Daniel & Clarette se herfskleurige strand troue

Ons deel graag met ons lesers die pragtige uitkoms van hul herfskleurige strand troue asook die reis tot hul troudag.  KOVID-19 het werklik ʼn groot effek gehad op die troudag van Daniel en Clarette.

Daniel en Clarette het ʼn groot uitdaging in die gesig gestaar toe Clarette in die week val hul troudag positief getoets was vir KOVID-19.  Hulle het met die hulp van ʼn span fantastiese diensverskaffers hul troudag uitgestel met presies een maand.  Die uitkoms van hul troudag was baie meer intiem as wat hulle aanvanklik wou hê, maar het tog so pragtig uitgekom.

Om ʼn troubeplanner te hê vir jou troudag daai bietjie ekstra stres verlig gedurende hierdie uitdagende tye.  Dit dra by tot ʼn baie meer ontspanne troudag en die paartjie kan werklik net hulle dag saam met geliefdes geniet.  Mooi Troues verskaf ʼn trougids aan paartjies wat besig is om te beplan vir hulle spesiale dag en inspirasie nodig het.  Klik hier om ons trougids te besoek.

Rol gerus af en geniet Daniel en Clarette se herfskleurige strand troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het vroeg in 2019 by die kerk ontmoet nadat ek (Clarette) van Bloemfontein af na Port Elizabeth getrek het.  Ek het nuut by die kerk aangesluit en het vir Daniel by ons selgroep ontmoet.  Hy het dit reggekry om my te oortuig om saam met hom te gaan koffie drink.  Daarna het dit nie lank gevat voor hy my hart gesteel het nie.  Hy het op 17 Junie 2020 (in die middel van die grendeltydperk) bo-op ʼn berg buite Port Elizabeth, vir my gevra om te trou. Dit was ʼn antieke ring wat in die 1940’s ontwerp en gemaak is.  Aangesien alle restaurante toe was en sosiale aktiwiteite verbied was, was ʼn buitelug staproete die perfekte manier om dit te doen!  Die uitsig was ʼn bonus!

Die Verlowing Tydperk:


Ons was vir 8 maande verloof.  Die eerste deel van ons verlowing het ons in vlak 3 en 4 van die grendeltydperk spandeer.  Daarom het ons buite die huis op die stoep gekuier of saam met my honde gaan stap, aangesien sosiale kuiers nie toegelaat was nie.  Ons is albei essensiële werkers en ek het op daardie stadium by my ouers gebly.  Ons wou seker maak ons doen ons deel om die verspreiding van die virus te voorkom, ook in ons familie sirkels.  Die eienaar van ons venue het vir ons ʼn lys van belangrike take, asook die tydraamwerk gegee.  Dit het ons gehelp om die troue te beplan.  My ma was ook betrokke en ons is baie dankbaar vir al die moeite wat sy gedoen het om ons dag spesiaal te maak.

Finansiële Aspekte:


Ons het aanvanklik 120 gaste genooi met die hoop dat die beperkings teen die tyd van die troue gelig sou wees.  Ongelukkig het ons nader aan die troue besef dat ons nie toegelaat sou word om soveel gaste te nooi nie.  Ons moes ons gaste verminder na 50 mense.  Dit was moeilik om die gastelys te finaliseer met net 50 gaste en onvoorspelbare hobbels in die pad.  Sewe van ons familielede het kontak gehad het met ʼn Kovid-positiewe geval ʼn week voor die troue.

Ons begroting was R120 000.  Anders as wat ʼn mens sou dink, is daar nie so ʼn groot verskil in koste van 50 en 120 gaste nie.  Ons het besluit om ʼn venue te kies wat ons sou help met die beplanning van die troue.  Ook ʼn maatskappy wat ons baie gehelp het met die beplanning en die opstel van die blomme en dekor.  Dit is wel duurder as om die blomme en dekor heeltemal self te doen, maar dit het vir my baie beteken om die weke voor die troue nie bekommerd te wees die reëlings nie.  Die troudag self was ook baie ontspanne omdat hulle soveel hulp gebied het.  Ons het bespaar deur die kleiner dingetjies soos die spaar-die-datum, uitnodigings, skryfbehoeftes en gaste se geskenke self te maak.

Paartjie se styl:


Ek sou ons styl as eenvoudig en klassiek beskryf.  My rok is ontwerp nadat ek lank gesukkel het om ʼn rok met hierdie spesifieke styl te koop of te huur te kry.  Ek wou graag die fyn kant asook die gekartelde neklyn en moutjies in die ontwerp inbring.  My verloofring se fyn detail weerskante van die diamant, is wat my hart gesteel het toe ek dit die eerste keer gesien het.  Daniel het verkies om dit eenvoudig te hou met ʼn swart pak en das.  Sy ring is ook eenvoudig; net ʼn dikker silwer bandjie met ʼn dowwe afwerking om by my silwer troupand te pas.

Merkwaardigste Oomblikke:


Clarette:

Om by die prentjiemooi kapel in te stap, met die strykkwartet wat in die agtergrond speel, en Daniel wat aan die einde van die paadjie wag, was definitief vir my ʼn hoogtepunt!  Hy was so op sy senuwees!  Die atmosfeer in die kapel en die hele seremonie was vir my merkwaardig.  Daniel se toespraak aan my was ook vir my baie spesiaal.

Daniel:

Ek het dit baie geniet om saam met Clarette by ons tafel te sit en alles saam met haar te ervaar soos wat die aand verloop het.  Dit het ons tyd gegee om na spesiale toesprake te luister, die atmosfeer te geniet en alles in te neem op ʼn dag vol groot oomblikke.

Gunsteling Diensverskaffers:


Die fotograwe was ongelooflik.  Hulle het ons baie gemaklik laat voel en het die hele proses baie natuurlik laat voel.  Hulle het vinnig en effektief gewerk om te verhoed dat ons die hele dag voor die kamera deurbring.  Tog het hulle soveel kosbare oomblikke vasgevang.  Die eienaar van die venue, Sarah, was ook absoluut ongelooflik en het alles tot in die fynste detail beplan en seepglad laat verloop.  Sonder haar sou die dag nie naastenby so goed afgeloop het nie.  Ek waardeer ook die moeite wat Linley (wat verantwoordelik was vir die blomme en dekor) gedoen het.  Sy het die idees en prentjies in my kop ʼn werklikheid te gemaak en die herfs sprokie geskep waaroor ek gedroom het.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Op die dag van die troue: Maak seker julle (die bruidspaar) neem ʼn paar oomblikke deur die verloop van die dag om alleen te wees en net alles in te neem.  Dit was vir ons lekker om alleen aan ʼn tafel te sit by die onthaal, omdat dit vir ons tyd gegee het om na almal en alles te kyk en die oomblikke in te neem.  Ons het ook na die fotosessie ʼn paar minute alleen deurgebring en besef: ons is nou getroud!  Dit was een van die kosbaarste herinneringe.

Venue & Dekor:


Ons is albei baie lief vir die natuur en die omdat die venue omring is deur bos, het dit dadelik ons aandag getrek en my hart gesteel.  Die semi-oop kapel laat mens so naby aan die natuur voel.  Die atmosfeer by die venue is net ongelooflik en dit voel asof jy binne-in ʼn bos is.  Diens by the venue was ook uitstekend, wat die hele proses van troue reël ook baie maklik gemaak het.

Ons wou weereens die natuurlike en aardse kleure in bring met die dekor en die blomme.  Dit het mooi ingeskakel by die atmosfeer van die venue.  Ek is mal oor blomme en ook herfskleure en daarom was die hoof tafel waar ons (die bruidspaar) gesit het, vir my die hoogtepunt van die dekor.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Die Dinsdag voor die troue het ek (Clarette) opgestaan met ʼn seer keel.  Omdat ek geweet het die troue is Saterdag, het ek besluit dat dit beter sou wees om ʼn Kovid toets te laat doen.  Ek wou die moontlikheid daarvan uit skakel en sodoende die gaste ook gerus stel.  Ek het laat oggend die toets laat doen en by die huis gebly om te wag vir die uitslae.

Laatmiddag het ek my trourok aangepas om te kyk of ʼn verstelling wat die ontwerper moes maak, reg was.  Terwyl ek in my trourok voor die spieël gestaan het, het my selfoon gelui.  Dit was die dokter – my toets was positief.  Dit was ʼn onwerklike gevoel, die tydsberekening was so sleg!  Ek het vir hom verduidelik dat ek Saterdag trou en daarom moet die toets eenvoudig verkeerd wees; ek wou weer toets.  Hy het my ingelig dat ek ongelukkig nie meer Saterdag gaan trou nie, die toets was definitief positief.

Die beplan van ons nuwe troudatum:

Ons kon die bestelling van die blomme net-net betyds kanselleer, die verskaffer sou die volgende oggend die bestelling plaas en betaal.  Dankie tog!  Tydens my 10 dae in isolasie het ons die ander verskaffers gekontak en probeer om ʼn nuwe datum te kry waarop almal beskikbaar sou wees.  Dit was ʼn wonderwerk want almal was toevallig beskikbaar presies 1 maand na ons oorspronklike datum (6 Februarie) en ons kon als begin reël vir die 6de Maart 2021.  Ons is SO dankbaar dat al die diensverskaffers so tegemoetkomend was en dat hulle sonder ekstra kostes die datum vir ons aangeskuif het- ons waardeer hulle moeite regtig baie.  Daniel het nie Kovid gekry nie en daaroor was ons baie bly.

Die feit dat ons net 50 gaste kon nooi was aan die een kant sleg, maar dit het ons tog toegelaat om op die dag van die troue by almal te kon uitkom en met almal te gesels.  Dit was ʼn wonderlike dag en het nie te klein gevoel nie.  Ons het elke oomblik geniet en elke nou en dan dink ek: ek wil sommer weer ʼn troue hê!

Vermaak:


Ek (Clarette) is baie lief vir klassieke musiek en daarom wou ek baie graag ʼn string quartet hê wat voor en tydens die seremonie in die kerk speel.  Dit het die mooiste atmosfeer geskep.  Verder het ons ʼn plaaslike kunstenaar gevra om te sing en kitaar te speel tydens die peuselhappies en die onthaal.  Dit het soveel tot die dag bygedra.

Eerste Dans:


Ons het op “Better Place” van Rachel Platten gedans.  Ek het die liedjie so 3 jaar terug vir die eerste keer gehoor.  Die woorde het dadelik by my vasgesteek: “It’s a better place since you came along”.  Daniel se teenwoordigheid in my lewe, maak my wêreld ʼn beter plek om te wees.  Ons het die dans in sy sitkamer geoefen ʼn week voor die troue – dit was groot pret!

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: