Jannie & Cindi se pragtige, kleurvolle troudag

Jannie en Cindi se paaie het gekruis tydens hul matriek-vakansie en het van die begin af geweet dit is bedoel om te wees.  Hulle het ʼn pragtige, kleurvolle troudag gehad by ʼn unieke trouvenue in Gauteng.

Hulle styl by hulle troudag was kleurvol en gemaklik.  Daar is gebruik gemaak van hout tafels en ʼn meng-en-pas stoel kombinasie om ʼn gemaklike atmosfeer te skep.  Hulle het kreatief geraak met die troudekor en ʼn verskeidenheid van kleur geïnkorporeer.  Dit is sigbaar in die blomme, lap servette en gekleurde wynglase.

Jannie en Cindi het besluit om die Wes-Kaap te besoek tydens hulle wittebrood omdat Jannie nog nooit daar was nie.  Hulle het ʼn wittebrood bestemming gekry deur van Mooi Troues se artikels te lees, en hulle het die wittebrood ervaring só geniet!  Indien jy opsoek is na diensverskaffers om te gebruik vir jou troudag, klik hier en besoek ons Mooi Troues trougids.

Rol nou af en geniet Jannie en Cindi se pragtige, kleurvolle troudag.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar ontmoet in ons matriekjaar op ons matriek-vakansie.  Jannie het op die tweede dag by die swembad besluit dis nou of nooit!  Hy het my hand gevat en hou hy hom tot vandag toe nog styf vas.

In 2019, ʼn dag na my verjaarsdag het Jannie my na die Aarbeiplaas by Hartebeespoortdam gevat.  Ek was onder die indruk dat ons ontbyt gaan eet saam met ons ouers … maar hy het my verras met ʼn piekniek langs die dam.  Die boksie met die ring was aan die mooiste protea-ruiker vasgemaak.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was ʼn jaar en drie maande verloof.  Die troue het ons self beplan wat beslis nie moontlik sou wees sonder die hulp van geliefde vriende, ouers en familie nie.  Ons is so bevoorreg om in ʼn era te leef waar inligting en idees so maklik verkrygbaar is.  Dit vat net so bietjie tyd en beslis die wil om hierdie ongelooflike dag te visualiseer en daaraan uiting te gee.  Daar was soveel meer pret dat Jannie die beplanning net soveel soos ek geniet het.  Dit is die lekkerste projek om as ‘amper getroudes’ saam aan te pak.

Het julle enige diensverskaffers of inspirasie van Mooi Troues gekry?


Kol-Kol Mountain Lodge.

Finansiële Aspekte:


Ons is so ongelooflik bevoorreg dat ons ouers ooreengekom het om 50/50 by te dra tot die onkostes van die troue.  Ek het van dag 1 af begin soek na spesiale aanbiedinge wat dit moontlik gemaak het dat ons op die ou end meer kon doen met die begroting.  Ons het streng by die begroting gehou en verskaffers gekry wat goeie gehalte produkte lewer teen die prys waarop ons as bruidspaar vooraf besluit het.

Ons het van die begin af saam besluit dat ons graag ʼn intieme troue wou hê saam met ons naaste familie en vriende.  ʼn Totaal van 70 gaste genooi en is nog nie ʼn dag spyt nie.  Vir ons gaan die troudag oor die seremonie, waar die bruidspaar die belangrikste belofte voor God maak met die gaste as getuies van daardie rou, mooi en opregte belofte.  Ons wou graag ʼn diens hê wat die gaste verewig sal onthou.  Ook onthou wat daar gesê en beloof is, en ook met Gees se tasbaarheid en liefde.

Ons advies aan ander paartjies is iets wat ons pastoor vir ons gese het: ‘don’t sweat the small stuff’.  Die gaste gaan nie noodwendig elke klein detail onthou of dalk eers raaksien nie.  Belê in mekaar, ʼn ordentlike voorhuwelikse kursus is die perfekte plek om te begin.  En die belangrikste, geniet die reis

Spesiale Tradisies:


Ons het nagmaal gebruik by ons seremonie waarna ons pastoor ons ouers na vore geroep het om ʼn seën gebed oor ons te bid met ʼn taliet oor die bruidspaar se kop. Ons wou bloot die taliet inkorporeer met die gebed oor dit jou binnekamer simboliseer sodra jy in gebed tree, om in afsondering te staan van dit wat om jou is.

Merkwaardigste Oomblikke:


Cindi het nog altyd hierdie onbeskryflike voorliefde vir reën gehad.  Op die dag van die troue is daar bespiegel of die seremonie van die boskapel eerder na die kapel geskuif moet word wat beskutting sou bied teen die reën, siende dat die wolke begin donker raak het.  Cindi het voet by stuk gehou dat as die reën sou kom op ons troudag, dat dit na die foto’s sou wees.  Die merkwaardigste oomblik vir haar was toe hulle na die neem van die fotos by die onthaal instap toe begin daardie reën neerdaal soos ons baie lank terug beleef het, so asof dit ‘gehoort’ het.  Vreemd genoeg is dit iets waarvoor ek gebid het.  Dit was so betowerend.

Vir Jannie was dit toe hy vir Cindi vir die eerste keer in ʼn hele week uiteindelik kon sien toe sy afstap in die gangetjie van die boskapel.  Ook die eerste keer in 8 maande wat hy haar kon soen.

Paartjie se styl:


Ons is mal oor die natuur en die buitelewe.  Ons het besluit om aardse kleure en elemente te kombineer in ons dekor en styl.  Cindi se hele trourok was gemaak van kant met ʼn bypassende katedraal-styl sluier.  Jannie het besluit op ʼn baadjie wat ʼn ander styl en kleur is as die van sy groen broek, met ʼn roeskleur das.

Cindi se verloofring en troupand is beide in roosgoud.  Jannie se troupand is ʼn gehamerde styl in ʼn steenkool kleur (Zirconium) met hout in die middel.  In beide ons ringe is ons spesiale letters ‘V&A’ (verewig en altyd) gegraveer.

Gunsteling Diensverskaffers:


Een van ons gunsteling goed om te doen in Potchefstroom, toe ons nog daar geswot het, was om ʼn restaurant daar te besoek wat die lekkerste pampoenkoek maak.  Ons het verskeie verskaffers gekontak om vir ons ʼn pampoenkoek te maak, maar niemand het al vantevore dit gemaak nie.  Redelik raadop, so vier weke voor ons troudag het ek op Anel van Bluespoons afgekom wat nog nooit vantevore ʼn pampoenkoek gemaak het nie, maar sy was bereid om vir ons ʼn toetslopie te maak.  Dit was ongelooflik smaaklik en het ons op haar besluit om ons troukoek te maak.  Die gaste het dit terdeë geniet juis oor dit so uniek en natuurlik so lekker was.

Ons het letterlik tot op die laaste nippertjie gewag met die besluit van ʼn videograaf oor dit nie iets is waarvoor ons begroot het nie.  Dit was beslis ʼn droom van my om ʼn videograaf te kry … Al was dit net om die seremonie en toesprake vas te vang. ʼn Week voor ons troudag toe kom ek op André van Hireath Films af wat wonder bo wonder nog beskikbaar was vir ons datum en boonop teen ʼn spesiale pakket.  Hy het alles perfek vasgevang!

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ons eerste dans het nie so goed uitgedraai soos ons graag sou wou hê, of beplan het nie.  Maar toe herinner dit ons net weer aan die sê-ding van: ‘don’t sweat the small stuff’.  Vir die gaste was die dans perfek, maar ons het geweet dat dit nie gegaan het soos beplan nie, en nou lag ons daaroor!

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Dames, moenie die eerste beste verskaffer kies wat oor jou pad kom nie. “Shop” rond.

Gee vooraf vir jou man lip-Ice en lipstiffie om in sy baadjiesak te sit sodat jy dit byderhand het by die seremonie en fotos.

Stel vooraf ʼn lys van al die gaste-, en groepfoto’s op en gee dit vir jou seremoniemeester om vanaf te werk en die gaste te roep (tydbesparend ook).  Sodoende het jy ʼn foto saam met elkeen en is jy nie na die troue spyt dat jy iemand gemis het nie.

Mans, wees geduldig.  Moenie net ‘ja’ en ‘amen’ nie.  Wees aktief betrokke by die reëlings waar jy kan, dit help die bruid ook om die proses meer te geniet.

Venue & Dekor:


Ons het ʼn redelike hoeveelheid venues in die Krugersdorp, Muldersdrif en Pretoria omgewings besoek.  Nie een van die venues wat ons besoek het het die ‘prentjie’ wat ons gehad het ingekleur nie. ʼn Kollega van Cindi het haar die nommer gegee van ʼn venue waarby hulle al voorheen was.  Die venue maak basies net op “word of mouth” besprekings.  In dieselfde week het ons die venue besoek. Ons dadelik verlief geraak op die eienaar se plek met die pragtige tuine, immergroen bome en dam.  Die plek is ʼn juweel!

Ons wou graag in die buitelug trou met die wind wat so saggies deur die blare loei en die voëltjies wat tjirp.  Die hele venue het mooi al die boksies afgemerk wat aardsheid, groenigheid en die natuur aanbetref.

Wittebrood:


Ons het geweet met die pandemie sal dit nie noodwendig moontlik wees om ʼn eiland vakansie te bespreek nie.  Siende dat Jannie nog nooit in die Wes-Kaap was nie het ons besluit om die mooie Kaap te besoek. Jannie het as ʼn verrassing vir Cindi ons eerste aand van wittebrood bespreek by die Lord Milner Hotel in Matjiesfontein.  Dieselfde wittebrood bestemming wat Cindi se ouers ook besoek het op hulle wittebrood. En daarna het ons vyf aande spandeer by die asemrowende Kol-Kol Mountain Lodge se Pecan Pod wat Cindi raak gelees het op Mooi Troues se Webtuiste.  Dit stilte en natuurskoon was die perfekte manier om die begin van ʼn voorspoedige huwelik af te skop.

 

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: