Ryno & Charné se selfdoen strandtroue

Vandag deel ons met Mooi Troues se lesers Ryno en Charné se kaal voet, selfdoen strandtroue.  Vir ʼn paartjie wat al vir jare in dieselfde vriendekring was, het hul eers later van tyd mekaar ontmoet en dit was verseker liefde op eerste oogopslag.  Die liefde het van daar af so gegroei en in 2014 het dié pragtige paartjie saam hul eerste huis gekoop, waar Ryno vir Charné die groot vraag gevra het tussen al die bokse.

Ryno en Charné het nog altyd gedroom om in Mozambique te gaan trou, maar weens Kovid-19 kon dinge nou nie so uit werk nie. Maar dit het nie dié paartjie gekeer nie, hulle het toe in Yzerfontein ‘n trou venue gevind en die perfekte Mozambique atmosfeer geskep.  Met die gebruik van al die trou inspirasie wat Ryno en Charné gevind het, het die uitsonderlike paartjie hul troue met al sy elemente self gedoen.

Dié selfdoen troue se dekor het gespeel met kleure van groen, wit en warm aardse kleure.  Ryno en Charné het deur hul trou skryfbehoeftes en -dekor hul persoonlikhede en styl uitgebeeld. Hulle het uitsonderlike mooi gelyk en Klara Design & Photography het seker gemaak dat dié paartjie gemaklik en vreugdevol bly reg deur die loop van die troue.  Klara het elke spesiale oomblik gevang. Ryno en Charné het gebruik gemaak van spesiale trou tradisies en het seker gemaak daarvan dat die liefde deur die troue weerspieël word.

Rol nou af en geniet die ontspanne kaalvoet, selfdoen strandtroue van Ryno en Charné.

Paartjie se Liefdesreis:


Altwee van ons is van Centurion en ten spyte van dieselfde vriendekring het ons mekaar vir jare nooit geken nie, tot ons mekaar een aand raakgeloop het en vir dae aan een gesels het.  Dit was liefde met die eerste oogopslag toe hy met sy mooi dimpels vir my glimlag.  Ons is van daar af in ʼn langtermyn verhouding tot ons in 2014 saam huis gekoop het.  Die Huiskoop was nie die hoogtepunt nie, maar wel sy skaam vraag op die knieë voor al ons vriende en familie.  Ek het ja gesê so tussen die bokse uitpak.  Ons het gewag tot ons genoeg geld het vir ons droom Troue met kaal voete op die wit sand.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was vir ʼn baie lang tyd verloof, byna 7 jaar (genoeg om die sakke sout met lepels te eet).  Wou graag op Mozambique se strande trou maar as gevolg van die voorwaardes van grense en al ons familie en vriende se kinders se ouderdom wou ons net wag vir die regte tyd.  Met KOVID-19 was daar droom toe heeltemal uit die deur uit, so ons het op Yzerfontein besluit wat op die ou einde al ons verwagtinge oortref het.  Ons het alles self gedoen en beplan en het elke sekonde geniet. Dit het ons as paartjie so naby aan mekaar gebring.

Trou Begroting:


Die trou begroting was R100k.  Ons wou aanvanklik ʼn kleiner troue gehou het en het op die ou einde oor begroting gegaan.  Ons het 63 gaste onthaal.

Probeer soveel as moontlik van julle eie dekor en skryfbehoeftes maak waar moontlik.  Nie net spaar jy geld nie maar dit gee jou ook ʼn groter waardering vir als.  Maak ook dood seker dat jy al die kostes verbonde op skrif het sodat jy nie omkant gevang word met ekstra kostes nie.

Merkwaardigste Oomblikke:


Die oomblik toe ons mekaar sien by die altaar was baie spesiaal, ek kon nie ophou giggel nie en my man met sy mooi dimpels het die trane baie gesluk, maar ek kon sien die oomblik was vir hom net so mooi.  Terwyl ons seremonie begin het was dit ʼn mooi sonskyn dag, maar soos die Dominee met ons gesels het was daar swaar wolke wat al nader aan ons beweeg het.  Ons kon duidelik sien hoe die weer weg waai tot ons uiteindelik weer in mooi sonskyn weer altwee Ja gesê het.

Spesiale Tradisies:


Ons het ʼn sand seremonie gehou net voor die huweliksbevestiging wat ons Dominee gefasiliteer het.  Dit behels die saamgooi van verskillende sand om die verbinding tussen die twee gesinne te bevestig.  Ons het toe op ons Wittebrood al langs die kus getoer en op spesiale strande ook sand bygegooi.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het maar meeste van die besluite saam geneem en het baie vir die bruid se ouers se opinies gevra.  Hulle het baie gehelp met die reëlings.

Paartjie se styl:


Oor die algeheel is ons baie eenvoudig as dit kom by klere style.  Ons het probeer om gemaklik te bly maar nogsteeds by die tema te bly.  Bruidegom se pak was gemaklike formele klere vir die strand.  Bruid se rok was bietjie meer formeel maar het nogsteeds ingepas by die strand gevoel.  Ryno se trouring is swart titanium.  Charne se verloofring was oorgedoen in ʼn ring en pand kombinasie vir die groot dag.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons fotograaf Klara was uitstekend.  Sy het dit vir ons maklik gemaak en almal het haar vreeslik geniet.  Ons het nie vir een oomblik gewonder wat om te doen nie.  Sy het beheer gevat en presies geweet wat sy doen.  Sy het elke spesiale oomblik vas gevang met die mooiste foto’s wat ons altyd sal terug vat na die spesiale herinneringe.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


As tyd net kon stil staan sou ons dit baie waardeer het, want as jy jou oë knip is die aand verby.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Spandeer tyd saam jou gaste, die dag is in ʼn oogwink verby.  Nooi wie jy wil, nie wie jy voel jy moet nie.  Ons het ʼn klein troue gehou met net die mense na aan ons.

Aan die toekomstige bruide:

Wees rustig. Geniet die beplanning dit gaan so vinnig verby en gebruik die hulp wat jy kry.  Geniet elke oomblik van jou dag en moet nie laat enige iets kleins jou ontstel nie.  Dit is jou spesiale dag.

Aan die toekomstige bruidegom:

Maak seker al die reëlings is getref sodat jy net die dag kan geniet.  Maak seker dit is ʼn spesiale dag vir jou en jou bruid en hou matigheid voor oë.  Dit is een dag wat jy graag wil onthou.

Venue & Dekor:


Ons wou graag nog altyd in Mozambique getrou het.  Weens KOVID-19 was die moeilik en het ons besluit op ʼn soortgelyke bestemming wat ʼn Mozambique gevoel aan hom het.  Ons het baie inspirasie gekry op Pinterest en wou hou by plein en aardse gevoel met ʼn verouderde see hout tema.

Vermaak:


Ons het ʼn naweek troue gehad waar daar Vrydag ʼn musikant gespeel het en Saterdag was daar ʼn platejoggie wat tot laat aand ons vermaak het.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ons was gelukkig om niks te skuif of te verander a.g.v. KOVID-19 nie.  Maar moes verblyf voorsiening maak vir ons platejoggie om langer te speel a.g.v. die aandklok reël en die kroeg moes vroeër toe maak, maar die venue was gewillig dat ons gaste hulle eie drank kon in bring na die kroeg moes sluit.

Eerste Dans:


Ons is nie groot op dans nie, maar het ʼn rustige liedjie gekies wat vir ons spesiale verbinding het tot ons verhouding.  Ons het nie danslesse bygewoon nie, maar stel wel voor indien julle kan om wel paar dans stappies te oefen met of sonder professionele hulp.  Dit sal baie help met selfvertroue.

Wittebrood:


Omdat ons van Pretoria af kom wou ons graag ons wittebrood in die omgewing van ons trou bestemming hou.  Ons het plekke besoek waar ons nog nooit van tevore was nie.  Dit bring ʼn aspek van avontuur na jou wittebrood toe.  Ons het elke dag ten volle spandeer om plekke te sien en baie gereis tussen bestemmings.  Dit is nie altyd nodig om baie geld te spandeer aan jou verblyf nie maar probeer wel die meeste in die omgewing sien en doen.  Ons wittebrood het bestaan uit Paternoster, Langebaan, Kaapstad, Paarl en Hermanus.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: