Lodewyk & Elzette se elegante troudag

Met baie opgewondenheid deel ons by Mooi Troues die elegante troudag van Lodewyk en Elzette.  Dié paartjie se troue moes vier keer uitgestel word weens die pandemie. Dit het definitief nie die hoërskool liefdes se trou beplanning onder gekry nie!  Hulle het nogsteeds hul prentjie mooi elegante troue gehad.

Elzette en Lodewyk se glimlagte is aansteeklik.  Hulle het so mooi gelyk op hul troudag.  Lodewyk se grys troupak pas so mooi in by Elzette se baie stylvolle trourok, Sjoe! Ons is gaande oor die lang moue en die detail van die trourok.

As jy hou van modern, dan sal jy gek wees oor die paartjie se troudag.  Swart, Goud en Wit troudekor elemente trek onmiddellik jou oog.  Dit staan so mooi uit teen die trouvenue se dubbel volume plafon en mure wat skakerings van swart en beton is.  Die goue eetgerei saam met die swart borde en kerse is só mooi!  Hul trou tema was ʼn baie klassieke styl.  Daar is ʼn goeie balans wanneer dit kom by die trou dekor elemente.

Elzette en Lodewyk se troue was ʼn behoorlike makietie gehad saam met familie en vriende.

Die paartjie het ʼn wittebrood na Zanzibar beplan, maar nou ja, die pandemie het hul planne ʼn bietjie omver gegooi.  Hulle het toe besluit op Kaapstad vir hul wittebrood. Hierdie paartjie het ook baie oulike trou advies met ons gedeel vir paartjies wat hul troue beplan.  Rol af om meer te lees oor Elzette en Lodewyk se elegante troudag.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons is hoërskool liefdes.  Ons was beste vriende op skool en arme Lodewyk het het baie lank na my gevry en ek wou aanvanklik niks weet nie.  Uiteindelik op Oujaarsaand in 2014 het hy die moed bymekaar geskraap en ʼn piekniek op die plaas opgestel en my gevra om sy meisie te wees en ek het natuurlik ja gese.

Verlowing:

Lodewyk het die groot vraag gevra.  Ons was in Ballito (toevallig waar ons nou bly) vir vakansie oor Nuwejaar.  Vir ons 5de “dating anniversary” het ons ʼn fotosessie op die strand gedoen.  Lodewyk het natuurlik seker gemaak die fotograaf is bewus van sy planne.  Sy het so goed saamgespeel, ek het niks verwag nie.  Ons het nog fotos geneem en toe ek op ʼn stadium omdraai is die man op sy knie.

Dit was die maklikste ja-antwoord in my lewe.

Die Verlowing Tydperk:


Ons wou nie baie langer as ʼn jaar verloof wees nie.  Die plan was om in Januarie 2021 te trou, maar a.g.v. KOVID-19 moes ons die troue ʼn hele paar keer uitstel (4 keer)! Ons was toe op die ou end vir ʼn jaar en ʼn half verloof.

Ons het die troue self beplan.  Dit was vir my die lekkerste ding om te doen.  Ons het alles in detail beplan en ons idees het met elke uitstel bietjie verander.  Maar dit was alles die moeite werd.  Lodewyk het die laaste 8 maande voor die troue in die buiteland gewerk met min sien en opvangs en was net 3 maande uit die agt maande by die huis.  Dit was ʼn uitdaging, maar ons het dit reggekry om die troue tot op die fynste detail te beplan al was ons duisende kilometers weg van mekaar.

Trou Begroting:


Ons het baie gesukkel om by die begroting te bly.  Ek glo dis omdat ons die kostes aan die begin onderskat het.  Ons het aanvanklik 120 gaste genooi, maar op die dag was daar so net meer as 80.  Dit was eintlik ʼn baie lekker getal gaste, want jy kan by almal uitkom en met almal kuier.

Ons advies:
  • Spaar solank as wat jy kan.
  • Spandeer bietjie meer op die goed wat regtig belangrik is vir jou.  Vir ons was die die venue een van die belangrikste goed omdat dit die gevoel van jou troue bepaal.
  • Blomme en kerse was een van die grootste uitgawes, maar maak seker jy doen dit ordentlik.
  • Spandeer jou geld op ʼn goeie fotograaf.  Die foto’s is al wat jy oor het van jou troudag om eendag vir jou kinders te wys.

Merkwaardigste Oomblikke:


Lodewyk:

Definitief toe my bruid by die kapel instap.  Dit was die mooiste prentjie wat ek al ooit gesien het.

Elzette:

Toe ons voor die kansel staan en ons huweliksbeloftes gemaak het.  Dit is die lekkerste gevoel ooit.

Paartjie se styl:


Ons hou van neutrale kleure en tydlose style.  Die kleurskema was wit, goud, swart en grys.  Ons wou iets hê wat nie uit die mode gaan nie en elegant is.

Trourok:

My trourok was presies soos ek nog altyd gedroom het oor hoe dit moet wees.  Ons wou baie graag in die winter trou juis omdat ek ʼn langmou kant rok wou dra.  My rok se kant was grof met ʼn effense glans op die kant as die lig daarop val.  Die romp van my trourok was lig, elegant en sag met ʼn 2 meter lange sleep.  My sluier was effens langer as my sleep en het kant soos my rok sʼn met die hand opgewerk.  Ek wou nie nie ʼn swaar, wye en ongemaklike trourok gehad het nie.  My rok was die teenoorgestelde, super gemaklik en het gepas soos ʼn handskoen.

Troupak:

Lodewyk se troupak was grys omdat dit sy mooi blou oë nog mooier laat lyk.  Lodewyk het ʼn leer das gekies wat by sy leer skoene en belt gepas het.

Trouringe:

Elzette: my trouring is my verloofring met ʼn troupand wat anders lyk en van platinum gemaak.  Lodewyk het presies geweet watter trouring om vir my te laat maak toe hy die groot vraag gevra het.  Die ovaal diamant met klein diamante in die pand van die ring is elegant en fyn.  Met die pand het ons lekker ontwerp, en weer ontwerp, en weer ontwerp.  Dié pand wat anders geset is as die verloofring se pand maak dat daar uniekheid aan die trouring is.

Lodewyk: Lodewyk se trouring is van titanium.  Hy wou graag ʼn donkerder ring hê (nie net silwer nie), maar ook nie heeltemal swart nie.  Ons het gaan ringe soek vir hom en die eerste een wat hy aangepas het was die een.  Sy trouring is “matte” met ʼn blink randjie om hom af te rond.

Die Besluitnemingsproses:


Definitief die bruid.  Ek moet sê, al was Lodewyk ver, was hy betrokke met elke besluit, behalwe my trourok natuurlik.  Ons het alles saam-saam bespreek en besluit maar goed soos die blomme en die fyner troudekor besonderhede het hy vir my gesê om daaroor te besluit.

Gunsteling Diensverskaffers:


Wow, dis ʼn moeilike vraag.  Ek dink nie ek kan een uitsonder nie, want sonder elkeen en almal wat saamgewerk het sou ons dag nie perfek gewees het nie.  Ek kan definitief elkeen van ons diensverskaffers aanbeveel.

Vermaak:


Ons het ʼn sanger gehad om ʼn paar akoestiese liedjies te sing terwyl die trougaste canapés geniet het. Ons wou hê ons troue moet ʼn lekker gesellige troue wees.  Die musiek het definitief bygedra daartoe.

Ons het ook ʼn platejoggie gehad vir die onthaal en tydens hoofgereg het die sanger weer ʼn paar liedjies gespeel.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Daar is altyd ietsie wat skeefloop.  Toe ek by die kapel instap het Heleen (Smithfield eienaar) my veil vir my mooi uitgesprei oor my lang sleep, maar ek en my pa was te haastig in die kapel se gang af, toe glip hy uit my hare.  Arme Heleen het haar yskoud geskrik.  Ek en my pa het gestop, vir mekaar gekyk en saggies gelag.  Heleen het die veil weer mooi ingesit en ons het verder gestap.  Dit was gelukkig net soos wat ek by die kapel instap. Dit was eintlik so klein glipsie en het glad nie die dag bederf nie.

Al wat ek sou wou verander is die feit dat daar ʼn aandklokreël was.  Ons gaste wat nie op die venue gebly het nie moes ons 10 uur verlaat as gevolg van die aandklokreël.  Die dag is in ʼn oogwink verby.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:
  • Besluit op jou tema van jou dag en delete Pinterest
  • Hou jou ma op “speeddial”
  • Geniet elke oorblik van die beplanning (jy gaan dit mis as dit verby is)
  • Kies ʼn gemaklike trourok en skoene
  • Wees rustig op jou troudag en neem elke oorblik in, dit gaan so vinnig verby.
  • Onthou dis jou aanstaande man se groot dag ook
Bruidegom:
  • Stel belang in wat jou bruid met jou bespreek
  • Kies skoene waarin jy lekker kan skoffel
  • Maak seker jou spaarvarkie is vol 😉

Venue & Dekor:


Ek is vas oortuig die trouvenue was gebou vir ons troue.  Ek het ʼn ander venue op sosiale media gevolg en gesien hoe hulle die vordering van hul nuwe venue deel.  Toe sê ek vir Lodewyk dis die plek waar ons eendag gaan trou, nog voor ons eers verloof was.  Dié trouvenue is so perfek en is 100% ons styl.  Ons het net na die een venue gaan kyk en dadelik geweet dis die plek vir ons.

Ons wou hê ons dekor moet elegant en tydloos wees.  Daarom het ons besluit op neutrale kleure.  Ons het besluit op goue eetgerei en swart borde en swart kerse om daarmee by te gaan.  Ons blomme rangskikkings was perfek gewees.  Ek het vir Susan (die bloemis) gese ek wil net graag “bunny tails” en pampas hê en dat ons wit en bietjie groenigheid en neutrale kleure wil hê.  Sy het my die laaste paar weke voor die troue elke week gebel en gese hoe lekker speel sy en soek blomme op die mark.  Haar rangskikkings was soos iets uit ʼn boek.  Dit was so perfek en perfek vir ons kleurskema.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


JA!  Ons moes ons troue 4 keer uitstel en mag net n sekere hoeveelheid gaste gehad het.  Op die dag moes meeste gaste teen 10 uur huis toe gaan as gevolg van die aandklokreël.

MAAR oor die algemeen sal ek nie se KOVID-19 het ons spesiale dag enigsins minder perfek gemaak nie.

Eerste Dans:


Ons het seker na honderd liedjies geluister en baie lank gedink oor die liedjie vir ons eerste dans.  Maar toe ons dié een hoor het ons altwee geweet, ”Amazed – Drew Andrews Wedding version”.  Ons het hom in die sitkamer gesit en luister.  Daar het ons sommer net daar begin dans.

Ons het vir een of twee lesse gegaan net om die ritme van ons liedjie te leer ken omdat ons nie gewoond is om so stadig te dans nie.  Ons wou nie ʼn uitgewerkte roetine gehad het nie en wou net dans in die oorblik soos wat die musiek ons lei.  En dis presies hoe dit op die dag was.  Ons het so lekker gedans en net die oorblik saam ingemeen dat ons nou uiteindelik getroud is.

Wittebrood:


Ons sou Zanzibar toe gaan, maar omdat ons in die 3de vlaag van KOVID-19 getrou het wou ons nie die kans vat om in ʼn ander land te moet kwarantyn indien een van ons positief toets nie.

Ons het daarom besluit om na die Moederstad te gaan en wynroetes te doen en Zanzibar uitstel vir ons eerste huweliksherdenking.  Die Sondagaand met ons aankoms in die Kaap het ons liewe oom Cyril aangekondig dat die restaurante en wynplase toe is.  Hierdie aankondiging het ons Kaapse trippie bepanning bietjie omvergegooi.  Maar nietemin, ons was bymekaar en gelukkig in die mooi Kaap.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: