en te weet dat alles sal uitwerk soos dit moet
  • Genoegsame fondse te hê vir alles wat ons wil kry vir die troudag
  • Om alles te onthou wat ons moet saam neem op die dag

Visie vir droomtroue:


Ons het Murasie in Gansbaai geselekteer omdat dit ʼn fantastiese lapa het waar ons die Vrydagaand al ons gaste kan verwelkom met ʼn heerlike spitbraai en saam kuier.  Ons het ook van die pragtige buitelig seremonie wat ʼn amper ‘heilige gevoel’ het as mens daar sit onder die groot boom.  Dit was ook vir my ʼn moet om groot glas vensters te hê by ons funksielokaal, sodat ons die buite-binne gevoel kan skep.

Die kleurskema wat skakerings van pienk tot wynrooi en het deurgevloei in die blomme en dekor, asook die bruidsmeisies se rokke.  Ons wou onkonvensionele goed doen by ons troudag om dit uniek aan ons te maak.  Byvoorbeeld het ons blomme-manne gehad by die onthaal wat eerste ingeloop het, gevolg met ons bruidsmeisies en strooijonkers wat elkeen op ʼn liedjie moes inloop en ʼn dansie doen.

Ons het ook nie die tradisionele koek sny of ruiker en kousband gooi nie.  Solank al ons gaste heerlik kon dans tot laat en net lekker saam kuier was ons gelukkig, en dit is presies hoe dit was!

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: