Jason & Inge se selfdoen buite bruilof

Ons deel graag met ons Mooi Troues lesers hierdie pragtige selfdoen buite bruilof van Jason en Inge.  Inge het tydens haar trou beplan fase deur feitlik elke inskrywing op Mooi Troues gelees om tonne trou inspirasie te kry vir hulle groot dag.

Hierdie paartjie het so ʼn mooi liefdesverhaal van hoe hulle paaie gekruis het en gelei het tot hul troudag.  Hulle het self hulle troudag beplan en het dit so geniet om die uitdaging saam aan te pak.  Sodoende kon hulle saam op hul troudag beleef hoe mooi alles eventueel by mekaar gekom het.

Die trou venue was perfek vir die intieme, buitelug troue wat hulle wou gehad het.  Hulle het ʼn prag mooi seremonie gehad in die natuur omring met al hul naby geliefdes.  Die troudekor was sag en simplisties.  Dit het so mooi ingeskakel met die omliggende natuurskoon en die eenvoud daarvan het perfek gewerk.

Rol af om tonne inspirasie te trek uit die pragtige foto’s van Jason en Inge se selfdoen buite bruilof.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek is mal daaroor om vir mense te vertel van hoe ek en Jason by mekaar gekom het want dit is mooier as enige iets wat ons self kon droom.  Ek en Jason kom albei van Secunda af, ons het ʼn straat van mekaar af groot geword, ons ouers werk saam en ons was selfs op ʼn stadium in dieselfde skool … maar ons het mekaar glad nie geken nie.  Op een of ander manier het ons toevallig Facebook vriende geword.

In 2014 het ek besluit om saam met Stellenbosch se Kruis Kerk op hulle Lesotho uitreik te gaan na die Lesotho berge.  ʼn Week voor die uitreik kon een van die mans nie meer saam gaan nie en was daar ʼn opening in die uitreik span.  Ek het die opening adverteer op Facebook en toe sien Jason dit raak. Ons was dus toe twee jong mense van Secunda af, wat altwee geswot het in Stellenbosch wat ontmoet het in Lesotho.

In Lesotho het Jason eerste begin belangstel in my.  Hy het klein briefies vir my gelos en elke aand ʼn ketel gekook op ʼn gas stofie sodat ek ʼn warm water sak kon hê.  Na twee weke in die Lesotho berge het ons altwee besef dat dit net die Here se handewerk kon wees om ons op so manier saam te kon bring.  Ons het onmiddellik geweet dat ons bedoel is vir mekaar.  Ek en Jason het ʼn kort tydjie na die uitreik ʼn paartjie geword.

In 2018 het Jason my op ʼn pragtige somer oggend in Kleinmond gevra om met hom te trou en op 19 Desember 2020 is ons uiteindelik getroud.

Die Verlowing Tydperk:


Vir twee jaar was ons verloof.  Ons het nie ʼn trou beplanner gehad nie.  Op die dag van die troue was daar ʼn koördineerder om seker te maak dat alles glad verloop.  Ons was mal daaroor om die troue self te beplan.  Ons het alles van die dag self gekies van die glase en blomme tot die liggies en stoele.  Dit was een van die beste oomblikke toe ons die Saterdag kon sien hoe alles uitgedraai het.

Finansiële Aspekte:


Die belangrikste wanneer dit kom by finansies en begroting is beplanning.  Ons het vir ʼn lang tyd kontak gemaak met verskillende diensverskaffers sodat ons genoeg opsies gehad het om van te kies.  Jason het seker gemaak dat ons ʼn Excel dokument gehad het waarop ons alles kon uiteen sit.  Ons kon toe mooi sien wat ons waar spandeer en het ʼn paar dinge gekies wat die belangrikste gaan wees en waarop ons meer gaan spandeer.  Ons het besluit dat die kos, venue en fotograaf die belangrikste was en het die meeste daar spandeer.  Van die begin af het ons ook besluit om net 50 gaste te nooi vir die troue omdat ons dit intiem wou hou.  Die min gaste het gehelp om die kostes in toom te hou.

Enige trou inspirasie van Mooi Troues gekry?


Ek het deur amper elke inskrywing op Mooi Troues gelees terwyl ek ons troue beplan het en het baie inspirasie gekry van verskillende troues op die webtuiste.

Merkwaardigste Oomblikke:


Inge:

Daar was soveel mooi oomblikke deur die dag.  Die beste was die seremonie en om uiteindelik Jason se vrou te kon word.  Ons Dominee wat die Lesotho uitreik gereël het waar ons ontmoet het, het spesiaal deur gery om die dag ons seremonie te doen.  Toe ek vir die eerste keer die onthaal area gesien het en gesien het hoe mooi alles uitgedraai het was ook een van die merkwaardige oomblikke.  Laastens was om vir die eerste keer na ʼn jaar se inperkings saam met ons naastes te kuier en te dans tot middernag die kersie op die koek vir die dag.

Jason:

Na jare lank na ander mense se troues gaan was my merkwaardige oomblik om by ons bruidspaar tafel te sit op ons eie en te kon kyk na al ons gaste en om dan kant toe te kon kyk na my vrou en net die oomblik te kon in neem en te weet “die is ons oomblik”.

Vir ons altwee was die Vrydag voor die troue ook besonders.  Meeste gaste het Vrydag al oorgebly by die venue.  Ons het toe almal lekker saam braai en opgevang.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Daar was enkele klein dinge deur die aand wat nie 100% gegaan het soos beplan nie.  Die kelners het per ongeluk van die MCC bedien vir die pre-drinks wat bedoel was vir die toesprake.  Op ʼn stadium het ons ook gesukkel met die elektrisiteit aangesien die ligte meer krag getrek het as wat die generators kon gee.  Gelukkig het ons ʼn paar ingenieurs by die troue gehad wat vinnig kon inspring om alles uit te sorteer.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Inge:

Doen wat julle die dag wil doen en moet nie verplig voel om dinge te doen om ander mense die dag gelukkig te hou nie.  Die dag is ʼn fees wat gaan oor jou ʼn jou man se huwelik.  Onthou om dit te geniet!  Dit gaan so vinnig verby.

Jason:

Al se jou toekomstige vrou sy geniet die beplanning en kan alles op haar eie doen moet jy steeds inspring en help! Anders hoor jy dit dalk na die troue.

Spesiale Tradisies:


Met die toesprake het ʼn paar van ons familie lede elk ʼn bottel MCC oopgemaak deur die bottels met ʼn groot swaard te sabrage.  Ons familie doen dit gewoonlik by spesiale geleenthede.  Dit was groot pret.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ons troue was ʼn week voor die strenger inperkings toe die tweede golf getref het en ons was baie bekommerd dat die troue nie sou kon gebeur nie.  Ons is gelukkig dat ons van die begin af besluit het dat ons net ʼn klein intieme troue wou hê so ons kon meestal voort gaan soos wat ons beplan het.  Van ons gaste wat nie by die venue oorgeslaap het nie moes wel ongelukkig vroeër as beplan huis toe gaan om seker te maak hulle kom voor die aandklok by die huis.  ʼn Paar van ons gaste kon ook nie na die troue kom nie omdat hulle deur die week voor die troue in kontak gekom het met mense wat positief getoets het vir die virus.

Venue & Dekor:


Ons het twee jaar voor ons verloof geraak het gaan “Glamp” by Cherry Glamping,  Dadelik het ons toe verlief geraak op die plek!  Ons het geweet dat dit moet wees waar ons trou.  Die dekor van ons troue was beplan rondom die natuurskoon van die venue.  Cherry Glamping is geleë in Elgin tussen die bome en berge.  Ons wou graag hê dat ons dekor dit wat reeds daar was moet beklemtoon.

Vermaak:


Ons het gebruik gemaak van One Night Only Music as ons platejoggie.  Ons vermaak was Kai Liam Connor wat gesing het tydens die seremonie en by die pre-drinks.  Kai het toe ek by die trou gang af geloop het ʼn akoestiese weergawe van Tina Turner se Simply the Best gespeel.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons het baie lekker saam gewerk met al ons diensverskaffers.  As ek iemand kan uitsonder is dit Niel Van Zyl van Concept Food Catering.  Ons gaste vertel nou nog hoe lekker hulle geëet het.  Ek sal ook beslis vir Lauren van My Green Love Affair wat ons blomme gedoen het aanbeveel.  Sy het gehelp om die droom in my kop ʼn realiteit te maak. Sy het soveel moeite voor die troue en die dag van die troue gedoen.

Wittebrood:


Ons oorspronklike wittebrood planne kon nie realiseer nie weens die pandemie.  Ons het wel vir ʼn rukkie na die Kruger Nasionale Park gegaan wat vreeslik lekker was.

Eerste Dans:


Ons eerste dans was op Spoegwolf se Storm.  Ek mal is oor dans maar ek dink ons kon gedoen het met ʼn dans klas of twee.  Ek dink die oomblik was net te groot en ons het meer gelag deur die dans as wat ons met mekaar gedans het.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: