Thiardt & Shalene se sprokies bruilof

Ons deel graag vandag met ons Mooi Troues lesers die sprokies bruilof van Thiardt en Shalene.  Hierdie paartjie se trou dekor keuses was stylvol en gefokus daarop om nie te uitspattig te raak met hulle finansies nie.  Hulle wou graag hul troudag onthou as ʼn feesviering saam met hulle naaste mense.

Shalene het ʼn trourok gedra waarvan sy gedroom het toe sy ʼn jong meisie was.  ʼn Sprokies mooi, pofferige trourok met fyn afwerkings.  Haar grimering het die voorkoms voltooi en was pragtig gedoen deur Authentic Artistry by Minette.  Thiardt het ʼn spoggerige pak gedra in ʼn sagte kleur wat mooi ingeskakel het met Shalene se trourok.

Hierdie sprokies bruilof se dekor het ʼn plaas gevoel met styl na vore gebring.  Die dekor was eenvoudig en in ʼn sagte pienk kleurskema.  Shalene is mal oor blomme, dus is daar ook ʼn variasie van blomme rangskikkings of die tafels geïnkorporeer.

Rol af en geniet meer van Thiardt en Shalene se sprokies bruilof.

Paartjie se Liefdesreis:


Op 18 Februarie 2018 het ons mekaar ontmoet by die kerk, waarna ons die aand in ʼn nabye parkie saam met vriende deurgebring het.  Van daar af het ons mekaar gereeld by die kerk raakgeloop totdat ons gaan koffie drink het een Saterdagaand.  Die res is geskiedenis en op 27 April 2019, het Thiardt vir Shalene in ʼn restaurant in Pretoria die JA-woord gevra.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het aanvanklik beplan om daardie volgende winter in die Maluti berge naby Clarens ewig trou te beloof aan mekaar, op 13 Junie 2020.  Ons het ons troue onafhanklik saam met Oranje Gasteplaas beplan.

Finansiële Aspekte:


Ons het geen spesifieke begroting gehad nie.  Ons het verkies om eerder met die oog op kwaliteit sonder uitspattigheid ons spesiale dag beplan.

Die gastelys getalle eerder laer gehou om sodoende ons droomdag saam met ons hartsmense te kon vier.  Ons sou sê, ʼn mens trou slegs eenkeer.  Doen moeite om die troue stylvol te hou sonder om uitspattig te raak met finansies.  Daar is altyd klein dingetjies wat niemand eers gaan agterkom nie daar is nie.  Ons het gevoel om eerder te fokus op die verbond daardie dag met mekaar, as om te kieskeurig te wees in die klein dingetjies.

Merkwaardigste Oomblikke:


Shalene:

Vir my was die mooiste oomblik van ons dag, om in te stap by die kapel en vir Thiardt te sien huil.  Daar is niks so mooi en eg soos die trane van opregte liefde in die oomblikke net voordat ʼn mens een word nie.

Thiardt:

Toe die deure oopswaai en my bruid kom na my toe aangestap.  Sy het so pragtig gelyk en dis ʼn oomblik wat ek vir altyd sal koester.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


My rok se bandjie het losgeskeur tydens ons eerste dans met een van ons danspassies.  Dit was vir my eers baie teleurstellend, maar ek het aangehou dans en toe besef dat dinge nie altyd gaan wees soos wat mens wil hê nie.  Daardie geskeurde bandjie herinner my aan hoe lekker ons gedans het en dat dit nie enige vreugde kon steel van daardie oomblikke nie.

Paartjie se styl:


Ons styl was baie eie aan wie ons is.  Ek het een aand in 2019 ʼn droom gehad van ʼn trourok en die volgende oggend toe ek deur my Instagram profiel blaai, het daardie presiese rok by advertensie “feed” opgekom.  Ek het dadelik geweet hierdie was my rok.  Die rok was alles waarvan ek hou: Stylvol, met blomme en fyn pêreltjies, ʼn pragtige kraletjie afwerking op die arms en ʼn mooi oop rug. Ek het van klein dogtertjie geweet ek wil ʼn prinsesrok aantrek op die dag wat ek trou.

Thiardt se pak wou ons van die begin af, ʼn mooi steen kleur gehad het wat by die rok en die pragtige omgewing sou pas.  Thiardt is ʼn plaasseun en hy hou van gemaklik wees sonder om te veel fieterjasies te hê.  Sy houtring verteenwoordig sy liefde vir egte dinge.  Hy is mal oor enige iets wat uit mooi hout gemaak is.  Shalene se verloofring het Thiardt self laat ontwerp en die troupand het hulle saam uitgekies.  Die troupand is bietjie meer bonkig, en komplementeer haar fyn verloofring baie mooi.

Spesiale Tradisies:


Ons was glad nie tradisievas nie, ons het inteendeel meeste van die tradisionele verrigtinge anders gedoen.

Die Besluitnemingsproses:


Die bruid en die bruidegom het meeste van die besluite saam gemaak, met insette van die bruid se ma wat ook bygedra het tot die mooi sprokiesdag.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruide:

Moet nie te ver vooruit beplan met onrealistiese prentjies nie.  Teleurstelling gaan altyd daar wees, jy moet aanpasbaar wees.  Bly eg aan wie jy is, waarvan jy hou, en onthou dat die groot dag egter gaan oor die verbond tussen jou en jou man voor ons Vader.

Ek het geleer dat ʼn mens nie jou kop moet breek oor die klein dingetjies nie en dat die dag gaan so mooi wees soos wat jy dit maak om te wees vir jouself. Moet nie onnodig stry kry oor dinge wat nie gaan saak maak later nie.  Solank jy en jou man fokus op mekaar en hoekom julle trou, sal die guns van die Vader met julle wees. ʼn Mens se troue is nie die gebeurtenis waar jy iets aan iemand hoef te bewys nie.  Dit is ʼn viering van verbond, nie van hoe mooi jou troue op Facebook lyk nie.

Bruidegom:

Lewe in die oomblik, moet nie dat enige iets in die pad kom van die spesiale dag tussen jou en jou bruid nie.  Dit gaan oor julle en al kom daar struikelblokke oor die pad in die beplanningsproses, weet net dat tydelik is en dat julle pad saam ewig is.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ons sou aanvanklik op die 13 Junie 2020 trou aan mekaar beloof het. KOVID-19 het toe veroorsaak dat ons die troue uitgestel het na 16 Januarie 2021.  Dit was so hitte-te of ons het amper weer nie op 16 Januarie 2021 getrou a.g.v die tweede vlaag van KOVID-19 nie.

Wittebrood:


KOVID-19 het bietjie van ons wittebrood kom steel, en ons het tot twee dae voor die troue nie geweet of ons op wittebrood gaan kan gaan nie.  Ons het afgery Pinnacle Point toe in Mosselbaai waar ons lekker wittebrood gehou het by Pinnacle Bay Guest House.  Aanvanklik sou ons afgevlieg het, maar weens KOVID-19 het ons daarteen besluit vir die onthalwe van ons veiligheid.

Ons het van die een restaurant na die volgende een gegaan en soveel mossels geëet as wat ons kon.  Strande was gesluit en ons kon dus nie veel plekke besoek nie.  Ons was na afloop van ons week in Pinnacle Point, impulsief Addo Nasionale Park toe vir so paar dae voordat ons teruggekeer het na ons huis in Bloemfontein.

Venue & Dekor:


Ons was nog altyd lief daarvoor om weg te breek vir ʼn naweek na Clarens, en ons het van ons uitgaandae al gedroom oor ʼn troue in Clarens.  Oranje Gasteplaas het vir ons al ons boksies gemerk: ʼn mooi venue, behulpsame mense, pragtige dekor en ʼn lekker plaasgevoel met styl.

Ons blomme en dekor was van die begin af vir ons belangrik om wie ons is te reflekteer.  Ons is gek oor enige blomme.  Hoe meer blomme, hoe beter.  Die troue was ʼn oggend-troue en ons het toe besluit om dit lekker lig en vrolik te hou sonder om ons te veel te bind aan ʼn kleurskema.  Ons het verkies om oopkop te wees rondom dekor en blomme omdat ons geen spesifieke prentjie in gedagte gehad het nie, maar eerder met ons beplanningsessie saam met Oranje Gasteplaas, idees en voorstelle saam te sit en af te rond.

Gunsteling Diensverskaffers:


Oranje Gasteplaas as venue sowel as Duck Soup Wedding om die oomblikke vas te vang.

Oranje Gasteplaas was die diensverskaffers vir die koek, kos, dekor sowel as die blomme.  Al die belangrikste aspekte deur een diensverskaffer van die beste kwaliteit en ervaring.  Dit het ons spanning geweldig baie verlig om te weet hulle is beheer van al daardie elemente.

Eerste Dans:


Ons het ons eerste dans op Westlife se “Hello my love” gedans.  Ons het danslesse geneem by Dancesation in Bloemfontein wat gesorg het vir ʼn baie spesiale dans.  Die musiek het voor ons kon begin dans, reeds gespeel en moes ons dus lekker improviseer.  Dit was vir ons spesiaal om saam daardie dans te kon maak werk ten spyte van ons geoefende dans roetine wat toe uitgedaag was.  Dit het ons weereens herinner om die lewe nie te ver vooruit te beplan nie, maar om eerder die beste van elke oomblik te maak.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: