Lascar & Louise se tydlose verlowings fotosessie

Liefde het vir Lascar en Louise gevind toe hulle dit die minste verwag het. Na 6 jaar saam het die paartjie verloof geraak en ʼn tydlose verlowings fotosessie saam in die stad geniet.

Die jaar wat meeste mense sal onhou as gevolg van die pandemie, sal Louise veraltyd onthou as die jaar wat Lascar haar voete onder haar uitgeslaan het met die vraag: “Sal jy met my trou?”.

Die paartjie vul mekaar so mooi aan en ons deel graag die vreugdevolle verhouding, wat in elke foto sigbaar is, met Mooi Troues se lesers.

Rol af om meer te sien oor Lascar en Louise se tydlose stedelike verlowings fotosessie in Kaapstad. Mooi Troues lesers sal beslis tonne inspirasie kan kry indien daar ter sprake is van ʼn verlowings fotosessie in jul toekoms.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ek en Lascar het albei in die Paarl skool gegaan en mekaar so ontmoet. Ons was nie in dieselfde vriendekring nie so ons paaie het werklik eers op universiteit gekruis toe hy en my broer goeie vriende geword het.

In my finale jaar wou ek hom aan my nuwe mooi woonstel-maat voorstel, toe ek self van hom begin hou het.  My gevoelens was baie onverwags aangesien ek hom vir so lank as net ʼn vriend gesien het. Gelukkig het my vriendin hom net as ʼn vriend gesien en onmiddelik opgetel dat my ogies blink rondom hom.  Dit het hom so rukkie geneem om te sien wat reg voor hom was en met my broer se goedkeuring het ons liefdesverhaal begin.

Liefde het ons gevind wanneer ons dit die minste verwag het.  Dis ongelooflik hoe mens iemand vir jare kan ken en dan een dag “click” dit net!

Die groot vraag:


Ons was 6 jaar saam voor ons verloof geraak het in Desember 2020.  Baie mense gaan 2020 onthou as die jaar wat KOVID-19 ons lewens verander het.  Ek sal dit onthou as die jaar wat Lascar my voete onder my uitgeslaan het.  Hy is baie spontaan in sy besluite en ons verlowing weerspieël dit duidelik.  Alles omtrent die verlowing was ʼn groot verassing.  Hy het die ring gereed gehad en geweet dat hy my in Desember wil vra.  Hoe, wat en waar sou hy nog uitvind, het hy my na die tyd vertel.

Marissa, ʼn ou skool vriendin, het my gekontak en gevra of ek en Lascar haar sal uithelp met ʼn fotosessie vir Boschendal se nuwe webtuiste.  Lascar was eers huiwerig, mans is mos nie mal oor sulke dinge nie.  Maar toe het hy natuurlik dit as ʼn perfekte geleentheid gesien om die groot vraag te vra en hy was toe vinnig aan boord.  Hy het geweet ek gaan mooi aantrek en dat ʼn fotograaf naby gaan wees.  Dit is ook iets wat deur my gereël was, so hy het geweet ek sal niks vermoed nie.

Hy het agter my rug Marissa se nommer in die hande gekry en sy was gretig om hom te help.  Hy het ʼn paar dae gehad om alles te reël en terwyl ek dink hy werk het hy gery om ouers te vra.  Hulle het geweet dit gaan binnekort gebeur, maar hy het hulle nie ingelig presies wanneer nie.

… en toe …

Lascar vertel hoe hy gedurende die fotosessie sy senuweeagtigheid mooi moes beheer.  Hy het natuurlik geweet wat nog vir hom voorlê. Ek aan die anderkant het die tyd van my lewe gehad met die lekkerste kos en lekkernye wat vir ons voorberei was.  Hulle het gevra dat ons onder by die venue soos die son sak nog ʼn laaste paar foto’s neem. Hulle moes kamstig hulle goed gaan haal in die Manor House en ek en Lascar was so vir ʼn tydjie alleen.  Ek het nog gestaan en kyk na die mooi venue toe hy op sy knie buig en die groot vraag vra.  Ek was so geskok hy moes 2 keer vra voor ek besef het wat besig was om te gebeur.

Die fotograaf het weggekruip en ons afgeneem.  Dit was ʼn onvergeetlike oomblik.  Ons was na ʼn rukkie verras met sjampanje en ons kon die oomblik lekker vier. Ons is die aand deur gery na my ouers toe en het lekker saam hulle gebraai.  Almal was so verras en trane van blydskap het die hele aand gevloei.  Die volgende dag het ons toevallig reeds ʼn familie ete by De Meye geboek gehad.  Nog iets wat toevallig mooi in plek met Lascar se planne geval het. So het die feesvieringe voort geduur!

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons trou volgende jaar op 26 Maart.  Ons het besluit om 2021 heeltemal oor te slaan oor ons vermoed het dat die KOVID-19 inperkings heel moontlik kan inmeng met ons trouplanne.  Dit gee ons ook die geleentheid om bietjie langer te spaar.  Ek is ʼn onderwyseres so ons het ons datum gekies rondom die skoolvakansies.  Ek skop my vakansie op ʼn groot hoogtepunt af!

Hoekom ons mekaar liefhet:


Louise:

Lascar is baie eerlik en lojaal.

Hy laat my elke dag lag en hy aanvaar my nes ek is. Hy is ʼn ware heer en doen altyd klein goedjies om my spesiaal te laat voel. Al is dit ʼn blommetjie op my stuurwiel of ʼn mooi komplement. Lascar vul my so mooi aan en maak dat ek die beste weergawe van myself wil wees.

Hy is baie nederig en plaas altyd ander bo homself.  Ek dink ek kan die kere wat hy iets leliks oor iemand gesê het op my een hand tel. Hy is altyd gelukkig en vind altyd maniere om die mooi en positiewe in mense en die lewe te sien.  Lascar is lief vir die Here en dit is daagliks ʼn voorbeeld vir my. Hy het ʼn opregte hart en ek kan nie wag om die res van my lewe saam hom te spandeer nie!

Lascar:

My gunsteling karakter eienskap van Louise is definitief haar sin vir humor.  Dit is die bron van waar ek my daaglikse dosis van vreugde kry. Verder is dit vir my ongelooflik hoe haar vasberadenheid en determinasie altyd groter as haar vrees vir mislukking is.

Haar bereidwilligheid en goedhartigheid om altyd mense te probeer help is van haar beste eienskappe.  As sy sien iemand kry swaar, is Louise altyd die een wat inspring, nie net om te help nie maar ook om daardie persoon te verdedig teen enige mense wat hom/haar wil sleg sê of minag.

Louise is “a force of nature” wat ek altyd aan my kant wil hê, want met haar voel ek, ek kan enige iets aanpak en saam oorwin.  Haar persoonlikheid is aansteeklik en maak dat ek lief en lus is vir die lewe!

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Op die stadium is ons trou reëlings redelik onder beheer.  Ek en Lascar reël en beplan alles self.  Lascar doen die finansies en sy “Excel sigblad” is iets om te beleef, hy is baie oulik met dit.

Rondom die dekor en blomme het hy nie baie voorkeure nie, so dit is weer my afdeling.  Ons sien baie uit en die tyd stap vinnig aan tot ons groot dag.

Ons is optimisties dat KOVID-19 nie ʼn kinkel in die kabel sal veroorsaak nie en dat ons dag sal verloop soos ons dit beplan het.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ek wou baie graag ʼn verlowing fotosessie doen om die foto’s vir ons webtuiste/uitnodigings te gebruik.  Dis ook ʼn lekker manier om gemaklik te raak voor die kamera en te weet wat om te verwag op die dag.  Ons was aan die begin bietjie ongemaklik, maar Danelle Stofberg het ons vinnig op ons gemak laat voel met haar goeie leiding en idees.  Ek sal ʼn verlowings fotosessie vir enige verloofde paartjie voorstel!

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ek en Lascar het gesels en het toe vir Danelle Stofberg voorgestel dat ons ʼn fotosessie in die stad sou wou doen.  Ek was lus vir iets anders en daarom het ek ook gekies om ʼn wit pak te dra in plaas van ʼn rokkie.  Die tweede deel van ons fotosessie was alles rondom die ou kar beplan.  Dit was my oupa se kar gewees, en sal ook my “something old, borrowed and blue” op ons troudag wees.

Ek het dit vreeslik geniet om ons uitrustings te beplan en bymekaar te sit.  Lascar moes maar hare op sy tande hê met die aanpas van al die klere.  Hy is gelukkig altyd reg vir enige iets en al is hy nie gepla oor wat hy dra en waar ons foto’s neem nie, maak hy verseker op met sy sin vir humor.  Hy het gesorg vir die vermaak en lekker atmosfeer tydens ons fotosessie.

Die verloofring:


Lascar was baie tradisioneel in hierdie opsig en wou my nie betrek by die maak of beplanning van die ring nie. Lascar was nog altyd van die opinie dat die meisies deesdae te veel weet en dat daar dan geen verassing is nie.  Ons het wel gesels oor verloof raak en ons toekoms saam, maar ek het geen indikasie gehad van wanneer dit sou gebeur nie.

Ek hou van alles beplan en in beheer wees, so dit was soms moeilik om stil te bly en dit aan hom oor te laat.  Lascar het wel gesien waarvan ek hou as ek gesê het iets is mooi. Hy weet ek dra slegs goue juwele en ek het genoem dat ek ʼn dun pantjie verkies so hy het mooi geluister.  Hy het baie goeie smaak en hy ken my goed, so ek het geweet ek kan sy oordeel vertrou.

My ring is elegant en tydloos en ek vang myself nou nog soms na dit staar.  Dit was eintlik so lekker om niks te weet nie, dit maak dit soveel meer spesiaal.  Dit is werklik alles en meer!

Visie vir droomtroue:


Ek dink enige paartjie hoop dat hulle troudag vlot verloop soos hul dit beplan het.  Mens kan nie die weer beheer nie en dinge gaan heel moontlik iewers bietjie skeef loop.  Ons wense is om die dag te gebruik om mekaar te geniet en ons liefde vir mekaar te vier.  Alles anders sal ons vat soos dit kom.

Ons hoop vir ʼn dag van liefde en vrolikheid saam met ons geliefdes.  Ek en Lascar sien al lank uit vir hierdie dag so ons hoop om elke oomblik in te neem en saam die nuwe hoofstuk in ons lewens behoorlik te vier!

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: