Ampie & Elaine se Romantiese Troudag in Pretoria

Ampie en Elaine se romantiese troudag in Pretoria was gevul met feesviering en gesellige kuiers saam met familie en vriende.  Die paartjie het by ʼn pragtige boetiek styl trou bestemming in die hartjie van Pretoria getrou omring deur bome en bosse wat die berg om die trou venue bedek.

Elaine het beeldskoon gelyk in haar trourok.  Ons is veral gaande oor die simplistiese styl van haar trourok en die lae oop rug.  Dit pas só mooi by haar en die wit roos handruiker komplimenteer haar voorkoms.  Ampie het baie dapper gelyk in ʼn volledige swart uitrusting.

Hulle seremonie was in mooiste dubbel volume kapel gevul met baie kerse wat só ʼn romantiese atmosfeer geskep het.

Die onthaal lokaal was in ʼn dubbel volume groot glaskas trou venue, met ʼn amper kweekhuis gevoel.  Elaine en Ampie se trou gaste kon die omliggende natuurskoon uitsigte vanuit die onthaal lokaal geniet.

Die paartjie se trou dekor was eenvoudig, maar só elegant gewees.  Met die groot oop spasie wat ʼn moderne voorkoms bied, pas die tafel dekor so mooi by die algehele gevoel van die paartjie se trou styl.  Hout tafels bedek met ʼn wit loper wat van die grond oor die tafel tot weer op die grond strek.  Op die tafel is daar wit en groen blom ontwerpe in swart blompotte.  Verskillende groottes kerse op die gaste tafels het ook die romantiese atmosfeer wat in die kapel was deur getrek na die onthaal lokaal.

As julle binnekort wil trou en opsoek is na trou diensverskaffers, besoek Mooi Troues se aanlyn trougids wat gevul is met betroubare diensverskaffers wat opgewonde is om julle drome ʼn realiteit te maak.

Rol af om meer te lees oor Ampie en Elaine se romantiese troudag in Pretoria en hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het deur ʼn goeie vriendin van beide van ons ontmoet, Angelique Gerber.  Ampie het vir haar gaan kuier, toe is ek (Elaine) daar.  Ek neem aan hy hou toe baie meer van die swart kop as die rooi kop.  The rest is history.

Ons het in Desember 2018 in Mozambique verloof geraak.  Dit is ons gunsteling plek om vakansie te hou.  Ampie het vir ons ʼn duik gereël.  Dit was ʼn baie bewolkte dag, ek wou toe nie meer duik nie, want dan sien mens nie mooi onder die water nie.  Ampie was vreeslik positief en my omgepraat om steeds te gaan duik.  Dit het toe oop getrek en dit was die mooiste sonskyn dag.  Terwyl ons besig is om te duik, tik hy aan my om vir my iets te “wys”.  My verloofring staan toe heel mooi tussen die skulpies op die bodem van die see, terwyl hy met handgebare vir my die JA woord vra.

Trourok:


My trourok was perfek.  Die idee wat ek in my kop gehad het, het Carike Nel Designs ʼn droom laat waar word.  Dit was ʼn nou passende spierwit rok.  Lae oop rug en lang sleep.  Op die punt van die sleep was twee pêrel hartjies met my en Ampie se voorletters geborduur.

Verloof- en Trouringe:


Ek het eendag ʼn prentjie op Pinterest gesien en dit dadelik gestoor.  Altyd gesê dit is my ring.  Kort daarna het ek die foto vir ʼn goeie vriend, Carlo Hayes wat ook ʼn baie bekende Juweliersware ontwerper is, gestuur en by dit vir hom gesê as Ampie enige idees het om verloof te raak, dan is die my ring.  Ek het presies die ring gekry wat ek wou gehad het.  Ek het ʼn tweede ring by my ring gelas met die troue, die tweede ring is vanaf Roxanah, Carlo Hayes se talentvolle vrou en vriendin.  Ampie se ring is ʼn swart titanium ring.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Ons troue was ʼn viering van ons.  Al ons vriende se dit was die lekkerste kuier troue.  Min formaliteite en baie kuier.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Alles. Van die venue, my trourok, die dekor, die troukoek.  Alles was perfek.

Trou Venue:


Ons het die venue gekies omdat dit só spesiaal plek vir ons is.  Ons het so baie goeie herinneringe daar.  Dit was die enigste venue waar ons wou trou.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Hou dit klein en nooi jou naastes, mense wat regtig deel van jou lewe is behoort op jou troue te wees.

Eerste Dans:


Ons het nie ʼn eerste dans gedoen nie en het eintlik niks tradisioneel gedoen nie.  Ons het besluit dit is ons dag en ons doen wat ons wil.  Ampie my man is ʼn sanger, hy het spesiaal vir my ʼn liedjie geskryf en ek het in die kerk in gestap op die liedjie.

Trou Dekor en Styl:


Die dekor en kleurskema het ons eenvoudig en stylvol gehou.  Kleurskema was wit en swart.  Dekor, elegant en stylvol.  Hout, wit en swart, baie groenigheid en wit blomme.  Kerse het die atmosfeer natuurlik romanties en elegant gehou.

Trou Begroting en Beplanning:


Ampie en Elaine het ses maande aan hul troue beplan en 60 gaste onthaal.  Die koste van hul troue was R300 000, dit het ongeveer R5 000 per kop uitgewerk.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet:

    Borge